Jesus maak ‘n belangrike onderskeid tussen “baie wat in Hom glo”, en hulle wie in Sy Woord bly (Hy noem diesulkes “waarlik My dissipels”):
Joh 8:30-32 Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo. 31 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. 32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Hulle wie “bly” in Sy Woord is “waarlik” Sy ware dissipels. Hulle wie in Sy Woord bly sal die Waarheid ken en die Waarheid sal hulle vrymaak!
As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Dit gaan dus oor die waarheid. Om net te glo in Jesus haal dus nie die hoë standaard om die waarheid te ken nie. Die Skrifte sê dat selfs die duiwels glo, maar dit is ook nie beskore vir die duiwels om die waarheid te ken nie:
Jak 2:19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.
Die duiwels (die teenstanders van God) is almal gevang in leuens en bedrog. Luister wat sê Jesus vir die gelowiges wie in Hom, maar nie die waarheid kan hanteer nie:
Joh 8:43-44 Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. 44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Daar is dus “baie” wat in Jesus glo, maar nie ware dissipels is wat Sy Waarheid ken nie. Dit sluit aan by die volgende woorde van Jesus waar Jesus hierdie twee groepe duidelik onderskei:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Tydens Jesus se aardse lewe het talle Jode Jesus gevolg en in Hom geglo (lees weer Joh 8:30-31). Maar kyk wat sê Hy wou hulle met Hom doen toe hulle uitvind daar is baie meer van Hom as wat hul aardse oë en ore kon hanteer!
Joh 8:37 Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie.
Hierdie gelowiges wou Jesus doodmaak toe Hy nie meer hul aardse persepsies kon tevrede stel nie!!! Dit is tot vandag so met Jesus. Mense hou van Hom en glo in Hom solank Hy net binne hul raamwerk inpas. Hul raamwerk is basies aardse dinge. Maar Jesus het gekom vir ‘n baie groter doel – om almal tot God se geestelike beeld te vorm. Jesus gee ‘n baie goeie rede waarom hierdie gelowiges Hom nie aanvaar nie…
“…my woord geen ingang in julle vind nie…”
Mense met aardse agendas hou nie van God se geestelike waarhede nie, veral nie as hulle hierdie woorde van Jesus hoor…
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Hulle stel nie belang om Sy GEESTELIKE WAARHEDE te lees en te aanvaar, want dit het geen ingang in hul aardse agendas nie. Hulle hou daarvan om die valse leraars se woorde te lees en na hulle te luister en wat hulle sê oor die Skrifte, eerder as om selfs hulle Bybels te lees en die waarheid daarin te sien. Jesaja se woorde is vandag net so van toepassing as destyds…
Jes 30:8-11 Gaan nou in, skryf dit op ‘n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ‘n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid. 9 Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; 10 wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; 11 wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!
Elke ware leraar van Christus hou die Woord van God op bo hul eie opinies. Alle menslike opinies, hoe waardevol dit ookal mag klink, is net 2c werd. Kyk wat beveel die apostel Paulus aan vir die jong Timotheus…
2Ti 3:14-17 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Jesus se woorde aan Sy destydse Joodse gelowiges was nie eens reg koud nie (dat hierdie gelowiges Hom wil doodmaak), toe hulle klippe optel en Hom wou stenig! Ons lees hierdie skokkende woorde in dieselfde hoofstuk 8 van Johannes…
Joh 8:59 Hulle [die gelowige Jode] het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.
Net soos vandag is daar baie mense wat in Jesus glo en hulself as Christen klassifiseer, maar Jesus se Woord het geen “ingang” by hulle nie – dit beteken daar is geen persoonlike innerlike toepassing vir die Waarheid in hul lewens nie. Hierdie groep is baie groot en vorm deel van alle mensgemaakte Christen denominasies wat onder die vaandel van Jesus Christus opereer (die Christendom is steeds die grootste godsdiensgroep op aarde):
Mat 24:4-5 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Jesaja profeteer ook van hierdie denominasies (wat hy as vroue simboliseer) wat Jesus se Naam gebruik, maar hul eie brood eet (hul eie leerstellings verteer), en eie klere aantrek (op hul eie geregtigheid en goeie werke staatmaak). Die getal sewe in die teks simboliseer die hele afvallige Christendom wat die een Man (Christus) aangryp:
Jes 4:1 En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg.
“…laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg…” sê presies wat hierdie mensgemaakte organisasies voor staan. Hulle gebruik Jesus se Naam en wil nie saam met Hom sterf vir hul aardse vleeslike begeertes nie. Hulle hou nie van die waarheid nie. Onthou Jesus se woorde…
“…baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei”.
Daar is egter hulle wie God se Woord as hul enigste Brood van Lewe eet daagliks, en op Christus se geregtigheid alleenlik steun vir hul saligheid. Die Woord het ingang in die persoonlike lewens van hierdie groep…
Mat 7:24-25 Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. 25 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.
Die ander groep gelowiges hoor ook dieselfde Woord, maar dit bring geen persoonlike toepassing en verandering nie. Vir hulle is die woord net goeie oppervlakkige sedelesse:
Mat 7:26-27 En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. 27 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.
Die groep wat openlik bely dat hulle is Christene is, maar geen sin sien daarin om die Skrifte te ondersoek en daardie Woorde te doen nie. Hulle doen wel baie goeie werke – vir hul eie eer en verheerliking voor mense! Hulle glo regtig hulle kan selfs vir God om die bos lei!
Joh 12:43 Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.
Maar kyk hoe hanteer Jesus hierdie mense aan die einde van die dag…wanneer die oordeel kom:
Mat 7:21-23 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Dit is skokkend as ons op die einde van die dag uitvind dat ons die verkeerde Jesus gevolg het. O ja, volgens die Skrifte is daar ‘n “ander Jesus” wat BAIE volgelinge het, en hy doen homself voor as die ware Jesus – alles volgens vleeslike standaarde wat deur mense saamgestel word (hul geloofsbelydenis en leerstellings klink amper soos die waarheid, maar dit is nie). Hulle stel mense tevrede en hou daarvan om op die skouer getik te word.
Mat 6:1-4 Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. 2 Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. 3 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4 sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.
Mat 23:5-7 En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. 6 En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges 7 en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!
Baie in die gemeente in Korinth het hierdie “ander Jesus” en sy valse apostels en leiers getrou gevolg, en nie na Paulus se waarskuwings geluister nie:
2Kor 11:1-4 Ag, as julle my net ‘n bietjie in my dwaasheid wou verdra! Verdra my tog maar! 2 Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. 3 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.
Ons almal sal uitvind dat ons weggedwaal het agter hierdie “ander Jesus” met sy baie volgelinge en populêre leiers. Alles is deel van God se plan om ons eers deur die donkerte te neem voordat ons die lig kan waardeer (Gen 1:2-5)! Maar ons vlees sal altyd bly vra…
Jes 63:17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie?…
Paulus kon dit ook uitwys aan hierdie verdwaaldes waarmee hy so baie in kontak gekom het, omdat hyself vir ‘n lang tyd in sy lewe verdwaal was. Hy het ook ‘n tipe geloof in God gevolg waarin hy 100% oortuig was dat hy vir die ware God werksaam was en dat hierdie God hom geroep het:
Hand 22:3-5 Ek [Paulus] is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is. 4 Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee, 5 soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.
Gal 1:13-14 Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het; 14 en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.
Ywer is goed, maar ywer sonder die kennis van die waarheid is dwaling!
Rom 10:2-3 Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. 3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.
Ons sien dit in ons eie lewe hoe ons in God glo en Jesus leer ken, maar alles volgens vleeslike ywer en standaarde. In ons tyd waar ons die vleeslike Jesus volg, haat ons die geestelike Jesus en Sy Waarheid wat Hy verkondig. Kyk hoe mense reageer op die volgende leerstellings, en jy sal weet in watter groep die mense opereer…
- die leer wat preek dat God as ‘n drie-eenheid bestaan en opereer, is vals;
- die leer van ‘n menslike vrye wil is vals;
- die leer van ‘n ewige hel-oordeel is vals;
- die leer van ‘n perfekte mens in die eerste Adam is vals;
- die leer van ‘n sondeval is vals (die mens was geskep in sondige vlees);
- die leer van ‘n onsterflike siel is vals.
Ons behoort dus almal eers aan die groep wat net glo in Jesus (die vleeslike Jesus en ook al die valse leerstellings). Ons kan nie agter die vleesgordyn gaan tot in Sy geestelike heiligdom as ons die “ander Jesus” volg nie. Net op God se tyd word ons getrek na die ware Jesus en Sy ware heiligdom…
Heb 10:19-25 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, 22 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. 23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; 24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
Dit is in Sy ware heiligdom, ook genoem die derde hemel, waar ons woorde hoor wat vir ons persoonlik sin maak en wat ons kan uitleef sonder enige vrees vir mense:
2Kor 12:1-4 Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here. 2 Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. 3 En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— 4 dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.
As ons geestelik groei om hierdie woorde van die derde hemel in ons te hoor en te verstaan, dan besef ons watter totale misoes ons eie vlees is:
Mat 26:75 En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween.
Ons moet die twee Jesus’e van mekaar kan onderskei en daarom skryf Paulus ook aan ons die waarskuwing wat hy aan die gemeente in Korinth gegee het…
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Op die einde van ons aardse eeu, sal ons weet dat Jesus nooit eintlik belanggestel het in ons aardse aspirasies nie. Sy koninkryk is nie van hierdie aardse eeu nie.
Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
Alhoewel Jesus as die Gesalfde (“die Christus” / Messias) aan sommige geopenbaar was, het Hy nie dieselfde vleeslike koninkryk / heerskappy as hulle gesien nie:
Mar 8:29-30 En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus. 30 En Hy het hulle streng beveel om niemand van Hom te vertel nie.
Maar diegene wat fisies naby Jesus geleef het elke dag en Hom gevolg het tydens Sy aardse lewe, het nog steeds bly glo dat Christus wel ‘n ewige aardse koninkryk sou vestig en aan alle fisiese Jode die heerskappy oor die hele wêreld sou gee. Kyk net hoe Jesus se eie apostels (en van hul familielede) vleeslike dinge gedink oor hoe leierskap aan hulle gegee sou word:
Mat 20:20-28 Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra. 21 En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter— en een aan u linkerhand. 22 Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. 23 En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is. 24 En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers. 25 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; 26 maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. 27 En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; 28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.
Toe Jesus einde laas gevange geneem was en veroordeel was tot ‘n kruisdood, het al Sy volgelinge finaal geweet dat Hy nie aan hulle vleeslike aspirasies kon voldoen nie. Ja, ALMAL van Jesus se eie dissipels het Hom verlaat en gevlug en teleurgesteld terug na hul huise gegaan:
Mar 14:43-50 En dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom ‘n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge. 44 En sy verraaier het ‘n teken met hulle afgespreek en gesê: Die een wat ek sal soen—dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg. 45 En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom. 46 Daarop slaan hulle hul hande aan Hom en gryp Hom. 47 En een van die wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. 48 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen ‘n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem? 49 Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word. 50 Toe het almal Hom verlaat en gevlug.
Mat 26:55-56 In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen ‘n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. 56 Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug.
As ons uitvind dat Jesus nie baie omgee vir vlees nie (en veral dat hy niks omgee vir die aspirasies van die vlees nie), dan word dit moeilik om Jesus te volg en in Sy Woord te bly. Maar dit is ook hier waar die kaf van die koring geskei word – in ons eie lewe en in die lewe van die groep uitverkorenes:
Psa 1:1-6 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 3 En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. 4 So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi. 5 Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie. 6 Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.
Luk 3:16-17 antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. 17 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.
Dat daar wel ‘n tydelike aardse Messiaanse koninkryk sal kom, is verseker. Maar dit is nie vir die aardse Jode nie, maar vir Jesus se uitverkorenes wie NIE DEUR AARDSE ASPIRASIES gelei word nie (Rom 2:28-29):
Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.