Die geestelike implikasie van die eersgeboortereg (Deel 8)

‘n Belangrike les wat ons almal moet leer (en aanhoudend leer), is dat die aardse mens se gedagtes en weë heeltemal verskil van God se gedagtes en weë:

Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

In die boek van Genesis word hierdie beginsel reeds vroeg deeglik vasgelê. Ons sien dit in die manier hoe Adam en Eva gedink het oor dinge en hoe hulle dan opgetree het, en dan word die verskille tussen die aardse mens en God al hoe meer uitgebrei dwarsdeur die Skrifte. Ons sien byvoorbeeld ook in Genesis dat God se keuse wie die reg van die eersgeborene moes kry (in die tye van die aardvaders van die Israeliete) verskil het van die keuse van mense. So byvoorbeeld was Abraham se eersgebore seun,  Ismael, nie God se keuse as eersgeborene nie – God het Isak gekies.

Gen 17:15-19  Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees.  16  En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ‘n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.  17  Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en sê in sy hart: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ‘n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar?  18  En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!  19  Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.

So was dit ook aan Isak verduidelik toe Hy twee seuns na vore gebring het – die eerste (Esau) was verwerp en die tweede (Jakob) was aangeneem – soos met Isak sou Jakob die spesiale een wees met wie God in ‘n spesiale verbondsverhouding sou leef.

Rom 9:10-13  En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader.  11  Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep  12  is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien.  13  Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.

En hier was die beginsel van “die oudste sal die jongste dien” weereens gevestig en ons sien dit weer in God se keuse van watter seun van Jakob binne hierdie spesiale verhouding met God sou staan. God se keuse was Josef, Jakob se geliefde seun by sy geliefde vrou, Ragel (wie moes toekyk hoe haar suster, Lea, Jakob se eerste vrou moes wees en vir hom ses seuns voortgebring het voordat sy vir Josef gebaar het). Maar Josef het die eerstegeboortereg gekry en nie een van sy ouer broers nie – nie eens Reuben, Jakob se eersgebore seun nie:

1Kron 5:1-2  En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel —want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie;  2  want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ‘n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad—

Weereens met Josef se seuns, sien ons dat God se keuse selfs vir Josef onkant betrap het:

Gen 48:1  Ná hierdie dinge het hulle aan Josef meegedeel: Kyk, u vader is siek. Toe neem hy sy twee seuns, Manasse [die oudste] en Efraim [die jongste], met hom saam.

Gen 48:9-20  En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my hier gegee het. En hy sê: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën.  10  Maar Israel se oë was swaar van ouderdom, hy kon nie sien nie. En toe hy hulle by hom bring, het hy hulle gesoen en hulle omhels.  11  En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.  12  Daarop laat Josef hulle van sy knieë af weggaan, en hy buig hom met sy aangesig na die aarde toe.  13  En Josef neem hulle twee Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel en hy bring hulle by hom.  14  Toe steek Israel sy regterhand uit en lê dit op die hoof van Efraim, hoewel hy die jongste was, en sy linkerhand op die hoof van Manasse: hy het sy hande oorkruis gehou, want Manasse was die eersgeborene.  15  En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe,  16  die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het—mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte.  17  Toe Josef sien dat sy vader sy regterhand op die hoof van Efraim gelê het, was dit verkeerd in sy oë; en hy het die hand van sy vader gegryp om dit van die hoof van Efraim op die hoof van Manasse oor te bring.  18  En Josef sê aan sy vader: Nie so nie, my vader; want hierdie een is die eersgeborene: lê u regterhand op sy hoof.  19  Maar sy vader weier en sê: Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook ‘n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy, en sy nageslag sal ‘n menigte van nasies word.  20  So het hy hulle dan dié dag geseën en gesê: Met jou sal Israel ‘n seën toewens, met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en soos Manasse! So het hy dan Efraim voor Manasse gestel.

God het Efraim (die jongste) voor Manasse (die oudste) verkies om die seën van die eersgeborene te kry.

Waarom was hierdie gebeure vir ons neergeskryf?

God wil hierdeur sê dat ons vlees, wat ons eerste mens is (die oudste), nie Sy seën kry nie. Vlees was nog nooit in sy geestelike koninkryk nie, en dit sal ook nooit daar kan ingaan nie.

1Kor 15:46-50  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.  50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die geestelike skepping kom tweede in ons lewe (die jongste) – so het God bepaal voordat Hy vir Adam gemaak het. Kom ons lees weer hierdie belangrike woorde…

1Kor 15:46-50  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.

Die vlees was nooit God se keuse om Sy geestelike lewe te kan hê nie. Vlees kom egter eerste na ons en deur hierdie vleeslike bestaan word die nuwe lewe na vore gebring. Die vlees dien die gees. Ons moet eers vlees wees en alles op vleeslike vlak ervaar, voordat ons die geestelike Jesus kan ontmoet en in Sy beeld gevorm word. Hier verduidelik Jesus hierdie PROSES…

Joh 3:1-7  En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode.  2  Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.  3  Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  4  Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?  5  Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.  6  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.  7  Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.

God se Uitverkorene is die geestelike Jesus Christus en ons ontmoet die ware Jesus in die gees eers NADAT ons Hom in vlees geken het:

2Kor 5:16  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.

Die spesiale indiwidue van wie ons leer in Genesis (Abraham, Isak, Jakob, en Josef) is dus almal tipes van Christus – deur elkeen van hul lewens leer ons spesifieke aspekte van Jesus se karakter en werk in ons lewens:

Abraham = Vaderskap / geloof

Isak = Seunskap

Jakob = Harde werker en die lê van ‘n Fondasie (12 seuns)

Josef = Redder (van almal)

Maar ons leer ook in die boek van Eksodus dat God hierdie eersgeboortereg toe uitbrei na ‘n groep mense vir die eerste keer:

Eks 4:18-23  Toe gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede.  19  Ook het die HERE vir Moses in Mídian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.  20  Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ‘n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem.  21  En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.  22  Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.  23  Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.

Die hele volk van Israel was uitverkies deur God om Hom te dien as Sy eersgeborene – daar is dus ‘n funksie wat hierdie groep moes verrig.

“Laat my seun [die volk van Israel] trek, dat hy My kan dien.”

Hulle uitverkiesing was dus doelgerig…

Eks 19:6  En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.

Hier sien ons dat die doel van God se uitverkiesing is om vir Homself priesters en ‘n heilige nasie voor te berei, wat ‘n belangrike taak vir Hom sal doen. Met verloop van tyd sien ons dat God hierdie eersgebore-status verder verfyn het. Binne hierdie volk het God die fokus begin vernou, en die eersgeboortereg het toe neergekom op net een van die twaalf stamme van die volk van Israel, naamlik die Leviete. Hierdie stam het sterk na vore getree as God se hand om ongeregtigheid onder die volk uit te roei nadat die volk gesondig het deur ‘n goue kalf te maak en dit te aanbid:

Eks 32:21-28  En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ‘n groot sonde oor hulle gebring het?  22  Toe antwoord Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken die volk, dat hulle deur en deur sleg is.  23  Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.  24  Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom.  25  Toe Moses sien dat die volk bandeloos was—want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders—  26  het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel.  27  En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak.  28  En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval.

Die Levitiese stam het van toe af die spesiale reg en status van God se “eersgeborene” gekry.

Num 3:11-13  En die HERE het met Moses gespreek en gesê:  12  Kyk, Ek self het die Leviete geneem onder die kinders van Israel uit in die plek van al die eersgeborenes wat die moederskoot open, uit die kinders van Israel, dat die Leviete myne kan wees.  13  Want al die eersgeborenes is myne: op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig, mense sowel as diere; hulle moet myne wees. Ek is die HERE.

Hierdie eersgeboortereg was nou vir die eerste keer in terme van spesifieke dienste en take uitgedruk:

Num 3:5-8  En die HERE het met Moses gespreek en gesê:  6  Laat die stam van Levi nader kom, en stel hulle voor die priester Aäron, dat hulle hom kan dien.  7  En hulle moet sy diens waarneem en die diens van die hele vergadering voor die tent van samekoms, om die dienswerk van die tabernakel te verrig.  8  En hulle moet sorg vir al die gereedskap van die tent van samekoms en vir die diens van die kinders van Israel, om die dienswerk van die tabernakel te verrig.

Num 8:14-18  En jy moet die Leviete onder die kinders van Israel uit afsonder, dat die Leviete myne kan wees.  15  En daarna moet die Leviete inkom om die tent van samekoms te bedien. So moet jy hulle dan reinig en hulle as beweegoffer beweeg.  16  Want hulle is heeltemal aan My gegee onder die kinders van Israel uit, in die plek van alles wat die moederskoot open—al die eersgeborenes uit die kinders van Israel—het Ek hulle vir My geneem.  17  Want al die eersgeborenes onder die kinders van Israel is myne, van mense en van diere; op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek hulle vir My geheilig.  18  En Ek het die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel geneem.

Hier is ‘n paar take wat die Leviete moes verrig in breë terme…

  • Hulle moes Aäron die hoë priester dien en gehoorsaam;
  • Hulle moes algemene dienswerk van die tabernakel doel;
  • Hulle moes sorg vir al die gereedskap van die tent van samekoms;
  • Hulle moes die hele volk van Israel as priesters en regters bedien.

Die Levite was in drie families verdeel, naamlik die families onder hul leiers Gerson en Kehat en Merári – en elke groep het spesifieke take gehad (Num 4:1-49). Almal tussen die ouderdom van 20 jaar en 50 jaar was vir hierdie take gebruik…

Num 3:14-17  En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai en gesê:  15  Tel die seuns van Levi volgens hulle families, volgens hulle geslagte; almal wat manlik is, van ‘n maand oud en daarbo—dié moet jy tel.  16  En Moses het hulle volgens die bevel van die HERE getel soos dit hom beveel is.  17  En dit was die seuns van Levi volgens hulle name: Gerson en Kehat en Merári.

Ons gesels in die volgende artikel verder oor hoe hierdie werk van die drie groepe Leviete, soos God wil.

Advertisements

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.