Die gelykenis van die ‘verlore seun’ het so baie pragtige lesse vir ons dat mens nooit genoeg kan kry om daarna te kyk nie. Baie word gepraat oor die ‘verlore seun’ spesifiek, oor hoe hy sy deel van die familie se eiendom gaan verkwis het en toe as vark-oppasser geëindig het waar hy tot sy sinne gekom het:
Luk 15:11-19 Hy het ook gesê: ‘n Man het twee seuns gehad. 12 En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel. 13 En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ‘n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe. 14 En toe hy alles deurgebring het, kom daar ‘n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. 15 Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. 16 En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. 17 Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! 18 Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, 19 en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.
Ons almal gaan deur hierdie proses op ons eie tyd en ons sal tot ons sinne kom, op die tyd en plek soos God dit bepaal. Maar ons speel ook die rol van die ouer broer van die ‘verlore seun’ wanneer ons baie ontevrede is met hoe ons hemelse Vader dinge doen. Ons almal dink dat ons beter verdien omdat ons, in ons eie oë, nie so sleg is as die ander sondaars nie. Hierdie ouer broer was gewoond daaraan om ywerig te wees in sy pa se besigheid:
Luk 15:25-32 En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. 26 En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. 27 Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. 28 En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom. 29 Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ‘n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. 30 Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag. 31 Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. 32 Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.
God se Woord is primêr geestelik van aard en daarom moet ons dieper kyk wat God aan ons wil sê deur hierdie gelykenisse:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
As ons nie die gees van God in die Skrifte kan begryp nie, dan sal ons net na die letters kyk wat woorde vorm, en dit op ‘n aardse vlak verstaan en toepas:
Rom 7:6 Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.
2Kor 3:6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.
Ons word ook gewaarsku om nie die geestelike betekenis van die woorde in die Skrifte BUITE die Skrifte te gaan soek nie:
1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
Die geestelike betekenis word deur die Skrifte self verduidelik. Die Woord van God is gees en ons moet dus geestelike dinge met geestelike vergelyk, dit wil sê, Skrifte met Skrifte:
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Jes 28:9-10 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? 10 Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.
2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.
Waarom sê die Skrif dat die ouer broer van die verlore seun “in die veld” was? Ons moet gaan kyk in ander Skrifte wat hierdie “veld” vir ons wil sê want dit sal vir ons duidelik word wat God vir ons wil sê van die ouer broer se geestelike posisie. Hier is die antwoord wat ons meer vertel van die ouer broer se geestelike posisie wat dan sal help om sy woorde in die regte konteks te beoordeel:
Mat 13:38 Die veld is die wêreld …
Hierdie oudste broer het nog gewandel volgens die denke van die wêreld. Wat beteken dit? Hier is die gees wat heers in die wêreld en in die denke van hulle wat daarvolgens lewe:
1Jo 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
Hierdie oudste seun openbaar hierdie gees van die wêreld. Luister weer na sy eie woorde:
“Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ‘n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. 30 Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.”
Hierdie ouer broer het, volgens sy eie oortuigings, nooit enige van sy pa se gebooie oortree nie en was nie so sleg soos hierdie jonger broer nie! Dink net daaraan!!! Dit klink soos ‘n gees van trots (“die grootsheid van die lewe”) en eiegeregtigheid (werke van die vlees)! Volgens hom het die vader verkeerd opgetree want die ouer broer voel hy is duidelik meer waardig en getrou as sy jonger broer. Hoe kon die jonger broer die vetgemaakte kalf kry om spesiaal geslag te word, en vir die ouer broer was selfs nie eens ‘n bokkie geslag nie.
Klink dit bekend? Het jy al so geredeneer oor God se keuses en werkswyses teenoor ander mense wat jy nie so waardig ag nie?
Dit is hoe ons almal dink en praat oor God se werkswyses waarvan ons eintlik geen begrip van het nie. Dit is voorwaar deur ons eie woorde en ons eie gedagtes wat die gees in ons harte (denke) bekend gemaak word.
Jer 17:9-10 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? 10 Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.
Die wêreld se gees is ‘n bose gees wat teenoor die gees van God staan, en albei hierdie geeste word deur woorde en gedagtes geopenbaar:
1Jo 4:5-6 Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. 6 Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.
God sal ons oordeel volgens ons woorde en gedagtes wat uitloop op ons dade!
Luk 19:22 Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek ‘n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie.
Mat 7:16-20 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! 17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. 18 ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
Die vader se woorde aan hierdie ouer broer van die verlore seun was nie in ooreenstemming met die seun se idees van sy trotse hart en eiegeregtigheid nie, maar ‘n feit in terme van die vader se posisie en gesag oor alle dinge.
“En Hy sê vir hom: Seun, jy is altyd by My, en alles wat Ek het, is joune.”
So behandel ons hemelse Vader ons ook, selfs in ons tyd van blindheid wanneer ons nie Sy almag oor alles kan sien nie. God beheer alles (goed en kwaad) en Hy gee aan elkeen (die goeies en die slegtes) wat hy of sy nodig het:
Mat 5:44-45 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; 45 sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.
Alles is God se eiendom en Sy werkswyse regeer almal! Ons krag om dinge te doen, is Syne. Alles wat ons besit behoort aan Hom.
Psa 24:1 ‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;
1Kron 29:10-14 En Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. 11 Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. 12 En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. 13 En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam. 14 Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.
Ons moet erken, deur die ondersoek van die Skrifte, dat die gees in die ouer broer van die verlore seun nie goed was nie, maar ‘n trotse eiegeregtige gees van die wêreld. Ons almal is inderdaad die oudste broer voor ons besef hoe arm en verlore ons werklik is. Die jongste broer het reeds besef hoe verlore hy was, en sy verkeerde keuses het hom verneder tot die vlak van vark-oppasser. Maar hy het nie daar gesit en homself bejammer nie. Hy het gaan hulp soek by die enigste plek waar hy onvoorwaardelik aanvaar sou word – sy vader se huis. Ons hemelse Vader se huis is ook die plek waar al die uitvaagsels van die wêreld uiteindelik hul rus sal vind – hulle wat weet dat hulle verlore is:
Joh 14:1-3 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
As ons ons eie verlore toestand kan besef, dan kwalifiseer ons 100% vir God se redding deur Jesus Christus. Ons sal opstaan en na ons Vader se huis gaan want daar is plek vir ons:
Luk 19:10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.
Mat 9:9-13 En toe Jesus daarvandaan verder gaan, sien Hy ‘n man met die naam van Matthéüs by die tolhuis sit; en Hy sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg. 10 En terwyl Hy in die huis aan tafel was, het daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan. 11 En toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir sy dissipels: Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars? 12 Maar toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. 13 Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.