Inleiding:
As ‘n mens hoor van waarsêers, dan dink ons onwillekeurig aan ‘n persoon wat sit met ‘n kristalbal, of iemand wat handpalms lees, of iemand wat d.m.v. sterrewiggelary opereer, en dies meer. Hierdie persone gee dan aan goedgelowiges die oortuiging dat hulle, onder andere, die toekoms vir iemand kan voorspel. Maar waarsêergeeste opereer ook op baie meer subtiele vlakke. Ons almal word een of ander tyd deur hierdie tipe geeste beinvloed. Waarsêergeeste is een van die dinge waarteen God Israel van ouds, en ons almal vandag, waarsku:
Deu 18:9-13 As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie. 10 Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, 11 of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. 12 Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit. 13 Opreg moet jy wees met die HERE jou God.
God alleen ken waarheid en Hy alleen ken die toekoms…
Jes 46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
God het alles vooruitbepaal om te gebeur op Sy bepaalde tyd:
Pred 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.
God het nie aan die mens die vermoë gegee om die toekoms te ken nie:
Pred 3:11 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
Die mens is van nature vol arrogansie en hy wil nie God se almag oor alles erken nie.
Jak 4:13-16 Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— 14 julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. 15 In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. 16 Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.
Ons word almal een of ander tyd gevang deur ‘n slenter, of deur iemand wat ons bedrieg. Een van die redes waarom ons aanvanklik die leuens en bedrog glo, is omdat die leuens en bedrog kom na ons in die vorm van waarheid! Daar is altyd ‘n persentasie waarheid binne-in elke leuen. Die Skrifte verklaar dit duidelik dat selfs Satan homself verander in ‘n engel van lig, en dit is ook waarom sy dienaars hulself kan voordoen as dienaars van geregtigheid en daardeur baie mense mislei!!
2Kor 11:14-15 ….. die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.
Is ons magteloos teen hierdie tipe dinge? Op ons eie is ons almal ‘n prooi van Satan en sy leuengeeste. Maar deur God se Waarheid in ons, is ons sterker as die grootste leuen. God se Waarheid omsluit die “volle wapenrusting”, en dit is hierdie wapenrusting van die Waarheid (Christus) waarmee ons 100% oorwinnaars is:
Efes 6:11-17 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. 14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, 15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. 16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—
Ons moet onsself toerus met die hele waarheid want dit is ons beskerming en behoud:
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Ons moet toegerus word deur die Woord van God om elke leuengees uit te ken en om dit te oorwin met die waarheid.
1Jn 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.
2Ti 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
Ons moet die verleidelikheid van elke leuengees sien vir wat dit is. Leuengeeste bring ‘n verwronge weergawe van die waarheid na ons – hulle gebruik selfs die Skrifte.
Luk 4:9-12 Toe bring hy [Satan] Hom [Jesus] na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer. 10 Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar, 11 en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie. 12 En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.
Hierdie bedrieër is vandag meer aktief as ooit tevore, en hierdie tipe van waarsêery (om die Woord van God te misbruik en God so te versoek) is vandag meer volop as ooit tevore.
2Ti 3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
Alle geeste kom van God om Sy doel te dien:
God word beskryf in die Skrifte as “die Vader van die geeste” want Hy het hulle almal geskep en Hy gebruik hulle almal (die goeie en die bose) vir Sy doel!
Heb 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
God beheer alles 100% – ook die bose en valse geeste en wat hulle oordra en doen aan mense (Job 1 en Job 2; Rigt 9:23; 1Sam 16:14):
1Kon 22:19-23 Verder sê hy [die profeet Miga]: Daarom, hoor die woord van die HERE: Ek het die HERE sien sit op sy troon terwyl al die hemelse leërskare by Hom staan, aan sy regter— en aan sy linkerhand. 20 En die HERE het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so. 21 Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee? 22 En hy sê: Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. 23 En nou, kyk, die HERE het ‘n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die HERE het onheil oor u gespreek.
God stuur inderdaad ook alle misleidende dwalings d.m.v. bose geeste, na diegene wat die waarheid verdraai:
2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.
Jesus het belowe dat daar BAIE valse profete sal kom wat onder SY NAAM sal opereer, en hulle sal BAIE verlei. Mense is verblind om die BAIE grootnaam-predikers te volg en hul boeke te lees en na hul woorde te luister!
Mat 24:3-5 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? 4 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Die valse profete en hul organisiasies is groot besigheid vandag – mense staan letterlik in toue om die leuens te koop en dan te spog onder mekaar oor watter boeke van die grootnaam-skrywers hulle lees. Hulle kan nie sien dat hulle die prooi is van die “BAIE” wat onder Jesus se Naam kom en wat handel dryf met God se Woord. Die Woord word subtiel verdraai vir hul eie WINSTE!
2Kor 2:14-17 Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. 15 Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; 16 vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam? 17 Want ons is nie soos BAIE wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.
“Die teken of wonder kom uit”:
Hier kom ‘n paar dinge voor in die volgende woorde in Deuteronium wat ons help hoe om ‘n valse bedrieglike leuengees uit te ken:
Deu 13:1-4 As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, 3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. 4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.
Ons het reeds gesien dat die eerste aspek van bedrog en leuens is dat dit deels waarheid bevat. As ‘n valse profeet of leraar praat en die woorde oënskynlik reg klink en met bewyse gestaaf word, dan kan baie min mense die leuen van die waarheid onderskei. Daarom noem die teks dat “die teken of wonder kom uit” wat die profeet van praat. Tekens en wonders is kragtige delusies wat deur die natuurlike denke in ons vir soetkoek opgeëet word. Die groot menigtes hou van groot tekens en wonders:
Joh 6:2 en ‘n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen.
Mat 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
Ons as vleesmense (die groot menigte) is op ons eie magteloos teen ons eie trots en welluste. Hierdie dinge is alles part en deel van ons natuurlike samestelling. Ons natuurlike begeerlikhede sleep ons na die versoeking toe, soos Jakobus ook tereg aandui…
Jak 1:14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.
Ons moet dus eerstens erken dat ons nie die diepte van ons eie boosheid en bedrog ken nie.
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Die Skrifte sê dat ons soos “redelose diere” ons aardse vleeslike natuur volg. Ons is so gebore en ons is binne-in hierdie gevangenis geplaas vir ‘n spesifieke rede!
2Pe 2:12 Maar hulle [die mens] sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan.
Ons natuurlike mens kan net sy eie natuur volg, want hy is so “gebore om gevang en vernietig te word”. Die Satan en sy leuengeeste (en die dienaars wat as ligdraers voorkom) weet van hierdie swakhede in ons en hulle buit dit uit. Ons volg mense wat ons allerhande mooi dinge belowe, veral as dit gaan oor aardse suksesse en voorspoed in materiële dinge.
Jes 30:9-11 Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; 10 wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; 11 wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!
Ons soek aardse dinge wat die vlees bevredig. Dit is die “ander gode” wat hier na verwys word in die woorde…
As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien.
Ons almal val soos Adam en Eva vir die slang wat nog vandag net so aktief is deur Sy oortuigende dienaars. Hulle bied aan ons die begeerlikhede van die boom van kennis van goed en kwaad. Hierdie boom is vandag nog net so aanloklik vir ons vlees, soos reg aan die begin.
Gen 3:1-5 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
“Groot wins”: GETALLE en SUKSES
Kyk net rondom ons hoe “suksesvol” is hierdie dienaars wat kom in die naam van Jesus Christus. Jesus se waarskuwing val op dowe ore…
Mat 24:4-5 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Valse profete en hul volgelinge soek WINS (GETALLE) en SUKSES op hierdie aarde. Hulle beweer dat die bewyse van sukses en die groot getalle by hul saamtrekke getuig van hulle geloof, en dat God aan hulle kant is. Waarsêergeeste word dwarsdeur die Skrifte aan ons uitgewys as mense wat God se Woord misbruik vir hul eie “groot wins”, en hoe ons hulle kan uitken en bestraf. Hier is een so ‘n voorbeeld en kyk hoe leer Paulus ons om sulke mense uit te ken en te bestraf:
Hand 16:16-18 En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. 17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing. 18 En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.
Soos reeds genoem, gebruik waarsêergeeste vleitaal om mense agter hulle aan te lok, vir die doel om die mense uit te buit:
Jes 30:9-11 Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; 10 wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; 11 wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!
Psa 12:2-3 Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders. 3 Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.
Spr 29:5 ‘n Man wat sy naaste vlei, sprei ‘n net uit voor sy voetstappe.
Waarsêergeeste is geveins met woorde:
Spr 26:24-28 Die hater veins met sy lippe, maar in sy binneste koester hy bedrog. 25 As hy sy stem lieflik maak, vertrou hom nie; want sewe gruwels is in sy hart. 26 Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering openbaar. 27 Wie ‘n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat ‘n klip rol, dit sal na hom terugkom. 28 ‘n Valse tong haat die wat hy verbrysel het, en ‘n gladde mond bewerk ondergang.
Ten slotte:
Hulle wie die Waarheid het (dit ken) en uitleef, word gehaat deur hulle wat deur waarsêergeeste opereer:
Joh 17:14-17 Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. 16 Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. 17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
As ons die WOORD ken, dan kan ons die stem van die valse profeet uitken, omdat ons die WOORD van die ware profeet, Jesus Christus ken:
Joh 10:1-5 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower. 2 Maar hy wat by die deur ingaan, is ‘n herder van die skape. 3 Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. 4 En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5 Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.
Dit is hoe ons veilig bly teen die subtiele bedrog wat orals plaasvind en vanaf groot en hoë platforms gepreek word. Ons veiligheid is om altyd binne die raamwerk van die HELE Skrif te bly….“om nie te dink bo wat geskrywe is nie”.
1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
Mense wat op hulself fokus en eer wil hê, is wederstrewig teen God. Hulle is eiesinnig en soek hul eie belange in aardse suksessse en seëninge. Hierdie valse leiers forseer hulself en hul opinies op mens af. Dit is hoe ons ‘n waarsêergees duidelik kan sien:
1Sa 15:23 Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.
Dit is mense wat alles belaster wat God doen omdat hulle nie verby hul eie vleeslike trots en welluste kan vorder nie – net soos Kain, Bíleam, Korag, van ouds gedoen het! Hulle sleep hul eie families en soms hordes mense na ‘n afgryslike afgrond van verdriet en lyding!
Jud 1:10-11 Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde. 11 Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom.
Ons moet dus die waarsêer-geeste kan uitken al kom hulle na ons in die vorm van ‘n engel van die lig:
2Kor 11:14-15 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.
Waarsêer-geeste bring die valse lig, en dit is hierdie valse lig wat in die nag skyn. As mens nooit die son gesien het nie, dan is die maan se lig soos daglig vir hulle wat in die duisternis leef:
Gen 1:14-19 En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. 15 Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. 16 God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. 17 En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde 18 en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. 19 En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.
As ons dwaal agter ons eie drekgode aan, dan is ons ‘n maklike teiken vir die valse leerstellings:
Eseg 14:7-10 Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg—hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee. 8 Ek sal my aangesig rig teen dié man en hom tot ‘n teken en ‘n voorwerp van spot maak, en Ek sal hom uitroei uit die midde van my volk; en julle sal weet dat Ek die HERE is. 9 En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek—Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel. 10 En hulle moet hul ongeregtigheid dra: soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees.