Pred 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd…
Tyd is ‘n skepping van God wat Hy ingestel het om alles “onder die hemel” te reguleer. Hier is die bewys dat God “tyd” geskep het en dit kom voor binne die eerste DRIE woorde van die heel eerste vers in die Skrifte:
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Hemel en aarde is dus tydgebonde skeppinge. Ons natuurlike denke kan nie geestelike dinge verstaan nie en ons almal sukkel om God se werkswyses binne ons natuurlike begripsveld in te pas:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Alle skepsels wat binne hierdie skepping leef, is totaal onderworpe aan die regulering van God, of hulle daarvan hou of nie en of hulle dit verstaan of nie. Tyd is een van die belangrike aspekte van totale regulering van alle dinge deur God. Die mens, as deel van hierdie skepsels van God, is deeglik bewus van hierdie tydsaspek van alle lewe “onder die hemel”, en tog kan die natuurlike mens ook nie besef wat God besig is om te doen met tyd nie:
Pred 3:10-11 Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. (11) Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
Tyd kom in verskillende maniere na ons en ons meet dit op verskeie wyses – byvoorbeeld, millennia, eeue, seisoene, jare, maande, dae, ure, minute, sekondes. Alles het ‘n definitiewe tyd waarin dit pas:
Pred 3:2-8 ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, (3) ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou, (4) ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring, (5) ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing, (6) ‘n tyd om te soek en ‘n tyd om verlore te laat gaan, ‘n tyd om te bewaar en ‘n tyd om weg te gooi, (7) ‘n tyd om te skeur en ‘n tyd om aanmekaar te werk, ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek, (8) ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede.
God se plan met alles “onder die hemel” is onlosmaaklik verbind aan die dinamika van tyd – van die begin tot die end (daar is ‘n kontinuum, ‘n volgorde).
Pred 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd…
Pred 3:11 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
Om die aspek van tyd te ignoreer is onmoontlik. Mens is vasgevang binne hierdie dimensie, en binne sy natuurlike vermoëns worstel hy elke dag om tyd reg te gebruik. Sommige in hul aardse arrogansie glo hulle kan tyd ontrafel en beheer deur selfs terug te beweeg in tyd, en ook dan die vermoë hê om vorentoe te beweeg in tyd. Al hierdie tipe grootpratery en wensdenkery is deel van die sondige menswees wat net nie God se beheer oor alles kan aanvaar nie:
Jak 4:13-16 Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— 14 julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. 15 In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. 16 Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.
Aan die anderkant kry ons weer die super geestelikes. Hulle hanteer die natuurlike skepping en doel van tyd op ‘n skeptiese en siniese wyse. Die fisiese skepping word dan ook deur hierdie mense as blote illusies gesien en totaal afgemaak as “van geen nut”. Hulle sien die innerlik ervaring van elke mens as die diepste en hoogste werklikheid. Die subjektiewe dinge in ‘n mens (in sy denkwêrelde / hemele) word dus as die objektiewe werklikheid gesien. Die subjektiewe ervaringe in ‘n mens is vir hierdie soort denke dan ook waar die grootste geestelike vervullings ervaar sal word. Die valse profete en voorstaanders van hierdie denkwyses gebruik selfs die Skrifte om hul drogredes te akkomodeer:
Kol 2:4 Dit sê ek, sodat niemand julle mag verlei met drogredes nie.
Omdat Jesus uitwys dat Sy koninkryk intern na ons kom, word hierdie woorde misbruik om alle aspekte van die uiterlike toepassing van God se koninkryk
(buite die mens self) as ‘n dwaalleer af te maak:
Luk 17:20-24 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. (21) En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle. (22) En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie. (23) En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie. (24) Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.
As ons God se innerlike koninkryk herken in ons eie lewe, is dit baie onwys om die uiterlike dinge wat daagliks om ons plaasvind te ignoreer. As Jesus die volgende belangrike woorde uiter moet ons nugter kyk na die dieptes van die woorde:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
‘n Simplistiese interpretasie van hierdie woorde van Jesus help sommige om hul eie wanvoorstellings van ander woorde in die Skrifte tot absurdhede te voer. Hulle gebruik ook hierdie pragtige woorde van Jesus as dekmantel om die plek en tyd van die fisiese dinge in God se plan te ignoreer. Kom ons lees verder in Lukas 17 wat Jesus self uitwys oor hoekom die aardse tyd en kontekste van dinge belangrik is voordat alles in ons tot hul geestelike vervulling kom:
Luk 17:25 Maar eers moet Hy baie ly en deur hierdie geslag verwerp word.
Daar is ‘n volgorde “onder die hemel” van hoe dinge “eers” moet plaasvind voordat die geestelike vervulling plaasvind. Die volgende vers dui slegs ons eerste fase van geestelike bewustelikheid aan – nie die voltooing daarvan. Ons begrip van geestelike dinge begin by ons aardse waarnemings:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Maar ons groei tot volwassenheid deur geestelike dinge met geestelike te vergelyk:
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Maar dit alles gebeur nog vir ons “onder die hemele” terwyl ons in die aardse liggaam is. Alles is nog gekoppel aan ‘n tydsaspek! Die blote feit dat daar ‘n proses verbonde is aan ons geestelike groei, beklemtoon die aspek van TYD. Niks wat aan hierdie skepping verbonde is, was ooit in geestelike perfektheid nie, behalwe Jesus:
1Ti 6:13-16 Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, 14 dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus 15 wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, 16 wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.
God bewerkstellig Sy plan van geestelike perfeksie vir elkeen van ons en vir die hele mensdom se redding deur aardse dispensasies van tyd. Die hele Bybel is so geskryf om hierdie geestelike beginsel en doel van tye en seisoene uit te wys! God kon alles in een oomblik perfek gemaak het, maar Hy het nie, vir ‘n baie goeie rede. Hy het ‘n aardse Adam eerste geskep “van die aarde” (Gen 2:7) en daarna kom die “hemelse” Adam – dit is ons almal se deel:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. (46) Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. (47) Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. (48) Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. (49) En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.