Alle mense se indiwiduele lewens is in God se hande van begin tot einde. Voor ons geboorte het God reeds elke detail van ons lewe bepaal om te gebeur op die tyd soos Hy presies vooruit besluit het. Die Skrifte noem hierdie bepalings ‘n “boek” wat God oor elkeen geskryf het, en niks kan gebeur met ons wat nie in hierdie “boek” opgeteken was voor ons geboorte:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Ons “ongevormde klomp” moet van ‘n embrio-stadium ontwikkel binne in ons moeders se baarmoeder – die Skrifte noem dit ‘n “geheim” omdat die mens met al sy kennis tot op vandag beperkte insigte het oor wat presies gebeur tydens hierdie wonderlike kunstige werk van God nie:
Psa 139:13-15 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
Selfs die geboorteproses is ‘n wonderwerk van God en Hy alleen gee lewe en asem aan alles:
Hand 17:25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.
Ons leer dan stelselmatig om buite die baarmoeder voort te bestaan, eerste as ‘n baba en dan gaan ons deur natuurlike prosesse waartydens ons groei tot ‘n volwassene. Alle natuurlike babas begin hul dieet met melk omdat hulle spysverteringstelsel nog nie ten volle ontwikkel het en gereed is om die vaste spyse te ontvang nie. En ook tydens hierdie proses was elke stap reeds bepaal deur God.. Ons hele “loop” in hierdie lewe is perfek bepaal deur God en ons kry groot respek daarvoor as ons dit kan sien:
Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
Die Vader het bepaal dat Christus oorhoofs verantwoordelik is vir hierdie hele proses sover dit elke indiwidu aangaan, maar ook sover dit die hele mensdom binne hierdie skepping betref.
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Onthou, in Hom (Christus) het alles (ook die hele mensdom) hul hele omvang en ook hulle beperkings – Christus in INTIEM betrokke in elke sekonde van elke dag in elkeen se lewe (Ps 139:16):
Hand 17:26-28 En Hy [Christus] het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; 28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.
Daar is ook ‘n ander proses waardeur ons almal gaan wat te doen het met ‘n dieper onsigbare wêreld wat ons as die geestelike of innerlike proses ken. Ons gaan juis deur die aardse proses eerste sodat ons kan leer daaruit hoe Christus die dieper geestelike prosesse (die hemelse) in ons lewe laat gebeur:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Jesus Christus is voorwaar ten volle in beheer van alles op die aarde en alles in die hemel!!!
Mat 28:18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
Alles gebeur dus “in Christus” en Hy neem volle verantwoodelikheid vir elkeen van Sy skepsels. God sal elkeen wat in die natuurlike vleeslike vorm (die “eerste Adam”) kom (selfs alle ongebore babas wat gesterf het in hul moederskoot) in die “laaste Adam” (Jesus Christus) lewend maak!!! Almal sal regverdig gemaak word aan die einde van die hele proses:
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.
Christus sal elkeen aan die Vader voorstel as geestelike perfekte skepsels. So beskryf Paulus hierdie taak van Christus en hoe Christus 100% suksesvol sal wees:
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Elkeen gaan eerste deur die natuurlike proses en dan volg die geestelike proses – almal sal deur ALBEI hierdie prosesse van geboortes en groei gaan:
Joh 3:1-7 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7 Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.
Ons leer eers ons lesse tydens ‘n vleeslike proses voordat ons die vlees sal moet opgee om oor te beweeg na die voltooiing van die geestelike proses – dit is wat heiligmaking beteken:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Ons vleeslike tyd is ons tyd in donkerte – ons leef in geestelike onkunde oor God en oor Sy werke in en rondom ons. Ons leer dan ook tydens hierdie tyd van ‘n vleeslike Christus en al die mooi dinge en wonderwerke wat Hy doen vir aardse mense. Ons leer selfs van Sy liefde vir ons en Sy dood op ‘n kruis vir ons sondes. Ons hoor van Sy opstanding uit die dood en Sy hemelvaart. En dan word dinge baie vaag want Hy voel so ver verwyderd van ons daaglikse lewe. Dit lyk soms Hy gee nie om wat aangaan op die aarde nie. Ons geloof word swakker en swakker en dan oorval hopeloosheid ons en ons verval in sonde. Maar daar sal ‘n dag in elkeense lewe kom wanneer Christus weer aan ons verskyn (die Skrifte noem dit die wederkoms van Christus). Hy kom na ons persoonlik in ‘n ander vorm as wat ons Hom voorheen geken het.
Joh 14:15-18 As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee [nie meer in vlees nie] om by julle te bly tot in ewigheid [in gees]: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
Christus kom na ons in gees tydens Sy wederkoms en ons sien Hom totaal ander as tevore:
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Die ou dinge gaan inderdaad verby!!! Ons denke word vernuwe met Sy waarheid. Die leuens word uitgewis. Die donkerte word gevul met die grootste LIG en ons sien alles soveel beter. Dit is wat bekering beteken, want ons kyk nou na binne, in ons eie lewe, en hoe ons oor dinge gedink het!
Mat 4:16-17 die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan. 17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
Die duisternis verander in LIG en ons raak bewus van ‘n nuwe Koning en Sy ware Koninkryk! Waar is hierdie koninkryk van God? Waar heers God se denke? In ons harte! Dit is waar ons op fokus. Ons sien die koninkryk het BAIE NABY gekom as ons tot geestelike bekering kom:
Luk 17:20-23 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle. 22 En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie. 23 En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie.
As Christus aan ons verskyn, dan begin ons om te sien wie ons regtig is want die lig skyn in ons eie harte. Hier is ‘n pragtige beskrywing wat met ons gebeur as Christus Sy LIG bring en Sy denke in ons begin oopmaak:
Hand 2:1-4 En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. 4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.
Die LIG skok ons hele bestaan, ‘n groot aardbewing vind plaas en alles wat ons gedink het oor onsself, en oor God, en oor ander mense, word geskud en verander.
Hand 2:14-21 Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 16 Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. 18 En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 19 En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. 20 Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. 21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Ons “son sal verander in duisternis”, want ons vind uit dit wat ons as lig ervaar het voorheen, is eintlik duisternis – ‘n diep duisternis waarvan ons totaal onbewus was. Dit is wanneer ons kan sien dat dit die “maan” was wat eintlik ‘n valse lig aan ons gegee het! Die maan verteenwoordig die valse kerke en die valse leerstelling wat hulle onder Satan se mag van leuens versprei!
Mat 6:22-23 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. 23 Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!
Die woorde dat ons “maan” verander in bloed, gee vir ons die idee van ons vervolging en verwerping wat volg as ons aan ons geliefdes die waarheid begin voorhou. Die bloed stel ook voor die geweldadige proses in ons eie hart as die ou mens (van sonde) onttroon word.
2Th 2:1-4 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Ons sien hoe onvolwasse ons is met die geestelike dinge en werke van God, want ons is eerste “onervare” in die Woord van God. Ons word deur God bestraf!
Heb 5:12-14 Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
Ons word geforseer om weer alles van vooraf te leer, en ons word leersaam soos kinders wat gretig is om te groei in ons nuwe geestelike kennis:
Mat 18:1-6 In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele? 2 Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan 3 en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! 4 Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. 5 En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; 6 maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.
Ons begin die proses om eers die “melk” van God se Woord te drink. Later, soos ons groei tot volwassenheid in Christus, word ons stelselmatig blootgestel aan die “vaste spys” van die Woord. Ons moet eers kennis maak met die ONvervalste melk want daardeur begin die nuwe groeiproses in ons:
1Pe 2:2 …verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.
Daar is dus vervalste melk waarvan ons ontslae moet word. Die vervalste melk is die valse leerstellings en die verdraaiings van die Woord van God wat baie populêr is in die vervalle Christendom met sy derduisende denominasies. Die vervalste melk word saam met ‘n “ander Jesus” (‘n valse Jesus) verkondig wat aan sy volgelinge ‘n “ander gees” (‘n valse gees) oordra as die ware gees van die Vader. Alles word dan aangebied onder ‘n “ander evangelie” (‘n valse evangelie).
2Kor 11:3-4 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.
Mense is almal soos Adam en Eva was, toe hulle twee in die tuin van Eden geplaas was – goedgelowig (ons word maklik gekul deur mooi praatjies). Ons val maklik vir dwalinge en bedrog. Satan word eerste in die Skrifte as ‘n “listige” slang uitgebeeld. Hierdie listige slang soek doelgerig na sy prooi – hy het gesien dat Adam en Eva naak was — naaktheid wys uit dat hulle geen beskerming gehad het teen sy valshede nie.
Gen 3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?
O ja, God het Adam en Eva NAAK geskep, en hulle was duidelik nie opgewasse teen die listige slang nie.
Gen 2:25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.
Net soos God Adam en Eva naak gemaak het, net so het God die slang “listiger” [SLU / VINNIG] gemaak as al die skepsels “van die veld”:
Job 26:13 (KJV) By his spirit he hath garnished the heavens; his hand hath formed the crooked serpent.
Job 26:13 Deur sy asem word die hemel helder; sy hand het die vinnige slang deurboor.
Hierdie slang word ook uitgebeeld as ‘n leeu wat soek wie hy kan verslind. Dit is duidelik dat Adam en Eva nie NUGTER of WAAKSAAM was nie! Hulle uiterlike naaktheid was ‘n simbool van hul innerlike geestelike naaktheid. Hulle was ook nie STANDVASTIG nie. Hulle het op daardie stadium nie eens geweet wat goed en wat kwaad was nie!!!
1Pe 5:8-9 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.
God is doelgerig in alles wat Hy doen – Hy het alles gemaak om Sy doelwitte te bereik. Ja, selfs die goddelose was gemaak vir “die dag van onheil” (onheil = dit wat onheilig is].
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
God het inderdaad alles gemaak – kom ons lees en luister sorgvuldig die volgende woorde!
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Isa 45:7 KJV I form the light, and create darkness: I make peace, and create evil: I the LORD do all these things.
God se woorde weerspreek nie mekaar nie, maar vul mekaar aan. Hy het alles “baie goed” gemaak vir die doel waarvoor God hulle wil gebruik:
Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
Niks het iets geword op hul eie nie – niks word goed of boos op hul eie nie. God se raad en doelwitte heers!
Jes 46:9-10 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.
Job 42:2 Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.
God is die enigste Skepper. Net so is daar in geen skepsel ‘n sogenaamde “vrye” wil waarmee hy of sy kan maak en breek soos hulle wil nie. Alles is onder Sy TOTALE beheer want dit is wat die woorde “soewerein” en “almagtig” beteken:
Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Wie kan stry met God? NIKS gebeur sonder Sy besluit nie. Hy het self die verderwer, dieselfde slang in Eden, geskep om te verniel!
Jes 54:16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
Die slang is ‘n werktuig van die bose – hy is ‘n instrument in God se hand vir hierdie doel. Hierdie “ou slang”, of te wel Satan, is die meester-bedrieër. Hy en sy makkers (ook genoem “die draak en sy engele”) voer oorlog in ons hemele (ons denke) teen dit wat goed is (die goeie dinge word verteenwoordig deur “Mígael en sy engele”). Hierdie geveg gaan voort solank ons in vlees is en vleeslike dinge bedink. Die goeie dinge van God oorwin die bose dinge in ons (dit is ‘n proses), want ons word deur ‘n geestelike groeiproses geneem wat eindig in geestelike perfeksie.
Open 12:7-9 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; 8 en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. 9 En die groot draak is neergewerp [hierdie werkwoord is in die Griekse “Aorist” tyd, wat dui op ‘n proses] , die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp [hierdie werkwoord is weereens in die Griekse “Aorist” tyd, wat dui op ‘n proses] op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp [hierdie werkwoord is ook in die Griekse “Aorist” tyd, wat dui op ‘n proses].
Die ou slang staan ook bekend as “die duiwel” en hy is inderdaad ‘n engel wat God geskep het om die bose werke te lei in ons. Hy doen homself ook voor as ‘n engel van die lig – dit is hoekom hy so suksesvol is. Hy is baie oortuigend en mense kan nie sien met wie hulle besig is nie. Selfs in sekere vertalings van die Bybel word hy met die eienaam, “Lucifer”, beskryf. Die woord “lucifer” word nêrens in enige van die Bybel se oudste manuskripte genoem nie, en tog is dit die naam wat mense meeste gebruik as dit kom by hierdie bedrieglike slang. Die woord “lucifer” het as ‘n Eienaam eerste verskyn in ‘n vers (Jesaja 14:12) in die Latynse vertaling van die Bybel, die Vulgate. In Latyn beteken die woord “lucifer” ligdraer, en so het Satan die eienaam “Lucifer” gekry. Kan jy dit glo? Interessant, want volgens Jesus se eie woorde is HY (Jesus) die ENIGSTE ware Ligdraer van God:
Open 22:16 Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.
Joh 9:5 So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.
Joh 12:46 Ek het as ‘n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.
As ons dus kan sien van wie daar gepraat word in Jesaja 14, dan sal ons ook weet waarom die eerste Adam ‘n tipe ligdraer was, en nie “die groot lig” wat heers oor die dag:
Gen 1:16 God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.
Sommige vertalings wat hierdie valse begrip in Jesaja 14 vers 12 gebruik gee dus ook die status van die slang as ligdraer – ‘n engel van lig. Die duiwel was NOOIT ‘n draer van die ware Lig van God nie. Soos reeds hierbo gemeld, is daar ‘n ander lig wat God gemaak het vir die nag, naamlik die maan wat eintlik geen ware lig het nie!!!
Gen 1:16 God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.
Jesus self sê wat die slang se karakter was “van die begin af” – dit is hoe God Hom geskep het!!!
Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Tot vandag word hierdie onbybelse naam, Lucifer, gebruik deur baie mense as hulle na die listige slang verwys ten spyte van die Skriftuurlike waarheid dat God hierdie skepsel as goddeloos, boos, ‘n verderwer, ‘n leuenaar, ‘n mensemoordenaar, beskryf. Dit is dus duidelik waarom die slang se dienaars hom as ligdraer voorstel.
2Kor 11:14-15 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.
Hierdie “dienaars” doen hulle voor as dienaars van God se geregtigheid – hulle verlei mense agter leuens aan, en hulle is baie suksesvol. Kyk maar na die getalle in hul samekomste en hul welvaart. Hulle versprei die valse melk en miljoene mense is vergiftig en onder die totale invloed van die slang se bedrog. Daar is inderdaad baie wolwe wat uitkyk vir die swakkes en onvolwassenes (die geestelike naaktes), en op hulle teer. Paulus se waarskuwing aan die kerk in Efese is van toepassing op alle mense wat moet uitkyk vir die “wrede wolwe” onder hul eie kuddes!
Hand 20:29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.
Daar is ses leerstellings van Christus wat dan as “melk” kwalifiseer, en uit die lys sal ons in die reeks studies die vervalste melk van die onvervalste melk skei, soos God wil:
Heb 6:1-2 Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.
Ons groei tot volwassenheid in geestelike dinge is gekoppel aan die geestelike vermoë om God se vaste spyse te eet deur goed van kwaad te onderskei, en donkerte van lig te onderskei:
Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
In hierdie reeks studies sal ons elkeen van die leerstellings kortliks bespreek, soos God wil.
Deel 1: Die bekering uit dooie werke
Deel 2: Die geloof in God
Deel 3: Die leer van die doop
Deel 4: Die handoplegging
Deel 5: Die opstanding van die dode
Deel 6: Die ewige oordeel.
Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 5) | 4windkoinonia