‘n Tyd vir alles ‘onder die hemel’ (Deel 1)

Jesus was deur die Vader aangestel as die God van hierdie skepping wat insluit die skepping en beheer van die tye (eeue) waaraan hierdie skepping onderhewig is:

Joh 1:1-3  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.  2  Hy was in die begin by God.  3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

1Ti 1:16-17  Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. 17 die Koning van die eeue [Grieks: “aiōn” = tye / tydperke], die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid [Grieks: aiōn, aiōn = alle tydperke] . Amen.

Tyd is dus ‘n geestelike skepping wat in die fisiese dimensie manifesteer. Tyd werk saam met die skepping van fisiese objekte binne-in ‘n fisiese ruimte, en hierdie kombinasie tussen tyd en fisiese objekte is vir baie groot wêrelddenkers en sogenaamde wetenskaplikes ‘n misterie. God het hierdie aspek van tyd en haar rol binne hierdie skepping in die hart van mense geplaas, en tog kan hulle dit net nie verstaan nie:

Pred 3:10-11  Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.  (11)  Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.

Niks in hierdie skepping is ewig nie. Alles is onderworpe aan “nietigheid” – ‘n begin en ‘n einde.

Rom 8:20  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Dit beteken dat alles in hierdie skepping aan tyd onderworpe is, en bo alles is dit onderworpe aan Hom wat die Koning van die tye is.

1Ti 1:16-17  Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. 17 die Koning van die eeue [Grieks: “aiōn” = tye / tydperke], die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid [Grieks: aiōn, aiōn = alle tydperke] . Amen.

Ja, selfs die dood is ‘n tydelike skepping wat op sy bepaalde tyd, totaal vernietig gaan word:

1Kor 15:26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

1Kor 15:55  Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?

Open 21:4  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.

Ja, selfs tyd sal ophou bestaan wanneer God Sy doel met hierdie skepping volbring het:

Open 10:6  en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie;

Die mens is onderworpe aan tyd en dood binne die eerste Adam, soos bepaal deur die Koning van die tye. Maar God neem almal eers deur hierdie eerste fase, waarna ons almal ook die geestelike fase sal deurgaan op die tyd soos God bepaal het. ‘Almal in Adam’ (die aardse tydelike fisiese dimensie) sal dus lewend gemaak word in Christus (die hemelse geestelike dimensie):

1Kor 15:22-25  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.

Lees gerus weer hierdie Skrifgedeelte in 1Korinthiërs 15, en sien dat selfs die opstandings is almal tydgebonde – dit vind plaas in ‘n volgorde BINNE DIE TYD. Geestelike vernuwing is ook ‘n TYDSAME en TYDSGEBONDE proses!!! God bewerkstellig die hele proses om almal geestelike LEWE te gee deur DRIE opstandings wat binne die TYDSONES van hierdie skepping sal plaasvind! In 1Korinthiërs 15 sien ons duidelik die drie opstandings wat hul volgorde IN TYD sal hê:

  1. as eersteling Christus;
  2. daarna die wat aan Christus behoort BY SY KOMS
  3. daarna kom die einde (die res van die mensdom).

Tyd speel dus ‘n belangrike rol in God se geestelike werk in alle mense, totdat almal in Adam geestelik voltooi en perfek sal wees in Christus.

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

Ons kan nie so geestelik word dat ons nie meer die funksie van tyd in God se werk wil erken nie. Tyd en rangorde kan nie verontagsaam word in die geestelike proses nie, en dit is presies wat hierdie verse aan ons sê. Let op die baie “tyd”-woorde in die gedeelte wat die opstandings van Christus en die twee groepe mense na Hom uitbeeld:

1Kor 15:22-25  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.

As een van die opstanding buite die domein van TYD val, dan het Christus se opstanding ook nie BINNE TYD plaasgevind nie! Dan is ons geloof in alles wat daarna volg ‘n klomp drogbeelde. Ons moet dus die volgende woorde van Paulus BAIE ernstig opneem deur dit versigtig te lees, dit diep en tydsaam te bepeins, en God bid om ons die geloof te skenk om alles te kan aanvaar…

1Kor 15:1-21  Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,  2  waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.  3  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;  4  en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;  5  en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.  6  Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.  7  Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels;  8  en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.  9  Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het.  10  Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.  11  Of dit nou ek of hulle is, so preek ons en so het julle geglo.  12  As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?  13  As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.  14  En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;  15  en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.  16  Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;  17  en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;  18  dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.  19  As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.  20  Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.  21  Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens.

Die opstanding uit die dood vir Christus was ‘n werklik gebeurtenis wat BINNE tyd en binne hierdie skepping gemanifesteer het. Tog was dit ‘n GEESTELIKE opstanding. Dit maak sommige mense ongemaklik. Sommige sien die opstandings wat binne hierdie tydvlak van hierdie skepping plaasvind as nie-geestelik!

Onsin. God werk inderdaad Sy geestelike werk binne die tyd-domein van hierdie skepping.

Jesus se geestelike opstanding uit die graf het tog immers op ‘n spesifieke tyd binne die geskiedenis plaasgevind. Dit was vir die eerste volgelinge van Jesus ‘n SIGBARE gebeurtenis binne hul TYD. Waarom sou Paulus so klem lê op die fisiese getuies en die TYD van hierdie gebeure? Hoe sou ons kon glo as hy en die ander apostels (met behulp van die ander OOGGETUIES) nie hierdie fisiese getuienisse van ‘n geestelike gebeurtenis neergeskryf het nie?

Luk 1:1-4  Aangesien baie onderneem het om ‘n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is,  2  soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het,  3  het ek ook dit goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe,  4  sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.

Daar is nou (binne die aardse tyd) inderdaad ‘n innerlike belewenis vir hulle wat glo in Jesus en Sy lewe in hulle, maar dit word deur GELOOF aan ons gebring. Hierdie GELOOFSBELEWENIS word in die Skrifte as ‘n “ONDERPAND” beskryf – ‘n belofte wat in die toekoms VERVUL SAL WORD!

Efes 1:13-14 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Om ons die innerlike geestelike ervaring as die vervulling van die opstanding in volheid sien, dan luister ons na onheilige en onsinnige praatjies van bose geeste wat die Here self stuur aan hulle wat God se waarhede verfoei:

2Th 2:7-12  Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;  8  en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,  9  hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen  10  en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.  11  En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,  12  sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

Die opstanding van “die wat aan Christus behoort by sy koms” se geestelike vervulling is nog in die toekoms!!!

1Kor 15:52  in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.

1Th 4:16  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

Om die doel en geestelike waarde van TYD en God se rangorde in hierdie skepping ten opsigte van dood en die opstanding uit die dood te vereenvoudig tot ‘n persoonlike innerlike ervaring, maak ons onsself skuldig aan dieselfde sonde wat Himenéüs en Filétus gepleeg het!

2Ti 2:16-18  Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid,  17  en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is,  18  wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.