Ons reis tot geestelike volwassenheid gaan deur twee hooffases: ‘n fisiese deel en daarna volg die geestelike. Dit is wat die twee Adams in die Skrifte aan ons bring:
1Kor 15:45-46 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.
In hierdie verse beskryf Paulus die twee oorkoepelende ‘hoofstukke’ in ons boek wat God geskryf het voor ons geboorte, waarin Hy alles reeds bepaal het om te gebeur op die tyd soos Hy bepaal – en alles verloop 100% op koers. Ons gaan niks mis wat God bepaal het om plaas te vind nie:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Alhoewel ons almal eerste deur die bose vlees moet leef, is daar ‘n groot troos – almal in “die eerste mens”, Adam (dit is die vleeslike tydperk in ons lewe), sal geestelike lewe geskenk word in “die laaste Adam”, Jesus Christus:
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;
Ons bespreek in hierdie reeks studies ons reis binne hier twee Adams, en tot dusver was die fokus op die eerste gedeelte, naamlik ons tyd in vlees…
- …waar ons onder die heerskappy van sonde leef (soortgelyk aan die ou Israeliete se tyd van slawerny in Egipte soos die neergeskryf was in die boek van Eksodus);
- …waar ons ‘n vleeslike ontmoeting met Jesus Christus het, veral toe ons uitvind van Sy dood aan die kruis vir ons sondes (soos Israel ‘n lam moes offer en die bloed van die geofferde lam aan hul deurposte moes smeer);
- …waar ons die sonde uit ons lewe wou hê (soos Israel die fees van die ongesuurde brode moes eet vir sewe dae lank);
- …waar ons deur ‘n tydperk moet gaan onder die aardse heerskappy van God se fisiese wet (soos die ou Israeliete 40 jaar verbrysel was in die woestyn onder God se ysterstaf);
- …waar ons uitvind dat ons ou vlees nie die koninkryk van God kan ingaan nie al probeer ons ook hoe hard om reg te leef (soos almal oor 20 jaar oud in die woestyn moes sterf en nie die beloofde land kon ingaan nie, behalwe die twee getuies, Joshua and Kaleb, wat God se voorsiening kon sien met ‘n ander gees as wat die res van die mense kon sien).
Israel se geskiedenis is dus ons eie geskiedenis. Wat hulle oorgekom het, was neergeskryf vir ons, om ons eie lewe en reis tot geestelike volwassenheid te verstaan:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde [oorspronklike Griekse woord: “tupos” = tipe], en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Hier is sewe fases in Israel se geskiedenis wat vir ons as riglyn dien vir hierdie reis:
- Die tyd in Egipte;
- Die bevryding van die Egiptiese slawerny;
- Die tyd in die wildernis;
- Die ingang in die Beloofde Land;
- Die tyd in die Beloofde Land;
- Die tyd in ballingskap in Babilon;
- Die terugkeer uit Babilon en die heropbou-proses.
Hierdie sewe fases word verder verduidelik deur die feestye wat God aan Israel voorgeskryf het – alles eindig in die rus in Christus wanneer ons die hele reis verstaan! Hier is die sewe hooffeeste van die Jode:
- Die pasga
- Die fees van ongesuurde brode.
- Die ‘vyftigste’ dag fees (Pinksterfees).
- Die fees van “basuingeklank”.
- Die fees van die “Versoendag”.
- Die huttefees.
- Die groot fees op “die agste dag” van die huttefees.
In ons vorige skrywes in hierdie betrokke reeks studies (Deel 1, Deel 2, Deel 3, Deel 4, Deel 5, Deel 6, Deel 7) het ons reeds gevorder tot ons tydperk deur ons eie wildernis-ervaring. Ons staan nou by die Jordaanrivier en ons moet die Beloofde land ingaan. Maar dit is hier wat die skeiding kom, want soos met Israel gebeur het, so gebeur dit in ons eie lewe. Net ‘n klein getal mense in hierdie lewe word uitverkies deur God om die tweede doop, die geestelike doop in die Jordaan te ervaar:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Alhoewel die reis van die berg Horeb tot by Kades-Barnéa (die plek net voor hulle die Jordaanrivier moes oorsteek) slegs 11 dae moes duur vir die Israeliete, het God besluit om hulle veertig jaar in die woestyn te laat bly.
Deu 1:1-3 Dit is die woorde waarmee Moses die hele Israel toegespreek het oos van die Jordaan in die woestyn, in die Vlakte teenoor Suf, tussen Paran en Tofel en Laban en Háserot en Di-Sahab. 2 Elf dae is die pad van Horeb af na die gebergte Seïr tot by Kades-Barnéa. 3 En in die veertigste jaar, in die elfde maand, op die eerste van die maand, het Moses met die kinders van Israel gespreek net soos die HERE ten opsigte van hulle aan hom bevel gegee het;
Daar was baie goeie redes vir God se keuse, en hier is ‘n paar:
- om aan Israel te wys dat hulle harte vleeslike dinge bedink het en nie geestelike dinge. Dit is ons almal se probleem tydens ons aardse fase, en selfs ons eerste bekering is ‘n vleeslike bekering. Ons ken nie ons eie vlees en sy drange nie, en ons ken ook nie God se doel met die vlees nie!
Deu 8:1-2 Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. 2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.
- om die ou generasie (die Israeliete wie 20 jaar oud en ouer was) uit te wis omdat hulle na Egipte verlang het en God versoek het deur hul gedurige fisiese drange. Ons leer in ons tyd in ons vlees dat die vlees ‘n tydelike skepping is, maar dit is in hierdie tyd in vlees waar ons belangrike geestelike lesse leer. Die vlees is die plek waar ons die beste leer van wie God NIE is nie! God is gees en wie Hom wil ken en aanbid sal dit in gees en waarheid doen op die tyd soos Hy bepaal (Joh 4:24)!
Núm 14:26-29 Daarna het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: 27 Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer. 28 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. 29 Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.
Die ou mens, “die eerste mens, Adam”, is dus ‘n belangrike deel van ons reis want uit die ou mens en sy dood verrys ‘n nuwe skepping. Die skoenlapper kan nie voortkom sonder die wurm en papie nie. Dit is wat die Skrifte van Genesis tot Openbaring vir ons wil sê. Dit is God se groot plan. Dit is wat profete soos Jesaja vir ons wil sê.
Jes 52:1-2 Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie. 2 Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!
Mense wat preek dat bekering en wedergeboorte ‘n kitssaak is, slaan die bal heeltemal mis. Hierdie gebeure van Israel en hul hele geskiedenis was juis neergeskryf vir ons lering – ons kan dit nie mis nie.
Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
Ons gaan almal deur dieselfde proses. Ons leer alles in hierdie lewe op die harde manier IN ONS EIE LEWE.
Prd 9:2 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed.
Dit is ‘n leuen wat baie voorspoedpredikers preek as hulle sê ons sal nie van elke woord uit God se mond lewe nie. Jesus het reg gepraat toe Hy die volgende aan Satan sê nadat hierdie Versoeker vir Jesus elke keer kortpaaie wou wys:
Mat 4:1-10 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. 2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. 3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. 4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. 5 Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan 6 en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie. 7 Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. 8 Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, 9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. 10 Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
Die pas na geestelike volwassenheid is nie ‘n kortpad nie! Ons sal die lang pad stap en ons sal volkome verlossing kry van alle vleeslikhede in ons. Ons sal dan in God se geestelike tempel ingaan – dit is verseker want God belowe dit! Die volgende tekste is nie geskryf om dowe neute nie!
Luk 21:19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.
Hnd 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Opn 15:5-8 En ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, die tempel van die tent van die getuienis in die hemel is geopen. 6 En die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels. 7 En een van die vier lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid. 8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.
Ons lewe inderdaad van elke woord – veral die dele wat sê ons NIE verkeerde dinge moet doen nie. Ons DOEN dit! Ons wil nie, maar ons doen dit! Hier is die rede en hier is die uitweg!
Rom 7:18-26 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. 21 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. 22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; 23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. 24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? 25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! 26 So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.
Dit gebeur alles omdat God dit laat gebeur vir ‘n goeie doel:
Jes 63:17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!
Jer 2:19 Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die HERE van die leërskare.
Spr 1:7 Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.
Job 28:28 Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.
Job 28:28 Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.
Heb 12:5-9 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?
Ons eie Jordaanrivier bring die groot skeiding in ons waar ons sal kan sien hoe die uiterlike werke van God verskil van die innerlike werke van God. Ons gesels in die volgende deel (Deel 9) oor die oorgang in die beloofde land, soos God wil!
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 9) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 11) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 12) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 13) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 14) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord