Die geestelike implikasies van die eersgeboortereg (Deel 11)

In hierdie studiereeks het ons gesien hoe God hierdie eersgeboortereg hanteer. Deur ‘n lang en pynlike proses in die ongeveer 4000 jarige geskiedenis van die vleeslike Israeliete (soos opgeteken in die Ou Testament), het God hulle as ‘n “voorbeeld” (‘n tipe) gebruik om Sy ware geestelike eersgeborenes te vorm en bymekaar te bring in die laaste 2000 jaar (die tydperk van die Kerk van Christus).

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle [Israel] oorgekom as voorbeelde [Grieks: “tupos” = tipe] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing [aanwysing] aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Hierdie pynlike vormingsproses vind dan ook nou plaas in die lewens van die geestelike Israeliete (die “Jood wat dit in die verborgene is”) wat in gees in hul harte besny word – hulle op wie die einde van die aardse eeu gekom het (wie die aardse vleeslikhede afsweer / afsny):

Rom 2:28-29 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; 29 maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.

Gal 6:15-16 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. 16 En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!

Die res van die skepping sal weldra uitvind wie hierdie uitverkore volk is (“die Israel van God”) wanneer God hulle sal openbaar maak:

Rom 8:18-22  Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. 19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.  20  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het  21  in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.  22  Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.

Soos “elke oog” Christus sal sien (God se Eersgebore Seun), so sal hulle ook Jesus se ware geestelike koninklike priestervolk (die “wolk van getuies” – Heb 12:1) sien op hierdie aarde:

Open 1:5-7 en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed 6 en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. 7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!

Mat 5:5 Salig is die sagmoediges [die nederiges in Christus], want hulle sal die aarde beërwe.

Open 5:9-10 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, 10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

God het deur die fisiese Israel die hele proses uitgebeeld hoe Hy te werk gaan om Sy ware geestelike priestervolk in Christus voor te berei vir hul dienswerk:

1Pe 2:9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Hierdie geestelike volk kom voort UIT die mensdom en word “die gemeente van eersgeborenes” genoem, wat dan ook as die geestelike berg Sion en die heilige stad van die lewende God bekendstaan:

Heb 12:22-24  Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele,  23  by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges,  24  en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

Hierdie konsep van eersgeborenes dui aan dat hierdie groepie mense eerste sal wees om uit die dode opgewek te word vir belangrike take. Daarom gaan hulle (hierdie “oorblyfsel” wat UIT die donkerte van vlees geroep word) nou deur die lydingsproses (oordeel / tugtiging van God) waardeur elke seun van God moet gaan in die “teenswoordige tyd” om hulle voor te berei vir hierdie dienswerke:

Rom 11:5  Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.

Heb 12:3-6  Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.  4  Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.  5  En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie;  6  want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

Hier is die twee hooftake waarvoor die geestelike uitverkorenes van God nou voorberei word:

1Kor 6:2-3  Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?  3  Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?

Ons leer in die Skrifte dat die eerstegeboortreg eerstens na vore gebring was deur na individue te verwys (die seuns wat eerste gebore was) – soos dit dan ook ten tye van die lewens van die aardsvaders van Israel plaasgevind het. Daarna het God hierdie eersgeboortereg uitgebrei na ‘n volk wat Hy in Egipte versamel het en daar ‘n naam gegee het (die Israeliete), wat Hy dan uitverkies het as Sy eersgeborene uit al die nasies op die aarde. Nadat die volk gesondig het deur ‘n goue kalf te maak en dit te aanbid, het God die stam van Levi uitgesonder om hierdie eersgeboortereg oor te neem. Die funksionele aspek van die eersgeboortereg word toe al hoe meer beklemtoon. Ons neem ook kennis van drie hoofrange waarbinne hierdie Leviete moes opereer wat weer ‘n dieper fokus na vore bring:

  • Die algemene Leviete (hulle was in drie groepe verdeel uit die families onder hul leiers Gerson en Kehat en Merári, en aan elke familie was spesifieke funksies vir algemene dienswerk rondom die tabernakel/tempel aangewys – hulle kon nie in die heiligdom of allerheiligdom kom nie. Hulle kon ook nie die hoogheilige voorwerpe in die tabernakel sien nie);
  • Die hoë priester (hy was uit die stam van die Leviete aangestel. Aäron was eerste aangestel in hierdie amp, en daarna was elke hoëpriester aangestel uit die geslagslyn van Aäron).
  • Die priesters (hulle was ook uit die Leviete aangestel, maar alleenlik die seuns wie in die geslagslyn van Aäron gebore was – hierdie priesters en die hoëpriester kon alleen in die tabernakel/tempel kom en daar dien in hul spesifieke roepings. Hulle kon ook die hoogheilige dinge in die tabernakel sien en dit hanteer).

Ons gaan in hierdie studie kortliks kyk na enkele aspekte van die hoëpriester. Soos reeds genoem was die hoëpriester deel van die Leviete, maar hy was apart geplaas deur God om spesiale werk te doen. Hy moes selfs spesiale klere dra wat anders was as die res van die priesters en die ander Leviete. Aäron, die broer van Moses, was uitgesonder deur God om hierdie funksie te vertolk tydens Israel se 40 jaar reis in die wildernis met die tabernakel. Hierdie klere word as spesiale “heilige klere” uitgewys in die Skrifte:

Eks 28:2-3  En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad.  3  Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.

Ons weet dat klere as bedekking vir ons naaktheid dien, en ons sien reeds in Genesis dat God se keuse van bedekking anders is as mens s’n:

Gen 3:7  Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

Gen 3:21  En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Daar is duidelik ‘n groot verskil tussen vyeblare en vel. Nie net is vel baie meer duursaam nie, maar die velbedekking wat God gemaak het, wys ons dat ‘n offer van ‘n dier se lewe nodig was om die vel te verkry. Wat dit vir ons simboliseer is..

  • dat ons sondigheid en ongeregtigheid (ons naaktheid) nie bedek kan word met ons eie werke (ons eie geregtigheid) nie – ons vyeblare werk net nie as goeie bedekking voor God nie.
  • dat ons aardse lewe en oortuiginge opgegee moet word om God se ware lewe in gees te ervaar.

Ons aardse vlees en ons eie werke volgens ons aardse oortuiginge speel wel ‘n rol in hoe ons dinge op aarde doen (ons aardse kleed), maar selfs ons beste werke is ‘n onrein besoedelde kleed wat selfs nie eens ‘n lekker reuk afgee as ons dit voor ‘n groot en heilige God bring nie:

Jes 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Nee, ons geestelike naaktheid word slegs behoorlik bedek deur die werke (die geregtigheid) van Christus in ons.

Rom 3:22-24  die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;  23  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,  24  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

Die “heilige klere” van die hoëpriester verwys dus na die geregtigheid wat God ons gee deur die geloof en werke van Jesus Christus in ons. Dit is wat ons aanvaarbaar maak en kwalifiseer om in God se diens te staan:

Efes 2:8-10  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;  9  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.  10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke [die geestelike werke van Christus in ons] wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Een van die belangrike take van die hoëpriester was dat hy alleen een keer ‘n jaar tot in die allerheilige deel van die tabernakel/tempel kon gaan om sy spesiale dienswerk daar te verrig. Aäron (en al sy opvolgers na sy dood) moes hierdie insetting noukeurig volg:

Lev 16:32-34  En die priester wat gesalf en aangestel sal word om in die plek van sy vader [Aäron] die priesteramp te bedien, moet die versoening doen; en hy moet die linneklere, die heilige klere, aantrek  33  en versoening doen vir die Allerheiligste; ook moet hy vir die tent van samekoms en die altaar versoening doen, en vir die priesters en die hele volk van die vergadering moet hy versoening doen.  34  En dit moet vir julle ‘n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen. En hy het gedoen soos die HERE Moses beveel het.

Niemand van die seuns van Aäron of van die ander Leviete kon hierdie spesiale klere dra of sy spesiale diens verrig nie. Hy was dus UIT die Leviete geneem om hierdie spesiale posisie en funksies te verrig. Aäron was inderdaad ‘n tipe van Jesus Christus. Die hemelse Vader het Jesus vir hierdie taak geroep en uitgesonder. Hy was deeglik voorberei, en was ook as fisiese Jood in vleeslike vorm gebore (so bietjie meer as 2000 jaar gelede). Hy moes dus eerstens deel vorm van die fisiese uitverkore volk:

Gal 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet.

Joh 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Hy was “onder die wet” van Moses gebore en moes vir die eerste dertig jaar onderworpe wees aan daardie wet. Hier is ’n paar voorbeelde wat aandui dat Jesus se ouers en Hyself Hom aan die wet van Moses onderwerp het:

Luk 2:22-24  En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel,  23  soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;  24  en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: ‘n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.

Luk 2:39-40  En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret.  40  En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.

Luk 2:41-42  En sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan.  42  En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees, na Jerusalem opgegaan.

Luk 2:51-52  En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.  52  En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.

Maar kyk watter woorde het ‘n sekere Símeon, ‘n man van Jerusalem, gespreek onder die leiding van die heilige gees, toe Jesus as ‘n jong kindjie na die tempel geneem was na die voltooiing van die reiningsproses volgens die wet van Moses (Luk 2:39-40):

Luk 2:34-35  En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word—  35  ja, ‘n swaard sal deur jou eie siel gaan—sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.

Jesus sou baie tot ‘n val en ‘n opstanding bring in Israel, en Hy sou wees tot ‘n teken wat weerspreek sal word. Wat dit vir ons sê is dat Jesus as godsdiens Hervormer gekom het en alle dinge verander. Hy is inderdaad vir die fisiese Jode en die res van die mensdom ‘n groot aanstoot. Hier in die volgende verse bevestig Petrus dat Jesus se roeping en werk reeds bekend was aan alle Jode (alhoewel hulle Hom nie herken het nie). Hy is inderdaad die Messias (die Christus / die Gesalfde), maar Hy is heel anders as wat hulle die Messias en Sy werk gesien het!

Hand 3:21-23  Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete.  22  Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek.  23  En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.

Elke siel wat nie Sy hervormingswoorde kan aanvaar nie, sal “uitgeroei” word. Elke mens sien alles eers in vleeslike terme, selfs die woorde van God word eers op vleeslike wyse gesien en toegepas. Dit is juis hierdie vlees en sy sieninge wat deur God se geestelike woorde uitgeroei / verteer / vermorsel word:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.

Jer 23:29 Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?

Jesus is die een (die Eersgeborene van God in gees) wat in vlees gekom het om ons te kom verlos van ons aardsmens en ons in ‘n nuwe geestelike skepping op te neem:

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Jesus het Sy geestelike glorie verlaat en het in vlees gekom. Hy het saam met die vleeslike Israeliete geleef onder ‘n wet van vleeslike verordeninge vir ongeveer dertig jaar.

Fil 2:5-8 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. 6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; 8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Toe Jesus omtrent dertig jaar oud was, was Hy UIT sy Joodse leefwyse geneem en Hy was afgesonder deur die Vader vir Sy spesiale werk – ‘n NUWE leer was bekendgemaak.

Luk 3:23  En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het…

Hy het ‘n totale nuwe leer begin verkondig – hierdie leer was nie dieselfde leer wat die Jode verkondig het nie, maar was heel anders in terme van die doel en toepassings daarvan. Die vleeslike Jode moes aanvanklik die Wet van Moses hou, en Jesus het dit ook bevestig…

Mat 5:17-19  Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.  18  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.  19  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

Jesus het egter die rol van daardie Wet duidelik kom maak. Die wet van Moses (en enige aardse vleeslike wet) kan niemand tot geestelike perkfektheid bring nie, maar dit (en ander vleeslike wette) word gegee om mense te wys dat hulle sondaars is. Ons almal (Jode en nie-Jode) het gedwaal soos skape en ons almal doen van nature die verkeerde dinge – soos God ook die eerste pot in die pottebakker se hand laat misluk:

Jes 53:6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Vlees is sonde (sondig) en doemwaardig vanaf sy skepping – en die begeerte om die aardse wette te hou eindig altyd op mislukking en frustrasies, en dit bring geensins regverdiging by God nie. So verduidelik Paulus dit…

Rom 3:19-20  Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;  20  aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

Diegene wat dus nog onder daardie tipe wette (met al die vleeslike verordeninge) wil leef, is daarop geregtig. Daar is ‘n tyd wanneer ons almal onder die aardse wette (die eerste beginsels van die wêreld) moet leef – tot op die tyd dat God ons oë oopmaak om te sien dat ons net deur die werke van Christus IN ons, alles REG sal doen:

Rom 13:1 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.

Gal 4:1-3 Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; 2 maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal. 3 So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld.

Jesus het die nuwe wet van die gees kom voorstel wat hoër vereistes daar gestel het. Maar dit is inderdaad deur die wet van die gees wat die ware geestelike lewe van God kom na ons. Hier is ‘n paar voorbeelde waar Jesus self die lering van die Wet  van Moses en die profete (“die mense van die ou tyd gesê het”) as onvoldoende beskryf het. Dit is net as ons tot ‘n hoër vlak geneem word in Christus (die “derde hemel” – 2Kor 12:1-5) dat ons aan ALMAL God se vereistes sal kan voldoen deur “die wet van die gees van lewe in Christus” (Rom 8:1-2):

Mat 5:21-22  Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg.  22  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.

Mat 5:27-28  Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie.  28  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.

Mat 5:33-37  Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou.  34  Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie—nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is;  35  ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning;  36  ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.  37  Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.

Jesus het dus die hoëpriester geword van ‘n beter verbond met baie hoër vereistes en Hy sien toe dat almal wie nou IN Sy naam kom, die Vader se uitverkorenes is – die eersgeborenes in gees. Jesus het ‘n aanstoot geword vir hulle wie nog glo dat hulle deur vleeslike afstammelingskap en deur aardse wetsonderhouding, God se regverdigheid sal verkry. Die wette van die vlees en die van die gees moet reg hanteer en duidelike onderskei word. Ons almal staan eers onder die wet vir die wettelose en tugtelose voordat ons onder die wet van “Die Regverdige” (Jesus) staan:

1Ti 1:8-11 Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik 9 en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, 10 hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is, 11 volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.

Almal wie nou (“in dié dag”) IN Jesus (“die Regverdige”) is en Hy IN hulle, sal aan hierdie wet van die gees kan voldoen. Die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus maak ons waarlik vry van die wet van die sonde en die dood.

Joh 14:20-21  In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.  21  Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

Rom 8:1-4 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Jesus en Sy geestelike wet is “meer heerlikheid waardig geag as Moses” en sy wet, en God het Jesus aangestel as die ware Hoëpriester oor Sy geestelike huis:

Heb 3:1-6  Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,  2  wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis.  3  Want Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, namate hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis;  4  want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.  5  En Moses was wel getrou in sy hele huis as ‘n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word,  6  maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.

Moses se wet was nie gegee om geestelike perfeksie te bring nie, en daarom was die Levitiese priesterskap ook onvoldoende. Hier in die volgende verses sien ons dat die Levitiese priesterskap nie geestelike perfeksie vir enigeen kon bewerkstellig nie:

Heb 7:11-17  As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was—want met die oog daarop het die volk die wet ontvang—waarom was dit nog nodig dat ‘n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie?  12  Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet;  13  omdat Hy met die oog op wie hierdie dinge gesê word, aan ‘n ander stam behoort het waaruit niemand die altaar bedien het nie.  14  Want dit is volkome duidelik dat onse Here uit Juda voortgespruit het, en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie.  15  En nog baie duideliker is dit as daar ‘n ander priester opstaan na die ewebeeld van Melgisédek,  16  een wat dit geword het nie kragtens die wet van ‘n vleeslike gebod nie, maar uit die krag van die onvernietigbare lewe.  17  Want Hy getuig: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.

Jesus se priesterskap was dus nie volgens die orde van Levi nie – Hy was immers uit die stam van Juda. Sy priesterskap was volgens die orde van Melgisédek wat geen aardse familie-orde gevolg nie. Jesus se bediening as priester is nie “kragtens die wet van ‘n vleeslike gebod nie, maar uit die krag van die onvernietigbare lewe”. Daarom is diegene wat NOU in Sy leer staan, deur God as heilige priestervolk geroep – die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is…

Heb 12:22-24 Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, 23 by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, 24 en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.