Die koninkryk van God op aarde

Die koninkryk van God het ‘n primêre innerlike toepassing wat vir baie min in hierdie tyd beskore is:

Luk 17:20 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.
Luk 17:21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.

Die koninkryk van God beteken God se heerskappy seëvier in ons lewens. Ons wil Hom behaag bo alles en deur Jesus Christus is ons dan ook tot alles instaat (Fil 4:13). Daar is egter ook ‘n uiterlike toepassing van hierdie koninkryk van God wat uitgebeeld word as die duisend jaar regering van God se uitverkorenes:

Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Die getal 1000 is ‘n simboliese getal en soos alles in die Skrifte het dit meer te doen met geestelike betekenisse wat deur die Skrifte self verduidelik word:

1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge [Skrif] met geestelike [Skrif] vergelyk.

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Soos ons weet is die getal 1000 die resultaat van die derde eksponensiële mag van 10 (10 x 10 x 10) in Wiskunde. Die getal ’10’ kom voor regdeur die Skrifte, maar een van die belangrikste verwysings is in die ou verbond met sy tien gebooie waardeur sommige meen die vlees perfeksie kan kry. Dit is hoe ons die getal ’10’ en sy verbindinge in geestelike terme moet verstaan. Perfeksie in vlees is egter nie wat God deur die “tien woorde” op die “kliptafels” wou wys nie, maar eerder die toestand van ons vlees en ons vleeslike hart, en die onvermoë van mens om God in vleeslike terme te behaag (Eks 34:28; Deu 4:13):

Rom 3:19-20 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

Die getal ’10’ wys uit dat die vlees is “doemwaardig” en sonde – dit mis God se geestelike standaard. Die vlees en al sy wette is dus tydelik van aard en sal tot niet gaan:

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Dit is wat die 1000 jaar geestelik beteken. Mense vind finaal uit tydens die periode dat vlees nooit ‘n ewige plek in die koninkryk van God sal hê nie:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die vlees kan nooit God behaag nie, want God is gees:

Rom 8:8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid

Vlees bedink net boosheid teen God en is God se vyand:

Gen 6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,

Rom 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.

Dit is die kennis wat ons moet kry, maar hierdie kennis is net beskore vir God se uitverkorenes in hierdie tyd. Die uitverkorenes van God sal heers tydens die uiterlike periode van 1000 jaar wat oor die hele aarde sal kom omdat hulle nou  die 1000 jaar innerlik beleef het.

Hoe vind dit innerlik plaas en hoe weet ons dit is op ons van toepassing?

As ons na die geestelike betekenis van die getal ’10’ kyk in die Skrifte, sal dit altyd verwys na ons tyd van selfvoldaanheid en hoe ons dinge self wil oplos:

Gen 16:3 Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin—nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het—en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees.

Soos Sarai, kan ons vlees nie God se modus operandi aanvaar nie – ons voel ons is opgewasse en geestelik volwasse en moet God help. Maar ons eie oplossings en ons selfregverdigheid is eintlik in rebellie teen God se gesag oor ons lewens:

Num 14:22 al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tienmaal versoek het en na my stem nie geluister het nie,

Dat die getal ’10’  drie keer herhaal word in die getal 1000, wys na ‘n proses – intensiteit of  vordering. Dit is dus gekoppel aan ‘n proses van groei. Die getal ‘drie’ in die Skrifte beteken dus in hierdie verband dat daar ‘n proses verbonde is aan alles waarmee die vlees homself moet bemoei (verwys Gen 40:19; Eks 23:14; Joh 2:19; Luk 13:32). Wat min kan sien is dat God die vlees vanaf die skepping onderwerp het aan ‘n proses van vernieting:

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

God se uitverkorenes kan die boodskap aanvaar omdat hulle deur die proses gelei word om te kan sien en aanvaar dat vlees tydelik is – vanaf die skepping. God het ‘n ander skepping in gedagte nog voor Hy die een begin het:

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Jes 46:9-10 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;

Efes 1:3-4 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,

Ons eerste ontmoeting met Jesus lei ‘n tydperk in van vrede wanneer Hy alles voorsien – die tydperk van ons “eerste liefde”. Maar almal verlaat hierdie tydperk van “eerste liefde” net soos Adam en Eva die tuin van Eden moes verlaat om uit te vind wat God se plan is met alles – selfs met die boosheid in ons vlees en in ons menslike hart. Ons ‘gaan kerk toe’, maar ons weet nie dat die dinge wat ons daar leer teenstrydig is met God se Woord nie. Ons word ‘n wederstrewige volk net soos fisiese Israel wat vir ons skadubeelde is. Ons doen presies wat hulle gedoen het – daarom het God alles vir ons neergeskryf:

1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

In ons kerke en denominasies word ons gestreel deur die leiers wat ons self uitgekies het – ons wil hê hulle moet preek soos ons harte ons oortuig – ons versamel met hulle wie met ons saamstem, maar ons kan nie die bedrog sien wat ons pleeg nie:

Jes 30:9-11 Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; 10 wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; 11 wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!

Ons eerste ontmoeting met Jesus is dus ‘na die vlees’ – ons sien Hom vleeslik. Dit is die 1000 jaar van God se heerskappy wat elkeen sal ervaar in hul geestelike blindheid:

2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.

In hierdie tydperk voorsien God deur wonders en tekens in ons fisiese behoeftes soos elke goeie ouer aan sy jong onvolwasse kind doen. In Johannes 6 word hierdie fase pragtig uitgebeeld toe die skares net wou fisiese wonders en tekens van Jesus hê, maar geen nut gevind het vir Sy geestelike woorde nie. Die (vleeslike) baba Christen wil alles vleeslik hê (van gesondheid tot besittings…in oorvloed). Geestelike Babilon is propvol van hierdie soekers na vleeslike dinge want hul leiers gaan hulle voor in dit. In die 1000 jaar tydperk word ons brood gevoer, maar ons word nie versadig nie:

Lev 26:26 As Ek vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie

“Tien vroue” is die geestelike simbool van die valse en vleeslike kerke waarin ons almal op ‘n tyd behoort. Dit is by hierdie “tien vroue” waar ons raak betrokke by die valse leerstellings van geestelike Babilon onder ‘n sterk verleiding wat ons 100% oortuig dat ons reg doen -alles onder God se beheer want dit is Hy wat ons deur die proses neem:

2Th 2:10-12 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

God neem ons deur hierdie proses SODAT ons voorberei kan word vir Sy regverdige oordeel…. “SODAT almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid”:

Mig 4:12  Maar hulle ken nie die gedagtes van die HERE nie en verstaan nie sy besluit nie, dat Hy hulle versamel het soos gerwe op die dorsvloer.

Soos dit ook sal wees in die uiterlike 1000 jaar, is mense nie tevrede nie. Daar is en sal gedurige ontevredenheid wees in die mens. Maar in die 1000 jaar tydperk regeer God met sy “ysterstaf”:

Open 19:15  En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

Mense wil altyd hulle sin hê – hulle wil ook net altyd meer hê en val dan in die strik, net soos fisiese Israel oorgekom het. Satan word deur God beheer van Sy skepping tot nou toe….God laat hom los om mense te verlei. Hy is ook daar om ons op te sweep om fout te vind met God se werke. Ons vlees kom openlik in opstand teen God:

Open 20:7-9 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.

Aan die einde van die 1000 jaar tydperk word die waaragtige “vuur uit die hemel” losgelaat. Dan breek die tyd aan wanneer ons die ware Jesus leer ken. Ons leer om Jesus nie meer ‘na die vlees’ te ken nie, maar na die gees terwyl die valse leerstellings van Babilon stelselmatige uitgewys en uitgebrand word:

2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Die vuur uit die hemel sal op almal kom en ook op hulle wat sal opgewek word in die laaste oordeel. Dit is die tyd van redding van almal wat heel teenstrydig aangebied word aan die afvalliges as die ewige helse vuur:

Open 20:10-15 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. 11 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Dit is die oordeel waarvoor almal vrees, maar dit is eintlik die grootste oomblik van waarheid vir almal – God se oordeel bring nuwe lewe en wis die ou lewe uit!!!

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Soos enige goeie ouer, is ons hemelse Vader ook baie begerig om geestelike volwassenheid in ons te bewerkstellig. ‘n ‘Nuwe skepsel’ word stelselmatig “na die gees” geskape deur die vleeslike gedagtes en valse doktrines daagliks af te breek deur Sy Woord (wat Sy gees is) wat groei in ons:

Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.

1Kor 15:31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

God sal almal red deur Sy oordeel:

Mig 4:1  En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.

Mig 4:2  En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.

1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Die koninkryk van God op aarde

  1. Terug pieng: Gelowiges teenoor die ware dissipels van Jesus | 4windkoinonia

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s