Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 1)

Inleiding:

Enige huiseienaar sal weet dat ons huise ‘n goeie fondasie moet hê as ons gemoedsrus wil hê. As die fondasie verkeerd gelê was, dan sal die huis nie staande bly nie. Ons geestelike huis moet ook op die regte fondasie van Christus gebou word om God se woonplek te wees. Maar ons almal se geestelike huise word eers op ‘n fondasie van sand gebou en ons vind dit baie gou uit as die toetse en beproewings van die lewe kom. Ons is van nature ongehoorsaam aan God se Woord en ons vind uit ons is nie geskik vir God se geestelike koninkryk nie. Daarom is die volgende woorde geskryf want ons beleef dit persoonlik – ons leef inderdaad van elke woord uit God se mond (Mat 4:4):

Mat 7:26-27  En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.  27  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.

Ons weet dat ons eerste ouers, Adam en Eva, aan dieselfde toetse onderwerp was, en dat hulle ook moes uitvind dat vlees (en bloed) net nie kwalifiseer vir God se geestelike koninkryk nie:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Adam en Eva was “vlees en bloed” en hulle kon net nie God se opdrag doen nie:

Gen 2:16-17 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Ons weet nou ook dat God doelbewus Adam en Eva se fondasie van “die stof van die aarde” gemaak het, want Hy het ‘n plan in plek wat 100% werk tot nou.

Gen 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Hierdie plan van God is vir baie mense onbekend want hulle glo die valse leerstellings van die valse leraars dat die mens geestelik perfek geskep was en reeds in vleesvorm in God se ewebeeld was. Nee, God se ewebeeld is GEES, en almal wat Hom waarlik ken en Hom gehoorsaam, ken en aanbid Hom NET in gees en waarheid.

Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Adam en Eva was in VLEES met vleeslike gedagtes, en hulle kon nie God behaag nie:

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Die werkwoord in die oorspronklike Hebreeus in die volgende vers is in die onvoltooide vorm – God is besig met Sy perfekte plan om almal in Sy GEESTELIKE ewebeeld te skep!

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Jesus het dit duidelik gesê dat Hy en Sy Vader nog werk en alles sal 100% perfek eindig aan die einde!

Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Die mens word eerste geneem deur ‘n tydelike vleesbestaan, en daarna word hy tot geestelike volwassenheid gelei, as die Vader ons wederbaar en herbou op die Rots, Jesus Christus (Joh 3):

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Adam se vleeslikheid word voorgestel deur die sandfondasie (“die stof van die aarde”), en ons almal se eerste “huise” is gebou op hierdie sand. Daarom kon Adam en Eva, en almal van ons, nie God se woorde gehoorsaam nie. Ons is van nature ongehoorsaam aan ons geestelike hemelse Vader, want ons is onvolwasse in geestelike dinge.

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Soos mense eerste as babas gebore word en ‘n dieet van melk moet hê, so is ons almal ook eers melkdrinkers, in geestelike terme (wanneer die proses van wedergeboorte in ons persoonlik begin). Ons natuurlike ouderdom is geen waarborg van geestelike volwassenheid nie, en die volgende woorde van Paulus is baie gepas as ons dit uitvind:

Heb 5:12-14  Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.  13  Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.  14  Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Ons almal leer eers laat in ons aardse lewe die waarheid oor ons eie geestelike status. Dit gaan gepaard met groot skokke in ons denke en oortuigings (ons hemele en aarde word geskud). Met hierdie aardskuddings in ons lewe, sal ons besef hoe ons ontbreek aan die ware Brood van die lewe en hoe geestelik siek ons is:

Luk 21:11 En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.

As Christus aan ons verskyn, dan kom Hy voorwaar soos ‘n dief in die nag en ons word oorval met skokkende openbarings wat ons aardse fondasie skud. Ons aardse huis (ons vleeslike denke en oortuigings) sal val en deur God se geestelike VUUR (Sy Woord) verwoes word sodat ons nuwe huis op die ware fondasie gebou kan word!

2Pe 3:10 Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.

1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.

As die proses begin word ons neergeslaan en ons moet alles van vooraf leer. Dan moet ons soos pasgebore babas (wat nou wederbaar word in gees) verlang na die onvervalste melk van die woord van Waarheid, sodat ons kan sterker groei:

1Pe 2:2  …verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.

Daar is ses leerstellings van Christus wat ons eerste leer ken, en hierdie leerstellings vorm die fondasie vir ons groeiproses tot geestelike volwassenheid. Hier is die lys van die “melk”-leerstellings wat ons eerste as fondasie moet vaslê, voordat God ons “toelaat” om verder te groei in die gees om die vaste spyse te geniet:

Heb 6:1-3  Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God,  2  van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.  3  En dit sal ons doen as God dit toelaat.

Hier is die ses “melk” leerstellings van Christus weer:

In hierdie studie sal ons op die “bekering uit dooie werke” konsentreer.

Bekering uit dooie werke

Soos reeds hierbo genoem, bou ons eerste ons eerste huis op die sand, en ons dien die Here in vlees. Ons hele konsentrasie en kennis van Jesus is slegs op sy aardse bediening en hoe ons vlees daaruit kan voordeel trek en geseën word. Soos almal wat Jesus soek vir ons eie voordeel, is ons baie begerig vir Sy aardse broodjies en vissies. Ons soek Jesus se tekens en wonderwerke wat op die vlees gefokus is:

Joh 6:1-10  Daarna het Jesus na die oorkant van die see van Galiléa, dit is, van Tibérias, gegaan;  2  en ‘n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen.  3  En Jesus het op die berg geklim en daar met sy dissipels gaan sit.  4  En die pasga, die fees van die Jode, was naby.  5  Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat ‘n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?  6  Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen.  7  Filippus antwoord Hom: Brood vir twee honderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ‘n stukkie kan kry nie.  8  Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom:  9  Hier is ‘n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense?  10  En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyf duisend in getal.

Ons lees hier dat hierdie honger menigte op groen gras moes sit en gevoed word. Onthou, Adam en Eva was in vlees en kon nie God behaag nie (Rom 8:5-8). Daarom is die dieet wat God aan hulle voorgeskryf het ook baie insiggewend. Hulle moes NET van die groen plante eet (die boomvrugte in besonder). Hulle kon nie vleis eet nie!!!

Gen 1:28-29  En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.  29  Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.

‘n Dieet van groen plante (groente) is ‘n teken van geestelike swakheid = geestelike onvolwassenheid!!!

Rom 14:1-3  En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie.  2  Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente.  3  Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem.

Weereens sien ons wat God sê oor Adam en Eva se geestelike stand. Hulle kon nie vleis eet nie! Dit was eers NA die vloed dat God mense toegelaat het om ook vleis by te voeg by hul dieet:

Gen 9:1-3 En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. 2 Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. 3 Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.

Wat dit vir ons sê as dat ons eers geestelike melk moet drink, en dan eers by ons oordeel is ons gereed om die vaste geestelike spyse te waardeer. Dit is waarom God nou net Sy uitverkorenes oordeel om die vaste spyse te kan eet:

1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

In ons tyd van onvolwassenheid is ons egter vol van ons eie geregtigheid en ons glo dat dit van ons afhang om reg te lewe. Die hele geskiedenis van die vleeslike Jode wat in die Ou Testament opgeteken is, help ons om ons eie tyd van vertroue op die vlees uit te beeld. Ons beste werke in die vlees is egter nie by God aanvaarbaar nie:

Jes 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Ons beste werke is wat “DOOIE WERKE” beteken. Ons vlees en al sy beste dade en werke val ver kort van God se perfeksie en God se geregtigheid. Maar soos redelose diere ploeter ons voort vir jare en ons glo ons kan God beindruk met ons DOOIE werke.

2Pe 2:12  Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan.

Die dooie werke is egter goed in die sin dat dit ons uitwys as eiegeregtig. As ons ons eie eiegeregtigheid kan sien, dan is dit juis hierdie dooie werke wat God se oordeel oor ons aktiveer. Ons verlossing is dus op hande!

Mat 24:15-16 Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet— 16 dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug.

As ons hierdie gruwel in onsself kan raaksien, dan vlug ons na die Berg, die Rots van verlossing – Jesus Christus!

Psa 62:8 By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God.

Psa 89:27 Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil!

Psa 94:22 Maar die HERE is ‘n rotsvesting vir my, en my God die rots van my toevlug.

Psa 95:1 Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil!

Dit is die oordeel van God wat die verkeerde dinge in ons harte regstel. Dit is die oordeel van God wat ons laat afsien van ons goeie werke in vlees. Dit is God se oordeel wat ons dooie werke uitwis. Dit is die oordeel van God wat ons tot bekering lei:

Jes 26:9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Dit is God se goedheid wat ons geestelike oë oopmaak, en ons laat omdraai en die regte rigting in laat gaan:

Rom 2:4 Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?

As God ons oë oopmaak dan vind ons met ‘n groot skok uit dat ons eintlik NIKS kan doen sonder God nie!

Joh 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

Ons vind uit dat ALLES is God se keuse en Sy werke in ons —- ALLES!!! Hy het ALLES bepaal om te gebeur, selfs voordat ons gebore was, en ons het net gedoen wat Hy vooruit bepaal het!

Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

O ja, ons kies wel en ons doen die dinge (goed en kwaad), maar die keuse was deur God in ons geplaas, en die krag om dit te doen was ook van Hom! Hy het ons laat afdwaal en Hy kom ons red. Hy verhard ons harte en Hy maak dit weer sag… – alles is van Hom!

Jes 63:17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

Rom 9:16-18 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. 17 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. 18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.

Joh 15:16 Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Dit is Vader wat ons na Jesus trek, en ons het geen “vrye” wil of “vrye” keuse nie!!! Ons besit ook geen krag in onsself nie. Alles is Syne!

Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Ons word gelei en gebring tot bekering (deur die goedertierenheid van God – Rom 2:4) om af te sien van ons dooie werke (vleeslike werke – GOED EN KWAAD). Die mens is geskep in sonde (Ps 51:7 OAV), en daarom word dit genoem “die mens van sonde”. Die vlees sal vergaan want die vlees is geskep as “die seun van die verderf” deur God – dit was God se doel met vlees van die begin!

2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Die vlees is geskep as teenstander van die gees, en die twee staan altyd “TEENOOR mekaar”:

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Uit die verderf en totale vernietiging van die vlees verrys die geestelike nuwe skepping tot die glorie van die Vader:

Open 21:1-7  En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.  2  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.  3  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.  4  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.  5  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.  6  En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.  7  Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

6 Responses to Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 1)

  1. Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 5) | 4windkoinonia

Kommentaar is gesluit.