Jesus het dit baie duidelik gemaak dat ons Sy woorde se primêre hooffunksie nie op die aardse vlak (die vleeslike vlak / die letterlike vlak) moet sien nie, maar eerder op die geestelike vlak:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
2Kor 3:5-6 Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.
Daar is egter ‘n belangrike rol wat die aardse vlak (die “vlees” / die “letter”) speel in die hele plan van God, maar aan die einde van die proses sal die vlees en die letterlike siening van die woord van geen nut wees nie. Die aardse vlak sluit in die sigbare dinge van God wat alles ‘n tydelike funksie het. Die aardse dinge help ons om dieper geestelike dinge (die onsigbare dinge van God) in ons eie lewe te verstaan. Die volgende teks gee hierdie waarheid mooi deur na ons:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
God se Woord het inderdaad twee toepassings:
- ‘n uiterlike of letterlike toepassing, en
- ‘n baie belangrike innerlike of geestelike toepassing vir ons persoonlike toepassing en geestelike ontwikkeling.
Hier is die Skriftuurlike manier om hierdie twee dimensies waarbinne God met ons werk in hierdie skepping uit te beeld:
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Die “hemel” verteenwoordig die innerlike geestelike wêreld in ons denke en bewustelikheid, en die “aarde” verteenwoordig ons uiterlike bestaan in ‘n vleeslike liggaam, en ook alles wat ons deur ons vleeslike sintuie kan waarneem in hierdie skepping rondom ons. Albei hierdie dimensies besit beide die goed en die kwaad (die bose) en ons word deur ‘n proses geneem om die twee te kan onderskei op albei binne albei die dimensies. Hierdie leerproses van onderskeiding tuseen die goed en die kwaad op albei hierdie vlakke in ons (die “hemel” en die “aarde”), ontwikkel ons geestesvermoëns en help ons om te groei tot geestelike volwassenheid in Christus:
Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
‘n Belangrike beginsel wat Jesus in die Skrifte aan ons voorhou is die beginsel van orde. Ons as mens begin altyd op die vleeslike of letterlike vlak en dan beweeg ons na die geestelike vlak:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Mens se fokus is primêr op dus eerstens op die uiterlike dinge en ons wil ons aardse behoeftes en drange bevredig. Ons wil dan ook soos die Fariseërs van ouds die buitekant skoonhou en skoonmaak om voor mense goed te lyk – ons hou die blinkkant (die buitekant) bo!
Mat 23:25-28 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. 26 Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. 27 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. 28 So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.
God se fokus is egter op die geestelike – dit is die “binnekant”. Hy weet die kern (“die oorspronge van die lewe”) van al ons probleme is in ons hart (ons denke / ons hemele). Soos ‘n mens dink, so is hy (Spr 23:7):
Spr 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.
Ons gaan dus ‘n nuwe hart (denke / hemel) en nuwe liggaam kry want die ou hemel en die ou aarde sal mettertyd verwyder word:
Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Open 21:1 En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see [alles vleeslike dinge] was daar nie meer nie.
Hierdie twee sieninge (die uiterlike en innerlike toepassings) beheer mense se toepassings van God se Woord, en al die aspekte wat in God se Woord aangespreek word op die twee vlakke verstaan. Net so is mense volgens hierdie twee oortuigings in twee hoofgroepe verdeel as dit kom by die wederkoms van Jesus. In hierdie studie-reeks kyk ons na die wederkoms van Jesus soos dit beskryf word in Mattheus 24-25, en ook in Lukas 17 en 21. Tien belangrike aspekte of tekens word uit hierdie hoofstukke gehaal wat ons help om die wederkoms van Jesus aan ons verstaanbaar te maak, soos God wil:
Deel 1: Die tempel
Deel 2: Die einde van die wêreld-eon (die aardse tydperk)
Deel 3: Die gruwel van die verwoesting
Deel 4: Die verdrukking
Deel 5: Die gelykenis van die vyeboom
Deel 6: Die onvoorspelbare dinge van God
Deel 7: Die twee tipe dienskegte van God
Deel 8: Die tien maagde
Deel 9: Die talente
Deel 10: Die skape en die bokke
In Deel 1 het ons gekyk hoe die tempel in Jerusalem gebruik word in die Skrifte as ‘n teken van Jesus se wederkoms. In Deel 2 het ons gekyk hoe die Skrifte die teken van die einde van die wêreld-eon (die aardse tydperk) ook Jesus se wederkoms aankondig.
DIE GRUWEL VAN DIE VERWOESTING
Die tekste:
Mat 24:15-28 Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet— 16 dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; 17 wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; 18 en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. 19 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. 20 En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. 21 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. 23 As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie. 24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26 As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie. 27 Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 28 Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.
Luk 21:20-24 En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. 22 Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. 23 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. 24 En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.
Soos reeds genoem is daar twee hoofgroepe mense wie Jesus se wederkoms op twee unieke wyses verstaan en ervaar…
- daar is diegene wat die tekens van die wederkoms op ‘n hoofsaaklik persoonlike innerlike vlak toepas;
- dan is daar hulle wie die fokus hoofsaaklik plaas op die uiterlike toepassing van die tekens.
Omdat die wederkoms gepaardgaan met die oordeel van God, is die ervaring van oordeel dus sentraal om uit te wys in watter groep elkeen val:
1Kor 4:5 Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.
Die eerste groep wie die tekens van die wederkoms toepas op ‘n persoonlike innerlike vlak ervaar God se oordeel nou tydens hul aardse lewe, en hulle word as die “huis van God” uitgeken deur die Skrifte:
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Die Skrifte leer ons dat God se oordeel een belangrike doel het….
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Die oordeel van God leer ons God se geregtigheid en daarom word die huis van God eerste deur hierdie belangrike proses van oordeel geneem. God se eie huis, die kerk van Christus, word nou die geregtigheid van God geleer. Die oordeel van God is inderdaad ‘n vurige proses wat sal eindig in die redding van elke persoon
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Die res van die mensdom sal ook deur dieselfde vurige oordeelsproses geneem word op ‘n later stadium. Hierdie latere oordeel word in die Skrifte as die poel van vuur uitgebeeld (Open 20:11-15). Maar God se huis is eerste en daarom is God se orde inderdaad ‘n belangrike beginsel in die proses. Daar is ‘n baie belangrike rede waarom God se huis eerste geoordeel word.
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges [die huis van God in Christus] die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
Dit is dan ook hierdie groot onderskeid tussen die huis van God en die res van die skepping wat ‘n groot rol speel waarom Hy “min” uitverkies en baie “roep”…
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Soos ons ook reeds in Deel 1 en Deel 2 van die studiereeks gesien het is dit ook die “min” uitverkorenes wie nou reeds stelselmatig aan God se geestelike dinge blootgestel word. Hulle kan byvoorbeeld sien waar God se heilige tempel is en waarom hul aardse tydperk nou tot ‘n einde gebring word. Daarom kan hulle sien dat hulle aardse dae inderdaad verkort word en waarom hul aardse drange en wêreldse verknogdhede weggeneem word deur God:
Mat 24:22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.
Aan die uitverkorenes wys God ook dat daar ‘n trotse persoon (“die mens van sonde”) in hul eie hart op God se troon sit. Hulle kan sien dat hulself hierdie antichris is wat al die tyd teen God se waarhede geveg het. Hulle aanvaar dat God in hierdie tyd hierdie mens van sonde van die troon sal verwyder:
2Th 2:1-8 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,
Hierdie gruwel sit in die tempel van God, en lei ons almal aan ons neus rond. Ons het sodoende God se tempel geskend en daarom sal God ons skend!
1Kor 3:17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.
Hierdie mens van sonde is inderdaad ‘n gruwel in God se oë want hy doen hom voor as belangrik, en hy glo dat hy ‘n vrye wil het waarmee hy kan maak soos hy wil. Met groot skok vind ons uit dat God alles bewerkstellig volgens die raad van Sy wil, en dat elke mens se gedagtes, woorde en dade deur God bepaal word!
Psa 139:1-16 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al. 5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. 6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. 7 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? 8 Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! 9 Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, 10 ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. 11 En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, 12 dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig. 13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. 16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Net hulle wie die wederkoms van Jesus in hul eie harte ervaar sien hierdie gruwel op ‘n baie intieme en skokkende manier. Hulle vind uit dat die persoon wat hulle elke oggend in die spieël na kyk die einste persoon is wat hulle permanent van afskeid moet neem. Hy word ook beskryf as die “seun van die verderf” want hy was nooit veronderstel om vir ewig te leef in sy aardse menslike vorm nie:
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het
O ja, hierdie mens van sonde gaan totaal vernietig word. Die lig van God word op hierdie gruwel in ons eie harte geskyn en hy word ontmasker in ons lewens. Deur die Woord van God word hierdie gruwel stelselmatig ontbloot en vernietig:
Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet…
Deur die openbaring van God se Woord ontdek ons met groot skokke dat selfs al ons godsdiensoortuiginge gebaseer was op leuens. Dit is wat die woorde beteken dat ons aardse Jerusalem omsingel word en tot ‘n val gebring word:
En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.
Jerusalem is ‘n simbool wat ons godsdienstige denke uitbeeld. Ons aardse Jerusalem is ons valse godsdiensoortuigings en valse leerstellings. As God se waarhede aan ons gebring word, dan word ons aardse Jerusalem omsingel en vernietig. Ons word opgeneem in die hemelse Jerusalem in Jesus Christus as ons Sy denke (Sy waarhede) in ons het:
Efes 2:4-10 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. 8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Deur God se geestelike werkinge IN ons word ons gehoorsaam aan God se Woord en ons kan Sy stem (Sy waarheid) begin hoor.
Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Ons vlug dus na die ware berg van verlossing, Jesus Christus, want ons weet dit is alleenlik Sy sterkte en krag IN ons wat ons sal staande hou en deurtrek deur alle beproewinge.
…dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug…
Hierdie uitverkorenes is die groep gelowiges wat in die geestelike Judéa woon, en hulle neem hul toevlug na die heilige Berg van God, Jesus Christus:
Heb 12:22-24 Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, 23 by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, 24 en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.
Dit is juis waarop Jesus IN Sy uitverkorenes kom woon om die doodsproses van die ou mens (“die mens van sonde”) in hulle lewens te laat gebeur en dit te voltooi. Hulle verstaan dan ook waarom hulle SAAM met Jesus sterf om die nuwe mens en Christus se geregtigheid deelagtig te word:
Gal 2:20-21 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.
Hulle wie Jesus se koms nou ervaar in hul eie lewe se trots en eiegeregtigheid word afgebreek:
Mat 24:17-18 wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; 18 en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie.
Die huis van God word nou geoordeel, en dit is hierdie oordeel wat hulle laat groei tot geestelike volwassenheid. Die geestelike lente van nuwe lewe het in hulle lewe aangebreek. Hulle het rus gevind in Christus en die dae van hul aardse stryd word nou deur Hom afgehandel:
Matt 24:19 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. 20 En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie.
Hulle ervaar egter groot stryd, soos die verwerping van familie en vriende. Christus en ons medestryders troos ons egter:
2Kor 1:3-7 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, 4 wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. 5 Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus. 6 Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, dit is julle tot troos en redding. 7 En ons hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos.
Ons dae in vlees word verkort en die nuwe lewe van Christus is ons vesting van hoop en liefde:
Mat 24:21-22 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.
God se uitverkorenes in Christus weet waar om te fokus – nie buite op aardse dinge nie (op die arm van vlees nie), maar innerlik waar hulle Christus en Sy Woord in hul harte gebêre het!
Mat 24:23-27 As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie. 24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26 As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie. 27 Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Hulle sal kan sien dat die valse leraars en valse profete op ander se onkunde teer. Die geestelike aasvoëls leef op die dooie leerstellings van die afvallige kerke:
Mat 24:28 Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.
Die klein groepie ware gelowiges begin Jesus se nuwe lewe ervaar, en alles word nuut in hulle denke en oortuigings. Ons haal Paulus se woorde aan oor hoe hierdie groepie Jesus nou sien, en ook Sy wederkoms in hulle ervaar…
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
In Deel 4 van die reeks kyk ons in meer diepte na die “verdrukking”, soos God wil.
Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21) – Deel 4: Die verdrukking | 4windkoinonia