In hierdie reeks studies kyk ons kortliks na ons pad na geestelike volwassenheid in Christus, soos dit uitgebeeld word deur die sewe-stap proses waardeur Israel in die Ou Testament moes gaan, as “voorbeeld” van ons eie pad.
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde [tipes van ons] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Vir ons doel sal ons kyk na twee aspekte wat die ou Israeliete beleef het, naamlik…
- hul algemene geskiedenis soos opgeskryf in die hele Ou Testament, wat in sewe fases opgedeel kan word;
- sewe feeste wat hulle moes hou.
Die getal sewe speel ‘n ooglopende belangrike rol in alles, want deur middel van die getal ‘7’ gee God aan ons ‘n geestelike beeld van die proses wat Hy sal voltooi in ons, en in Sy hele skepping:
Fil 1:6 omdat ek [Paulus] juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;
Almal in die eerste Adam sal ‘voltooiing’ geniet op “die dag van Jesus Christus”:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Lees gerus meer oor die geestelike betekenis van die getal ‘7’ by die volgende skakel:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/14/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-7/
Hier is ‘n kort uitleg van die sewe fases van Israel se geskiedenis:
- Die tyd van slawerny in Egipte;
- Die bevryding van die Egiptiese slawerny;
- Die tyd in die wildernis;
- Die ingang in die Beloofde Land;
- Die tyd in die Beloofde Land;
- Die tyd in ballingskap in Babilon;
- Die terugkeer uit Babilon en die heropbou-proses.
Sewe van hul feeste het ‘n noue verband met die geestelike interpretasie van Israel se geskiedenis:
- Die pasga
- Die fees van ongesuurde brode.
- Die ‘vyftigste’ dag fees (Pinksterfees).
- Die fees van “basuingeklank”.
- Die fees van die “Versoendag”.
- Die huttefees.
- Die groot fees op “die agste dag” van die huttefees.
In ons vorige skrywes in hierdie betrokke reeks studies (Deel 1, Deel 2, Deel 3, Deel 4, Deel 5), het ons reeds die rol en geestelike betekenis van die volgende gebeure in ons eie lewe uitgeken…
- ons tyd in “Egipte” (ons tyd in slawerny van sonde);
- God se Pasga-Lam (Jesus Christus se dood vir ons sondes);
- en die eet van ongesuurde brode (die erkenning van die sondelose lewe van Christus en Sy dood vir ons sondes);
- Ons doop in die Rooi See (die fisiese aflegging van sondes – ons vleeslike bekering waar ons Jesus in vlees ontmoet en ken).
Ons tyd in die wildernis:
Ons reis deur die Rooi See (ons eerste doop) is wonderbaarlik, en ons is vol bewondering vir God se dade in ons vlees. Op hierdie stadium speel God sommer gou klaar met die Egiptenare (ou sondige gewoontes) wat ons wil agtervolg:
Eks 14:26-31 Daarop sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit oor die see, dat die waters kan terugvloei oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en oor hulle ruiters. 27 En Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die see het teen dagbreek in sy bedding teruggevloei, en die Egiptenaars het dit tegemoet gevlug. So het die HERE dan die Egiptenaars binne-in die see gestort. 28 En toe die waters terugvloei, het hulle die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, oordek. Geeneen van hulle het oorgebly nie. 29 Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek. En die waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter— en aan hul linkerkant. 30 So het die HERE Israel dan dié dag uit die hand van die Egiptenaars verlos. En Israel het die Egiptenaars dood gesien aan die kant van die see. 31 Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg.
Tydens hierdie deel van ons reis glo en vrees ons God net in dit wat ons met ons fisiese sintuie kan waarneem. Ons gebruik selfs prys en aanbiddingsliedere en ons word weggevoer in ‘n fisiese en emosionele belewenis van ons geloof:
Eks 15:1-2 Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. 2 Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.
Eks 15:20-21 En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het ‘n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse. 21 En Mirjam het hulle al singende geantwoord: Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.
Ons sien God in vergelyking met ander gode:
Eks 15:11 o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?
Maar dan moet ons aanbeweeg en die tye van droogheid trotseer waar dinge nie meer so maklik gaan nie:
Eks 15:22-24 Daarop het Moses die Israeliete laat wegtrek van die Skelfsee af, en hulle het uitgetrek na die woestyn Sur. Hulle het toe drie dae lank in die woestyn getrek en geen water gekry nie. 23 En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom heet die plek Mara. 24 Toe murmureer die volk teen Moses en sê: Wat moet ons drink?
Die fisiese wonderwerke het nou opgehou en ons geloof word getoets en ons begin sien dat ons nie so sterk en sondeloos is soos ons gedink het nie. Net soos die volk van Israel weer begeer het om terug te gaan na slawerny, so verval ons altyd terug na die “veilige” hawe van vleeslike dinge.
Eks 16:1-3 Toe hulle van Elim af wegtrek, het die hele vergadering van die kinders van Israel in die woestyn Sin gekom, wat tussen Elim en Sinai lê, op die vyftiende dag van die tweede maand ná hulle uittog uit Egipteland. 2 En die hele vergadering van die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron in die woestyn gemurmureer. 3 En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe.
Dit is juis waarvoor die woestyn / wildernis-tydperk deel vorm van ons reis na geestelike volwassenheid. Dit ontbloot ons diepste geheimenisse. God wil ons wys hoe ons lyk in vlees en watter diep donkertes in ons harte is:
Deu 8:2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.
God weet alles – dit is ons wie nie weet nie. Ons ken nie ons eie harte nie.
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
God het ons doelbewus in vlees gemaak vol bedrog en sonde – ons volg ons sondige natuur nog voor ons weet wat goed en kwaad is:
Gén 3:1-6 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Ons volg ons sondige drifte wat God geskep het in ons lewe, en deur “die wet van sonde” losgemaak word…soos deur God alleen bepaal want Hy beheer alle wette!
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [die kwaad / die bose] skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Rom 7:14-26 Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. 15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. 16 En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. 17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. 21 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. 22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; 23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. 24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? 25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! 26 So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.
Jak 4:12 Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat ‘n ander oordeel?
Ons harte word slegs deur versoekinge en beproewinge ontbloot. God stuur die Versoeker, die slang, die duiwel, na ons om ons tydens ons tyd in die woestyn / wildernis te versoek.
Jak 1:12-15 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet. 13 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.
Jesus in vlees moes self deur hierdie tyd gaan.
Mat 4:1-2 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. 2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.
Die getal ’40’ is hier van groot belang. Dit is ‘n simbool van ons tyd in beproewinge waar ons waardevolle geestelike lesse leer. Lees gerus meer oor hierdie getal se geestelike betekenis by die volgende skakel:
Die woestyn is ‘n belangrike deel van ons geestelike reis. Dit is die plek waar ons faal en leer om op te staan, in Christus.
Jak 1:2-5 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. 5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
Ons leer hier in die woestyn / wildernis om op God alleen te vertrou, maar dit kom net deur swaar tye:
Hnd 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Ons leer dus deur teenoorgesteldes. Die lig kom deur die donkerte. Die oggend kom NA die nag:
Gén 1:1-5 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.
Gén 1:8 En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.
Gén 1:13 En dit was aand en dit was môre, die derde dag.
Gén 1:19 En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.
Gén 1:23 En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.
Gén 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
As die tye moeilik word, dan word ware karakter gebou. Dit is wat ons tyd in die wildernis teweegbring. Die ou mens van vlees sal sterf en vervang word deur ‘n nuwe skepping in gees, maar die ou mens moet eerste bestaan want dit is DEUR die ou mens dat ons van die nuwe mens leer!!!
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Dit is DEUR die dood wat lewe kom:
Kol 1:21-22 Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen 22 in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;
Heb 2:14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—
Die nuwe tempel, die koninkryk van God, word net bereik deur baie verdrukkinge – deur al die sewe plae te beleef wat in ons boek geskryf was!
Opn 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 13) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 14) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 15) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 16) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord