Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 13)

Israel se heilige feeste besit groot geestelike waarde, en dit help ons ook om ons eie reis na geestelike volwassenheid te verstaan. Hier is sewe van die hooffeeste wat God aan die volk Israel beveel het om te hou binne hul jaar tydperk:

  • Die pasga
  • Die fees van ongesuurde brode.
  • Die ‘vyftigste’ dag fees (Pinksterfees).
  • Die fees van “basuingeklank”.
  • Die fees van die “Versoendag”.
  • Die huttefees.
  • Die groot fees op “die agste dag” van die huttefees.

Al hierdie dinge het met Israel gebeur as ‘n “voorbeeld” (‘n tipe / ‘n gelykenis) van ons eie pad van geloof, vir hulle wat oë gegee word om dit te kan sien en te ervaar in hierdie lewe (aardse ‘eeu’):

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde [tipes van ons] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Die woorde “eindes van die eeue” wys aan ons dat God die mens deur twee ‘eeue’ of tydperke neem – ‘n aardse/vleeslike tydperk en daarna volg die geestelike. Die einde van die aardse tydperk lei die begin van die geestelike tydperk in. So beskryf die apostel Paulus hierdie twee tydperke:

1Kor 15:45-50  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.  50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Ja, ons beleef alles wat in albei die tydperke ‘opgeskryf’ is vir ons, en dit behels die uitleef van elke woord in die volheid van die Skrifte:

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Ons het in hierdie reeks studies gesien dat God ons elkeen persoonlik ook deur hierdie feeste van die fisiese Jode neem – nie op ‘n fisieke wyse en ‘n letterlike deelname aan aardse dinge van die Jode nie, maar op ‘n geestelike vlak. Lees gerus deur ons vorige skrywes in die reeks by die volgende skakels:

Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6, Deel 7Deel 8Deel 9Deel 10Deel 11, Deel 12.

Hier is ‘n kort blik op hoe hierdie aardse dinge ons eie geestelike lewensreis uitbeeld, veral ten opsigte van fisiese Israel se tyd in Egipte tot waar hulle by die oewer van die Jordaanrivier staan:

  • die geslagte Pasga-Lam was belangrik om Israel te beskerm teen die doodsengel wat die eersgeborenes in Egipte sou doodmaak (dit is wanneer ons hoor van Jesus Christus se dood vir ons sondes, en ons lewe word geopen om Sy dood en Sy nuwe lewe te begin ervaar);
  • die eet van ongesuurde brode (dit is ons toepassing van die sondelose lewe van Christus in ons lewe; deur Sy geestelike inwoningslewe kry ons oorwinning oor ons vlees en sy drange en ons ervaar ‘n persoonlike verhouding met Jesus);
  • die deurgang deur die Rooi See (dit is ons eerste doop, waar ons die vlees en sy drange gekruisig word deur ‘n aflegging van fisiese sondes; dit is ons vleeslike bekering waar ons Jesus se werke op ‘n vleeslike vlak ken);
  • die tyd in die wildernis (dit vergelyk met ons eie tyd wanneer ons net God se wonderwerke in vlees wil sien gebeur en dink dat alles net goed moet gaan; God begin stadig aan nie meer so antwoord soos in die verlede nie; ‘n tyd van geestelike droogte breek aan);
  • die oorgang en ingang in die Beloofde Land by die Jordaanrivier (dit kom ooreen met ‘n groot afvalligheid en skeiding met ons gevestigde godsdiensoortuiginge. Ons vind fout met alles en almal in ons godsdienskringe. Vir baie is daar nooit weer ‘n herstel in hierdie lewe nie. Hulle sal in die groot wit troon oordeel voor God geoordeel word. Hulle is soos Esau wat tot bekering wil kom en sy erfporsie wil terughê, maar dit nie gegun word in hierdie lewe nie. Maar vir ‘n paar word die Jordaanrivier die simbool wat die begin van God se vurige oordeel aankondig waardeer hulle God se geregtigheid deelagtig word).

As ons by die Jordaanrivier kom, breek die nuwe tydperk aan. Al die ou vleeslike dinge in ons eie lewe sal uitgewys word aan ons, en die nuwe eeu sal aanbreek met groot basuingeklank!

Sef 1:14-18  Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar.  15  Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag,  16  ‘n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings.  17  En Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof en hulle ingewande soos drek.  18  Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ‘n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.

Dit is waaroor die boek van Openbaring gaan – dit is geskryf aan hulle wat nou in hierdie lewe deur God se oordeel moet gaan en deur die vurige oordeel van God die nuwe lewe en Sy geregtigheid sal ontvang. Die oordeel van God oor ons vlees is nie ‘n goeie tyd vir ons vlees nie, maar hulle wat dit ervar in hierdie ‘eeu’ weet dat God ‘n goeie doel het met alles in ons lewe, en veral met Sy oordeel en tugtiging. Dit is waarom die boek van Openbaring ‘n boek van groot troos en geregtigheid is vir die gelowiges in Christus!

Open 1:3  Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

1Pe 4:17  Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Jes 26:9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Die (sewe) seëls in die boek van Openbaring versteek die (sewe) trompette wat weer op hulle beurt die (sewe) plae/oordele van God aan ons openbaar – drie lae of vlakke wat God inspan om die proses van ontdekking van Sy geestelike dinge uit te beeld. Niemand kan God se geestelike tempel ingaan alvorens al die dinge nie volbring is in ons lewe nie:

Opn 15:8  En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

Die deurgang van die Jordaanrivier beeld die begin van die innerlike vernuwingsproses van ons denke (ons geestelike harte) uit, waar ons selfs ons liggame stel as ‘n lewende en heilige offer aan God vir dienswerk aan God en ons naaste:

Rom 12:1-2 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.  2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Ons word voorberei vir geestelike oorlogsvoering met die owerhede, magte en heersers in ons denke:

Efs 6:11-18  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.  12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.  13  Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.  14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,  15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.  16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.  17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—  18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.

Die eerste stad in die beloofde land was Jerigo – ‘n stad wat omring was met hoë stadsmure. Israel kon net die stad oorwin as hulle al die instruksies van God noukeurig volg:

Jos 6:1-5 Maar Jérigo het die poort gesluit en gesluit gebly vanweë die kinders van Israel; niemand het uit— of ingegaan nie.  2  Toe het die HERE vir Josua gesê: Kyk, Ek gee Jérigo met sy koning en dapper helde in jou hand.  3  Julle moet dan om die stad trek, al die krygsmanne; trek die stad een maal om; so moet jy doen ses dae lank.  4  En sewe priesters moet sewe ramshorings voor die ark dra; maar op die sewende dag moet julle die stad sewe maal omtrek; en die priesters moet op die horings blaas;  5  en as hulle lang geluide op die ramshoring blaas, as julle die geluid van die horing hoor, moet die hele volk ‘n groot krygsgeskreeu aanhef: dan sal die stadsmuur op sy plek inval; en die volk moet inklim, elkeen reg voor hom uit.

Die sewe priesters en die sewe ramshorings vergelyk baie sterk met die sewe engele en hul sewe basuine in die boek van Openbaring want dit beeld dieselfde gebeurtenis in ons eie lewe uit:

Opn 8:2  En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee.

Hier is die aardse tipe binne die fees van “basuingeklank” wat die Israeliete aan ons uitbeeld:

Lev 23:23-25  En die HERE het met Moses gespreek en gesê:  24  Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n heilige vierdag.  25  Géén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan die HERE ‘n vuuroffer bring.  

Núm 29:1  En in die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie; dit moet vir julle ‘n dag van trompetgeklank wees.

Trompetgeklank is die tyd wanneer ons God se stem baie duidelik hoor deur Sy Woord en hoe Hy ons hele lewe bepaal het. Die tyd vir vleeslike dinge en ‘n uiterlike oppervlakkige godsdiens is verby!

Heb 12:18-19  Want julle het nie gekom by ‘n tasbare berg nie en ‘n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm  19  en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie—

Ons gaan net deur baie verdrukking en lydsaamheid in die koninkryk van God.

Hnd 14:22  en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Dit is wat Johannes vir ons deur hierdie woorde wil sê:

Opn 1:9-11  Ek, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus.  10  Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ‘n groot stem gehoor, soos van ‘n basuin, wat sê:  11  Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.

Die sewe gemeentes is ook ‘n ander simbool van ons reis in Christus. Elke gemeente beeld ‘n aspek uit van ons eie tyd in Christus en Sy oordele oor die goed en die kwaad in ons lewe. Hier is ‘n kort opsomming van ons eie sewe fases in die kerk van Christus, soos uitgebeeld in die Skrifte. Let veral op na die herhaling van die woorde “wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê”, want hierdie dinge nie bekend is aan jou nie, sal jy nie die volgende woorde verstaan op hierdie stadium nie.

Éfese

Opn 2:1-7  Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars:  2  Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;  3  en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.  4  Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.  5  Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.  6  Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat.  7  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.

Smirna

Opn 2:8-11  En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het:  9  Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.  10  Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.  11  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.

Pérgamus

Opn 2:12-17  En skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het:  13  Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon.  14  Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.  15  So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat.  16  Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.  17  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.

Thiatíre

Opn 2:18-29  En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper:  19  Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste.  20  Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.  21  En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie.  22  Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie.  23  En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.  24  En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie.  25  Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom.  26  En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee,  27  en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.  28  En Ek sal hom die môrester gee.  29  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Sardis

Opn 3:1-6  En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.  2  Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie.  3  Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.  4  Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.  5  Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Filadelfía

Opn 3:7-13  En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:  8  Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.  9  Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.  10  Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.  11  Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.  12  Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.  13  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Laodicéa

Opn 3:14-22  En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:  15  Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!  16  Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.  17  Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.  18  Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.  19  Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.  20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.  21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.  22  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

 

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

3 Responses to Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 13)

  1. Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 14) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  2. Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 15) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  3. Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 16) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s