Daar is twee vlakke wat albei hul eie rol speel in die proses om ons te vorm in God se geestelike ewebeeld – die vleeslike (fisiese) vlak en die geestelike vlak. Jesus het dit baie duidelik gemaak dat ons Sy woorde se primêre funksie nie op die aardse vlak moet sien nie, maar op die geestelike vlak. Aan die einde van die proses sal die vlees en alle fisiese dinge inderdaad van geen nut meer wees nie:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Die fisiese dinge is ons eerste fase en dit speel inderdaad belangrike rolle in die hele proses. So byvoorbeeld, is die tydelike fisiese dinge deur God geskep om die “onsigbare dinge” van God (dit is Sy geestelike dinge) vir ons verstaanbaar te maak:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Hierdie dieper begrip in God se “onsigbare dinge” is egter nie nou vir almal beskore nie. God gebruik juis die sigbare dinge as gelykenisse om die natuurlike mens wat verknog is aan vleeslike dinge, te verblind vir Sy geestelike dinge:
Mat 13:10-14 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle [die menigstes wat in Hom glo vir fisiese dinge / die massas in Christendom] deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
Jesus sê Hy en Sy Vader maak ‘n duidelike onderskeid tussen die “julle” (wie nou geroep word om Sy geestelike dinge te verstaan), en “hulle” (wie nou net in Jesus glo om hul vleeslike begeertes vir aardse dinge te bevredig).
Joh 6:26-27 Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. 27 Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.
God se Woord het alles geskep – die sigbare dinge en die onsigbare dinge. Al hierdie dinge het direk invloed op elkeen se lewe tot in die fynste besonderhede. Hier is hoe die Skrifte hierdie twee dimensies waarbinne God met ons werk beskryf:
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Die “hemel” verteenwoordig die innerlike geestelike wêreld in ons denke en bewustelikheid, en die “aarde” verteenwoordig ons aardse bestaan in vlees, en ook alles wat ons deur ons vleeslike sintuie kan waarneem in hierdie skepping rondom ons. Albei hierdie wêrelde besit goed en kwaad, en God se uitverkorenes word nou in hierdie lewe deur ‘n proses geneem om die twee te kan onderskei, en geestelike volwassenheid word dan ook in die proses bereik:
Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
Jesus is deur die Vader gestuur om die doel van God in elkeen se lewe ten volle te bewerkstellig en tot ‘n pragtige uiteinde te voer waar elkeen ten einde laas in die geestelike ewebeeld van die Vader sal wees:
Efes 1:9-10 deurdat Hy [die Vader] aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, 10 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—
1Kor 15:27-28 Want Hy [die Vader] het alles aan Sy [Jesus se] voete onderwerp, maar wanneer Hy [die Vader] sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy [die Vader] uitgesonder is wat alles aan Hom [Jesus] onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom [Jesus] onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een [die Vader] wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God [die Vader] alles in almal kan wees.
Jesus kom dus eers na ons in vlees…
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Hy word dan uit die vlees weggeneem…
1Kor 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
Jesus het belowe dat Hy weer sal kom, in gees, en dit is ook hier waar God die groot onderskeid tussen die min uitverkorenes (hulle aan wie God Sy geestelike dinge verstaanbaar maak) en die baie geroepenes (hulle wie in Jesus glo vir vleeslike vervulling):
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Hierdie twee groepe sien die wederkoms van Jesus op twee verskillende vlakke – die “min” uitverkorenes ervaar Jesus se wederkoms op ‘n baie intieme vlak…
Joh 14:18-23 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 22 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Die “baie” geroepenes is die grootste godsdiensgroep op aarde (naamlik die Christendom met al sy verskillende denominasies) en hulle sien die tweede koms van Jesus op ‘n heel ander vlak. Hulle sal saam met die res van die mensdom die wederkoms van Jesus Christus heel anders beleef…
Open 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
Open 19:14-16 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.
In hierdie studiereeks kyk ons na die wederkoms van Jesus soos dit beskryf word in Mattheus 24-25, en ook in Lukas 17 en 21. Tien belangrike aspekte word uit hierdie hoofstukke gehaal wat ons help om die wederkoms van Jesus aan ons verstaanbaar te maak, soos God wil:
Deel 1: Die tempel
Deel 2: Die einde van die wêreld-eon (die aardse tydperk)
Deel 3: Die gruwel van die verwoesting
Deel 4: Die verdrukking
Deel 5: Die gelykenis van die vyeboom
Deel 6: Die onvoorspelbare dinge van God
Deel 7: Die twee tipe dienskegte van God
Deel 8: Die tien maagde
Deel 9: Die talente
Deel 10: Die skape en die bokke
DIE EINDE VAN DIE WêRELD-EON (AARDSE TYDPERK)
Die tekste:
Mat 24:3-14 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.
Luk 21:7-19 En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur? 8 En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie. 9 En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie. 10 Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. 11 En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom. 12 Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13 En dit sal vir julle uitloop op ‘n getuienis. 14 Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie. 15 Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie. 16 Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. 17 En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam. 18 En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie. 19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.
Ons het in Deel 1 van hierdie studiereeks gesien dat een van die tekens van Jesus se wederkoms is die afbreek van die tempel:
Mat 24:1-3 En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. 2 En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie. 3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?
Na watter tempel word hier verwys? Die aardse tempel in Jerusalem was in 70 nC deur die Romeine vernietig. Sommige glo dus Jesus het dus alreeds in die geheim gekom en hulle verlei mense met leuens. Nee, diegene wat met so ‘n redenasie kom het geen idee waarvan hulle praat nie. Almal wie op aarde is tydens Jesus se wederkoms sal die wederkoms sigbaar ervaar…dit is dus nie ‘n geheime wederkoms nie!
Open 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
Mat 24:27 Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Die vernietiging van die fisiese tempel daar in Jerusalem in 70 nC help ons om te sien dat Jesus dus nie verwys het na daardie tempel in Jerusalem in terme van Sy wederkoms nie. Jesus het verwys na ‘n ander tempel, en net die uitverkorenes kan hierdie tempel en sy afbreking waardeer op hierdie tydstip. Dit is belangrik om daarop te let dat die dissipels alleen na Jesus gekom het en Hom uitgevra het oor Sy wederkoms. Hierdie gesprek het weg van die skares mense plaasgevind vir ‘n baie spesifieke doel.
Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?
Jesus wil sekere dinge eksklusief aan Sy paar uitverkorenes vertel. Hierdie woorde in Mattheus 24 (soos die res van die Skrifte) het dus ‘n baie dieper geestelike toepassing wat nie beskore is vir die skares mense wat net op uiterlike dinge gefokus is nie. Sekere mense sien heilige plekke op die aarde, en hulle het nog nie die insig ontvang van God om te sien waar God se ware heiligdom is nie:
1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
Joh 14:18-24 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 22 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.
Kyk wat sê Jesus vir die vrou by die put van Jakob:
Joh 4:19-24 Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ‘n profeet is. 20 Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. 21 Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. 22 Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. 23 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Jesus is die geestelike Berg waar Sy uitverkorenes met Hom versamel in gees, waar aardse vlees, aardse tye en aardse plekke geen rol speel nie.
Heb 12:22-24 Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, 23 by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, 24 en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.
Open 14:1 En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd vier en veertig duisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.
Open 21:10 En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal.
Alle vorme van vlees sal nooit weer deelhê aan God se nuwe skepping nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
1Kor 1:29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
God gaan inderdaad die ou tempel van vlees vervang met die nuwe tempel van gees:
2Kor 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
1Kor 15:49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Daarom is die gebeure wat in Mattheus 24 en 25, Lukas 17 en 21 uitgebeeld word, nou besig om plaas te vind in die lewe van God se uitverkorenes, soos hierdie groepie mense ook in hierdie lewe uitvind hoe elke woord uit God se mond in hulle lewens van toepassing is.
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Dit vind dus voor die oë van mense plaas, en tog kan die mense dit nie sien nie:
Mat 13:15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
Die ware dissipels van Jesus kan dit egter reg onderskei…
Mat 13:16-17 Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. 17 Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.
Die dissipels vra Jesus oor die voleinding van die wêreld…
Mat 24:3-14 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?
Die oorspronklike woord in Grieks vir die woord “wêreld” hier is die woord “aiōn” wat ‘n tydperk aandui (lees gerus die betekenis van hierdie woord by die volgende skakel…
https://4windkoinonia.wordpress.com/2011/09/26/die-twee-griekse-woorde-aion-en-aionios/
Die dissipels vra Jesus uit oor die einde van dinge wat alles tot die aardse tydperk behoort. Ons almal leef eers in ‘n aardse tydperk, voordat ons die geestelike tydperk sal ervaar. Hier in die volgende verse verduidelik Paulus hierdie twee tydperke wat onder die twee Adams val (Lees ook die studie oor die twee Adams waarmee God werk by hierdie skakel: https://4windkoinonia.wordpress.com/2010/05/24/die-twee-adams-waarmee-god-werk/ )
1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Die einde van die aardse tydperk is nie net die doodgaan van ons aardse liggame nie, maar eerder die einde van ons manier van dink.
Rom 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede…
Ons denke moet gaan deur ‘n proses van vernuwing en die ou aardse dinge word vervang deur God se nuwe denke:
Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Ons dink eerste volgens die gees van die wêreld, maar die tipe denke gaan verby net soos alle vlees tot niet sal gaan:
1Jn 2:16-17 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.
Dankie Here dat die wêreld en sy begeerlikhede in ons verbygaan – dit bly nie by enigeen vir ewig nie. Alle vlees en fisiese dinge (alle vorme van dood) sal totaal vernietig word en almal sal nuwe lewe in gees ontvang, maar elkeen in sy eie orde…
1Kor 15:24 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde [die res van die mensdom], wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.
1Kor 15:26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
God skep ons almal eerste in die eerste mens Adam se ewebeeld, binne ‘n aardse liggaam met sy denke van dood:
Rom 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood…
Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
Vir ‘n vasgestelde tydperk is ons vasgevang in ‘n “liggaam van hierdie dood” met sy natuurlike denke van dood waartydens ons niks van God en Sy geestelike werke verstaan nie:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Rom 8:6-8 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
As God se gees met ons begin werk, dan breek die einde van ons aardse tydperk aan. Dit is die einde van die wêrelddenke en die vleeslike eon in ons. God neem ons begeerlikhede vir die wêreld en al sy dinge stelselmatig weg, en dit gebeur nou in hierdie aardse tydperk reeds met hulle vir wie God nou uitroep tot ‘n totale nuwe lewenswandel:
Efes 5:8-9 Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig. 9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.
Die uitroeping sluit in dat ons al die ou godsdiensdenke in ons met al sy leuens moet verwerp, en ook fisies uit die valse kerke met hul dwaalleringe kom:
Open 18:1-4 En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. 2 En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, 3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. 4 En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.
Dit is waarna die dissipels van Jesus verwys en wat Jesus ook aan ons wil verduidelik in hierdie woorde…
Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?
Die koms van die geestelike eon waar Jesus na ons kom in gees, kondig aan die einde van die aardse eon met sy wêreldgees in ons. God bring self hierdie einde in ons – dit is nie ons wat die proses inisieer nie:
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Die koms van Jesus in geestelike vorm vind binne ons aardse vorm plaas. Jesus self het in ‘n aardse vorm (in vier verskillende aardse vorms) verskyn op tye na Sy opstanding:
Luk 24:36-43 En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! 37 Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien. 38 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? 39 Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. 40 En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. 41 En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? 42 Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. 43 En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
Joh 20:14-16 En toe sy [Maria Magdaléna] dit gesê het, draai sy haar om agtertoe en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie. 15 Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem. 16 Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! dit beteken Meester.
Luk 24:15-16 En terwyl hulle [die twee dissipels van Emmaus] praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. 16 Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie.
Joh 21:4 En toe dit al dag geword het, staan Jesus op die strand; maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie.
Jesus se koms in ons gaan egter gepaard met verskillende dinge wat ons persoonlik in ons sal beleef, en dit is wat die tekste in Mattheus 24-25, en Lukas 17 en 21 ook vir ons wil uitlig. Byvoorbeeld, ons sal kan sien dat ons wel mislei was deur mense. Mense het gekom na ons in Jesus se naam (met ‘n verdraaide leer van Jesus) en hulle het ons vir jare mislei om hul leuens te glo. Dit is wat hierdie woorde vir ons wil sê…
Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Sodra ons skei met die mense wat leuens en dwalinge verkondig, sal daar baie dinge teen ons gesê word. Ook in ons eie gemoed sal daar oorloë plaasvind omdat die ou denke en al die valse leerstellings (die “nasies” in ons) nie uitgaan sonder hewige gevegte nie. Dit is wat die volgende woord in die teks ons van waarsku…
En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander…
Ons sal besef hoe geestelik leeg ons is en grootliks kortkom van die waarheid van God. Ons hongerte en dors na God se Woord en na Sy Waarheid sal groot wees. Alles sal gepaard gaan met trauma en skuddings sal in ons lewe plaasvind. Maar dinge gaan net vererger, tog sal God altyd die nodige krag en ondersteuning bied. Ons families en vriende sal van ons verwyder en vervreem word in die manier hoe ons voorheen dieselfde denke gedeel het. Ons sal veral anders as hulle begin dink in terme van dinge wat in die Skrifte voorkom. Hulle sal ons verfoei en as afvallig afmaak (geestelik dood):
…en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.
In Deel 3 van hierdie studiereeks sal ons kyk na die “gruwel van die verwoesting” en al sy delusies wat ons met skok sal kan herken en uitken, as God hom aan ons openbaar.
Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21) – Deel 1 | 4windkoinonia
Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21) | 4windkoinonia
Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21) – Deel 4: Die verdrukking | 4windkoinonia
Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21): Deel 10 – Die skape en die bokke | 4windkoinonia