Alles wat in hierdie skepping bestaan (“die dinge wat gesien word”), was nie voortgebring uit niks nie, maar uit God:
Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.
Die gees van God kom na die mens deur God se Woord, Jesus Christus, wie alles geskep het wat ons in hierdie skepping kan sien:
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. (2) Hy was in die begin by God. (3) Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Kol 1:15-16 Hy [Jesus] is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; (16) want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.
God se Woord is inderdaad gees en lewend (aktief)…
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
Dit beteken die Woord staan nie eenkant en laat dinge toe om te gebeur nie. Nee, die Woord is AKTIEF betrokke by alles tot op hierdie oomblik!
Kol 1:17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.
Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.
God se Woord is relevant tot alle skepsels se hele bestaan, veral die mensdom. God gee ons ALLES wat ons het van begin tot einde, en Hy is nie ver van elkeen van ons nie!!!
Hnd 17:24-28 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. (25) Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. (26) En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, (27) sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; (28) want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.
God se Woord is die groot kragtige waarheid van God! Daar is geen groter krag aan ons bekend nie, veral vir hulle wat dit kan erken.
1Kor 2:4-5 en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, (5) sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.
2Kor 6:7 in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter— en linkerhand;
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
Die natuurlike mens ken nie die omvang en gesag van die Woord nie, en daarom ken hulle ook nie die “krag van God” nie. Ons dwaal almal eers in die donkerte (onkunde) rond, deur ons “eie pad” te loop sonder om te weet dat God alles bepaal en beheer:
Mat 22:29 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.
Jes 53:6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop…
Mense wat dink dat hulle hul “eie pad” loop, is basies onbewus van wat eintlik aangaan. Alle paaie en elke voetstap van elke skepsel word BEPAAL deur God:
Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?
Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
Salomo en Jeremia stem hier saam – God bepaal elke weg van elke mens. Hoe weet hulle, en hoe weet almal wat hierdie warheid kan ontvang? Deur die Woord…
Psa 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.
Die Woord verlig ons denke om te besef wat God doen. God openbaar Hom aan ons slegs deur Sy Woord.
Joh 14:8-11 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. (9) Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? (10) Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. (11) Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.
Joh 14:5-7 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? (6) Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (7) As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
Soos die Woord die positiewe “krag” van God openbaar, so het God ook die negatiewe “krag van die dwaling” geskep vir Sy doel, deur Sy Woord. God skep en beheer die donkerte (‘die ondergang van die son’), en Hy skep en beheer die lig (‘die opgang van die son’):
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, (6) sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; (7) wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Hierdie “krag van dwaling” het ‘n spesifieke doel – dit is om die mens die leuens te laat glo:
2Ts 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
Die dwaling is ‘n leuen, maar dit kom na ons as waarheid. Geen mens ontsnap die dwaling nie. Mense glo leuens en hulle dink dit is die waarheid. Dit is wat dwaling beteken. Jy is vas oortuig van iets, en dan eendag vind jy uit met groot skok dat jy al die tyd ‘n groot leuen geglo het. Kyk byvoorbeeld wat aan ons gepreek was oor Adam, in ons tyd van donkerte! Ons kan eenvoudig net nie sien dat “die stof van die aarde” NIE gees en perfek is nie. Ons eerste ‘vorm’ is stof, nie gees nie, en ons kry die asem van die aardse mens. Dit is wat die eerste Adam behels – hy is ‘n “lewende siel” wat “aan die nietigheid onderworpe” was van die begin.
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die [aardse] lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword…
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Daar staan dit so duidelik soos daglig en tog kan die natuurlike mens dit nie sien nie. Die aardse mens, Adam, was aan tydelikheid onderworpe “nie gewillig” nie! Hy het dus ‘n wil, maar daardie wil is onder God se beheer van A tot Z! En tog glo mense die kragtige dwaling dat mens ‘n sogenaamde ‘vrye’ wil gegee was, nogal deur God!!! Ja God het aan die mens ‘n dilusie gegee van ‘n ‘vrye’ wil.
2Ts 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
Getuie op getuie sê vir ons dwarsdeur die Skrifte, dat God bepaal elke wil, en tog is baie verblind om dit nie te kan sien nie.
Rom 9:15-16 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. (16) So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.
‘n “Lewende siel” is nie ‘n “lewendmakende gees” nie. Die twee is onversoenbaar.
1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
‘n “Lewende siel” is onperfek gemaak, in sonde en sterflik!
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Die eerste “voorwerp” is ‘n voorwerp “tot oneer” (gaan deur pynlike mislukkings) vir God se heilige doelwitte. Dit maak vir die natuurlike mens net nie sin dat God hierdie pynlike proses gekies het om ons lesse te leer nie! Daarom vra die mens as hy uitvind dat God op die manier werk….
Rom 9:19-23 Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? (20) Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? (21) Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? (22) En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, (23) juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,
Hier is die doel van die pynlike tyd in vlees!
“….juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid…”
Ons word deur die tydelike aardse lewe voorberei vir God se geestelike heerlikheid. Die mens was ‘n sterflike wese by sy skepping. Die woorde “sekerlik sterwe” is juis ‘n beklemtoning van hierdie eerste mens, Adam, se tydelikheid!
Gen 2:17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
‘n “Lewende siel” is aards en het nie die “lewendmakende gees” van die “laaste Adam”, naamlik Jesus Christus nie:
1Kor 15:45-47 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. (46) Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. (47) Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.
Jesus Christus was voor die grondlegging van hierdie skepping alreeds aangewys as die “Behouder” om ons almal deur die hele proses te neem en dan geestelik volmaak aan God te bring!
1Ti 4:9-10 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; (10) want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder [Redder / Verlosser / Saligmaker] is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
Jud 1:25 aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.
1Jo 4:14 En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.
2Pe 1:1 Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus: