‘Luister sorgvuldig na al hierdie woorde’ (Deel 12)

God is doelgerig in alles, en niks verander Sy plan nie. Hulle wat glo dat ‘n skepsel God se plan kan omverwerp, sal voor God antwoord moet gee. Toe God die mens skep was daar ‘n definitiewe plan met elkeen in Adam, en daardie plan is nog steeds 100% op koers ten spyte van al die leuens wat aan ons verkoop word:

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Rom 11:34-36  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?  (35)  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?  (36)  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Alles was inderdaad doelgerig beplan deur God – die goed en die kwaad!

Gen 1:31  Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

Spr 16:4  Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Jes 45:7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Klg 3:38  Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?

Job 2:9-10  Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf!  (10)  Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.

As ons die geloof geskenk word om sorgvuldig te kan luister na al God se woorde, dan sal ons die plan kan sien en berus in Hom:

Heb 4:1-3  Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie.  (2)  Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle [die fisiese afgedwaalde Israeliete]; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.  (3)  Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.

Die woorde, “alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is”, gee aan ons ‘n duidelike idee dat God weet wat Hy doen. Alles werk 100% volgens wat Hy “van die grondlegging van die wêreld af” bepaal het! Deur geloof weet ons dit en neem elke woord persoonlik aan. Selfs die woorde wat God aan die ou Israeliete gegee het, is persoonlik toepasbaar – as ons sorgvuldig lees en luister!

Deu 12:28-29  Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van die HERE jou God.  (29)  As die HERE jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon.

Die “land” wat hier van gepraat word, was in fisiese terme die grondgebied wat God aan Abraham beloof het:

Gen 12:1  En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.

Heb 11:9  Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.

Vir baie is die woord “land” in die teks slegs verwysend na ‘n stuk grondgebied in die Midde-ooste wat belowe was aan die fisiese uitverkore volk van Israel – die fisiese Jode. Alhoewel die woorde van God ook ‘n natuurlike toespassing het, is God se Woord altyd primêr gemik op die geestelike:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Mat 24:35  Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

As God dus praat van Sy uitverkore volk, dan haak baie mense vas by die uiterlike interpretasie – die letterlike. Die ware geestelike uitverkore volk van God  is Sy een ware kerk in Christus Jesus – die geestelike Jode!

Gal 6:15-16  Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.  (16)  En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!

Rom 2:28-29  Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie;  (29)  maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.

Die hart wat hierna verwys word is natuurlik nie die pomp wat bloed deur die liggaam sirkuleer nie. Ons hart in geestelike terme verwys na ons denke (ook ons hemele genoem). ‘n Onbesnede hart is ons natuurlike hart, ons aardse denke wat God se geestelike dinge nie kan aanneem nie:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Ons aardse onbesnede hart is vol ongeloof wanneer ons “wandel in die dwaasheid van ons [aardse] gemoed [denke]” – dan is ons “verduister in die verstand” soos alle mense in die eerste Adam.

Efs 4:17-18  Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—  (18)  mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart.

Efs 2:2-3  waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,  (3)  onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.

As ons dink dat die woorde “die lug” na die natuurlike atmosfeer en die hemelruim daarbo verwys, dan luister ons nie sorgvuldig nie. God se woorde is gees. Hierdie aardse hemel is “afbeeldinge” en ons aardse hemel is onrein en moet gereinig word!

Heb 9:23  Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

Joh 3:12  As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse [Grieks: “epouranios” = hemel] vertel?

Ons onbesnede hart is onrein en vol boosheid. As God ons vernuwe in gees, dan werk Hy in die hemele – IN ONS DENKE (harte)! Dit is ook waarom ons gewaarsku word om in “die lug” die stryd te voer teen die heersers van hierdie wêreld – binne-in ons!

Efs 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug [Grieks: “epouranios” = hemel].

Ons reis in geloof is dus die pas waar God ons eie harte aan ons openbaar, omdat ons ons eie harte nie ken nie:

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

GOD KEN ONS! HY ken ons harte. Ons ken dit nie. Hy het dit so gemaak. Ons harte (denke) word geopenbaar en verander deur God se Woord. God se offers suiwer ons hemele! Al God se woorde is op elkeen van ons indiwidueel toepasbaar. God wil aan ons ons eie hart wys wat Hy in ons geskep het – HY KEN DIT. Die volgende woord is nie net ‘n histories les vir die fisiese volk van Israel op hul reise uit Egipte nie. Die woorde is aan ons gerig – as ons sorgvuldig kan lees en luister.

Deu 8:1-2  Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het.  (2)  En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.

Alles wat die fisiese Israel oorgekom het, het betrekking op as ons sorgvuldig luister!

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

God wil hê dat ons die “land” met al die onbesnede nasies in besit moet neem!

Deu 7:1  As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy.

Waar is hierdie sewe nasies? Hulle woon in ons harte. Die getal ‘sewe’ verwys vir sommige na ‘n wiskundige getal, maar vir ander is dit is ‘n geestelike simbool! Lees gerus meer oor die getal by die skakel:

(https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/14/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-7/)

Ons harte is van nature vol slegte gedagtes – geen goeie ouer leer sy kind verkeerde dinge nie. Kinders doen dinge wat verkeerd is van nature!

…Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.  Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak…

Hier is van ons vyande in die vlees wat elke dag ons wil regeer en ons hul slawe maak!

Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy.

KYK WEER! Neem kennis!

Die nasies is “meer en magtiger as jy”.

Adam en Eva het nie sorgvuldige geluister na God se woorde nie. Hulle het gedink hulle is opgewasse teen die bose in hul eie harte. Iemand wat sê dat Adam en Eva perfek was, het nie sorgvuldig gelees wat in Adam en Eva se harte was nog voor hulle van die verbode boom se vrugte geëet het nie. Luister sorgvuldig!

Gen 3:1-6  Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?  (2)  En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,  (3)  maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.  (4)  Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;  (5)  maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.  (6)  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Die kwaad was reeds in Eva (en Adam) se harte (hulle denke) voordat hulle geëet het. Hulle harte was reeds ongehoorsaam voordat hulle oorgegaan het in die daad. Sonde het nie ingekom nie, maar was reeds binne! “Luister en verstaan” Jesus se woorde wat Hy baie duidelik sê oor wat ons besoedel en laat sondig!

Mat 15:10-20  En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister en verstaan!  (11)  Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.  (12)  Daarop kom sy dissipels nader en sê vir Hom: Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?  (13)  Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.  (14)  Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.  (15)  En Petrus antwoord en sê vir Hom: Verklaar vir ons hierdie gelykenis.  (16)  Maar Jesus sê: Is julle dan ook nog sonder verstand?  (17)  Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie?  (18)  Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.  (19)  Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.  (20)  Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.

Daar is dit wat Adam en Eva in hul harte gehad het! “Slegte gedagtes!” Hulle het nie hul eie harte geken nie!

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Dit is die gedagtes in ons harte wat ons laat oorgaan in dade.  Waar het Adam en Eva hul aardse harte gekry en waar kry elkeen van ons hierdie natuurlike hart met al sy bedrog en sy “onbesnede nasies”?

Jes 45:5-7  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  (6)  sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  (7)  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Spr 16:4  Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

God neem volle verantwoordelikheid oor die skepsel en die hele fisiese skepping wat misluk, want dit alles vind plaas “in die hand van die Pottebakker”:

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  (2)  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  (3)  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  (4)  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Jes 63:17  HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s