Die geestelike implikasies van die eersgeboortereg (Deel 7)

Selfs voor die tyd van die uittog uit Egipte, was die Israeliete gewoond daaraan om spesiale behandeling aan hul eersgeborenes te gee. Hierdie eersgeborene was uitverkies deur God, en een belangrike beginsel wat ons in hierdie uitverkiesing leer is dat God se keuse totaal verskil van die aardse mens s’n.

Jes 55:8-9  Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.  9  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

God se manier om dinge te doen stem nooit ooreen met die wyse waarop vleesmense dinge wil sien gebeur nie. Dit geld dan ook by hierdie keuse van wie die eersgeboortereg moes kry. Ons sien dit veral in die boek van Genesis in die verhale van Ismael en Isak, Esau en Jakob, Reuben en Josef. Die een wie eerste gebore was in die vlees, was nie die uitverkore eersgeborene in God se oë nie. Ismael was eerste gebore vir Abraham, maar God het Isak gekies om die eersgeboortereg te kry. Esau was eerste gebore vir Isak, maar God het Jakob om die eersgeboortereg te kry. Reuben was weer Jakob se eersgebore seun, maar die eersgeboortereg het gegaan aan Josef, soos God aan Jakob openbaar het:

1Kron 5:1-2  En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel [ander naam vir Jakob] —want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie;  2  want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ‘n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad

Dit was alles gedoen om ons te leer dat die eerste Adam in vlees nie God se gunsteling was nie – nog voor Adam se skepping. Die vlees kry nie God se eersgeboortereg nie. Vlees word nie eens toegelaat om God se geestelike perfeksie te betree nie!

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

God ag die aardse mens wel as Sy seun, maar nie as Sy ware erfgenaam nie!

Gen 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Luk 3:38  die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.

1Kor 15:45  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword…

Die eerste mens, Adam, was nie “die begin van die skepping van God” nie. Die eer kom aan Jesus toe, want Hy alleen is “die begin van die skepping van God” en “die Eersgeborene van die hele skepping”.

Open 3:14  En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:

Kol 1:15-17  Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;  16  want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.  17  En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.

Hierdie is baie harde woorde vir die vleesmens want ons aardse mens wil altyd homself baie hoog ag. God ag die vlees egter nie naastenby soos Hy die gees ag nie. God het GEEN behae in vlees nie!

Rom 8:8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

1Kor 1:29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Vlees (en alles in hierdie natuurlike skepping / “alles wat onder die hemel is”) was vanaf die skepping daarvan bedoel om ‘n TYDELIKE skepping te wees (“aan die nietigheid onderworpe”) wat God net gebruik om Sy doel mee te bereik – om ons almal deur ‘n bose ervaring (‘n “moeilike taak” / “an expereince of evil”) te neem om Sy geestelike waardes te leer:

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Pred 1:13 En ek [Salomo] het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.

Ecc 1:13 (CLV) I applied my heart to inquiring and exploring by wisdom concerning all that is done under the heavens: it is an experience of evil Elohim has given to the sons of humanity to humble them by it.

Ons kry dus eerste die kans om in vlees te leef om alles te leer wat NIE GEES en HEILIG is nie – alles onder God se perfekte beheer en toesig. Dit is wat hierdie woorde in Genesis aan ons sê (vir hulle wat dit kan ontvang)…

Gen 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

God praat dus eerste met ons as mens in aardse terme (duisternis), voor ons Sy LIG kan ontvang…

Gen 1:3-4 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis.

Ons ontvang alles eers deur God se aardse mondstukke (profete), voordat die Woord deur Jesus (die LIG) aan ons gebring word.

Heb 1:1-13  Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun  2  wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.  3  Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,  4  terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker naam geërf het as hulle.  5  Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees?  6  En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid.  7  En van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars vuurvlamme;  8  maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer;  9  U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle;  10  en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande.  11  Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt,  12  en soos ‘n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.  13  En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?

Ons leer eers die vleesmens ken (dat ons onvolmaak is, en in alles wat geestelik is kort skiet), voordat ons die geestelike Adam (geestelike perfeksie in Jesus Christus) ontmoet en leer ken, soos Paulus ook tereg opmerk in hierdie verse:

1Kor 15:45-46  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.

In die geskiedenis van fisiese Israel sien en leer ons ook hoe God spesiale reëlings gemaak het oor hoe hierdie eersgeboortereg hanteer moet word. Alle dinge wat God laat neerskryf het in die geskiedenis van hierdie Israel, was neergeskryf om aan ons hierdie proses te verduidelik in aardse terme, en daardeur word God se dieper geestelike dinge verstaanbaar gemaak:

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde [Grieks: “tupos” = tipes] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing [lering] aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Regdeur die boek van Genesis was die eersgeborene altyd as ‘n individu (‘n seun) voorgestel. Maar in die boek van Eksodus kom daar ‘n nuwe verwikkeling ten opsigte van WIE binne hierdie eersgeboortereg ingesluit mag word. Aan die einde van die boek van Genesis en reg aan die begin van die boek van Eksodus lees ons dat die volk van Israel in Egipte was nadat Josef hulle daar laat kom bly het tydens die groot globale hongersnood. Die Farao wat op daardie stadium in beheer was, het Josef spesiale vergunning gegee om sy familie daar in Gosen te laat bly binne die beste landstreek daar, genaamd Raämses:

Gen 47:11-12  En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek Raämses, soos Farao beveel het.  12  En Josef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met brood onderhou ooreenkomstig die getal van die kinders.

Gen 47:27  So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.

Na Josef se dood het sy groot reddingsdaad vir Egipte met die verloop van tyd begin vervaag, en daar het later ‘n nuwe Farao aan bewind gekom wie nie geweet het van Josef se weldade aan die Egiptenare nie. Hierdie Farao het die Israeliete aan slawerny onderwerp:

Eks 1:8-11  Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie.  9  Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons.  10  Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie.  11  Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.

Dit is ten tye van hierdie swaarkry periode dat die volk na God geroep het vir barmhartigheid, en God het hullle gebede verhoor. God het deur Moses aan hierdie Farao laat weet dat Israel Sy spesiale volk is – Sy eersgeborene!

Eks 4:18-23  Toe gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede.  19  Ook het die HERE vir Moses in Mídian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.  20  Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ‘n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem.  21  En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.  22  Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.  23  Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.

Hier sien ons vir die eerste keer dat die eersgeborene ook na ‘n groep mense kan verwys. Jesus Christus as die ware erkende eersgeborene van die Vader, is ook nie skaam en onwillig om Sy eersgeboortereg na ander uit te brei nie! Dit is baie belangrik om te weet want die naam “Jesus Christus” het nie net betrekking op een Persoon nie (God se uitverkore Seun nie), maar die naam en die konsep van “eersgeborene” het ook betrekking op ‘n groep mense vir wie God spesiaal uitverkies het. Kyk hier hoe beskryf Jesus die mense vir wie Saul (later Paulus genoem) vervolg het:

Hand 9:3-5  En toe hy [Saul] op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af;  4  en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?  5  En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.

Jesus noem die mense vir wie Saul vervolg “Jesus”. Soos ons leer van ons aardse liggaam is ons hoof en die res van die liggaam ‘n eenheid en deel alles, veral die naam wat aan ‘n individue gegee word. Net so deel die geestelike Hoof, en Sy liggaam (Sy kerk) een en dieselfde Naam! Hulle deel ALLES wat Hy het – ook die eersgeboortereg. Dit is hoe “die Christus” eintlik deur die Vader gesien word. Die Christus is nie net ‘n Hoof nie, maar ‘n Hoof met ALMAL sy lede!!! Die Hoof is ONVOLLEDIG sonder Sy lede!!!

1Kor 12:12  Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook [die] Christus.

Efes 1:22-23  En Hy [God] het alle dinge onder sy [Jesus se] voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee,  23  wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Kol 1:18  En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

Dit is die voorreg wat aan hierdie groep mense gegee word wie NOU aan Jesus verbind word deur die keuse van die Vader – hulle ontvang Sy naam en al Sy voordele!

Kol 2:18-19  Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid,  19  en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word.

Ons lees ook dan die rede waarom hierdie eersgeborene ook in groepsverband gesien moet word, soos Moses dit aan die Farao duidelik gemaak het:

Eks 4:23a  Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien.

Israel moes vrygelaat word om te trek en hierdie groep word hier as God se dienaars aangedui – alles verwysend na hulle wie IN CHRISTUS is en wie hierdie uittog uit sonde en vlees kan ontvang. God kies dus nie mense om hul eie persoonlike doeleindes na te streef en selfvoldaan te wees nie, maar hulle word uitgesonder (afgesonder) vir God se doeleindes. Hulle verloën hul vlees en aardse verbintenisse!

Mat 10:34-39  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.  35  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.  36  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.  37  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.  38  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Ons lees dit juis in die woorde van Moses aan die Farao dat hierdie eersgeborene van God teenoor die Farao se eersgeborene van Farao gestel word:

Eks 4:23b Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.

Terwyl God Sy eersgeborene lewe en vrymaking skenk, word Farao se eersgeborene verdoem tot die dood! As ons kan sien dat al hierdie woorde op ons self betrekking het (soos ons vroeër genoem het – 1Kor 10:11), dan kan ons ook sien dat hierdie Farao en sy harde hart ons eie vleesmens uitbeeld wat nie aan God se gebod gehoorsaam kan wees nie, en tot die dood verdoem is!

Rom 8:6-8  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.  8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Farao heers oor Egipte soos ons aardse menslike wil eerstens onderworpe is aan sonde. Egipte verwys dus na ons geestelike stand in vlees wat ons oorheers en in slawerny plaas ten opsigte van sonde en welluste. Dit is gees van die wêreld waaronder ons almal aanvanklik gebuk gaan:

1Jn 2:16-17  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Vlees en sy natuurlike denke is dit wat geestelik die dood verteenwoordig – die vlees weerstaan God altyd en is God se vyand (Rom 8:6-8). Ons is eers diensknegte van sonde – die eersgeborene van ons eie Farao voordat ons vrygemaak word deur God se Eersgeborene!

Rom 6:16-20  Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?  17  Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is,  18  en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.  19  Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.  20  Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid.

God het geen behae in ons vlees nie of in enigiets wat verbonde is aan vlees nie. God het nooit die eerste vleesmens Adam in geestelike perfeksie geskep nie en daarom het Adam gefaal. Die eerste “pot” misluk doelbewus deur die plan en werk van die Pottebakker:

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Ons moet dus uit ons eie Egipte trek (ons vleeslike denke en aardse welluste), op die tyd soos deur God bepaal. Ons weet nou deur God se Woord wie die ware eersgeborene van God is. Vader trek sommige nou tydens hierdie aardse lewe na die geestelike Jesus om as Sy uitverkorenes voorberei te word vir hul dienswerk.

Efes 4:10-13 Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. 11 En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, 12 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, 13 totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.

Kom ons onderwerp ons aan God se manier om dinge te doen sodat ons kan groei om volwasse te wees vir ons dienswerk aan ons Heer. Ons gesels volgende keer oor wat is dit wat hierdie spesiale groep moet doen, soos God wil.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.