Die eersgeboortereg is iets wat nie baie waardeer word in vandag se moderne samelewings nie. In baie kulture is daar nog hier en daar ‘n oorblyfsel daarvan, maar nie soos dit geken was in vroeë gemeenskappe nie. Tog is dit een van die belangrikste aspekte in God se plan met die mensdom, en daarom kom dit deurgans in die Skrifte voor. Dat mense nie hieraan aandag skenk nie, getuig van die vlak van onkunde oor God se werkswyse met ons in besonder, en hoekom so baie mense nie God se algehele plan met die hele mensdom ken nie.
1Ti 2:3-6 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.
1Ti 4:9-10 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; 10 want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder [Redder] is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
In Deuteronomium kry ons die agtergrond wat belangrike aspekte van hierdie eersgeboortereg belig:
Deu 21:15-17 As ‘n man twee vroue het , een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie, en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou, dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie. Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.
In die gedeelte word die eersgeboortereg aangedui soos God dit aan die fisiese Israeliete voorgeskryf het. Die eerste belangrike aspek wat hier uitgelig word, is dat die eersgeboortereg aan ‘n seun toegeken word. Daar word een uitsondering op hierdie reël in die Skrifte genoem:
Num 27:1-8 Daarna het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef—dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa— 2 en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die tent van samekoms, en gesê: 3 Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie. 4 Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ‘n besitting onder die broers van ons vader. 5 Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE. 6 En die HERE het met Moses gespreek en gesê: 7 Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ‘n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan. 8 En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan.
Die reël was egter dat die eersgebore seun die geboortereg moes kry. Baie mense vind dit moeilik om God se oënskynlike vooroordeel tot die manlike geslag te aanvaar. Maar God se idees en gedagtes oor dinge is nie hoe die mens daarna kyk nie:
Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
Daar is ‘n goeie rede waarom God die manlike geslag eerste na vore gebring het by die skepping van die mens, en waarom die vrou later op dieselfde dag (dag ses) uit die man geskep was.
Gen 1:26-27 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Gen 2:21-24 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. 22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. 23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.
God wil iets belangrik hierdeur vir ons wys van die posisie en rolle van die Vader en Sy Seun:
1Kor 11:3 Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.
Vader is die een UIT wie alles is en Hy werk Sy plan DEUR Jesus – dit is die geestelike rolle van wat die man en vrou uitbeeld:
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Die Vader is die een wie alles begin het – Hy self het egter nie ‘n begin nie. Vader is die Voorsiener van alles en almal. Soos Eva UIT Adam was, so wil die Vader aan ons wys dat Jesus UIT die Vader is en dat die Vader vir Jesus aangestel het as die God van hierdie skepping:
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Dit is wat die manlike en vroulike rolle vir ons wil uitwys – die verhouding tussen die Vader en Sy Seun. Die man is eerste en Hy gee aan die vrou Sy saad om voort te bring – die vrou het die wonderlike vermoë gekry om dinge te vermeerder in samewerking met haar man. Salomo, die wyse, het liries geraak as hy die deugde van ‘n vrou besing het – hier is drie verse van een van die mooiste eerbetonings aan vroue!
Spr 31:10-12 Alef. Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. 11 Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. 12 Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.
Adam het ook dan sy vrou “Eva” genoem – sy bring voort:
Gen 3:20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.
Die vrou se rol is dus van kardinale belang in die familie, maar alles begin by die rol van die man. Dit is waarom die eersgebore seun so ‘n belangrike rol moes kry in die vader se erfenis. Hy moet die familienaam sterk hou, en sy rol in die familie en gemeenskap was van uiterste belang om eiendom en besittings wat aan die familie behoort te verseker. Die eersgeborene verteenwoordig alles van die familie en alles moet tot sy beskikking wees om in die doel te slaag. Hy dra die welsyn van die hele familie op die hart ten alle tye. Kyk hoe praat Jakob van sy oudste seun wat aan ons die idee gee watter gesag aan die oudste seun beskikbaar was (Ons weet dat Ruben was hierdie voorreg ontneem, maar ons sal later in die reeks studies meer daaroor praat).
Gen 49:3 Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!
Die oudste seun staan in ‘n spesiale verhouding met sy pa – daarom is die klem so op die woorde “MY eersgeborene…MY krag…MY sterkte”. Die oudste seun is inderdaad die “vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag”. Alles is slegs tipes van die posisie en rol wat die hemelse Vader gegee het aan Sy Seun, Jesus Christus.
Heb 1:1-13 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun 2 wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. 3 Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, 4 terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker naam geërf het as hulle. 5 Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees? 6 En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid. 7 En van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars vuurvlamme; 8 maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer; 9 U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; 10 en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. 11 Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt, 12 en soos ‘n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie. 13 En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?
Soos God wil, sal ons in hierdie studiereeks meer leer oor die eersgeboortereg en hoe dit verder uitgebrei word deur God om Sy plan met mensdom te dien.