Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21): Deel 7 – Die twee tipe dienskegte van God

Inleiding:

Van Genesis tot Openbaring openbaar die Skrifte die tweeledige natuur van God se werke binne hierdie skepping, naamlik Sy werk in die hemel en op die aarde:

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Alhoewel ons aanvanklike begrip van hierdie woorde, en al die woorde van Genesis tot Openbaring, op die uiterlike skepping van toepassing het, word ons later in ons geestelike groei gebring om almal God se woorde in ‘n geestelike manier te sien, want dit is die geestelike toepassing van God se woorde wat in ons Sy ware lewe gee, nie die letterlike (uiterlike / vleeslike) toepassing nie!

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

2Kor 3:6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.

Ons weet nou dat die geestelike toepassing van die konsep van die “hemel” verwys na die onsienlike dinge wat God in ons denke (ook genoem ons “harte” in die Skrifte) bewerkstellig:

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [denke], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Joh 14:23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

Heb 10:15-16 En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; 16 want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe.

Die aarde is inderdaad God se voetbank omdat dit verwys na die sienlike dinge van God wat nie God se hoogste prioriteit is nie – die hemel is God se troon en dit is waar Hy Sy woonplek maak.

Jes 66:1-2 So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? 2 Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

Mat 6:19-21 Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; 20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; 21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Hierdie tweeledige vlakke van God se werksaamhede in ons word dan verder uitgebrei op ‘n liniêre wyse deur na die twee eons te verwys – ‘n fisiese eon en ‘n geestelike eon. Die Vader het alles wat binne hierdie twee hooftydperke plaasvind aan Jesus gegee en Hy is dan aangestel as die God en Here van die eons (ook genoem “eeue” in die Skrifte):

Psa 145:10-13 Jod. Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U. 11 Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, 12 Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. 13 Mem. U koninkryk is ‘n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.

Die Vader het die Here Jesus Christus aangestel as die Skepper-God en Oorsiener van die hele proses waartydens die mens, onder andere, geneem sal word van ‘n vleeslike tydelike lewe tot geestelike volmaaktheid (“die lig van die mense”):

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Joh 1:1-4 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

Hierdie geestelike volmaakte lewe is die doel van God met almal wie in die eerste mens Adam (in tydelike onvolmaakte vlees) kom:

1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Jesus sal 100% suksesvol wees om “almal in Adam” (wie deur die eerste vleeslike Adam kom) tot die Vader se perfekte geestelike beeld te vorm.

1Ti 2:3-6 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.

So beskryf Paulus die hele proses wat begin by die aardse Adam, en eindig in die beeld van die hemelse volmaaktheid in Christus:

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

God gebruik dus aanvanklik hierdie twee teenpole (hemel teenoor aarde) om ons belangrike lesse van Sy werk binne elkeen van ons te belig.

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Ons sien hierdie teenpole dwarsdeur die Skrifte in verskillende vorms, byvoorbeeld…

– Lig word gekontrastreer deur die duisternis,

– Goed word opgestel teen die kwaad,

– Die heil word gebruik teen die onheil,

Die gees staan teenoor die vlees.

Die Here Jesus is die Skepper en Oorsiener van die hele proses, van begin tot einde:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Jesus voltooi die proses in ons deur Sy wederkoms – Sy koms na ons in geestelike vorm. In hierdie studie-reeks kyk ons na die wederkoms van Jesus soos dit beskryf word in Mattheus 24-25, en ook in Lukas 17 en 21. Tien belangrike aspekte word uit hierdie hoofstukke gehaal wat ons help om die wederkoms van Jesus aan ons verstaanbaar te maak, soos God wil:

Deel 1: Die tempel

Deel 2: Die einde van die wêreld-eon (die aardse tydperk)

Deel 3: Die gruwel van die verwoesting

Deel 4: Die groot verdrukking

Deel 5: Die gelykenis van die vyeboom

Deel 6: Die onvoorspelbare dinge van God

Deel 7: Die twee tipe dienskegte van God

Deel 8: Die tien maagde

Deel 9: Die talente

Deel 10: Die skape en die bokke

DIE TWEE TIPE DIENSKEGTE VAN GOD

Die teks:

Mat 24:45-51  Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee?  46 Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. 47 Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.  48 Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom— 49 en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, 50 dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie;  51 en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

Weereens sien ons die herhaling van die konsep van die twee teenpole wat God gebruik om twee groepe aan te dui – daar is hulle wat voorgestel word deur “die getroue verstandige dienskneg”, en daar is hulle wie voorgestel word deur “die slegte dienskneg” in die gelykenis. Dit is maklik om uiterlik te kyk en twee groepe mense te sien wat hierdie gelykenis beskryf. Maar as ons kan sien dat die twee teenpole IN ons eie lewe opereer, dan het die linêre plan van God ook vir ons duidelik geword. Dit is ook hoe ons weet dat die koninkryk van God naby gekom want die Koning self het dit vir ons openbaar:

Luk 17:20-24 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle. 22 En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie. 23 En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie. 24 Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.

Ons almal speel albei hierdie rolle van die slegte kneg (eerste) en dan word ons die goeie kneg wat uit die hele proses na vore gebring word. Die nuwe plant groei uit die doodsproses in die saadkorrel:

Joh 12:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.

Ons lewe inderdaad van elke woord uit God se mond, soos alles bepaal was voordat ons gebore was en in God se boek vir ons persoonlik geskryf was:

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Soos hierbo in die inleiding gemeld, was die aardse skepping (alles in hierdie skepping) nooit God se perfekte skepping nie. Ons aardse mens is naak en korrup geskep, net soos die aarde in duisternis gehul was, en leeg en woes was by sy skepping. Dit is alles deel van God se plan. Lees die volgende tekste as een geheelbeeld…

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid [Grieks: “mataiotēs” = moreel en fisies korrup] nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Gen 1:1-2 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

God het alles “baie goed” geskep vir Sy doel, ja selfs die kwaad en die onheilige dinge speel hulle rol in die proses, soos God dit bepaal:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

God het nooit die aarde en hierdie skepping geskep met die doel dat dit vir ewig in hierdie nietige en korrupte toestand sal voorduur nie!

Rom 8:20-21 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.

Mat 24:35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

2Kor 4:18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Ons begin almal in sonde en duisternis, maar ons sal eindig in lig en geestelike volmaaktheid, deur Jesus Christus die Here! Ons aardse mens is onkundig oor die hele plan van God en weet nie dat God reeds alles vooruit in ons boek geskryf het om alles net so gebeur soos Hy dit bepaal het.

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Dit is ons aardse mens met sy natuurlike redensasies wat nie God se geestelike woorde kan verstaan nie – ons is die slegte dienskneg wat dink dat die Heer talm. God is nie afwesig van Sy skepping nie – Hy is al die tyd intensief betrokke in ons almal se lewens:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Ons natuurlike mens kyk na aardse dinge en dit oortuig hom dat God nie regtig in beheer is van alle dinge in hierdie skepping nie. Hy dink God is iewers in ‘n ander plek daar ver en nie belangstel wat gebeur in Sy eie skepping nie. Mense se gebede verraai hul bewustheid van God – die gebede word gedoen in ‘n oortuiging dat God nie weet wat aangaan nie en dat Hy ingelig moet word oor alles wat aangaan. God is baie nader as wat ons aardse mens en sy oortuiginge kan besef. Hemel is baie nader as wat mens wil aanvaar.

Rom 10:6-11  Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring;  7 of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? 8 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig:  9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. 11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Die natuurlike hart van die slegte dienskneg kan nie sien waar God woon nie en hy kan dus ook nie die geestelike wederkoms van Jesus reg beoordeel nie. Die slegte dienskeg verag die waarheid oor die geestelike dinge van God, en maak dit af as onsin – net omdat dit nie sin maak vir hom nie. In sy arrogansie van selfoortuiging, begin die slegte dienskneg om hulle wie die waarheid verkondig te “slaan” met sy woorde van afkeur en verkleinering. 

Matt 24:49 ….hy [sal] sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink…

As mens dronk is aan die valse wyn (valshede), dan kan mens nie die waarheid onderskei van die leuen nie. Soos dit met Noag gebeur het, word ons ook bedwelmd gemaak deur ons eie verkeerde denke.

Gen 9:20-21  En Noag het as landbouer ‘n wingerd begin plant.  21 Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.

Ons is onder die invloed van die valse wyn in ons tyd wanneer ons die valse leerstellings en filosofieë van die afvallige hoer (Babilon) glo en selfs verkondig. Ons word verblind deur haar hoogsbedwelmende konkoksies:

Open 17:1-6 En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, 2 met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. 3 En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. 4 En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; 5 en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. 6 En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.

Hierdie valse hoer oortuig ons van haar leer deur haar uiterlike fokusse op aardse dinge – die groot geboue en belangrike leiers met strelende woorde en musiek. Sy laat mense ook fokus op die aardse fisiese tekens van die wederkoms van Jesus. Die valse wyn van die valse leerstellings van die afvallige hoer maak die trots en eiewaan los in ons eie lewe, en ons word hoek en sinker na die dieptes van geestelike donkerte afgetrek:

Jes 28:1  Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle wat deur die wyn verslaan is.

Die kerk in Loadecia was ook verblind deur hul trots en eiewaansin, en ons almal is op ons eie tyd getroue lidmate van die gemeente van die Laodicense:

Open 3:14-17  En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:  15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.  17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.

Valse wyn spreek ook van losbandigheid…

Efes 5:18  Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Ons self verraai en verloën Jesus deur ons afsydigheid teenoor die ware Kerk van Christus (Christus se eie liggaam) en die leer wat hulle verkondig:

1Kor 11:23-31 Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; 24 en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. 25 Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. 26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. 27 Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. 28 Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. 29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. 30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.

Heb 10:24-27 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. 26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, 27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.

Die drinkers van die aardse valse wyn verwys na hulle wat hulself verwarm en geniet met leuens en valshede, en nie God se werke en Sy waarheid reg kan beoordeel nie:

Jes 5:11-12  Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.  12 En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie.

2Ti 2:15-16 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. 16 Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid,

Die getroue dienskneg kan die wederkoms van Christus reg beoordeel want hy is nugter gemaak deur die waarheid in hom. Hy dwaal nie meer agter die valse hoer aan nie:

1Kor 15:33-34 Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. 34 Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.

Die getroue dienskneg gaan nie buite die hele konteks van die Skrifte om die betekenis van elke wooord van God te vind nie:

1Kor 4:6  Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Die Skrif verklaar Homself, en dit is die veilige hawe vir die getroue dienskneg en elke ware Skrif-eksegeet wat in gees en waarheid opereer:

Mat 13:52 Toe sê Hy vir hulle [hulle wie die wederkoms van die Koning en Sy koninkryk reg kan beoordeel] : Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.

Psa 119:160  Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

2Pe 1:20  terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie.

2Kor 13:1  ….In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.

Die getroue dienskneg word oor AL God se besittings aangestel – hy beoordeel alles in hemel en aarde:

1Kor 2:15-16 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?

Die getroue dienskneg sal heers op die aarde…

Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Die getroue dienskneg sal oordeel oor engele – die “engele” is verwysend na die res van die skepping wat sal opgewek word in die opstanding tot die oordeel…

Dan 12:2-3 En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. 3 En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.

Joh 5:28-29 Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29 en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Die goeie diensneg sal die vuur bedien van God se Woord tot die redding van almal…

Psa 104:4 wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.

Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.

1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.