Een ding wat baie swaar is vir die natuurlike mens om te aanvaar, is dat daar ‘n ‘wêreld’ bestaan wat nie deur sy natuurlike sintuie of deur sy abstrakte denke bereik kan word nie. As die natuurlike mens dus die Bybel lees, dan sien hy stories wat gaan oor historiese gebeurtenisse van mense wat duisende jare gelede geleef het. Dit is dwaasheid vir die natuurlike denke om die woorde van die Bybel as iets anders te lees as wat daar voor ons oë geskryf staan:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Die mens het wel ‘n geestelike bewustheid, ‘n vlak van denke, wat hom help om ook waardes van reg en verkeerd te definieer (dit word ook ‘n “gewete” genoem in die Skrifte).
Rom 2:14-15 Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; (15) omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,
Hierdie “gewete” is inderdaad ‘n geestelike dimensie, maar dit is aardsgebonde. Hierdie vlak van denke is wat die ‘eerste hemel’ in ons behels. Dit gee abstrakte beelde aan letterlike dinge, en ook binne hierdie ‘hemel’ is God werksaam om mense se lewens te reguleer en te beheer sonder dat hulle dit kan agterkom.
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. (6) Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, (7) om
dat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. (8) En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Lees gerus die volgende artikels oor wat en waar “hemele” is, en ons progressie in die onderskeie “hemele”:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/11/24/die-hemele-en-ons-progressie-daarin/
https://4windkoinonia.wordpress.com/2010/04/29/wat-en-waar-is-die-hemel/
Die godsdienstige natuurlike mens het egter beweeg tot ‘n hoër vlak van denke waar hy (of sy) die Bybel lees met ‘n dieper insig, maar dit kom basies neer op ‘n godsdienstige ritueel om waardig te voel voor God en sy medemens. Hierdie persoon se denke is nog steeds aards, maar op ‘n hoër vlak van geestelike bewustheid (die ‘tweede hemel’). Hierdie persoon se ‘hemel’ word pragtig in Openbaring 13 simbolies uitgebeeld as ‘n dier (op die land), maar die dier is egter baie meer subtiel en bedrieglik as die mense in die wêreld (die see):
Opn 13:1-3 En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. (2) En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. (3) En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.
Dit is eers in die “derde hemel” waar die ware denke van God aan ‘n persoon deurgegee word – ook “die sin van Christus” genoem in die Skrifte (1Kor 2:16). Hier beskryf Paulus hierdie vlak van denke:
2Kor 12:1-4 Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here. (2) Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. (3) En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— (4) dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.
Adam en Eva was geskep as aardse wesens met aardse sintuie wat buite die geestelike ‘wêreld’ opereer. Hulle kon met God kommunikeer, maar dit beteken nie dat hulle Hom en sy hoër geestelike dinge kon verstaan nie. Hulle was dus soos ons almal beperk tot die vlak van denke wat net aards is (die ‘eerste hemel’). Die vlees en sy aardse denke is nie instaat om God se gees en Sy hoër denke te verstaan nie.
Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. (9) Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
Dit maak dit onmoontlik vir die vlees om na God te kan kom. God betree egter die mens se wêreld, ook sy denkwêreld – dit is waarom God hemele geskep het om Homself aan die mens stelselmatig te openbaar (Gen 1:1).
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. (2) Hy was in die begin by God. (3) Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Die Bybel kom dus ook na die vleeslike mens op sy aardse vlak en denke aanvanklik. God werk in die hemele (die denke van mense) en dit manifesteer openlik in mense se lewens op die aarde. God stel Homself aanvanklik bekend aan die mens in natuurlike terme. Kyk byvoorbeeld hoe God met Adam en Eva kommunikeer. Adam en Eva het regtig geglo dat God nie geweet het waar hulle was nie, en wat hulle gedoen het nie. Luister na God se vrae:
Gen 3:9 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?
Gen 3:11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?
God het alles geweet, maar Hy hanteer die mens volgens die mens se denke. Die mens het dus geen hoër geestelike insigte oor God se wese nie en Sy almag nie. Adam en Eva kon nie God se modus operandi uitwerk nie – die natuurlike denke in mense kan tot vandag nie God se geestelike dinge verstaan nie. Hy weet dat aardse vleeslike mense Hom nie kan hanteer nie, en daarom ‘skuil’ Hy:
Psa 18:12 Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke.
God het geweet wat Hy doen toe Hy die twee belangrike bome reg in die middel van die tuin van Eden laat groei het:
Gen 2:8-9 Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. (9) En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.
Adam en Eva het geen belangstelling in die boom van lewe gehad nie. Hier is die eerste bewys dat Adam en Eva NIE van die boom van lewe geëet het nie:
Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
Ons weet dat die boom van die lewe letterlik as ‘n spesiale boom in die middel van die tuin van Eden bestaan het. Maar die boom, soos alle aardse dinge, is ‘n simbool van ‘n geestelike werklikheid. Ons leer die onsigbare dinge van God ken uit die natuurlike skepping.
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Die boom van lewe in die middel van die tuin van Eden het as ‘n simbool (‘n tipe) van Jesus, die lewende Woord van God, gedien. Adam en Eva se houding teenoor hierdie boom wys aan ons hoe hulle teenoor God se ware geestelike lewe gevoel het. Adam se verbintenis was nie tot die Elohim wat hom geskep het nie, maar na die aardse aanklewinge en verbintenisse, veral die vrou wat uit hom gekom het.
Gen 1:27 En God [Hebreeus: “ĕlôhıym” = meervoud: die Godheid = Vader en Seun] het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Gen 2:24-25 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.
Hul albei se houding teenoor God en Sy geestelike dinge word verder bekragtig en weerspieël deur hul houding teenoor naaktheid.
Gen 2:25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.
Die mens is dus aanvanklik totaal onbewus van sy geestelike toestand – lank voor hy tot die daad van sonde gaan. Die mens se houding teenoor die boom van lewe is hoe ons almal aanvanklik voel oor Jesus Christus:
Joh 1:10-11 Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. (11) Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Adam en Eva het ‘n aardse tipe van die geestelike heerlikheid van God aanskou, maar geen belangstelling daarin getoon nie omdat die heerlikheid van God nie aanneemlik is vir die aardse mens nie. So druk die profeet Jesaja die houding van Adam en Eva uit (en ook ons almal se houding) teenoor die Boom van Lewe:
Jes 53:2-3 Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. (3) Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
Die woorde “Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie” is van die grootste enigmas.
Hoekom kan die natuurlike mens nie God en Sy geestelike dinge aanneemlik vind nie?
Hoekom is die heerlikheid van God nie aanloklik vir die aardse mens nie?
God het dit inderdaad onmoontlik gemaak vir die natuurlike mens om Sy heerlikheid en glorie te waardeer. Daar is ‘n baie goeie rede daarvoor. God se gees en Sy dieptes word nie bereik met ons aardse konsepte van glorie en mag nie!
Mat 4:8-10 Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, (9) en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. (10) Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
Ons is gemaak om God in gees en waarheid te aanbid – nie aardse koninkryke en dinge van die vlees nie!
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Die geestelike heerlikheid van God en Sy Waarheid kom slegs deur “die swaard wat vlam en flikker”! Daar is geen ander toegangsroete nie!
Gen 3:24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.
God se Woord is Sy vurige swaard en Sy Waarheid…
Efs 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
Hierdie swaard vlam en flikker, en die natuurlike mens word totaal afgeskrik daarvoor want dit verteer en verwoes alle aardse koninkryke en vleeslike dinge:
2Sa 22:9 Rook in sy neus het opgegaan, en ‘n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.
Psa 119:120 My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.
Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.
Heb 12:26-29 Toe het sy stem [die Woord] die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. (27) En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. (28) Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. (29) Want onse God is ‘n verterende vuur.
Ons natuurlike oog en oor, en ons natuurlike denke (ons hart) het geen toegang tot die diepte in die woorde van God nie:
1Kor 2:9 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.
Vir die geestelike mens van God is God se Woord egter ALLES wat ware LEWE en GEES oopmaak!
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Rom 8:5-6 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. (6) Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,
Die Woord is gees, lewend, skeppend, kragtig, skerp, onderskeider, beoordeelaar, leraar, weerlêer, teregwyser, onderwyser…om net ‘n paar van die karaktrekke van die Woord van God te noem. Ons almal se lewens word inderdaad oopgemaak deur die Woord van God:
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. (2) Hy was in die begin by God. (3) Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Heb 4:12-13 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. (13) En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.
2Ti 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
Vir hulle vir wie dit gegee is deur God, om Sy woorde as gees en lewe te ervaar, word “die dieptes” van God geopenbaar, en die donker dieptes van vlees word aan ons uitgelig!
1Kor 2:10-11 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. (11) Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.
Die “ons” in die teks weet wie hulle is, want hulle sien en hoor die woorde van God op ‘n ander vlak waar die verborgenheid van God en Sy werke oopgemaak is!
1Kor 2:4-7 en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, (5) sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. (6) Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. (7) Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,
Hierdie “ons” is nie beter as die res van die mensdom nie. Nee, aan hulle is genade en barmhartigheid geskenk om deur die gawe van geloof die woorde van God as gees en lewe te ervaar:
Efs 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; (9) nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. (10) Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Die “ons” is tans ‘n baie klein groepie wat God uitverkies het om sorgvuldig te luister na al die woorde van God.
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Deu 12:28-29 Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van die HERE jou God. (29) As die HERE jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon.
Die “min” is dus die “huis van God”, die uitverkore geestelike volk van God wat nou eerste deur die “swaard wat vlam en flikker” gaan om hul “kinders” later te kan help wat nou aan die evangelie van God ongehoorsaam is:
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?