Mense neem eerste kennis van Jesus in die vorm van ‘n vlees en bloed mens:
Gal 4:4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet.
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Jesus het vir ‘n tydperk van ongeveer 33 jaar op die aarde in vlees geleef. Die woorde “in die hart van die aarde” in die volgende verse in Mattheus 12 is ‘n gelykenis wat verwys na Jesus se tyd in vlees en nie na Sy tyd in die graf soos baie dit wil glo nie. Hy was nie drie dae en drie nagte in die graf na Sy kruisdood nie:
Mat 12:38-40 Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ‘n teken van U sien. 39 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. 40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.
Jesus was inderdaad gekruisig, en was dood die Vrydagaand, die hele Saterdag (dag en nag) maar Hy was opgewek deur die Vader op die derde dag!
Luk 24:46 En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,
1Kor 15:1-4 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
Hy was opgewek in ‘n geestelike liggaam…
1Kor 15:44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.
Hy het ook daarna verskyn in ‘n vleeslike liggaam vir die doel van Sy ongelowige volgelinge (‘n geestelike liggaam kan in vlees manifesteer):
Luk 24:36-39 En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! 37 Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien. 38 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? 39 Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.
Jesus het toe aan Sy volgelinge belowe dat Hy weer na hulle sal kom, nie in ‘n vleeslike liggaam nie, maar dat Hy IN hulle sou woon – Hy en Sy Vader – IN GEES!
Joh 14:18-23 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 22 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Hulle wie nie Jesus se tweede koms op ‘n innerlike wyse ervaar nie, sal voortgaan om Hom op ‘n uiterlike (vleeslike) wyse te ervaar. Maar hulle wie Hom in gees en waarheid aanbid, ervaar Jesus se geestelike koms IN hulle nou.
Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Mense is dus in twee groepe verdeel deur die Vader. Vir sommige sal die wederkoms van Jesus op ‘n innerlike manier plaasvind…
Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
Mat 24:26 As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie.
Vir die res sal Jesus se koms eerste op ‘n uiterlike manier plaasvind.
Mat 24:27 Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Vir die eerste groep is die koms van Christus innerlik (“Christus onder julle”) tydens hul lewe in hierdie aardse tydperk in hul vlees. Dit is ook hulle wie nou Christus se lyding ‘aanvul’ deur self te sterf op hul eie kruis saam met Jesus en sodoende stelselmatig deelhê aan Sy nuwe geestelike natuur (Mat 10:28-29; Gal 2:20):
Kol 1:24-27 Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; 25 waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul, 26 naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, 27 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.
Rom 8:12-17 Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; 13 want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. 14 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. 15 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! 16 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.
Hierdie groep wat sedert die stigting van die kerk van Christus (vir ongeveer 2000 jaar) versamel word uit die vier windstreke van die aarde, sal deelneem aan die heilige en geseënde eerste opstanding wat binnekort in sy volheid sal plaasvind:
Open 20:6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
Tydens hierdie opstanding sal almal wat deel is van die Kerk van Christus vir die eerste keer in geestelike perfektheid aan die wêreld vertoon word:
Rom 8:18-19 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. 19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.
Hulle sal inderdaad deelhê aan Jesus se uiterlike regering op aarde. Dis is dan ook hoe die res van die mensdom wat op daardie stadium nog lewe, Jesus se koms sal ervaar op ‘n uiterlike manier:
Open 11:15 En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.
Open 20:4 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.
Hierdie groep uitverkorenes sal in geestelike liggame opgewek word, maar ter wille van die mense op die aarde sal hulle in sigbare aardse liggame gesien kan word – net soos Jesus gedoen het na Sy opstanding:
1Kor 15:42-44 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; 43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.
Hierdie groepie mense wat nou deur die Vader na Jesus getrek word om Hulle (Vader en Seun) op ‘n innerlike wyse te ervaar, word as die min uitverkorenes in die Skrifte beskryf…
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Die “baie” wat geroep is, is hulle wie deel is van die Christendom in die algemeen. Dit is diegene wie God se Woord nou kan hoor, maar nie kan doen nie want hulle verdraai dit om hul eie valshede te dek (“die beelde omhul”).
Eseg 16:16-18 En jy het van jou klere geneem en vir jou kleurige hoogtes gemaak en op hulle gehoereer—dinge wat nie voorgekom het nie en nie moet wees nie. 17 Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer. 18 En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit.
Hulle geestelike huise is egter op sand gebou, soos Christus ook self aangedui het:
Mat 7:26-27 En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. 27 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.
Selfs die uitverkorenes was eerste deel van hierdie groep, en hulle het ook hul aardse huise sien tuimel (God se oordeel is op die uitverkorenes terwyl hulle op aarde leef):
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Die oordeel van God sluit in ‘n groot verdrukking wat kom in alle vorms na die kinders van God in hierdie eeu om hulle te kwalifiseer om te kan ingaan in God se koninkryk en deel te wees van die toekomstige regering van Christus op aarde:
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Die groot wêreldsisteem, en veral sy godsdienste, word deur God gebruik om die ware kinders van God te verdruk en te vervolg. Die kinders van God in Christus is nie “baie wyse na die vlees [is] nie, nie baie magtiges, nie baie edeles [is] nie”, en daarom word daar op hulle neergekyk:
1Kor 1:26-31 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. 30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. 31 Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.
Terwyl die aardse wyses en grotes van die kerkwêreld groot aansien geniet, en hul volgeling aanmoedig om na aardse seëninge te kyk vir die tekens van sukses, ervaar hierdie klein groepe uitverkorenes egter Christus se wederkoms in hul harte. Maar dit gaan inderdaad gepaard met aardskuddings in die lewe van hierdie dierbares in Christus. In hierdie studiereeks kyk ons na die wederkoms van Jesus soos dit beskryf word in Mattheus 24-25, en ook in Lukas 17 en 21. Tien belangrike aspekte word uit hierdie hoofstukke gehaal wat ons help om die wederkoms van Jesus aan ons verstaanbaar te maak, soos God wil:
Deel 1: Die tempel
Deel 2: Die einde van die aardse eeu
Deel 3: Die gruwel van die verwoesting
Deel 4: Die verdrukking
Deel 5: Die gelykenis van die vyeboom
Deel 6: Die onvoorspelbare dinge van God
Deel 7: Die twee tipe dienskegte van God
Deel 8: Die tien maagde
Deel 9: Die talente
Deel 10: Die skape en die bokke
DIE VERDRUKKING
Die teks:
Mat 24:21-31 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. 23 As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie. 24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26 As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie. 27 Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 28 Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. 29 En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. 30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. 31 En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.
Luk 21:10-28 Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. 11 En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom. 12 Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13 En dit sal vir julle uitloop op ‘n getuienis. 14 Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie. 15 Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie. 16 Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. 17 En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam. 18 En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie. 19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry. 20 En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. 22 Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. 23 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. 24 En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. 25 En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, 26 en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. 27 En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. 28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.
In die boek van Openbaring beskryf Johannes hierdie belangrike koms van Christus, en alles wat dit voorafgaan en ook daarmee gepaard gaan, en die gevolge daarvan. Johannes was beveel om alles neer te skryf wat hy ervaar het, sodat almal die uitverkorenes wat sou leef in die aardse tye en die oordeel van God sal ervaar, die woorde sal kan lees en groot vertroosting daaruit kry. Almal God se uitverkorenes gaan presies deur wat Johannes ervaar en beskryf het. Die woorde van die boek is vir jou as jy dit nou kan “lees, en dit hoor, en dit bewaar….want die tyd is naby [NOU]”:
Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Die koms van die Here word voorafgegaan met tekens wat op twee maniere gesien en ervaar word deur twee groepe mense, naamlik die “min” uitverkorenes (‘n baie klein groepie gelowiges wat deur die Vader in die aardse tydperk na Jesus getrek word), teenoor die “baie” geroepenes:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Die “min” uitverkorenes ervaar die einde van hul aardse tydperk (hul aardse denke word ontbloot en tot ‘n einde gebring).
Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld [Grieks: “aion” = eon = tydperk]?
Hulle ervaar hierdie tekens innerlik in hul lewe, en word nou voorberei deur Jesus om groot werke te doen in die toekoms. Lees gerus deur Openbaring 20 want dit gee ‘n pragtige uitleg van die groot take wat voorlê vir God se uitverkorenes. In die volgende verse gee Paulus ‘n kort opsomming:
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
Die “baie” geroepenes is die groep waaruit die “min” uitverkorenes geneem word. Die “min” vorm dus eers deel van die “baie” wat God se Woord verdraai en ‘n magdom van valse leerstellings glo en verkondig (lees gerus Openbaring 9 en sien die tale simbole wat Johannes hier gebruik om die geestelike boodskap van die verdrukking deur hierdie magdom valse leerstellings vir die “min” te verduidelik). Die “min” uitverkorenes word deur God bewus gemaak van al die leuens wat verkondig word in Sy Naam, en hulle word dan uit hierdie afvallige Babylon-stelsel uitgeneem:
Open 18:1-4 En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. 2 En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, 3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. 4 En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.
Hierdie uitkom uit Babilon (die afvallige godsdiens) gaan gepaard met ‘n innerlike en uiterlike katarsis, wat dan ook as die “verdrukking” bekendstaan in die Skrifte. Ons eerste geestelike huis (ons aardse tempel met al sy valshede) val, en sy val is groot (Mat 7:26-27):
Luk 21:5-6 En toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy: 6 Hierdie dinge wat julle sien daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.
Die klippe van ons tempel word een vir een afgebreek – dit is ‘n pynlike proses. Die uitverkorenes se boodskap bly egter staande bly binne die waarheid van die Woord. Hierdie boodskap van waarheid word gehaat deur almal wat die duisternis liefhet, vir verskeie redes. God se lig ontmasker en ontwapen die leuens.
Joh 1:5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
Die skape van God word doelbewus onder die wolwe ingestuur, waar ons leer om versigtig te wees “soos die slange” (ons ken die vlees en al sy valshede), maar ons opereer “opreg soos die duiwe” (God se gees lei ons gedurig). Tog is die pynlike lesse van onskatbare waarde!
Mat 10:16-22 Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. 17 Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel. 18 En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ‘n getuienis vir hulle en vir die heidene. 19 Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; 20 want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek. 21 Maar die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. 22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
Die keuse om deel te wees van hierdie “min” uitverkorenes berus totaal by God en deur Jesus bring Hy skeiding, wat verhoudings tussen mense moeilik maak – die lig kan nie met die donkerte saamleef nie:
Mat 10:34-39 Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 35 Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. 36 En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. 37 Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. 38 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Die “min” uitverkorenes verloor hul lewe omdat die lewe en liefde van Jesus en Sy waarheid hulle kom wegneem van hul aardse verbintenisse.
Open 18:4 En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.
Hierdie “gaan uit haar uit” het egter niks te doen met die valse leer van ‘n wegraping nie. Nee, God se uitverkorenes word op hierdie aarde voorberei vir hul dienswerk (ons gesels in Deel 6 in meer detail oor hierdie aspek van die koms van Christus).
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
Die uitverkorenes word geleer om reg te oordeel selfs te midde van “die aardse dinge”. Dit is hoe ons ‘uitgaan’ – ons vernuwe ons denke:
Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Ons meng nie die lig met die duisternis nie. Ons verwyder die suurdeeg van die valshede, en rus ons toe met die nuwe deeg van die geestelike lewe en waarheid in Christus!
1Kor 5:7-8 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. 8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.
Ons moet eers leer om onsself te oordeel (om die suurdeeg in onsself te sien) soos God ons in hierdie tyd oordeel (1Pet 4:17):
1Kor 11:31-32 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.
Ons eie boek word geopen deurdat God die sewe seëls wegneem wat ons lewe tot op daardie stadium verseël het sodat ons nie die waarheid kon sien nie.
Open 5:1-5 En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. 2 En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? 3 En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. 4 En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. 5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.
Die sewe seëls lei in die sewe trompette wat die oordeel van God in ons lewe aankondig. Die oordeel is baie belangrik want daardeur alleenlik leer ons om reg (die ware lig van God en Sy waarheid) van verkeerd (die donkerte van die vals godsdiensleerstellings en leuens) te kan skei:
Jes 26:8-9 Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit. 9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Ons donkerte in ons harte word belig en ons moet erken dat ons nooit die waarheid geken het nie. Ons lig, dit wat ons gedink het is waar, was toe al die tyd alles valshede:
Luk 11:33-36 En niemand steek ‘n lamp op en sit dit in ‘n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien. 34 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. 35 Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. 36 As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.
Die son, Christus, was verduister deur al die valse leerstellings wat ons baie lank aan geglo het:
“…daardie dae sal die son verduister word…”
Die lig wat ons in ons godsdienswêreld ervaar het met al sy leraars, was vals, net soos die maan nie regtig lig verskaf nie. Hierdie valse boodskappers (die sterre) en hul valse leer word van hul posisie verwyder en hulle val is groot in ons lewe…
“…die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word…”
Maar hierdie val van hierdie sterre en hul babiloniese leer bring terselfdertyd die Lig en kom van Christus en Sy waarheid in ons lewe!
“…En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. 31 En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”
Die Here self bewerkstellig dit so dat die klein groepie uitverkorenes mense ontmoet wat net soos hulle dink oor geestelike dinge. En vandag met behulp van die internet, kan hulle regoor die wêreld verenig word met mense wat hulle nooit andersins sou kon ken nie. Hierdie groepie mense kom inderdaad uit elke taal, en nasie, maar hulle almal het een aspek in gemeen, en dit is die waarheid en denke van die ware Jesus Christus en Sy een gesindheid:.
Fil 2:1-2 As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, 2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.
1Pe 3:8 En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.
Hierdie familie in Christus bied ondersteuning aan mekaar:
Heb 10:19-25 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, 22 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. 23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; 24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
In Deel 5 sal ons, soos God wil, kyk na die gelykenis van die vyeboom wat Jesus gebruik het as nog een van die tekens van Sy wederkoms.