Daar is ses leerstellings van Christus wat ons eerste leer ken, en hierdie leerstellings vorm die belangrike fondasie vir ons groei in die geloof van Christus. Ons moet hierdie beginsels van Christus egter as geestelike melk sien en dit nie sien as die vaste spyse van die geestelike werk van Christus in ons nie. Ons moet die onvervalste melk drink en die waarheid van Christus vaslê, sodat ons “daardeur kan opgroei” tot geestelike volwassenheid in Christus:
1Pe 2:2 …verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.
Hier is die lys van die ses “melk”-leerstellings wat ons eerste as fondasie moet lê, voordat God ons “toelaat” om verder te groei in die gees om die vaste spyse te geniet en daarin te leef:
Heb 6:1-3 Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, 2 van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel. 3 En dit sal ons doen as God dit toelaat.
Hier is die ses “melk” leerstellings van Christus weer (dit is goed om dit te memoriseer):
- Die bekering uit dooie werke
- Die geloof in God
- Die leer van die doop
- Die handoplegging
- Die opstanding van die dode
- Die ewige oordeel.
In hierdie studie sal ons op die leer van “die geloof in God” konsentreer.
Die geloof in God:
Geloof is ‘n geskenk (‘n gawe) van God – dit is NIE ons s’n nie.
Efes 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.
God skenk geloof volgens ‘n maat aan elkeen, soos Hy alleen bepaal en dit aan elkeen toebedeel.
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Niemand is dus verantwoordelik vir hierdie “maat van geloof” nie, maar ons moet God altyd vra om ons geloof te versterk en te laat groei:
Luk 17:5 Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof.
Ons kan dus nie spog, of sleg voel oor die “maat van geloof” wat ons van God ontvang nie! Ons berus by Sy besluit, maar tog moet ons pleit en pleit by God, want sterker geloof is seker wat ons almal wil hê. Ons moet soos die weduwee in die volgende gelykenis God “moeite gee”!
Luk 18:1-8 En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie, 2 en gesê: Daar was ‘n regter in ‘n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. 3 En daar was in daardie stad ‘n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. 4 En ‘n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, 5 tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie. 6 Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. 7 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? 8 Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
Ons maat van geloof help ons ook om nie onsself te vergelyk met ander se maat van geloof nie, want dit is onverstandig:
2Kor 10:12-13 Want ons waag dit nie om ons te reken of te vergelyk met sommige van die wat hulleself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hul met hulself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig. 13 Maar ons sal nie buite die maat roem nie, maar volgens die maat van die werkkring wat God ons as ‘n maat toebedeel het om ook julle te bereik.
Niemand kan ook oor ander se geloof heers nie!
2Kor 1:24 nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas.
Ons moet egter weet dat die enigste manier dat ons geloof sal vermeerder en groei, kom slegs deur allerhande beproewinge en harde toetse:
1Pe 1:3-9 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
Deur die talle beproewings en verdrukkinge groei ons geloof, en ons denke en begrip van dinge word ook gereinig van alle aardse gedagtes. Dit is altyd ‘n pynlike proses. Die einddoel van die reinigingsproses en die groei in geloof lei egter tot ons saligheid. So, daar is ‘n groot prys wat ons motiveer in tye van donkerte. Ons moet weet dat hierdie groei in geloof nie ‘n kits-proses is, soos die valse leraars en valse profete wil voorgee nie. Nee, alles wat God aan ons gee wat die moeiete werd is kom net deur ‘n langdurige proses sodat ons nie opgepof word in ons eie verwaandheid nie. Die geskiedenis van fisiese Israel is dan ook so neergskryf vir ons lering (1Kor 10:11). Hoor wat sê God aan Israel oor die onbesnede stamme in die beloofde land (verwysend na ons eie inherente trots en welluste van die vlees):
Eks 23:29-30 Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie. 30 Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.
Die vrug van die geloof kom deur ‘n lang proses. Selfs in die vleeslike en fisiese wêreld word hierdie tydsame groeiproses vir ons duidelik uitgebeeld. Alle lewende dinge is aan ‘n tydsame groeiproses onderworpe. Deur al hierdie beproewings en verdrukkinge word ons dan vermaan om in die geloof te bly en vas te hou aan dit wat goed is:
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Tydens ons hele aardse bestaan is geloof dus sentraal in ons verhouding met God, want sonder geloof kan ons nie God behaag nie:
Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
Ons groeityd in geloof hou ons op die roete van die waarheid want dit is die pad wat gaan deur pynlike opofferings, maar dit lei tot ons saligheid om God se ewige rus en permanente geestelike verblyf te verkry. Ons is soos Abraham wat altyd op reis was met sy tent en sy altaar:
Heb 11:8-10 Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
Abraham word dan ook as die simbool van geloof in die Ou Testament gebruik (Rom 4:16). Ons moet wegtrek uit die bekende aardse plekke en voortbeweeg tot geestelike volwassenheid – iets wat nog onbekend is vir ons, maar deur die geloof van Christus hou ons vas aan ons roeping.
Heb 12:1-2 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Abraham is nie net ons simbool van geloof nie, maar ook ons voorbeeld vir die bou van altare. Altare word vyf keer genoem in die Skrifte sover dit Abraham aangaan:
Gen 12:7 Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.
Gen 12:8 En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep.
Gen 13:4 na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep.
Gen 13:18 Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir die HERE ‘n altaar gebou.
Gen 22:9 Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit.
Vyf is ook die getal wat geestelik verbind word met geloof, soos ons ook kan sien in die lewe van Abraham – die vader van ons almal sover dit Abraham as simbool van die geloof van Christus aangaan:
Rom 4:16 Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal
Die altaar is die plek van opoffering. Dit is waar ons saam met Jesus sterf deur ons eie kruis op te neem – ons moet afsien vir ons eie verwronge idees en valse leerstellings, ons korrupte vleeslike begeertes, en al ons aardse bande:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Ons geloof is dus onlosmaaklik gekoppel aan ons lyding vir Christus se onthalwe:
Fil 1:29-30 omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, 30 terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor.
Een leerstelling wat ons moet van afsien, is die leerstelling wat bekendstaan as Christus se plaasvervangende dood. Dit is ‘n valse leerstelling want dit preek dat die mens nie sy eie kruis moet opneem nie – dit sê dat Christus alles vir ons gedoen het deur Sy kruisdood, en ons kan net terugsit en in ons sonde voortploeter. Hierdie valse leerstelling dat Jesus as plaasvervanger “in ons plek gesterf het” sodat ons nie hoef te sterf deur ons EIE kruis op te neem nie, is so oud soos die mens self. Kain wou nie ‘n lewe opoffer aan God nie, en ons weet wat hy toe gedoen het met Abel wat wel sy eie dier opgeoffer het aan God:
Gen 4:1-8 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. 2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. 3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. 4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. 6 En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? 7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. 8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.
Die boodskap van die kruis is die boodskap van opoffering van self. Ons het inderdaad ‘n altaar waar ons ons eie dier (ons eersgeborene in vlees) moet opoffer!
Heb 13:10-13 Ons het ‘n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; 11 want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word—hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12 Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. 13 Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.
Die persoonlike kruis is vir baie ‘n bitter pil om te sluk en hulle sien dit selfs as belaglik en dwaasheid:
1Kor 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.
Is die boodskap van die kruis dwaasheid vir hulle wat gehaat word omdat hulle God vrees en die waarheid nastreef? Nee, nee, duisend maal NEE. Deur die geloof van Christus in ons leer ons dat die kruis is juis die krag van God!!! Dit gee ons die oorwinning oor die vlees. Alle eer aan die inwonende Christus wat hierdie waarhede aan ons openbaar en ons die krag gee om ons eie vlees op te offer! Ons kan nou sien dat daar inderdaad ‘n “oorblyfsel” is sover dit die lyding van Jesus aangaan. Hulle wat saam met Jesus sterf aan hul eie kruis, vul in hul eie vlees aan “die oorblyfsel van die verdrukking van Christus”!
Kol 1:24 Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Hulle wie SAAM met Jesus hul eie kruise opneem en sterf, voltooi die dood van Christus in hul eie liggaam – DEUR DIE GELOOF en KRAG van Christus in hulle!!!
2Kor 4:10-12 Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. 11 Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. 12 So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.
Ware geloof het inderdaad werke, want die werke spruit UIT die geloof soos God dit bewerkstellig IN ons – op ‘n baie persoonlike en baie intieme manier:
Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Geloof sonder werke is dood – dit is net grootpratery!
Jak 2:19-20 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. 20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?
Om net te praat van God en te sê jy het geloof in God is eenvoudig net nie genoeg nie. God is nie oortuig nie. Dit is deur jou dade en leefwyse wat jy uitgewys word of as ‘n gelowige in Christus, of as ‘n geveinsde huigelaar en bedrieër:
Mat 15:7-8 Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: 8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.
Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 3) | 4windkoinonia
Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Inleiding) | 4windkoinonia
Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 1) | 4windkoinonia
Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 4) | 4windkoinonia
Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 6) | 4windkoinonia