Die eersgeboortereg is ‘n beginsel wat dwarsdeur die Skrifte voorkom, veral soos dit voorgekom het in die geskiedenis van fisiese Israel. Die veronderstelling was dat die eersgebore seun ‘n dubbele deel sou kry van die vader se erfporsie met betrekking tot die deel wat elkeen van sy seuns kry. Selfs as ‘n man meer as een vrou gehad het, is die bepaling van die eersgeboortereg baie duidelik:
Deu 21:15-17 As ‘n man twee vroue het , een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie, en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou, dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie. Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.
Maar in die Skrifte sien ons iets anders het plaasgevind wat vir baie nie duidelik is nie. Almal die aartsvaders van die fisiese Israel het oënskynlik afgewyk van hierdie bepaling van God, of het hulle?
- In die plek van Ismael (die eersgeborene van Abraham) het God aan Abraham gesê dat God met Isak (die tweede seun van Abraham wat as die seun “van die belofte” geken word) Sy verbond oprig:
Gen 17:19 Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.
- Nog voor Esau en Jakob (die tweeling van Isak by Rebekka) gebore was het God reeds besluit dat die een wie tweede gebore was, Jakob, die eersgeboortereg sou kry, en dat die oudste (Esau) die jongste (Jakob) sou dien:
Rom 9:11-13 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep 12 is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. 13 Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.
- Dan sien ons ook by Jakob dat Josef en nie Ruben (Jakob se oudste seun) die eersgeboortereg gekry het:
1Kro 5:1-2 En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel [Jakob] —want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; 2 want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ‘n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad—
Het God sy eie gebod oortree? Nee allermins, God se keuses en gedagtes oor dinge is nie volgens mens se keuses en gedagtes oor dinge nie:
Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
Die eersgebore Adam, die mens van vlees, is nie God se uitverkore en perfekte seun nie. Die eerste mens, Adam, was nie God se eersgeborene nie, maar wel Christus. Christus was voor die vleesmens Adam, en het selfs hierdie vleesmens geskep (Joh 1:1-3)
1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.
Adam kom wel eerste na ons deur ons aardse vleeslike geboorte, maar in God se gedagtes was Christus nog altyd die ware eersgeborene, wie dan “tweede” kom in ons. Ons ervaring en orde is dus nie God se orde nie. Die vlees is ‘n verworpe en ‘n nietige skepping – van sy begin:
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Dit is slegs deur die “tweede” geboorte (one geboorte in gees) wat aan ons toegang bied tot die erfporsie van die ware erfgenaam van God, Jesus Christus. Deur ons geestelike geboorte begin die ware lewe van God in ons, en ons kry toegang tot die geestelike koninkryk van God:
Joh 3:1-3 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
Sinsnedes en woorde in die Skrifte soos “die jongste sal die oudste dien” en “’n seun van die ouderdom” moet dus teen hierdie agtergrond gesien word:
Gen 37:3 En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak.
Dit is een van die beginsels wat God aan ons wil duidelik maak deur die geskiedenis van die fisiese volk van Israel soos opgeteken in die Skrifte:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Ons moet dus eers die aardse onperfekte vleesmens Adam ervaar voordat ons kennis maak met die geestelike Adam, Jesus Christus. As ons glo dat die eerste Adam eers perfek was en toe geval het (die sogenaamde “sondeval”), is ons mislei en die waarheid is nie in ons nie. Die eerste Adam word ook voorgestel as die eerste pot in die Pottebakker se hand wat misluk – IN DIE POTTEBAKKER SE HAND, voordat God ons dan weer sal maak “soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak”:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Dit is met die koms van die geestelike dinge van God in ons lewe dat ons vir die eerste keer die eerste stap neem om God se ware geestelike erfenis in besit te kan neem. Daar is egter ‘n lang proses wat vir elkeen voorlê om die volheid van die erfenis te kry. Maar hierdie kennis is nie nou in almal nie.
Luk 21:19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.
Die storie van Josef word juis in soveel detail in die Skrifte uitgedruk om aan diegene wie God in hierdie lewe uitroep, die lang en vermoeiende pad tot geestelike volwassenheid uit te wys. Ons moet sorgvuldig luister na God se Woord want anders raak die pad te lank en baie sak uit omdat hulle die leuens glo dat dit ‘n kort pad is.
Deu 12:28 Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van die HERE jou God.
Met Josef se geboorte was daar reeds tien seuns vir Jakob gebore deur sy vrou Lea (ses seuns en een dogter), en die twee slavinne, Silpa (twee seuns) en Bilha (twee seuns). Ragel moes baie lank wag en toekyk hoe God vir Jakob seën met kinders terwyl sy (Ragel, die uitverkore geliefde van Jakob) kinderloos was. Maar hierin is ook ‘n baie belangrike les vir God se uitverkorenes:
Gen 30:22-24 En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen: 23 sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem. 24 En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die HERE vir my ‘n ander seun daar byvoeg!
Die naam “Josef” beteken “die HERE sal byvoeg”. Dit is wat God se ware uitverkorenes weet, deur die geloof wat God aan hulle skenk.
Luk 21:19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.
Mat 6:31-33 Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? 32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Die vlees sal altyd eerste vrugte dra en hulle wie die vlees dien sal aanvanklik groot groei en suksesse toon. Maar dit is hulle wie op die Here wag, wie op die einde van die dag sal staan:
Psa 27:14 Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!
Psa 37:34-37 Kof. Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense. 35 Resj. Ek het die goddelose gesien, ‘n geweldenaar, terwyl hy hom uitbrei soos ‘n groen inlandse boom. 36 Toe gaan iemand verby, en kyk, hy was daar nie; en ek het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie. 37 Sjin. Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ‘n toekoms vir die man van vrede.
Hulle sê…’wie laaste lag, lag die lekkerste’:
Gal 4:27 Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.
Hierdie “wag op die Here” bring ‘n groot en unieke “kroon” en word spesifiek gerig aan God se uitverkorenes…
Open 2:10 Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.
Open 3:11 Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.
Hierdie beginsel van “wag op die Here” is ook te sien in die storie ook van Josef, wie ‘n tipe was van die uitverkorenes.
Gen 37:1-4 En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän. 2 Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.
Josef het die “slegte gerug” oor sy ander broers vir sy vader vertel. Josef se suiwerheid van hart kon nie staan as sy broers slegte dinge aangevang het nie. Ons weet nie presies wat hierdie broers gedoen het nie want die Skrifte sê ons nie, maar as ons vandag kyk na wat mense met God se “kleinvee” aanvang, dan sien ons ook in hierdie woorde van Moses duidelik dat hierdie broers van Josef nie regtig omgegee het vir Jakob se kudde nie. As ons die uiterlik toepassing van hierdie woorde ernstig opneem, dan sien ons vandag hoe die valse herders onder Jesus se Naam, miljoene van Jesus se skape mislei en gebruik om hul eie beeld op te bou, en die volgelinge word gebruik vir die leiers se selfsugtige voordeel en vooruitgang. Soos dit in fisiese Israel as ‘n skaduwee gebeur het, so gebeur dit tot vandag, vir ons lering:
Eseg 34:1-4 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: 2 Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here HERE: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? 3 Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie; 4 julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.
- Hierdie valse herders verskaf aan hulleself weiding!
- Hierdie herders eet die vet en beklee hulleself met die wol
- Hierdie valse herders slag die skape vir hul eie gewin;
- Hierdie herders versterk hulself en misbruik die swakkes;
- Hierdie herders versprei valse gerugte dat hulle siekes genees;
- Hierdie herders hou van verdeeldheid en is net bekommerd oor hul eie koninkrykies;
- Hierdie herders steel die skape van ander herders – hulle kan nie hul eie kuddes na vore bring nie en lok anderna hulle met valse beloftes en mooi woorde;
- Hierdie herders regeer oor hul kuddes met strengheid en met hardheid.
Dit is wat die Skrifte duidelik maak. Dit is die “slegte gerug” wat Josef heelwaarskynlik aan sy vader gerapporteer het. Op ‘n innerlike persoonlike vlak weet die uitverkorenes van God dat hulle self ook aan hierdie praktyke skuldig was, voordat die waarheid na hulle gekom het. Ons loop almal eers “die loop van hierdie wêreld”:
Efes 2:1-3 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes 2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, 3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.
Ons was miskien nie almal in leierskap nie, maar ons stilswye oor wat ons gesien het sekere leiers doen, maak ons net so skuldig as daardie leiers. Ons is ander se wagte…
Eseg 3:17-20 Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. 18 As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. 19 Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered. 20 En as ‘n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek ‘n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
As ons dink dat ons op een of ander manier nie hierdie dinge gedoen het wat Paulus hier van praat in Efesiërs 2 nie, dan is ons nog steeds mislei en in geestelike blindheid. Paulus het met groot oortuiging hierdie woorde aan ons almal geskryf omdat ons almal op een of ander tyd uit ons skynheiligheid wakkergemaak sal word. Ons lewe elkeen die woorde wat God in ons eie boeke geskryf het (Mat 4:4), en ons sien dit wanneer die Boek van Lewe (die “Brood van die lewe” / die lewe van Christus) na ons gebring word tydens ons tyd van oordeel:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Open 20:12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen.
Josef het die moed van sy oortuiging aan die dag gelê en aan sy pa die “slegte gerug” van sy ander broers vertel, tot groot nadeel vir homself aanvanlik, maar op die einde van die dag het dit alles ten geode vir almal uitgewerk.
Rom 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
In Deel 4 van hierdie studiereeks sal ons verder gaan met die storie van Josef, soos God wil.