Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 9)

Alles wat in die Skrifte neergeskryf was en wat met die volk Israel gebeur het, het gebeur en is opgeskryf vir ons lering, want dit beskryf ons eie reis na geestelike volwassenheid in Christus:

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde [oorspronklike Griekse woord: “tupos” = tipeer ons], en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Jeremia het die volgende woorde van God gekry en ons leer ook hieruit van ons eie aanvanklike bestaan in die eerste voorwerp van klei (vlees en bloed), voordat ons herskep word in ‘n ander vorm, op die tyd soos deur God bepaal:

Jer 18:1-6 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak. 5 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 6 Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel!

Ons is, soos Israel, in die hand van die groot Pottebakker en Hy bepaal ons hele reis – van die eerste skepping in vlees tot ons wedergeboorte in gees:

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Israel was as volk afgeneem na Egipte in die dae van Jakob (sy naam was ook “Israel”), toe Josef vir hulle voorsiening gemaak het tydens die groot hongersnood. Alhoewel dit aanvanklik goed gegaan het met Jakob se nageslag in Egipte, het dinge baie verander toe ‘n ander Farao die troon bestyg het in Egipte en hulle moes later as slawe werk:

Hnd 7:15-19  En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders.  16  En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir ‘n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem.  17  En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met ‘n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte,  18  totdat daar ‘n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie.  19  Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie.

Moses was deur God uitverkies om op die ouderdom van 80 jaar die volk van Israel uit slawerny en mishandeling te lei. Moses was ‘n tipe van Jesus!

Hnd 7:36-37  Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank.  37  Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister.

Moses was die aardse voorbeeld van die ware Verlosser, Jesus Christus, wat ons almal uit die slawerny van sonde en aardsheid sal verlos. Maar soos die volk van Israel nie na Moses wou luster nie, luister ons ook nie na die Verlosser nie. Ons almal verwerp Hom aanvanklik en dit is deur die “tien plae” in ons eie lewe dat ons uiteindelik Jesus as God se enigste Saligmaker vir ons aanvaar.

1Ti 2:3-6  Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,  4  wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.  5  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,  6  wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,

Maar as die boodskap van Jesus ons bereik, dan ervaar ons eerste ‘n vleeslike bekeringsproses. Ons is dankbaar vir die ommekeer in ons lewe, maar ons fokus is net op die aardse seëninge en voorspoed. Ons soek God net vir Sy voordele in vlees. Ons wil hemel toe gaan en daardie hemel stem baie ooreen met hoe ons aardse dinge sien…huise, groot paleise, goue strate, ‘n troon, ‘n lui-lekker lewe, engele met vlerkies wat ons bedien, gesange en mooi musiek. Dit is alles leuens!

2Ts 2:11  En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.

Dit is waarom Israel se tyd in die wildernis periode van 40 jaar so noukeurig aan ons beskryf word in die Skrifte. Ons tyd in ons eie wildernis help ons om die dwalinge van ons eie hart raak te sien:

Deu 8:2  En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.

Ons ken Jesus aanvanklik net volgens Sy vleeslike openbaring, en ons leef onder ‘n baie sterk dwaling wat God oor ons gebring het. Tydens ons wandelinge in die wildernis heers die leuens en verdraaiings van die hoerkerke, die geestelike Babilon, oor ons, totdat God ons oë oopmaak om die hoer te sien wat in ons eie lewe so lank heerskappy voer:

Opn 17:1-6  En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit,  2  met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.  3  En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.  4  En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery;  5  en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.  6  En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.

Die hoer sit op die dier want sy heers oor ons vleesmens en ons glo haar want sy lyk soos die Lam van God (Christelik), maar die leerstellings wat sy preek is almal leuens:

Opn 13:11-14  En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak.  12  En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is.  13  Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.  14  En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.

Dit neem ‘n baie lang tyd vir ons om te besef, met groot skokke, dat ons ‘n “ander Jesus” aanbid het…

2Kor 5:16-17  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.  17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

2Kor 11:3-4  Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.  4  Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.

Maar dit was by die Jordaanrivier waar die groot skeiding gekom het in Israel se geskiedenis. Soos met Israel, is ons reis ook verdeel in twee dele:

  • Van Egipte, deur die wildernis tot by die oewers van die Jordaan gaan alles oor vlees en wat die vlees wil hê.
  • Maar dan volg ‘n baie dieper ervaring en belewenis in Christus.

In ons vorige skrywes in hierdie betrokke reeks studies (Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6, Deel 7, Deel 8)  het ons reeds gevorder tot ons tydperk in ons eie wildernis-ervaring. Dit is by die Jordaan waar die tweede fase in Israel se geskiedenis aanbreek. Hier is Moses se profetiese woorde voor sy dood aan die oostekant van die Jordaanrivier:

Deu 4:26-27  dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word.  27  En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en ‘n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe.

Hier is wat nog voorlê op ons reis as ons by ons eie Jordaanrivier-ervaring kom, waarvan ons terdeë kennis moet neem:

  • Die belangrike gebeure by die ingang in die Beloofde Land (die Jordaanrivier);
  • Die tyd van oorloë in die Beloofde Land;
  • Die tyd in ballingskap in Babilon;
  • Die terugkeer uit Babilon en die heropbou-proses.

Niemand van die volk van Israel wie oor die ouderdom van 20 jaar was, was toegelaat om deur die Jordaan te gaan, behalwe twee – Joshua en Kaleb.  Joshua en Kaleb het ‘n “ander gees” gehad wat nie met die gees van die massa, wat teen God gerebelleer het, ooreengekom het nie:

Núm 32:11-13  Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie—  12  behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die HERE te volg.  13  En die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die HERE.

Núm 14:21-24  Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word,  22  al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie,  23  hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie.  24  Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.

Net ‘n klein getal mense in hierdie lewe word uitverkies deur God om die tweede doop, die geestelike doop in die Jordaan te ervaar, wat hulle instaat stel om die vlees agter te laat:

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Ons sal net God in gees sien as ons “UIT” ons vlees geneem word wanneer ons die krag geskenk word om “oor die stof” te heers!

Job 19:25-26  Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.  26  En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;

Die fases in Israel se geskiedenis het ook ‘n baie noue verband met die feestye wat God aan Israel voorgeskryf het. Hier is die sewe hooffeeste van die Jode:

  • Die pasga
  • Die fees van ongesuurde brode.
  • Die ‘vyftigste’ dag fees (Pinksterfees).
  • Die fees van “basuingeklank”.
  • Die fees van die “Versoendag”.
  • Die huttefees.
  • Die groot fees op “die agste dag” van die huttefees.

Die deurgang van die Jordaan stem ooreen met die Pinksterfees van die Jode, ook genoem “fees van die eerstelinge” van die oes, “die fees van die oes”, en die “fees van die weke”.

Núm 28:26  En op die dag van die eerstelinge, as julle ‘n nuwe spysoffer by julle fees van die weke aan die HERE bring, moet daar vir julle’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.

Eks 23:16  verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai…

Eks 34:22  Die fees van die weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die koring-oes…

Die woord “Pinkster” het sy oorsprong in ‘n Griekse woord “pentēkostē”, wat beteken ‘vyfstigste’, en dit kom van die volgende gedagte in die Skrifte:

Deu 16:1-10  Onderhou die maand Abib en hou pasga vir die HERE jou God; want in die maand Abib het die HERE jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei.  2  En jy moet vir die HERE jou God as pasga kleinvee en beeste slag, op die plek wat die HERE sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.  3  Jy mag geen gesuurde brood daarby eet nie; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode daarby eet, brood van ellende—want baie haastig het jy uit Egipteland uitgetrek—sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit Egipteland in gedagtenis kan hou.  4  En daar mag by jou sewe dae lank geen suurdeeg in jou hele grondgebied gesien word nie; ook mag niks van die vleis wat jy die eerste dag in die aand slag, tot die môre toe oorbly nie.  5  Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat die HERE jou God aan jou gee nie.  6  Maar op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, moet jy die pasga slag, in die aand teen sononder, op die tyd van jou uittog uit Egipte.  7  Dan moet jy dit kook en eet op die plek wat die HERE jou God sal uitkies; daarna moet jy in die môre omdraai en na jou tente gaan.  8  Ses dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag is daar ‘n feestyd vir die HERE jou God; dan mag jy geen werk doen nie.  9  Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel.  10  Dan moet jy die fees van die weke hou vir die HERE jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die HERE jou God jou sal seën.

Pinster is die tyd in ons lewe waar die Woord van God aan ons oopgemaak word in gees, waar ‘n persoonlike toepassing van die dood van Christus in ons eie lewe sal effek kry. Dit is wanneer God se geestelike lewe en insigte ons denke en lewe begin oorneem om die vlees se ware status te sien!

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

1Pe 1:23-25  want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.  24  Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,  25  maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

Die eerste Pinkster vir die ou Israeliete word as skadubeeld na ons gebring toe God Sy Wet op skrif plaas op die berg Sinai:

Eks 24:12-18  Toe sê die HERE vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig.  13  Hierop het Moses klaargemaak en Josua, sy dienaar. En Moses het op die berg van God geklim  14  en aan die oudstes gesê: Wag hier vir ons tot ons na julle terugkom. En kyk, Aäron en Hur is by julle; wie regsake het, kan na hulle gaan.  15  Toe Moses die berg opklim, het ‘n wolk die berg oordek.  16  En die heerlikheid van die HERE het op die berg Sinai gebly, en die wolk het dit ses dae lank oordek. En op die sewende dag het Hy na Moses geroep uit die wolk.  17  En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.  18  En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte.

Dit is tydens die Pinksterfees in ons eie lewe waar die tydelikheid en korrupte vlees finaal aan ons uitgewys word – en sy doodstoestand bevestig word. Die vlees is van geen blywende geestelike waarde in God se geestelike koninkryk nie. So word die eerste Pinksterfees van die kerk van Christus in die Nuwe Testament beskryf:

Hnd 2:1-4  En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.  2  En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.  3  Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.  4  En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

Kyk na die ooreenkomste in Petrus se wooorde met die beskrywing van wat gebeur het toe Moses die Wet gekry het.

Hnd 2:17-21  En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.  18  En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.  19  En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp.  20  Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.  21  En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Eks 24:17  En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.  

Eks 19:16-18  En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ‘n swaar wolk op die berg en die geluid van ‘n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het.  17  Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg.  18  En die hele berg Sinai het gerook,omdat die HERE in ‘n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe.

Dit is die tweede doping wat ons moet ervaar  – die doping in die gees. Die eerste doop was in water wat uitgebeeld was deur die trek deur die Rooi See (Skelfsee). Ons kom eers deur water voordat ons deur gees gebore word:

Joh 3:1-7  En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode.  2  Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.  3  Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  4  Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?  5  Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.  6  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.  7  Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.

Hier is Johannes die Doper se woorde, soos neergeskryf deur Mattheus, oor die twee dopinge wat ons sal deurgaan:

Mat 3:11-12  Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.  12  Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.

Die doping in die gees van God is nie ‘n maklike ding vir die berg van die vlees om te ervaar nie. As God Sy Woord in gees aan ons openbaar gaan dit gepaard met groot vrees en bewing:

Jes 66:1-2  So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?  2  Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

6 Responses to Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 9)

  1. Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 16) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s