Die geestelike implikasie van die eersgeboortereg (Deel 9)

Ons sien in die Skrifte dat God die eersgeboortereg eerstens na vore gebring het deur na individue te kyk ten tye van die lewens van die aardsvaders van Israel. Ons lees hiervan in die boek van Genesis. Maar in die boek van Eksodus het God hierdie eersgeboortereg uitgebrei na ‘n volk wat Hy in Egipte versamel het en daar ‘n naam gegee het – die Israeliete.

Eks 4:18-23  Toe gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede.  19  Ook het die HERE vir Moses in Mídian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.  20  Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ‘n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem.  21  En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.  22  Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.  23  Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.

God het toe hierdie volk, wat van toe af as Israel bekendgestaan het, uit Egipte gelei as Sy eersgeborenes. Maar tydens die volk se tyd in die wildernis verfyn God hierdie eersgebore-status verder. God het toe net na een van die twaalf stamme van Israel verwys as Sy eersgeborene, naamlik die stam van Levi:

Num 3:11-13  En die HERE het met Moses gespreek en gesê:  12  Kyk, Ek self het die Leviete geneem onder die kinders van Israel uit in die plek van al die eersgeborenes wat die moederskoot open, uit die kinders van Israel, dat die Leviete myne kan wees.  13  Want al die eersgeborenes is myne: op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig, mense sowel as diere; hulle moet myne wees. Ek is die HERE.

Die Levite was in drie families verdeel, naamlik die families onder hul leiers Gerson en Kehat en Merári:

Num 3:14-17  En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai en gesê:  15  Tel die seuns van Levi volgens hulle families, volgens hulle geslagte; almal wat manlik is, van ‘n maand oud en daarbo—dié moet jy tel.  16  En Moses het hulle volgens die bevel van die HERE getel soos dit hom beveel is.  17  En dit was die seuns van Levi volgens hulle name: Gerson en Kehat en Merári.

Elke groep het spesifieke take gehad en ons gaan kortliks hierdie take bespreek in die volgende paar studies, en kyk hoe dit op ons van toepassing is. Almal die seuns van die stam van die Leviete tussen die ouderdom van 20 jaar en 50 jaar was vir hierdie take voorberei (Num 4:1-49). Alhoewel Gerson die oudste seun van Levi was, lys die Skrifte hierdie drie families en hul take nie volgens hul geboorteorde nie, maar volgens die belangrikheid van hul take. God is nie besorg oor hoe vleeslike mense dinge sien en orden nie, maar hoe Hy dit sien en gebruik. God se gedagtes en weë is inderdaad nie menslike gedagtes en weë nie:

Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Ons gesels in hierdie deel van ons studie oor die familie van Kehat, en ons bid dat God ons oë en ore sal open om Sy geestelike dinge deur middel van hierdie familie in ons eie lewe duidelik te maak.

Die seuns van Kehat

Die seuns van Kehat (spesifiek hulle wie dertig jaar oud was tot vyftig jaar oud) moes verantwoordelik wees vir die bewaking, instandhouding en vervoer van die “hoogheilige dinge” wat binne die tent van samekoms was:

Num 4:1-4  En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê:  2  Neem die volle getal van die seuns van Kehat op, onder die seuns van Levi uit, volgens hulle geslagte, volgens hulle families,  3  van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om werk by die tent van samekoms te verrig.  4  Dit sal die dienswerk van die seuns van Kehat by die tent van samekoms wees, naamlik die hoogheilige dinge.

God het dus Kehat en sy familie se dienswerk eerste laat neerskryf omdat hulle moes diens doen ten opsigte van die hoogheilige dinge wat binne die tabernakel was. Ons weet ook dat net Aäron en sy seuns toegelaat was binne-in die tabernakel (die tent van samekoms) en hulle moes dan die heilige dinge daarbinne oppak en toedraai en in bedekte vorm oorhandig aan die seuns van Kehat wat dan die bewaking, instandhouding en vervoer van die hoogheilige dinge oorneem. Die seuns van Kehat moes nie die heilige dinge sien of aanraak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Ons neem dus weereens kennis hier hoe presies God was oor hoe dinge gedoen moet word – daar is groot geestelike lesse te leer in die volgende woorde. Die orde en tipe bedekking vir elke ding was duidelik uitgestip:

Num 4:5-16  By die opbreek van die laer moet Aäron en sy seuns kom en die voorhangsel tot bedekking afneem en daarmee die ark van die Getuienis bedek.  6  En hulle moet ‘n dekkleed van robbevelle daarop sit en ‘n doek, heeltemal van pers [Hebreeus: “tekêleth” = blou] stof, daar bo-oor uitsprei en sy draaghoute insteek.  7  Hulle moet ook oor die toonbroodtafel ‘n pers [Hebreeus: “tekêleth” = blou] doek uitsprei en daarop neersit die skottels en die rookpanne en die bekers en die drankofferkanne; ook moet die altyd-blywende brood daarop wees.  8  Daarna moet hulle ‘n skarlaken doek daaroor uitsprei en dit met ‘n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek.  9  Dan moet hulle ‘n pers doek neem en die kandelaar tot verligting bedek, met sy lampe en sy snuiters en sy bakkies en al sy oliekanne waarmee hulle daarby diens doen.  10  En hulle moet dit met al sy gereedskap op ‘n dekkleed van robbevelle neerlê en dit op die draagbaar sit.  11  En oor die goue altaar moet hulle ‘n pers [Hebreeus: “tekêleth” = blou] doek uitsprei en dit met ‘n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek.  12  Hulle moet ook al die gereedskap neem waarmee hulle diens in die heiligdom doen, en dit op ‘n pers [Hebreeus: “tekêleth” = blou] doek neerlê en met ‘n dekkleed van robbevelle toemaak en dit op die draagbaar sit.  13  En hulle moet die as van die altaar verwyder en daar ‘n purper doek oor uitsprei.  14  En hulle moet al sy gereedskap daarop neersit waarmee hulle daarby diens doen: die vuurpanne, die vurke en die skoppe en die komme, al die gereedskap van die altaar; en hulle moet daar ‘n dekkleed van robbevelle oor uitsprei en sy draaghoute insteek.  15  En eers nadat Aäron en sy seuns, by die opbreek van die laer, klaar is met die toemaak van die heiligdom en van al die gereedskap van die heiligdom, moet die seuns van Kehat kom om te dra; maar hulle mag nie aan die heilige dinge raak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is dit wat die seuns van Kehat moet dra van die tent van samekoms.  16  En die toesig van Eleásar, die seun van die priester Aäron, gaan oor die olie vir die kandelaar en die reukwerk van speserye en die voortdurende spysoffer en die salfolie; die toesig oor die hele tabernakel en oor alles wat daarin is: die heiligdom en bybehorende gereedskap.

Wat ons hier kan noem is dat die bedekkings van die robbevelle, en die bedekking van die gekleurde doeke [blou, en skarlaken (rooi) en purper (pers)] weereens die dinge van die twee dimensies waarmee God in hierdie skepping werk, groepeer.

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Die hemele (die onsigbare dimensie) en die aarde (die sigbare dimensie) gee vir ons ons eie twee vlakke van bestaan. Ons hemel (ons denke) en ons aarde (ons fisiese liggaam) is totaal onder God se beheer van die begin af. Al hierdie mag binne hierdie twee dimensies verwys direk na die “dubbele deel” wat aan elke eersgebore seun gegee was:

Deu 21:15-17  As ‘n man twee vroue het , een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie, en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou, dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie. Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.

Die Vader het aan Jesus, Sy eersgeborene, al hierdie mag in die hemel (ons denke) en op aarde (ons liggaam) gegee as deel van hierdie “dubbele deel” van die eersgeboortereg:

Mat 28:18  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

Die robbevelle moes oor sekere van die hoogheilige dinge gegooi word om dit te bedek. Hierdie robbevelle versinnebeeld dus hoe God die aardse dinge gebruik om Sy heilige dinge mee te verberg. God het die mens ‘n tydelike stofliggaam gegee en ons eerste idee/bewustheid van onsself, kom d.m.v. hierdie aardse liggaam:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

God het die aardmens (Adam) ook binne ‘n tydelike aardse dimensie geplaas en hierdie dimensie is al wat die mens aanvanklik ken. Die mens se denke ontwikkel dus eerste volgens die aardsheid van sy liggaam en dit wat rondom hom aangaan. Dit is die eerste hemel – ons natuurlike denke. Binne hierdie konteks kan die mens egter nie sien waarmee God besig is nie. Ons aardse denke gaan so ver deur God se geestelike dinge en Sy geestelike werke as dwaashede af te maak!

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Ons doen dit alles omdat ons van nature aan hierdie tydelike aardse dinge en denke vasklou, volgens God se ontwerp en plan. Ons is in ‘n gevangenis en niemand kan uit hul eie aardsheid ontsnap nie. Selfs al word ‘n ontsnapping aan ons gegee, klou ons vas met alles wat ons het. Die aardse mens wil dus nie sterwe nie, want hy glo nog steeds die eerste leuen van die slang wat hy aan Adam en Eva verkoop het:

Gen 3:4  Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie.

Hierdie leuen heers tot vandag in mense se godsdienste, selfs hulle wat sê hulle glo in Jesus. Mense glo nie Jesus se Woord nie en glo die leuen dat mense na hul dood iewers gaan – of hemel of hel, of dat hulle in ander vorms van bestaan sal voortleef (bv. Reïnkarnasie en al hierdie menslike gelowe en filosofieë). Omdat hulle die leuens van satan glo, noem Jesus hulle kinders van die duiwel:

Joh 8:42-47  En Jesus sê vir hulle [hulle wie in leuens glo]: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.  43  Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.  44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.  45  Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.  46  Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie?  47  Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.

Diegene wat God se Woord glo, weet dat mense sterf en almal wie dood is moet “wag” vir hul bepaalde opstanding – een opstanding is vir hulle in Christus (tot lewe), en die ander opstanding is vir die res (wat dan geoordeel sal word en daardie oordeel sal ook lei tot lewe in Christus – 1Kor 15:22-28):

Pred 9:5-6  Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.  6  Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.

Dan 12:2 En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig [Hebreeus: “ôlâm”/ Grieks: “aiōn”/ “aiōnios” = tydperk].

Maar die aardse mens kan die dinge nie glo nie, en daarom wil hy hier bly so lank as moontlik. As hy egter te sterwe sou kom, dan glo hy dat hy nie regtig dood sal wees nie, maar dat hy voort sal leef op ‘n ander plek in ‘n ander vorm – maar selfs daardie vorm sal ‘n tipe vleeslike liggaam wees. Dit is waarom hierdie woorde ook oor die seuns van Kehat gespreek word, dat hulle nie God se hoogheilige dinge moes sien nie, anders sou hulle sterwe. Die seuns van Kehatiet verwys dus na ons vlees wat aan aardse dinge vaskleef en nie wil sterwe saam met Christus nie. Hulle sal die hoogheilige dinge dra en daaroor toesig hou, maar geen geestelike nut daaruit kry nie. Maar almal wat soos Aäron (die hoëpriester) en sy seuns hierdie hoogheilige dinge van God kan sien en waardeer, vir hulle is die dood die grootste uitkoms en toegang tot God!!! Hulle volg Jesus (ons Hoëpriester) deur hul aardse omhulsels en bedekkings op te gee en oop te maak in hierdie lewe!

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy [aardse] lewe vind, sal dit verloor; en wie sy [aardse] lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Hulle pleeg dus nie ‘n tipe selfmoord nie, maar lewe in hul vlees onder die beheer van God se gees in Jesus Christus…

Fil 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Aäron en sy seuns stel Christus en Sy uitverkorenes voor, as God se ware geestelike priestervolk – hulle wie die vlees afsweer, “deur Christus” se heilige lewe IN hulle:

1Pe 2:9-12 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. 11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; 12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.

Dit is wat die gekleurde doeke voorstel -die kleure van ‘n koninklike volk wat deur die kleure blou en rooi en pers versinnebeeld word. Orals in die Skrifte waar hierdie drie kleure in kombinasie gebruik word, is die tempel van God te sprake. God se uitverkorenes is hierdie tempel – Sy woonplek:

1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

1Kor 6:19-20 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Hierdie kleurvolle bedekkinge, en dit wat bedek word, is oop en bloot vir die seuns van Aaron, maar nie vir die seuns van Kehat nie. Vir God se uitverkorenes maak Hy Sy hemele oop, en HY bring SY insigte in hul denke:

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Hulle word nou reeds opgeneem in hemelse plekke deur Sy geopende Deur, Jesus Christus.

Open 4:1-4 Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. 2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. 3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. 4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.

Soos die seuns van Kehat, is daar ook “baie”wat geroep word (Mat 22:14), om na hulself as ‘n “belydende Christen” te verwys, en ywerig te werk binne hul eie menslike kerkorganisasies (aardse koninkrykies), om sodoende hul eie geregtigheid te vestig. Maar kyk hoe sien God hierdie ywer en eie geregtigheid…

Rom 10:2-3 Want ek [Paulus] getuig van hulle [fisiese Israel en almal wie op aardse dinge kwalifikasies steun] dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. 3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.

BAIE MIN is uitverkies in hierdie aardse eeu om in die ware Kerk van Christus opgeneem te word en met God se ware geregtigheid beklee te word.

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Aan hierdie MIN word die heilige dinge van God gewys – die heilige dinge van goud is God se ware leerstellinge in Jesus Christus. Ons “koop” hierdie goud van God as ons deur die vuur van God se oordeel gaan…

Open 3:18-22 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. 19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. 20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. 21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 22 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Dit is hierdie vurige oordeel van God wat die ou aardse lewe in ons vernietig:

1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Aaron se seuns het nie gekies om in sy bloedlyn gebore te word nie, en om al die gepaardgaande voorregte van die glorieryke binnekant van die tabernakel / tempel te sien en te geniet nie (alles daarbinne was met goud bedek). As ons God se waarhede (Sy GOUD) kan sien en waardeer, dan is ons opgeneem in die ware Tabernakel – Jesus Christus. Daar dien ons nie volgense menslike voorkeure, tradisies en keuses nie. Ons dien daar omdat die Vader so besluit en bepaal het, voor die grondlegging van die aarde, dat Hy ons na Jesus, die ware Tabernakel / Tempel, sal trek OP SY TYD:

Joh 6:44  Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Hierdie uitverkorenes van God sal eerste in die Tempel ingaan – om alles voor te berei vir die res wat gaan volg. Ons moet onthou dat om in die ware tempel van God in te gaan (om die geestelike dinge van God te kan sien en  verstaan), moet elke mens deur al die sewe plae (baie verdrukkinge) gaan:

Open 15:8  En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

Hand 14:22  en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Hierdie verdrukkinge is die oordeel van God wat NOU op die uitverkorenes in Christus van toepassing is – dit is waarom hulle eerste ingaan:

1Pe 4:17  Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Die uitverkorens van God weet presies waarom hulle nou deur al die dinge moet gaan:

1Pe 4:12-14  Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;  13  maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.  14  As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.

Daar is dus nou ‘n altaar waar die vuur van God die belangrike werk van heiligmaking bewerkstellig:

Heb 13:10  Ons het ‘n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie.

Die altaar wat hier na verwys word is die kruis wat ‘n simbool is waar ‘n lewe afgelê word.

Rom 6:1-6  Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?  2  Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?  3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?  4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.  5  Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;  6  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Advertisements

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Die geestelike implikasie van die eersgeboortereg (Deel 9)

  1. Terug pieng: Die geestelike implikasie van die eersgeboortereg (Deel 10) | 4windkoinonia

Die kommentaar is gesluit.