Kersfees en al sy vieringe val onder die “beginsels van die wêreld” omdat dit TOTAAL niks te doen het met die ware Jesus Christus nie. God waarsku ons om nie weggevoer te word deur “die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld”:
Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Kol 2:8
Wees tog verseker dat daar wel ‘n valse Jesus Christus is wat op hierdie dag, bekend as ‘kersdag’, en seisoen wat as ‘kersfees’ bekend staan, verheerlik word. Hierdie valse Jesus is baie populêr en het baie volgelinge:
Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval. 2Kor 11:4
Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. Mat 24:5
Hierdie “ander Jesus” is ‘n valse Jesus en hy laat sy mense hulself te buite gaan met ‘n skyngenot wat van korte duur is.
Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge. Fil 3:19
Die “ander Jesus” het voorwaar ‘n ander gees wat die hele wêreld op sleeptou neem, veral hierdie tyd van die jaar wanneer dit tot ‘n hoogtepunt geneem word. Niemand kan sê dat hulle nie hierdie valse gees kan sien in fisiese manifestasie nie. Dit is ORALS rondom ons en word letterlik in mens se gesig gedruk!
Dan is daar nog diegene wat in hul onkunde die valse Jesus en sy feesvieringe, met die ware Jesus verwar en dit dan preek aan hulle volgelinge. Hulle sê dat mense moet onthou dat die fees van kerstyd gaan oor die ware Jesus se geboortedag en Sy koms in vlees. ONSIN! Die ware Jesus het wel in vlees gekom en onder ons kom woon, maar dit het NIKS met kersfees te doen nie!
En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid. Joh 1:14
Hy het gekom “VOL VAN GENADE EN WAARHEID”! Hy het nie gekom met LEUENS nie. Kersfees is ‘n LEUEN. Die afvalliges wat maklik leuens kan versprei, is ook nie lui om openlik te propageer dat hierdie tyd van die jaar in die”regte gees’ van die ware Jesus gevier moet word nie.
Hulle wil hê dat ons die LEUEN met die WAARHEID meng. Ons moet hierdie leuen verpak in ‘n omhulsel van Skrifwaarhede en dit selfs aan ons kinders verkoop deur ‘n sogenaamde ‘Vader kersfees’ wat met God, die Vader, vergelyk word deur geskenke te bring. Dit alles is geestelike hoerery!
Hierdie woorde van Esegiël is geskryf veral vir ‘n tyd soos hierdie! Lees maar goed deur en kyk of alles wat hier staan nie aktueel is nie!
En jy het van jou klere geneem en vir jou kleurige hoogtes gemaak en op hulle gehoereer—dinge wat nie voorgekom het nie en nie moet wees nie. Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer. En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit. En my brood wat Ek jou gegee het—fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gespysig het—dit het jy voor hulle neergesit as ‘n lieflike reuk; ja, so was dit, spreek die Here HERE. Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dié aan hulle geoffer om verteer te word. Was dit nie genoeg met jou hoererye nie, dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle vir hulle deur die vuur laat gaan het? Ook het jy by al jou gruwels en jou hoererye nie gedink aan die dae van jou jeug nie, toe jy naak en bloot was en gelê en spartel het in jou bloed. Eseg 16:16-22
Die ware Jesus se gees IS NIE die gees van die valse Jesus en sy feesvieringe nie! Die valse Jesus weerspieël die gees van die wêreld wat NIE die gees van die ware Jesus is nie.
Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 1Jn 2:15-16
Die ware Jesus het NIKS te doen met ‘n valse datum van Sy geboorte op aarde nie. Die ware Jesus het ook NOOIT gesê dat ons op enige spesifieke datum op enige tyd van die jaar moet konsentreer en Hom vereer nie. Hulle wat sulke dinge doen is onder die beheer van “die swakke en armoedige eerste beginsels” van die wêreld:
Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het. Gal 4:8-11
Die “ander Jesus” en sy volgelinge wil nou die ware Jesus binne-in hulle wêreldgees en sy materiële vieringe insleep. Hier is die Woord van God wat die ware Jesus gesê het oor wat van Hom herdenk MOET word:
Want ek [Paulus] het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. 1Kor 11:23-26
Die ware Jesus sê ons moet Sy dood herdenk. Klink dit morbied? Ja, vir hulle wat die vlees en sy vieringe as prioriteit sien, is dit ‘n voorwaar morbiede gedagte. Maar vir hulle wat die nuwe lewe van die ware Jesus hul prioriteit maak, is die daaglikse afsterwe van die vleesmens van baie groter waarde:
‘n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag. Pred 7:1
Wow! “…die sterfdag [is] beter as die geboortedag”! Daar staan dit en wie kan dit sien en aanvaar? MIN. Die geboortedag in vlees is nie iets om te vier nie. Vieringe van ‘n geboortedag word net drie keer in die Skrifte gemeld en elke keer het daar iets spesifiek gebeur – kan jy dit sien in die volgende tekste?
Hier is die eerste keer en kyk wat gebeur het…
En op die derde dag, die verjaarsdag van Farao, het hy ‘n maaltyd vir al sy dienaars berei en die hoof van die voorman van die skinkers en die hoof van die voorman van die bakkers te midde van sy dienaars verhef— hy het die voorman van die skinkers herstel in sy skinkersamp, sodat hy die beker in die hand van Farao kon gee, maar die voorman van die bakkers het hy opgehang soos Josef dit aan hulle uitgelê het. Gen 40:20-22
Die tweede keer dat ‘n verjaardag gevier was is in die boek van Job:
En vir hom [Job] is daar sewe seuns en drie dogters gebore. Daarby was sy besitting sewe duisend stuks kleinvee en drie duisend kamele en vyf honderd paar beeste en vyf honderd eselinne en ‘n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste. En sy seuns was gewoond om ‘n maaltyd aan te rig in die huis van elkeen op sy dag. Dan stuur hulle en nooi hul drie susters om saam met hulle te eet en te drink. Job 1:2-4
En op ‘n dag, terwyl sy seuns en sy dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hul oudste broer, Job 1:13
Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, toe daar meteens ‘n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. Job 1:18-19
Die derde keer dat ‘n geboortedag herdenk was kom voor in die Nuwe Testament…
Maar by die viering van die verjaarsdag van Herodes het die dogter van Heródias voor hulle gedans en Herodes behaag. Daarom het hy met ‘n eed beloof om haar enigiets te gee wat sy sou vra. Toe sê sy, nadat sy deur haar moeder aangehits was: Gee my hier op ‘n skottel die hoof van Johannes die Doper. En die koning het treurig geword, maar ter wille van die eed en die feesgenote het hy beveel dat dit gegee moes word. En hy het gestuur en Johannes in die gevangenis onthoof. Sy hoof is toe op ‘n skottel gebring en aan die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder gebring. Mat 14:6-11
Daar is die drie keer in die Skrifte en al drie kere is daar dood mee verbind. Sê dit vir ons iets? Kan ons hoor wat die gees van God aan ons wil bring?
Geboorte in die vlees en vleeslike herdenking daaraan dui aan op geestelike dood.
Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Rom 7:24
Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; Rom 8:5-8
Want so sê die HERE: Kom nie in die klaaghuis en gaan nie om te rouklaag nie, en betuig geen deelneming met hulle nie; want Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die HERE, die goedertierenheid en die barmhartigheid. Jer 16:5
Die geboortedag in gees is baie beter want dit bring die ware lewe en die ware vrede!
Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie. Joh 14:27
Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin. Joh 16:33
Die geboorte in gees OORTREF alles wat die vlees kan voorsit! Alle moderne Nikodémusse, die godsdiensleiers van die wêreld, sukkel behoorlik om die ware Jesus en Sy Woorde te verstaan.
En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Joh 3:1-6
Ons weet dat kersfees ontleen is uit heidinse praktyke (“die eerste beginsels van die wêreld”) wat dan met Christelike name en woorde ingekleur word om aan dit ‘n soort Christelike karakter en geur te gee. Terwyl sommige dit weet, ploeter hulle steeds voort om die vlees van die “ander Jesus” met die gees van die ware Jesus te vereenselwig. Maar dit werk nie so nie – hoor die ware Jesus se woorde, as jy kan “hoor” wat die gees van God sê:
Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Joh 3:6
Dit is alles deel van die groot dwaling van die valse Christus wat mense verblind om nie die waarheid te kan sien nie – alles onder God se beheer:
….hy [die antichris / “die mens van sonde”] wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid. 2Th 2:9-12
Mense wat hierdie tipe dwaalgeeste volg, doen dit omdat hulle nie van beter weet nie – God het aan hulle ‘n dwaalgees gestuur om die hele wêreld onder ‘n valse gees van geluk en blydskap te mislei. Ons doen dit almal op hul gegewe tyd, en ons is almal skuldig daaraan. Maar God het die tyd van onkunde oorgesien en verkondig NOU, ook deur hierdie skrywe, bekering (‘n verandering in denke en leefwyse), en Hy roep Sy ware volgelinge tot orde:
God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer. Hand 17:30
ELKE DAG is ‘n FEES in die ware Jesus want Hy help ons om DAAGLIKS ontslae te raak van die ou ellendige “mens van sonde”!!!!
Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here. 1Kor 15:31
Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde. Rom 7:24-25
Wat ‘n OORWINNING! Wat ‘n WARE FEES in Christus!
En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. Open 21:1-5