‘Aan die vrugte word die boom geken’

Daar is inderdaad twee hoofdele wat ons van kennis moet neem met betrekking tot die mens — daar is ‘n hemelse deel in die mens (die bewussyn of die onsigbare denke van die mens) en daar is ‘n aardse deel in die mens (fisiese liggaamlike deel). Die volgende woorde het nie net toepassing op die uiterlike kosmos nie, maar wel ook op hierdie twee aspekte van die mens self:

Gén 1:1  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Ons kan duidelik uit die Skrifte sien dat ons vleeslike liggaam ‘n aardse oorsprong het:

Gén 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

As dit egter kom by die hemelse deel van die mens, dan is dinge nie meer so duidelik vir almal nie. Die mens se fisiese brein het die vermoë om ‘n bewussyn (denke) te akkomodeer, en dit is hierdie deel van ‘n mens se wese wat in die Skrifte as “hemel” na verwys word. Dit is hier waar God op ‘n geestelike vlak met die mens werk. As ons nie hierdie kennis besit nie, is die dinge van die hemele geslote vir ons – die hemel is dan soos “koper” en dit is nie ‘n goeie ding nie.

Deu 28:20-24  Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het.  21  Die HERE sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.  22  Die HERE sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom.  23  En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees.  24  Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.

Die natuurlike mens se denke is van ons geboorte af aardsgebonde. Dit is ons aanvanklike bewussyn wat stelselmatig in ons ontwikkel na ons geboorte – ons ‘eerste hemel’ word oopgerol soos ons ontwikkel in ons aardse denke:

Rom 8:5  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge…

Die mens se natuurlike denke is onlosmaaklik aan sy aardsheid gekoppel en soos hy dink, so is hy – aards en geheg aan aardse dinge.

Spr 23:7  Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.

Die vrugte van die boom weerspieël dus die tipe boom:

Mat 7:16-20  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!  17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.  18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.  19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.  20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Alles wat op die aarde manifesteer, is bepaal in die hemel (die denke / bewussyn). Ons aardse dade is ‘n refleksie van ons denkwêreld. Soos die aardse liggaam die sonde en die dood voorstel, so is die mens se denke ook sonde en dood:

Rom 5:12  Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Rom 6:6  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Psa 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Rom 7:17  Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

Rom 7:24  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Rom 8:6a  Want wat die vlees bedink, is die dood

Jak 1:14-15  Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.  15  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Die denke van die mens is van nature af nie ingestel op die geestelike dinge van God nie, en daarom ervaar ons die dieper geestelike dinge van God as oninteressant en droog:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Hulle wat die dinge van die gees van God bedink, het lewe en vrede.

Rom 8:6b  …. wat die Gees bedink, is lewe en vrede,

Dit is duidelik dat die eerste mense, Adam en Eva, in vlees geskep was en dus aards was met aardse denke. Dit is duidelik in hul optrede (vrugte). Die natuurlike mense het geen belangstelling in God se geestelike dinge nie, veral nie in God se Boom van Lewe nie!

Jes 53:1-2  Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?  2  Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.

Dit is presies wat Adam en Eva in die tuin ervaar het, wat bewys lewer van hul geestelike posisie. Hulle het hierdie boom van die lewe ervaar as oninteressant omdat dit “geen gestalte of heerlikheid gehad” dat hulle dit “sou aansien nie”.  Daardie boom van lewe wat voor hulle gestaan het in die middel van die tuin het “geen voorkoms” gehad dat hulle dit “sou begeer nie”. Ons lees dat toe hulle die tuin moes verlaat, hulle nog geensins van hierdie boom geëet het nie:

Gén 3:22  Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!

Hulle het nie die “lewe in ewigheid” gehad nie en dit is ook duidelik uit die volgende woorde van God self:

Gén 2:16-17  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,  17  maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Die woorde “sekerlik sterwe” is ‘n versekering van hulle tydelikheid. Paulus het dieselfde getuienis oor Adam en Eva (en alles in hierdie skepping) se tydelikheid en nietigheid gehad – Paulus het die insigte en woorde van God ontvang en dit so neergeskryf:

Rom 8:20  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het

God het alles in hierdie skepping aan nietigheid onderwerp. Toe Adam en Eva eet van die boom van goed en kwaad was hul eie naaktheid (sondige toestand) eerste geopenbaar! Maar kyk wat kies hulle om hul naakte (sondige) toestand te bedek!!!

Gén 3:7  Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

Adam en Eva het nie die kennis van die waarheid gehad nie en ook geen begrip van wat die ewige lewe van God behels nie – dit is duidelik te sien aan hulle uiterlike kondisie (stofmens) en in hul dade. Maar hul uiterlike kondisie en hul dade het hul bewussyn gereflekteer.  Paulus gee ons die antwoord…

Rom 8:6-7  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.

God het dus doelbewus die mens eerste in hierdie aardse liggaam geskep en aan hom hierdie aardse denke en bewustheid gegee. Daar is ‘n plan daarmee. Die ware geestelike skepping en ware lewe kom eers NADAT ons in hierdie tydelike toestand baie belangrike lesse moet leer:

1Kor 15:45-46  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.

Adam (en Eva) het alles eerste volgens hul aardse denke ervaar. Hulle was in totale onkunde oor God se plan met hulle spesifiek, en Sy geestelike dinge oor die algemeen. Dit is wat die volgende verse ook wil sê van elke mens se aanvanklike kennis oor hulself en God se plan met mens en hierdie skepping.

Gén 1:1-2  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.  2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

God was van alles bewus wat Adam en Eva, en wat die slang sou aanvang, nog voordat hulle tot aksie oorgegaan het. God het inderdaad ‘n boek geskryf van elke skepsel se denke, en ook hul doen en late op elke dag wat elke skepsel sou leef, nog voordat die skepsel gebore was. Lees tog die hele Psalm 139, maar let veral op na hierdie vers:

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Geen skepsel kan of ‘n vinger verroer of ‘n voetstap neem, of enigiets dink of doen as God nie elke detail noukeurig bepaal het om te gebeur op die spesifieke tyd nie – toe nog geen dae geskep was nie:

Prd 3:1  Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:

Jer 10:23  Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
 
Spr 21:1  Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.

Efs 1:11  in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

Rom 9:16-18  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.  17  Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.  18  So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.

Adam (en Eva) se aarde was inderdaad woes en leeg, en duisternis was duidelik teenwoordig nog voor hulle van die verbode vrugte geëet het, soos die volgende vers duidelik uitwys oor die geestelike toestand van hul hemele (hul denke):

Gen 3:6  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

In die volgende verse beeld Johannes uit hoe hierdie gees in die wêreld 100% ooreenstem met Adam en Eva se hemele (hul hart se denke) nog VOORDAT hulle geëet het van die verbode boom se vrugte:

1Jo 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees [“die boom goed was om van te eet”] en die begeerlikheid van die oë [“dat hy ‘n lus was vir die oë”], en die grootsheid van die lewe [“ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry”] —is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Ons ken die boom aan die vrugte:

 Matt 7:20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Die Skrifte sê nie watter vrug dit was wat geëet was deur Adam en Eva nie, en baie mense spekuleer hieroor tot hul eie nadeel. Wat ons weet uit die Skrifte is dat hierdie vrugte die vermoë besit om die ware toestand van Adam en Eva, en almal in die vlees, te openbaar. Hulle was nie perfek nie, en niemand in vlees kan ooit perfek wees nie.

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die leerstelling van ‘die val van die mens’ is vals – die mens was reeds “in sonde” toe Hy geskep was in ‘n aardse liggaam deur die Pottebakker.

Psa 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Die vrugte (dade) weerspieël die tipe boom:

Mat 7:16-20  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!  17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.  18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.  19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.  20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Jeremiah maak dit ook duidelik oor die toestand van die eerste pot in die hand van die Pottebakker!

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

God het bepaal dat die vlees misluk! Ons dra en eet “vrugte” van mislukking tydens ons aardse lewe. Kyk mooi of jy hierdie aardse “vrugte” by jouself kan sien. Paulus noem die vrugte van die vlees as volg:

Gal 5:19-21  En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;  20  afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;  21  afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

In Christus alleen dra ons die vrugte wat God se karakter weerspieël:

Gal 5:22  Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Ons ken dus onsself aan watter geestelike vrugte ons dra en eet, en wat ons voortbring deur ons denke en dade:

Mat 7:16-20  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!  17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.  18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.  19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.  20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s