Die geestelike implikasies van die eersgeboortereg (Deel 4)

Die geestelike eersgeboortereg van God was nooit gegee aan die vleesmens nie, maar dit was aan Jesus gegee as God se ware erfgenaam:

Heb 1:1-6  Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun  2  wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.  3  Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,  4  terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker naam geërf het as hulle.  5  Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees?  6  En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid.

Ons as vleesmense ervaar eerste die aardse mens (Adam) se lewe, voordat ons opgeneem sal word deur ‘n wedergeboorteproses in die laaste Adam, Jesus Christus, om God se geestelike lewe te ervaar:

1Kor 15:45-48  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.

Hierdie is inderdaad ‘n tydsame proses. So byvoorbeeld word die storie van Josef in detail in die Skrifte uitgedruk om aan diegene wie God in hierdie lewe uitroep, die lang en vermoeiende pad tot geestelike volwassenheid uit te wys. Ons moet sorgvuldig luister na God se Woord want anders raak die pad te lank en baie sak uit omdat hulle die leuens glo dat dit ‘n kort pad is.

Luk 21:19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Niemand gaan in God se geestelike tempel in alvorens ALMAL God se “sewe plae” in hul lewens voltrek is nie!

Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

God se “plae” is God se oordeel, wanneer ons God se waarheid deelagtig word en Sy geregtigheid ontvang deur Sy tug:

Jes 26:9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Heb 12:5-7  En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie;  6  want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.  7  As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?

Met Josef se geboorte was daar reeds tien seuns vir Jakob gebore deur sy vrou Lea (ses seuns en een dogter), en die twee slavinne, Silpa (twee seuns) en Bilha (twee seuns). Ragel (die uitverkore geliefde vrou van Jakob) moes baie lank wag en toekyk hoe God vir Jakob seën met kinders by sy ander vroue. Maar op ‘n dag het God aan Ragel gedink in terme van haar eersgeborene!

Gen 30:22-24  En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen:  23  sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem.  24  En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die HERE vir my ‘n ander seun daar byvoeg!

Josef was Jakob se gunsteling seun, en Jakob het dit baie duidelik gemaak aan almal, tot groot ontevredenheid van sy tien ouer broers:

Gen 37:1-4  En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän.  2  Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.  3  En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak.  4  Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.

Josef se drome het ook nie baie gehelp om sy broers se haat te demp nie:

Gen 37:5-8  Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.  6  Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.  7  Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.  8  Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.

Die haat van die broers het hulle gedryf om Josef uit die weg te ruim. Hulle wou hom aanvanklik vermoor, maar Josef eindig eindelik in Egipte as slaaf, waar hy weereens uitgestaan het:

Gen 39:1-6  En Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, ‘n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het.  2  En die HERE was met Josef, sodat hy ‘n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly.  3  En toe sy heer sien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak,  4  het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee.  5  En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.  6  En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien.

Josef se mooi gestalte en uitstaande karakter het hom egter weereens in die moeilikheid gebring toe hy nie wou swig voor die onbetaamlike toenaderings van Pótifar se vrou nie. Deur haar valse beskuldigings beland Josef toe in die gevangenis in Egipte. Hy het egter nie sy drome en die gawes van God versmaai nie. Baie mense sou opgee as hulle deur sulke beproewinge moet gaan. Maar Josef is die tipe van God se uitverkorenes wie nie opgee op hul uitverkiesing nie – al gaan dit deur baie beproewinge en verdrukkinge. God lei en leer Sy uitverkorenes DEUR Sy TUG!

Spr 4:13  Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe.

Die geestelike eersgeboortereg met sy “dubbele deel” is kosbaarder as enigiets of enigiemand op hierdie aarde:

Open 3:11  Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.

Die uitverkorenes word uitgeroep uit hul gemaksone en die valse leerstellings van die geestelike Babilon-stelsel (die woonplek van Satan = die valse kerk), om te staan te midde van “die troon van Satan” (ons aardse denke):

Open 2:12-13  En skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het:  13  Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon.

Josef het vasgestaan en selfs vals beskuldigings en vernedering aanvaar, en nie terug geveg nie. Net wanneer ons Christus se geestelike lewe in ons het kan die volgende dinge in ons lewe sigbaar wees!

Mat 5:10-12  Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  11  Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.  12  Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.

Mat 5:25  Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie.

Mat 5:38-42  Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand.  39  Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.  40  En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry.  41  En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.  42  Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.

Josef is ons tipe (voorbeeld) om te wys dat die Woord van God kragtig werk in elkeen wie daarop vertrou. Deur sy getrouheid aan God se beloftes het Josef uiteindelik die geleentheid gekry om voor die Egiptiese koning te verskyn waar hy dan hierdie Farao se drome kon uitlê. Josef was daarna verhef tot tweede in bevel onder die Farao. Josef se reddingsplan vir Egipte het nie net Egipte gered van hongersnood nie, maar ook die hele wêreld. Dit is ‘n tipe van die geestelike “dubbele deel” van diegene wat getrou is aan hul geestelike erfporsie in Christus. Jou eie saligheid is nie die belangrikste van die geestelike erfporsie nie, maar ook die saligheid van die hele wêreld! Die uitverkorenes in Christus het nie ‘n selfsugtige agenda nie – hulle lê hul lewens af vir ander:

Rom 12:1  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

Ook Josef se broers en sy ander familielede moes ten einde laas Josef se uitverkiesing erken. Alles wat gebeur het was vooruit beplan deur God en God het deur die slegte mense en slegte gebeure Josef gevestig as die redder van die hele wêreld:

Hand 7:9-14  En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom  10  en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis.  11  En ‘n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie.  12  En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur.  13  En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword.  14  Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf en sewentig siele.

Hier is Jakob se woorde aan Josef op sy sterfbed:

Gen 49:22-26  Josef is ‘n jong vrugteboom, ‘n jong vrugteboom by ‘n fontein; sy takke klim oor die muur.  23  Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry,  24  maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob—daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is,  25  van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot.  26  Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.

Ruben, Jakob se eersgebore seun het toe nie die eersgeboortereg ontvang nie, maar wel Josef:

1Kron 5:1-2 En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel—want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; 2 want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ‘n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad—

Josef was ‘n tipe van Jesus en hulle wie Hy nou uitverkies om deel te hê aan God se geestelike eersgeboortereg met sy dubbele deel. Daaroor gesels ons verder in Deel 5 van hierdie studiereeks, soos God wil!

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.