In ons natuurlike lewe gaan ons almal deur ‘n proses van groei, vanaf ons fetus/baba-stadium tot volwassenheid, en dit help ons om ook te besef dat die mens as indiwidu, en as groep, deur ‘n soortgelyke proses gaan in ons geestelike lewe . Die natuurlike is inderdaad ‘n afbeelding of skadubeeld van die geestelike.
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Ons weet ook dat die getal ‘7’ geestelik na “voltooiing” van ‘n proses verwys, volgens die Skrifte.
Gen 2:1-3 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
Open 10:7 maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.
Niemand sal dus tot geestelike volwassenheid kom (in God se geestelike tempel gaan), alvorens alles wat in daardie persoon se “boek” geskryf was, voltooi is nie:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Opn 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.
God se “sewende dag” is ‘n dag wat vir elkeen persoonlik sal aanbreek, maar dit is ook die dag waar God aan almal Sy saligheid en heiligheid sal skenk.
Gen 2:3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
Jesus het dit duidelik verklaar dat Hy en Sy Vader nog werk en vir baie mense maak dit nie sin nie – is God dan nie klaar met sy skeppingswerk nie?
Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.
Die voltooiing van God se werk is dus nog steeds ‘n verborgenheid vir baie want hulle kan nie die plan sien waarmee God “tot nou toe” werk in hierdie hemel en aarde, en hul ganse leërmag:
Gen 2:1-3 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
In geestelike terme is die “sewende dag” dus ‘n persoon, Jesus Christus, en almal moet in “Sy rus” ingaan voordat enigeen geestelik perfek kan wees.
Gen 2:3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
Die eerste Adam, en almal in sy lendene, is deel van die ses-dae skepping. Dit was alles “baie goed” gemaak, maar nie deel van die “Sewende Dag” se perfektheid nie:
Eks 20:11 Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.
Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
Almal in die eerste Adam gaan dus deur ‘n fisiese en tydelike proses wat sal eindig in die “Sewende Dag” – hul geestelike perfektheid in Jesus Christus. Ons begin dus almal in “die eerste mens, Adam” as ‘n sondige skepsel, en groei dan tot perfekte geestelike saligheid in Christus, “die laaste Adam”:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Fisiese Israel, en almal wat Jesus verwerp in hierdie lewe, het nie die geloof ontvang om nou in Jesus se rus in te gaan nie:
Heb 4:1-3 Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. (2) Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle [fisiese Israel]; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. (3) Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.
Lees gerus meer oor die getal ‘7’ se geestelike toepassing by hierdie skakel:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/14/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-7/
Die proses waardeur ons almal indiwidueel, en die hele mensdom kollektief, sal gaan in ons ontwikkeling tot geestelike volwassenheid, word orals in die Skrifte uitgebeeld, maar veral in die geskiedenis van die fisiese volk van Israel in die Ou Testament. Alles wat met Israel gebeur het, is verwysend na ons eie lewe:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
In hierdie reeks studies sal ons kortliks kyk na hierdie pad, soos dit uitgebeeld word deur die sewe-stap proses wat deur Israel in die Ou Testament as “voorbeeld” aan ons voorgehou word. Vir ons doel sal ons kyk na twee prosesse wat die ou Israeliete fisies moes deurgaan, naamlik hul algemene geskiedenis soos opgeskryf in die hele Ou Testament, en ook na sewe feeste wat hulle moes hou. Hier is ‘n kort uitleg van die twee prosesse:
Die Geskiedenis van Israel kan in sewe fases ingedeel word:
- Die tyd van slawerny in Egipte;
- Die bevryding van die Egiptiese slawerny;
- Die tyd in die wildernis;
- Die ingang in die Beloofde Land;
- Die tyd in die Beloofde Land;
- Die tyd in ballingskap in Babilon;
- Die terugkeer uit Babilon en die heropbou-proses.
Ons sal ook kortliks kyk na hoe sewe van die feeste van die ou Israel verband hou met hierdie geestelike groeiproses, indiwidueel en kollektief. Ons kan dit ook net kortliks noem.
- Die pasga
Lev 23:5 In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE;
- Die fees van ongesuurde brode.
Lev 23:6 en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.
- Die ‘vyftigste’ dag fees (Pinksterfees).
Lev 23:15-16 Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring sewe volle weke moet dit wees; (16) tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die HERE bring.
- Die fees van “basuingeklank”.
Lev 23:24 Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n heilige vierdag.
- Die fees van die “Versoendag”.
Lev 23:27 Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ‘n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die HERE ‘n vuuroffer bring.
- Die huttefees.
Lev 23:34 Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die HERE.
- Die groot fees op “die agste dag” van die huttefees.
Lev 23:36 Sewe dae lank moet julle aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees, en julle moet aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Dit is ‘n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie.
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 12) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 13) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 14) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 15) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 16) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord