Soos reeds in hierdie reeks studies aangedui, word ons reis na geestelike volwassenheid deur twee hooffases gekenmerk – ‘n vleeslike deel en ‘n geestelike deel (Lees gerus die vorige skrywes by hierdie skakels: Deel 1, Deel 2, Deel 3, Deel 4, Deel 5, Deel 6, Deel 7, Deel 8, Deel 9, Deel 10) . In die eerste deel van ons reis is die fokus op die uiterlike vlees, en as ons uitvind hoe verlore ons vlees is, dan probeer ons baie hard om beter te lewe en God te beïndruk. Ons beweeg uit ons lewe van sonde (uit ons Egipte), deur ons Rooi See, tot in ons tyd waar ons God vertrou vir Sy fisiese voorsiening. Dit is wat die aanvanklike geskiedenis van die fisiese volk van Israel vir ons uitbeeld
1Kor 10:1-4 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, 2 en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, 3 en almal dieselfde geestelike spys geëet het, 4 en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.
God is egter nie beïndruk met ons vlees en al sy dinge nie. Hy het ‘n groter plan vir ons en wil ons tot geestelike volwassenheid neem. Daarom het God vir ons die fisiese volk van Israel gegee as skadubeelde van ons eie vlees en ons beheptheid met aardse dinge:
1Kor 10:5-11 Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. 6 En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. 7 En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. 8 En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. 9 En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. 10 En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. 11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Ons ontmoet eers Jesus in die vlees en ons begin baie goed met Hom. Fisiese wonders en tekens is ons fokus en God antwoord gebede en jy geniet seëninge. Alles is egter gebaseer op die tydelike vlak want ons dien Jesus in vlees voor ons Hom in gees leer ken:
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Die skeiding tussen die vlees van Jesus en Sy geestelike bediening was by die Jordaanrivier toe Sy hemel geopen was om hierdie woorde van die Vader te hoor:
Mat 3:13-17 Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. 14 Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? 15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. 16 En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. 17 En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.
Israel se geskiedenis uit die land Egipte tot die terugkeer uit ballingskap in Babilon, gee aan ons ‘n beeld van ons reis tot geestelike volwassenheid.
- Die tyd in Egipte;
- Die bevryding van die Egiptiese slawerny;
- Die tyd in die wildernis;
- Die ingang in die Beloofde Land;
- Die tyd in die Beloofde Land;
- Die tyd in ballingskap in Babilon;
- Die terugkeer uit Babilon en die heropbou-proses.
Die Jordaanrivier, die ingang in die Beloofde land, gee aan ons die skadubeeld van ons eie reis tot op daardie stadium waar ons die vleeslike Jesus ken en Hom volg vir tydelike seëninge. Dit was ook by die Jordaanrivier waar die ou generasie van Israel wat 20 jaar en ouer was, nie kon deurgaan tot in die beloofde land nie, behalwe twee uitverkorenes:
Núm 32:11-12 Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie— 12 behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die HERE te volg.
Núm 14:26-30 Daarna het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: 27 Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer. 28 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. 29 Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het. 30 Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.
Dit wys ons baie duidelik dat God nie die ou mens met sy vleeslike fokusse in sy geestelike koninkryk inlaat nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Die Jordaanrivier is hierdie simbool van hierdie skeiding in ons eie lewe. Dit is vir ons vlees een van die grootste skokke as dit uitvind dat God nie vlees is nie, maar gees en almal wat Hom wil ken en aanbid, moet vaarwel sê aan die vlees:
Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Ons sal Jesus en die Vader op ‘n heel ander manier leer ken, en dit gebeur alleenlik by ons oorgang by ons eie Jordaanrivier:
Joh 6:26-27 Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. 27 Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.
By die Jordaan word die Woord van God word te swaar vir ons vlees om te volg:
Joh 6:51-59 Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee. 52 Die Jode het toe met mekaar gestry en gesê: Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet? 53 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. 54 Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. 55 Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. 56 Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58 Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het—nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe. 59 Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge toe Hy in Kapérnaüm onderrig gegee het.
By die Jordaan neem ons aanstoot as die ware Christus ons tot ‘n dieper wandel met Hom roep – ‘n lewe weg van die vlees en dinge van die aarde:
Joh 6:60-63 En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? 61 En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot ‘n aanstoot? 62 Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was? 63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Baie draai weg as hulle hierdie woorde hoor…
Joh 6:64-66 Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai. 65 En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. 66 Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.
Wanneer God ons tot Sy dieper dinge neem, dan lyk dit of Hy ons verlaat. Ons gebede word nie meer so spoedig geantwoord as tevore nie. Ou sondes begin stadig weer aanloklik lyk. Jy ervaar ‘n louheid in jou gemoed ten opsigte van Sy Woord en Sy geestelike dinge. Dit is hier by ons eie Jordaanrivier waar ons ware geestelike toestand aan ons uitgewys word. So beskryf Petrus die vervaring toe dit die eerste keer aan die eerste volgelinge van Jesus manifesteer en die mense nie kon verstaan wat aangaan nie:
Hnd 2:14-21 Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 16 Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. 18 En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 19 En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. 20 Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. 21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Die woorde in hierdie verse moet noukeurig van kennis geneem word:
“wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom”.
Dit is wat met die koms van die geestelike doping met die gees van God in ons begin openbaar word!!! Onse skatte was aards en ons aandag was op verkeerde plek!
Mat 6:19-23 Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; 20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; 21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. 22 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. 23 Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!
Dit wat vir ons reg gelyk en geklink het ten opsigte van ons geloofsoortuiginge, word geopenbaar as leuens…”die son sal verander in duisternis…bloed en vuur en rookdamp”. Alles wat ons geleer het in die sogenaamde Christelike kerke, word aan ons uitgewys as leuens, deur God se Woord. God het NIE die waarheid van Sy Woord (Sy ware Brood en Sy ware Water) aan die valse uitvorekorenes gegee nie, veral hulle wat na ons kom in Sy Naam!
Jes 3:1 Want kyk, die Here HERE van die leërskare sal uit Jerusalem en uit Juda wegneem die stut en die steun, elke stut van brood en elke stut van water.
Mat 24:3-5 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? 4 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
“Bloed en vuur en rookdamp” wys ons hoe die harte van die valse Christusse (die afvallige Christendom) kwaad stook en valshede versprei:
Jes 3:2-6 die held en die krygsman, die regter en die profeet en die waarsêer en die oudste; 3 die owerste oor vyftig en die aansienlike en die raadsman en die knap ambagsman en die ervare besweerder. 4 En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers. 5 En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop. 6 As ‘n man sy broer aangryp in die huis van sy vader en sê: Jy het ‘n kleed, jy moet owerste oor ons wees, en laat hierdie ingestorte puinhoop onder jou toesig wees.
Mat 24:6-8 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. 7 Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. 8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.
In ons tyd van geestelike onvolwassenheid en blindheid volg ons hierdie blinde verleiers, en kyk wat gebeur…
Jes 3:12 Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ‘n dwaalweg gemaak.
Mat 15:13-14 Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word. 14 Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.
As ons die waarheid leer ken en dit dan aan hierdie valse leiers en hul volgelinge bring, dan haat hulle ons nog meer:
Mat 24:9-12 Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. 10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. 11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. 12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
Om fisies uit geestelike Babilon te kom, is maar net deel van ons reis. dit is net die begin van ons smarte. Die dieper openbaring van ons eie harte en al die leuens daarin is om die “gruwel van verwoesting” in die heiligdom, die tempel van God in ons self te sien!
Mat 24:13-15 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. 14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. 15 Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—
Die “gruwel van verwoesting” in die heiligdom van God (ook genoem “die mens van sonde” en “die seun van verderf” in ons eie lewe) word aan ons geopenbaar en word uiteindelik deur God se vurige Waarheid verwoes! Dit is waaroor ons hele tyd in die beloofde land gaan!!!
2Ts 2:3-8 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 12) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 13) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 14) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 15) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 16) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord