Die wederkoms van Christus (dit is Sy tweede koms in gees) is iets wat gepaardgaan met die grootste aardskuddende gebeure in ons lewe. Die Jesus wat ons eerste leer ken in die vlees, is nie die Jesus wat na ons die tweede maal kom in geees nie. Daar is ‘n baie groot verskil!
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Ons sien hierdie twee vorms van Jesus pragtig uitgebeeld in die lewe van die apostel Johannes toe hy eerste Jesus baie intiem geken het vir ‘n tydperk van ongeveer drie en ‘n half jaar tydens Jesus se aardse bedieningstyd. Johannes was skynbaar baie gemaklik met hierdie Jesus (“na die vlees”) as ons Johannes se volgende woorde lees…
Joh 13:23 En een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê.
Maar kyk hoe beskryf Johannes sy eie reaksie toe die geestelike Jesus aan hom verskyn op die eiland Patmos:
Open 1:10-17 Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ‘n groot stem gehoor, soos van ‘n basuin, wat sê: 11 Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa. 12 Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, 13 en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel. 14 Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, 15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. 16 En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag. 17 En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste
Wat ‘n gesig! Johannes het soos ‘n dooie aan hierdie Jesus se voete geval en was vol vrees!
“En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste.”
Ons almal hoor eerste van Jesus as die baba wat gebore was in die stal in Bethlehem en grootgeword het in Sy ouerhuis in Nasaret. Ons hoor hoe Hy toe Hy omtrent 30 jaar oud was Sy aardse bediening begin het en baie fisiese wonderwerke gedoen het voor die oë van die menigtes wat Hom gevolg het. Ons raak baie lief vir hierdie Jesus as ons Hom dan ook so voorstel, veral wanneer Hy ons aardse behoeftes bevredig. Maar dan word die Jesus “na die vlees” van ons weggeneem, en ons almal gaan deur ‘n tydperk van groot vermisting, en ons harte word ontstel as Jesus nie meer na ons kom soos ons Hom altyd ‘geken’ het nie. Maar die Jesus wie ons ken volgens ons vleeslike denke sal inderdaad van ons weggeneem word en daarom is Sy trooswoorde baie belangrik om van kennis te neem:
Joh 14:1-4 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.
Hy belowe dat Hy weer sal kom, maar met Sy tweede koms kom Hy na ons in ‘n ander vorm. Dit is waar mense in twee hoofgroepe verdeel word deur die Vader – sommige word gedurende hierdie aardse tydperk geroep om Jesus alleenlik in vlees te ken, en ander word uitverkies om verder te gaan as net die vlees van Jesus – hulle word tot agter die ‘gordyn’ van vlees geneem deur die Vader om Jesus op ‘n dieper geestelike wyse te ken:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Joh 14:18-19 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.
Jesus sê dat die min uitverkorenes Hom sal kan ‘sien’ en die wêreld sal nie Hom kan ‘sien’ nie. Dit beteken Hy kom in ‘n ander vorm na die uitverkorenes. Hoe gebeur dit? Kom ons lees verder in Johannes 14…
Joh 14:20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.
Net die uitverkorenes sal weet hoe om Hom te ‘sien’ en Hom intiem te leer ken, omdat Hy IN hulle sal kom woon. Hoe gebeur dit? Wel Jesus laat ons nie wonder hoe Sy uitverkorenes Hom sal ‘sien’ in gees nie!
Joh 14:15-21 As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.
Jesus kom na Sy uitverkorenes in die gees van Sy Vader – hulle wie die Vader se Woord bewaar!
Joh 14:22-26 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. 25 Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; 26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Die Vader en Jesus woon IN die uitverkorenes wie die Woord van God bewaar en kan sien wat die rol van die vleeslike dinge is…
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
In hierdie studiereeks kyk ons na die geestelike wederkoms van Jesus soos dit beskryf word in Mattheus 24-25, en ook in Lukas 17 en 21. Tien belangrike aspekte word uit hierdie hoofstukke gehaal wat ons help om die wederkoms van Jesus aan ons verstaanbaar te maak, soos God wil:
Deel 1: Die tempel
Deel 2: Die einde van die aardse eeu
Deel 3: Die gruwel van die verwoesting
Deel 4: Die groot verdrukking
Deel 5: Die gelykenis van die vyeboom
Deel 6: Die onvoorspelbare dinge van God
Deel 7: Die twee tipe dienskegte van God
Deel 8: Die tien maagde
Deel 9: Die talente
Deel 10: Die skape en die bokke
DIE ONVOORSPELBARE DINGE VAN GOD
Die teks:
Mat 24:36-44 Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. 37 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 38 Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, 39 en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 40 Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. 41 Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat. 42 Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. 43 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. 44 Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.
Vanaf Genesis tot Openbaring handel die Skrifte basies oor twee persone, naamlik die eerste Adam (en almal in hom), en die laaste Adam, Jesus Christus (en die geestelike skepping in Hom). So verduidelik die apostel Paulus hierdie twee persone wat in elkeen se lewe sal opereer:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Ons almal is eerste deel van die aardse Adam en moet deur hierdie tydelike vleeslike proses leef. Salomo wat as een van die wyste mense op aarde aan ons voorgestel word in die Skrifte, sien hoe hyself, en die mens in die algemeen, sukkel om selfs hierdie aardse tydperk [Hebreeus = “ôlâm” =Grieks = “aiōn”] en alles wat in hierdie tydperk aangaan, te verstaan:
Pred 1:13 En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
Pred 3:10-11 Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. 11 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu [Hebreeus: “ôlâm” = tydperk] in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
Dit is voorwaar ‘n moeilike taak wat God aan die aardse menskinders gegee het om hulle mee te kwel. As die mens nie eens die aardse dinge reg kan verstaan nie, wat nog te sê van die hemelse dinge:
Joh 3:12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?
As dit kom by die hemelse dinge is die aardse mens hopeloos verlore. Net God kan ons die vermoë gee om al hierdie dinge te verstaan. Die mens in al sy aardse wysheid is totaal onbevoeg om God se werke te verstaan, soos Nikodémus (wie ‘n owerste van die Jode en ‘n hooggeleerde man was) ook moes uitvind:
Joh 3:1-4 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?
Die Vader werk slegs deur Sy Christus om Sy werke persoonlik aan elkeen te openbaar op die tyd soos Hy alleen bepaal – sonder hierdie openbaring (Grieks “apokalupsis” = onthulling) is die natuurlike mens en sy denke totaal in geestelike duisternis!
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Die natuurlike mens kan NIE die geestelike dinge van God verstaan nie. Hy moet die geestelike Jesus en Sy denke (“die sin van Christus”) IN hom hê deur die Vader se onthulling (Grieks “apokalupsis”) van Christus se woorde:
1Kor 2:15-16 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
Christus se denke is net beskikbaar as ons agter die aardse gordyn van vlees geneem word deur te sterf vir aardse verbintenisse en oortuigings:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Deur saam met Jesus te sterf is nie iets wat nou aan almal geskenk word nie, veral nie vir hulle wat glo in die valse leer van ‘n plaasvervangende dood van Jesus. As ons kan sien dat ons self ons eie kruis moet opneem en SAAM met Jesus sterf, dan alleen word aan ons die vrymoedigheid geskenk om in Sy ware heiligdom in te gaan, en ons begin ‘n dieper ervaring van Christus se Sy tweede koms in gees:
Heb 10:19-25 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, 22 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. 23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; 24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
Soos hierbo gemeld, gaan die Skifte oor twee persone wat albei hul rolle in elkeen se lewe sal speel – die eerste mens, Adam, en die laaste Adam, Christus Jesus:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
In Mattheus 24 sien ons hoe die twee persone wat dinge op twee verskillende maniere ervaar, uitgebeeld word. Die mens Adam in ons het natuurlike denke en is aan aardse dinge verbind. Die ander persoon is die geestelike Christus wat nie aan hierdie aarde en sy dinge geheg is nie. In Hom leer ons om die aardse denke en dinge prys te gee. Ons leer deur hierdie twee vir wie die Vader aanneem en vir wie die Vader verlaat en weggeneem:
Mat 24:40-41 Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. 41 Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
Die eerste Adam het geen ewige plek in God se geestelike koninkryk nie (hy word “verlaat” en nie “aangeneem” nie):
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Die eerste Adam was nooit God se perfekte skepping nie, maar was voortgebring as ‘n tydelike skepping waardeur ons moet worstel om God se geestelike dinge deelagtig te kan word. Daarom het elke mens ‘n hoop by God gekry wat aan hom of haar ‘n diep versekering gee dat alles op die einde sal uitwerk – al weet die mens nie hoe nie.
Rom 8:20-22 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.
God het alles reeds uitgewerk in die begin, en Hy weet hoe die einde gaan wees want Hy het dit reeds bepaal. Ons weet nie! Ons word die hoop en geloof geskenk dat alles wel gaan reg uitdraai!
Jes 46:9-10 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
Ons almal “sug” in hierdie aardse lewe, en in ons tyd van geestelike blindheid weet ons nie hoekom ons so uitsien na iets wat ons nie heeltemal verstaan of kan beskryf nie. Die “sug” in ons is die verlange na ‘n beter lewe – die geestelike lewe wat alles sal oortref wat ons ooit kon dink of sien. Maar tydens ons aardse bestaan soek ons altyd op die verkeerde plekke vir die verkrde dinge.
Jak 4:1-3 Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? 2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.
Ons SAL ALMAL verlos word van hierdie aardse skepping met al sy pyn en lyding, maar ons het geen vermoë om onsself van die aardse dinge los te maak nie. Net Christus kan dit doen en ons moet wag vir Sy wederkoms – Sy koms in gees:
Rom 8:20-22 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.
Matheus 24 praat ook oor die “dae van Noag” as ‘n verwysing hoe die koms van Christus in gees in ons lewe uitgeken moet word. Wat in Noag se tyd gebeur het tydens die groot vloed, gebeur in ons eie lewe – as ons oë gegee word om dit te kan sien. Dit was net deur die vloed dat Noag en sy familie gered kon word van hul aardse verbintenisse.
Mat 24:36-40 Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. 37 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 38 Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, 39 en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Dit is net deur die vuurgloed van God se oordeel dat ons van ons aardse mens verlos gaan word.
1Pe 4:12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;
Hierdie belangrike oordeel is nou net beskore vir God se huis (die ware uitverkorenes in Christus)
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Tydens die vloed van Noag was diegene wat nie die boodskap van verlossing kon aanvaar nie, weggeneem deur die vloed en net Noag en sy familie (agt in getal) was gered en kon op die aarde bly.
Mat 24:40-41 Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. 41 Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
Die persoon wat aangenem word is die regverdige in Christus wie die aarde sal beërf as deel van die erfenis van die eersteling om ook dan in die duisend jaar tydperk te regeer op die aarde. Diegene in Christus word nie verlaat of weggeneem nie (die leer van ‘n wegraping is vals):
Psa 37:29 Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig [Hebreeus: “ad” = vir ‘n tydperk) daarop woon.
Mat 5:5 Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
Die getal agt (die agt siele in Noag se dag wat gered was) stel voor die nuwe skepping (lees gerus ons studie oor die geestelike betekenis van die getal agt).
Lev 12:2-3 Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. 3 En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word.
Fil 3:3 Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie;
Die aardse mens het NIE ‘n ewige plek in God se geestelike koninkryk nie en word dus weggeneem = afgesny (1Kor 15:50), en net die nuwe mens in Christus word aangeneem. Daarom waak ons oor hierdie waarheid sodat ons nie sal staatmaak op onsself om hierdie nuwe skepping in Christus deelagtig te word nie:
Mat 24:42-44 Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. 43 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. 44 Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.