1Pe 2:2 …verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.
Daar is ses leerstellings van Christus wat ons eerste leer ken, en hierdie leerstellings vorm die fondasie vir ons groeiproses tot geestelike volwassenheid. Hier is die verse wat daardie leerstellings vir ons uitlig:
Heb 6:1-3 Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, 2 van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel. 3 En dit sal ons doen as God dit toelaat.
Hierdie ses leerstellings gee ons die eerste beginsels van die leer aangaande Christus:
- Die bekering uit dooie werke
- Die geloof in God
- Die leer van die doop
- Die handoplegging
- Die opstanding van die dode
- Die ewige oordeel.
In hierdie studie sal ons op die leer van Christus aangaande “die opstanding van die dode” konsentreer.
Die opstanding van die dode:
Vir ‘n mens om opgewek te word (“op te staan”) uit die dode veronderstel dat die persoon eers dood moet wees voor die opstanding plaasvind. Dit klink eenvoudig en logies, maar miljoene mense word mislei deur kragtige dwaalleringe wat die ware toestand van dooies misken. Daar is twee tipes dood wat in die Skrifte beskryf word. Die eerste is die algemene geestelike toestand van die vlees en die natuurlike denke – dit word as dood beskryf:
Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
Rom 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood…
Ons sal almal (op die tyd soos deur God bepaal) uit hierdie geestelike dood opgewek word. Maar daar is tweedens ook die meer bekende vorm van dood, en dit is die dag wanneer ons aardse liggame sterf:
Pred 12:3-7 dié dag wanneer…die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val 7 en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees [Hebreeus: rûach = asem] God terugkeer wat dit gegee het.
Die dag van ons aardse sterfte keer die stoflike liggaam terug na die aarde en ons die laaste aardse asem uitgeblaas het. Dan is ons dood. Daar is mense wat wil glo dat dooie mense iewers voortleef en nie regtig dood is nie. Ons sien die oorsprong van hierdie dwaling reeds in Genesis 3 toe ‘n baie listige slang hierdie leuen aan ons eerste voorouers vertel het:
Gen 3:1-4 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie.
Luister wat sê die groot bedrieër….”Julle sal gewis nie sterwe nie”. Mense oor die algemeen is tot vandag onder die mag van hierdie leuen dat geen mens regtig sterf nie! Mense sal erken dat mense sterf, en dan gaan die geliefdes en hulle wat die oorledene geken het na begrafnisdiens waar die lyk van die oorledene dan besigtig kan word en begrawe of veras word. Maar dieselfde mense wat al daardie dinge beleef glo nie dat die persoon regtig dood is nie. Die prediking van die oeroue leuen van die slang word deur valse leraars aan die gang gehou en mense glo dat die dooie persoon voortleef in ‘n ander vorm in die geesteswêreld. Baie glo dat dooies wat goddeloos geleef het, nou reeds brand in ‘n ewige helse vuur. Ander glo weer dat hulle geliefdes nou in ‘n tipe hemel voortleef in vrede en rustigheid – hulle “rus in vrede”! Sommige glo ook dat die afgestorwenes hierdie lewe op aarde kan dophou en dat dooie mense kan sien en hoor wat op die aarde gebeur. Dit alles word geglo in groot stryd TEEN die Woord van God wat duidelik sê wat gebeur met mense as hulle sterf en die toestand van dooies:
Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
Die valse leer van ‘n onsterflike siel:
Valse leerstellings soos dat die aardse mens ‘n onsterflike siel het, beheer baie mense se oortuigings oor die toestand van dooies. Baie glo dat daar iewers binne die mens ‘n onsterflike siel geplaas is, wat dan by die dood van die persoon die liggaam verlaat en dan migreer na die geesteswêreld. Dit is ‘n leuen. Die waarheid oor ‘n siel word gevind in die Skrifte en enigiets anders is van alle waarheid ontbloot. Die konsep van “siel” word in die Skrifte verduidelik as die hele wese van die persoon – nie ‘n deel van ‘n persoon nie. Toe God die eerste aardse lewende siel geskep het, toe het Hy twee “bestanddele” gebruik:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Aardse siele leef in ‘n stoflike liggaam en asem in en uit, en beweeg op die aarde rond – hulle is almal aardsgebonde skepsels. Aardse siele het ‘n tydelike bestaan. God gee aan die profeet Jeremia ‘n pragtige beeld om die tydelike toestand van die aardse siel uit te beeld:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Die aardse siel word uitgebeeld in die vorm van die eerste pot (van klei = stof) wat die Pottebakker (God) maak. Die pot misluk in die Hand van die Pottebakker!!! Die eerste pot (ons aardse vleeslike bestaan) is doelbewus so gemaak dat ons sal misluk – Adam was so gemaak en hy het misluk. Paulus verduidelik die geestelike toestand van die tydelike aardse siel as volg:
Rom 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.
Die eerste pot, die aardse siel, is ons as lewende vleesmens. In hierdie aardse vorm het ons geen geestelike heerlikheid van God ontvang nie. Dit is die tweede pot, die laaste Adam wat Jesus Christus is, het inderdaad die geestelike heerlikheid van die Vader ontvang:
Jer 18:4… maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
Albei hierdie Adams (en alle mense] behoort aan God – “al die siele is Myne”. Die eerste aardse siel is sondig geskep deur God, en word gebruik om ons waardevolle lesse te leer voordat God hierdie aardse siel vernietig en dit totaal herskep deur Sy “lewendmakende gees”, deur Jesus Christus:
Eseg 18:4 Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.
Mat 10:28 En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [ die oordeelsvuur van Sy Woord = Jer 5:14; 1Kor 3:13-15; Open 20:11-15].
Dit is duidelik uit die Skrifte dat aardse siele nie onsterflikheid het nie! Dit is juis die sterflikheid van ons tydelike aardse sielstoestand (ons onperfekte vleeslikheid), wat ons toegang bied tot die nuwe geestelike lewe wat kom deur die opstanding uit die dode deur Jesus Christus!
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
1Kor 15:49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Joh 3:3-6 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
1Korinthiërs 15
1Korinthiërs 15 is een van die mooiste hoofstukke in die Bybel sover dit die opstanding aangaan, en min mense neem die tyd om deur die 58 verse in die hoofstuk te lees, en nog minder kan die woorde glo wat daar geskryf staan. Kom ons kyk weer na ‘n paar geestelike juwele in hierdie hoofstuk. Paulus verduidelik dat Christus ons almal se voorbeeld is van die opstanding.
1Kor 15:1-4 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
Jesus Christus…
- het in vlees soos ons s’n gekom;
- Hy was aan die dood onderworpe;
- Hy het gesterf;
- Hy was DOOD in die graf;
- Hy was opgewek UIT DIE DODE deur die Vader.
Sommige mense het in die gemeente in Korinth gepreek en geglo dat daar nie ‘n opstanding is nie – mense doen dit vandag ook met hul verleidelike woorde. Hulle verdraai sekere tekste in die Skrifte om valshede kwyt te raak. Paulus berispe ons almal om nie hierdie tipes onsinnige praatjies van mense te glo nie. Die waarheid is dat ALLE dooie mense nog wag vir die dag van hul opstanding. Daarom lees ons in die Skrifte dat Jesus DOOD was. Na Jesus se tyd in die doderyk, het Vader vir Jesus UIT DIE DOOD opgewek (nie vanuit die hemel, of vanuit die paradys, of vanuit die hel nie). Dit is ook so neergeskryf vir ons, met baie getuies:
1Kor 15:5-8 en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. 6 Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. 7 Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; 8 en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.
Kom ons lees verder af in 1Korinthiërs 15 die volgende verse…
1Kor 15:12-21 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? 13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. 14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; 15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. 16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. 20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. 21 Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens.
Paulus verduidelik dat as dooie mense nie dood is nie, en reeds lewe in ‘n ander vorm, dan het Jesus ook nie gesterf nie en was Hy nie opgewek nie! Maar ons moet eerstens glo dat Jesus regtig DOOD was en ons moet nie die fabels glo wat mense vertel dat Jesus iewers rondbeweeg het tydens Sy tyd in die graf nie. As ons die geloof geskenk word om Jesus se doodstoestand regtig te aanvaar, dan sal ons ook Sy opstanding beter kan sien en verstaan. Dan is die waarheid BY ons, en ons sal nie weer maklik gevang word (soos God wil) in die strik van die valse leraars en hul leuens oor die dood en die opstanding nie:
Rom 10:6-11 Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; 7 of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? 8 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: 9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. 11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Die valse apostoliese belydenis beweer dat Jesus na die hel neergedaal het!
Kom ons lees ‘n teks wat misbruik en verdraai word om te sê dat Jesus na die hel gegaan het, en kyk self of hier enigiets gesê word van Jesus se tyd in die helse vure soos die baie bedrieërs dit uitbasuin!
1Pe 3:18-22 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; 19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, 20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; 21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus 22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.
Die woorde “in die dae van Noag” is hier die sleutel om die ander verse rondom dit te verstaan. Jesus was in gees voordat Hy in vlees deur Maria gebore was. Jesus is die Skepper van hierdie skepping, soos die Vader Hom aangestel het (Joh 1:1-3). Jesus werk in Sy skepping van die begin af en was die Skepper van Adam (en Eva) en alles wat in hierdie skepping is. Alles in hierdie skepping het deur Hom ontstaan, en in Hom het alles hul wese!
Joh 1:1-4 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
Alles en almal se begin en hul einde is in Christus se mag!
Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Jesus het ook regdeur die Ou Testament met almal gewerk en selfs op tye in vleeslike vorm aan hulle verskyn (kyk hoeveel keer die uitdrukking “die Engel van die Here” in die Ou Testament verskyn en dan sien jy Jesus se verskynings). Hier is een voorbeeld waar Jesus aan Abraham verskyn het en saam met Abraham en twee engele (wie ook in vleeslike vorm verskyn het) geëet het!
Gen 18:1-5 Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. 2 Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. 3 En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. 4 Laat hulle tog ‘n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. 5 En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het.
Hierdie waarheid dat Jesus self ook die HERE van die ou verbond is, is tot vandag ‘n groot aanstoot vir hulle wat dink dat hulle God ken:
Joh 8:48-59 Die Jode antwoord toe en sê vir Hom: Sê ons nie met reg dat U ‘n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie? 49 Jesus antwoord: Ek is nie van die duiwel besete nie; maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. 50 En Ek soek nie my eer nie; daar is Een wat dit soek en wat oordeel. 51 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie. 52 Toe sê die Jode vir Hom: Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete, en U sê: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie. 53 Is U dan groter as ons vader Abraham wat gesterf het? En die profete het gesterwe. Vir wie gee U Uself uit? 54 Jesus antwoord: As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is. 55 En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ‘n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en bewaar sy woord. 56 Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly. 57 Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien? 58 Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. 59 Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.
Die Jode het duidelik gehoor wat Jesus hier sê oor wie Hy is, en daarom wou hulle hom doodmaak. Jesus is die Woord van die begin af en Hy praat dwarsdeur die Ou Testament as die “Ek is“. Hy het aan Moses verskyn as die “Ek is“:
Eks 3:13-14 Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord? 14 En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.
Jesus het dwarsdeur die Skrifte op verskillende maniere met mense gepraat, ook met Abraham, Moses, Dawid, die profete. Hy het ook met Noag gepraat. Deur Sy gees praat Christus met Noag en Noag preek die Woorde met mense wie in ‘n geestelike gevangenis van die boosheid was. Jesus het aan Noag opdrag gegee om die ark te bou sodat Noag en sy familie gered kan word deur die globale vloed wat alle vlees op die hele aarde sou uitwis:
Gen 6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.
Gen 6:13-14 En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. 14 Maak vir jou ‘n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk.
Petrus verwys na hierdie gebeurtenis in die volgende woorde, en nie ‘n ewige helse vuur-oordeel nie – vers 19 sê duidelik dat Jesus IN GEES gepraat het met Noag om vir hulle wie in sondes gevang was die bevryding van sondes te preek “in die dae van Noag!!!” Hy preek dieselfde GEESTELIKE boodskap tot vandag met almal in die gevangenis van sonde!
1Pe 3:18-22 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; 19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, 20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; 21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus 22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.
Jesus was in gees vooordat Hy deur Maria in vlees gebore was (Joh 1:1-14). Op die ouderdom van 33 sterf Jesus ‘n aardse dood. Deur die daaropvolgende opstanding UIT DIE DOOD het Vader Hom weer in gees herstel. Dit is die doel en boodskap van die opstanding – om die proses van geestelike volmaaktheid ten einde laas totstand te bring. Vir Jesus was die opstanding ‘n herinstelling tot die perfekte gees wat Hy met die Vader gedeel het. Maar ons eie opstanding uit die dode sal vir ons almal die eerste keer wees dat ons tot geestelike volmaaktheid gebring sal word. Ons word eerste in sondige vlees gemaak waarna die fisiese dood ons sal wegneem om in gees opgewek te word:
1Kor 15:35-44 Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? 36 Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. 37 En wat jy saai—jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders. 38 Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam. 39 Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls. 40 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse. 41 Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster. 42 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; 43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.
Alle mense leef eers in sonde (in ‘n geestelike gevangenis) en die oordeel van God maak ons bewus van hierdie geestelike dood waarin ons eerste is, maar die oordeel van God bring ook die bevryding! Dit is wat die volgende vers wil sê!
Heb 9:27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel.
Solank die eerste aardse tabernakel nog staan, kan die tweede ware geestelike tempel van God nie kom in ons lewe nie.
Heb 9:8 waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie.
Die oordeel van God bring die bewustheid in ons dat die aardse tabernakel nie God se ware tempel is nie. God se oordeel bring na ons die regte denke van God (Sy geregtigheid) oor die toestand van vlees en hoekom ons deur die hele proses moet gaan:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Die oordeel van God verlos ons uit die kerker van duisternis (sonde / onkunde) en dood!
Jes 42:6-7 Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies, 7 om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.
Jes 61:1 Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis;
Jesus was nie in die Paradys toe Hy dood was nie!
Jesus was ook nie in die Paradys toe Hy dood was nie. Sommige mense wat nie glo dat Jesus waarlik dood was nie, lees die volgende gedeelte asof Jesus gesê het dat die een kwaaddoener daardie dag opgewek sal word en in die paradys saam met Jesus sal wees:
Luk 23:39-43 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. 40 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? — 41 ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. 42 En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. 43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
Die komma voor die woord “vandag” is verkeerdelik daar geplaas, as ons weet dat daar geen leestekens in die oorspronklike Griekse teks was nie. Nadat Jesus hierdie belangrike belofte “daardie dag” aan die kwaaddoener gegee het, het Jesus en die kwaaddoeners gesterf. Hulle was almal dood. Jesus was eers later, op die “derde dag”, opgewek uit die dood, en kon dus nie “daardie dag” van Sy dood in die paradys wees nie – Hy was dood. Jesus het “daardie” dag op die kruis aan die kwaaddoener beloof dat die kwaaddoener ook opgewek sal word en geestelike lewe geskenk sal word. Vader het aan daardie kwaadoener geloof geskenk om Jesus se woorde te glo dat God se saligheidsplan ook hom insluit. Hy sal ook die opstanding uit die dode ervaar omdat “almal in Adam” deur Christus nuwe geestelike lewe geskenk sal word, op die tyd soos God bepaal:
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.
Jesus ALLEEN besit ONSTERFLIKHEID
Jesus het in vlees as mens gekom, het gesterf, en Hy was opgewek uit die dood deur die Vader. Hy is die eerste persoon wat die dood oorwin het en Hy ALLEEN het tans onsterflikheid – niemand anders is tot op hede uit die dood opgewek nie! Die Skrifte sê so!!!
1Ti 6:13-16 Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, 14 dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus 15 wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, 16 wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.
Daar staan dit oop en bloot dat NIEMAND behalwe Jesus het tot op hede die dood oorwin en dat Hy alleen onsterflikheid by die Vader het.
“…wat ALLEEN onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat GEEN MENS gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.”
Daar word talle mense in die Skrifte genoem wat uit die dood opgewek was, maar hulle het weer gesterf. Niemand leef voort in vlees nie, en almal moet sterf en van die vlees ontslae raak om die genadegawe van geestelike lewe te ontvang op die tyd soos die Vader bepaal het – daardie tyd is TOEKOMSTIG!
Rom 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
1Ti 2:3-6 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.
Wat God “wil hê”, dit kry Hy. Wie kan Hom teëhou??????
Job 23:13 Maar Hy bly onveranderlik Een—wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy.
En daardie BEPAALDE tyd om geestelike lewe te gee VIR ALMAL, word alleen bepaal deur die Vader d.m.v. die drie opstandings wat die Skrifte aan ons voorhou.
Die drie opstandings wat in die Skrifte genoem word:
Kom ons lees hoe God die drie opstandings in volgorde laat gebeur (Paulus het dit vir ons ook mooi neergestip in 1Korinthiërs 15)…
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Daar is die drie opstandings uit die dode in die volgorde soos die Vader dit doen…
- as eersteling Christus,
- daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.
- daarna kom die einde (die Griekse oorspronklike woord hier is “telos” wat uitwys na die uiteinde van ‘n proses, en in hierdie konteks verwys dit na die laaste groep wat die opstanding sal ervaar)
Een van die beelde wat ons hemelse Vader aan ons van Hom voorhou is die van ‘n landbouer. Hy het drie oeste en hierdie drie oeste verwys na die drie opstandings, soos uitgebeeld in as ‘n skadubeeld in die drie hoofoesfeeste in Israel:
Eks 23:14-17 Drie maal in die jaar moet jy vir My ‘n fees hou. 15 Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek—maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie; 16 verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel. 17 Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here HERE verskyn.
Kyk hoe mooi stem die drie feeste ooreen met 1Korinthiërs 15 verse 23 en 24…
- Die fees van die ongesuurde brode (Christus se dood en opstanding – Sy sondelose offer vir almal is eerste, en dit word duidelik uitgewys deur die ongesuurde brode);
- Die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk (Christus se eerstelinge by Sy eerste koms – Sy uitverkore Kerk);
- Die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel (die res van die mensdom).
Een van die feeste is reeds vervul, naamlik die dood en opstanding van Jesus. Die ander twee sal nog plaasvind tydens twee aparte opstandings – diegene wat die lewe van Christus volledig sal ontvang (“die opstanding van die lewe”), en die groep wat opgewek sal word om geoordeel te word wat hulle dan ook die geregtigheid van Christus deelagtig sal word (“die opstanding van die veroordeling”).
Joh 5:28-29 Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29 en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.
Die eerste opstanding van die twee wat hier genoem word, is gereserveer vir die uitverkorenes in Christus. God gaan hierdie groep gebruik tydens die duisend jaar ryk (lees gerus weer deur Openbaring 20:4-6), en ook in die oordeel van die res van die mensdom (lees gerus deur Openbaring 20:11-15) Dit stem ooreen met die “dubbele deel” van die eersgeboortereg, soos uitgebeeld in die tyd van Israel (lees Deuteronium 21:15-17):
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
Almal sal dus van alle vleeslikheid verlos word,
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
En so word die dood (alle vleeslikheid in almal) verwoes:
1Kor 15:55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
Ten slotte:
Niemand kan iemand anders oortuig van die Waarheid nie, behalwe God self. Maar die Skrifte is duidelik dat God stuur ook alle bose geeste en hul leuens (dwalings) om mense wat hul eie oortuigings wil glo daarin opgesluit te hou tot op die tyd dat God hulle self daaruit sal bevry (Rigt 9:23; 1Sam 16:14; 1Kon 22:19-23)!
2Th 2:7-12 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
Mense wat glo dat dooie mense alreeds leef voor die opstanding plaasgevind het, het nie die geloof ontvang van God om te kan sien dat God almagtig is nie. God sluit hulle op in ongeloof, en ongehoorsaamheid aan die Woord is die gevolg.
Rom 11:32 Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees.
Geloof is ‘n geskenk van God en dit kom na elkeen deur die Woord:
Efes 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
Omdat mense nie God se Woord ken nie en ook nie die krag van God nie, kan hulle nie glo dat God die mag het om iemand van vooraf te skep nie – totaal NUUT (Joh 3:1-21). Die Sadduseërs was ‘n groep in Jesus se tyd op aarde. Hierdie groep het nie in die opstanding geglo nie, en baie valshede verkondig, net soos die moderne Sadduseërs doen:
Mat 22:29 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.
God kan en Hy gaan almal wat dood is (“in Adam”) opwek UIT DIE DOOD (die vlees en die graf), en Hy gaan aan hulle almal ‘n nuwe geestelike lewe skenk in Christus – elkeen in sy eie orde! Hy sê so!
Open 21:5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word…
Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 4) | 4windkoinonia
Terug pieng: Wat gebeur met ons geliefde diere na die dood? | 4windkoinonia