Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21): Deel 8 – Die tien maagde

Inleiding:

Mense aanbid verskeie gode, maar vir hulle aan wie God die Waarheid skenk, openbaar die Skrifte ‘n Godheid wat alles geskep het, en in totale soewereniteit heers hulle oor alles wat geskep was – die goed en die kwaad.

1Kor 8:5-6  Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—  6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

ALLES is “uit” die Vader, en ALLES is “deur” die Here Jesus. Hulle albei is gees en hulle albei is heilig. Jesus is ook “uit” die Vader en die “afskynsel” van die Vader se geestelike heerlikheid!

Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Heb 1:1-6 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun 2 wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. 3 Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, 4 terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker naam geërf het as hulle. 5 Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees? 6 En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid.

Die Here Jesus Christus is ‘n baie belangrike posisie deur die Vader gegee – Jesus is die Skepper-God van ALLES in hierdie skepping:

Joh 1:1-3  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.  2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Kol 1:15-19 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; 16 want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. 18 En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. 19 Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon

ALLES in hierdie skepping was deur die een Here (Jesus Christus) voortgebring en ALLES opereer onder Hom volgens die wil van die Vader:

Jes 45:5-7  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Niks en niemand het nog ooit buite hierdie domein van die Here Jesus Christus opereer nie. Die Vader bewerkstellig ALLES slegs deur Sy Christus en die Vader sal AL Christus se werke persoonlik aan elkeen openbaar op die tyd soos Hy alleen bepaal. Op hierdie stadium word hierdie rol en werk van Christus slegs openbaar aan ‘n ekslusiewe groep wat Vader uitverkies het om ‘n spesiale werk saam met Christus te doen. Hulle wie hierdie openbaring ontvang, weet wie die “ons” is na wie die apostel Paulus in die volgende verse verwys:

Efes 1:3-11 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, 5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, 6 tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. 7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, 8 wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, 9 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, 10 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig— 11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.

Die belangrike posisie en werke van Jesus Christus is dus nie op hierdie stadium aan elkeen geopenbaar nie. Baie maak aanspraak op hierdie uitverkore posisie en sien hulle dan ook as geestelike maagde wat hulself vir Christus afsonder, maar hulle is egter verbind aan ‘n “ander Jesus”. So ‘n voorbeeld kry ons in die gemeente van Korinth in die Skrifte:

2Kor 11:2-4 Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. 3 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.

Nie almal wat hulself as die rein maagde van Christus sien volg die ware Christus nie! Hulle volg ‘n “ander Jesus” en in hulle geestelike blindheid kan hulle dit nie eens sien nie. Hulle kom in Christus se Naam en verlei “baie”:

Mat 24:5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.

Die ware rein maagde van die ware Christus ken Sy stem deur Sy Waarheid wat in die “hele inhoud” van die Skrifte uitgewys word en waardeur hulle gereinig word.

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Die ware maagde van Christus ken dus die valse Christusse en hul stemme, deur die leuens wat hulle verkondig.

Joh 10:4-5 En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5 Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.

Die kennis van die waarheid (die “vaste spys”) reinig die ware maagde van Christus om reg te onderskei:

Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Die maagde in Christus groei in geestelike volwassenheid deur ‘n proses wat die Skrifte in Grieks beskryf as ‘n “apokalupsis”. Paulus was byvoorbeeld een van God se uitverkore werktuie vir wie die Vader die ware Christus openbaar het deur ‘n pynlike proses:

Gal 1:11-12  Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie.  12 Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring [Grieks “apokalupsis” = onthulling] van Jesus Christus.

Die “apokalupsis” verwys na die innerlike OPENBARING wat die Vader gee aan Sy ware uitverkorenes, en dit gaan deur die skeuring van die voorhangsel van vlees. Dit is wanneer ons uit die graf van die vlees opgewek word en ‘n nuwe denke ontvang. Die volgende gebeurtenis (tydens Jesus se kruisiging) is ‘n tipe van wat innerlik in elke maagd van Christus gebeur!

Mat 27:50-52 Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee. 51 En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; 52 en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.

Net soos ‘n maagd net openbaar kan word as ‘n ware maagd deur haar huweliksmaat op hul huweliksaand, so onthul die Vader die ware maagde aan Sy Seun, en die maagde ken dan ook die ware Christus. Lees versigtig die woorde in die volgende verse:

Open 1:1 Die openbaring van Jesus Christus wat God [die Vader] Hom [die Seun] gegee het om aan Sy diensknegte [Sy ware uitverkorenes] te toon …

Joh 14:20-21 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

‘n Maagd word vir die eerste keer ontbloot deur haar huweliksmaat, en verkeer dan vir die eerste keer intiem op seksueel vlak met haar eie man. Die Hebreeuse woord “yâda” beskryf hierdie intieme openbaring op die vleeslike vlak – die woord word dan ook gepaslik gebruik in die ‘bekenning’ van Eva deur Adam:

Gen 4:1 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE.

Die storie van Rebekka se ontmoeting met Isak is ook een van die pragtigste beelde van wat “yâda” of sy Griekse eweknie “apokalupsis” beteken (lees gerus Genesis 24):

Gen 24:16 En die dogter [Rebekka] was baie mooi van aansien, ‘n jongmeisie, en geen man het haar beken nie…

Gen 24:64-67 Rebekka het ook haar oë opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel afgegly en aan haar dienaar gesê: Watter man is dit wat ons tegemoetloop in die veld? En die dienaar antwoord: Dit is my heer. Toe neem sy die sluier en bedek haar. Daarop het die dienaar aan Isak alles vertel wat hy gedoen het. En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos ná die dood van sy moeder.

God het reeds vooruit bepaal wie hierdie bruid van Christus moet wees (Efes 1:4 soos hierbo gekwoteer), en Hy berei hierdie bruid voor tydens hierdie aardse leeftyd. Hierdie bruid is voorwaar ‘n reine maagd wat uitsluitlik aan Hom behoort. Hierdie bruid sal Hom intiem ken en Hom alleen aanbid in gees en waarheid:

Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Sonder hierdie intieme openbaring (“apokalupsis”) van Jesus in waarheid en gees kan niemand geestelik intiem verkeer (“yâda”) met God en Sy Seun nie, en gevolglik kan geen geestelike lewe ervaar word nie, en geen geestelike vrug kan “gebaar” word nie. Dit sal duidelik wees wie God ken en wie Hom nie ken nie:

Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Mat 7:16-20 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! 17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. 18 ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Dit is waar die natuurlike mens en sy denke totaal in geestelike duisternis verkeer!

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Deur die onthulling van Jesus in gees en waarheid word die aardse dinge totaal afgebreek en ‘n nuwe geestelike kennis van die ware God en Sy Seun word gevestig in hulle wie Hy uitverkies:

2Kor 5:16-17  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.  17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

In hierdie studie-reeks kyk ons na hierdie wederkoms van Jesus soos dit beskryf word in Mattheus 24-25, en ook in Lukas 17 en 21. Tien belangrike aspekte word uit hierdie hoofstukke gehaal wat ons help om die wederkoms van Jesus en die vestiging van Sy koninkryk IN ons verstaanbaar te maak, soos God wil:

Deel 1: Die tempel

Deel 2: Die einde van die wêreld-eon (die aardse tydperk)

Deel 3: Die gruwel van die verwoesting

Deel 4: Die groot verdrukking

Deel 5: Die gelykenis van die vyeboom

Deel 6: Die onvoorspelbare dinge van God

Deel 7: Die twee tipe dienskegte van God

Deel 8: Die tien maagde

Deel 9: Die talente

Deel 10: Die skape en die bokke

DIE TIEN MAAGDE

Die teks:

Mat 25:1-13  Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.  2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. 3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.  4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. 5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.  6 En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! 7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. 8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.  9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. 10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.  11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! 12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. 13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.

Die wederkoms van Jesus gaan gepaard met die apokalips (openbaring / onthulling) van die ware Jesus (in gees) aan Sy bruid, Sy uitverkore gemeente. Soos Abraham ‘n bruid vir Isak laat vind het (Genesis 24), bied dit ‘n beeld van hoe die Vader ‘n bruid vir Christus kry:

Joh 6:44-45 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. 45 Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.

Dit is dan ook die Vader wat die apokalips van Christus aan Sy vrou, Sy gemeente, bring – hulle wie die Vader uitgesonder het om Sy werke in hulle en in die skepping te openbaar:

Open 1:1-3  Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,  2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

“Die tyd is naby” dui duidelik aan dat dit nie in die toekoms gebeur vir hulle wat die Vader uitverkies het as bruid nie. Die ware bruid van Christus ervaar Sy koms reeds nou in hierdie lewe. Die melding van dwase maagde in die gelykenis in Mattheus 25 (verse 1-13) help ons om ook kennis te neem dat daar ‘n valse bruid is wat nie hierdie “tyd” as “naby” ervaar nie. Vir die valse bruid (die dwase maagde) sal die koms van Jesus slegs ‘n toekomstige (eskatologiese) gebeurtenis bly. Ons lees in die teks in Mattheus 25 dat die dwase maagde glad nie gereed was vir die koms van die bruidegom nie. Die apostel Jakobus verwys na spotters wat die wederkoms van Jesus ook op soortgelyke manier hanteer:

2Pe 3:3-4 Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel 4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.

Hierdie spotters kan dus nie God se werke deur Jesus nou raaksien in hierdie lewe nie, en hulle het ook nie die geloof ontvang om te erken dat Jesus wel nou Sy bruid op aarde voorberei en aan hulle “olie” gee om hulle gereed te kry nie. Hierdie spotters verwys dus ook na hierdie dwase maagde wat nie voorberei word deur Jesus omdat Hy nie nou aan hulle Sy “olie” gee nie (die “olie” word hier as ‘n simbool gebruik van die Woord van God wat kom in gees en waarheid na die wyse maagde – Joh 6:63; Eks 27:20; Sag 4:4-11; Open 11:3-5):

Mat 25:3-4 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.  4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem

Die getal vyf is ook ‘n baie belangrike simbool om van kennis te neem in hierdie gelykenis van die tien maagde. Terwyl die getal tien die hele mensdom (in vlees) uitbeeld in geestelike terme, word die mensdom in die algemeen in twee groepe verdeel – hulle wat die geestelike wysheid van God ontvang, en hulle wie nie die geestelike wysheid van God ontvang nie. Hierdie besluit berus totaal by die Vader.

Mat 25:31-33 En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; 32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; 33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.

Die geestelike betekenis van die getal vyf word dus dan ook baie pragtig in hierdie gelykenis van die vyf dwase en vyf wyse maagde aan ons verduidelik. Die getal vyf in geestelike terme verwys dus na die geloof van Christus wat die Vader deur Sy genade aan sommige skenk in hierdie lewe, terwyl Hy dit nie aan ander skenk nie:

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Soos met alle simbole in die Skrifte, het die getal ‘vyf’ dus ook beide positief en negatief toepassings – “die reddende genade van God het aan alle mense verskyn” maar almal hanteer dit nie dieselfde nie omdat hulle nie die nodige geloof ontvang nie:

Mat 25:1-2 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. 2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.

Die wyse / verstandige maagde het die geloof van Christus ontvang om hul lampe brandend te hou. Die gees van die waarheid van God (Sy Woord) is in die harte (denke) van God se uitverkorenes in Christus. Hulle het die “sin” (denke) van Christus ontvang, teenoor hulle wat nog aan hul vleeslike denke gekluister is:

1Kor 2:13-16 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. 14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Die wyse maagde sien dinge heel anders as die dwase maagde, veral as dit kom by die koms van Jesus. Die verstandiges weet dat die Koning en Sy koninkryk nie met sigbare tekens kom nie, maar die dwase maagde kan dit glad nie insien nie, en word ingetrek in die denke van die wêreld:

Luk 17:20-24 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle. 22 En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie. 23 En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie. 24 Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.

Daar is ‘n groot onoorbrugbare skeiding tussen hulle wie Jesus se koms nou innerlik ervaar, en hulle wie Jesus se koms uiterlik en in die toekoms (eskatolgies) sien. Die Woord is NOU relevant IN die wyses se lewe, terwyl die dwase se oë en ore is gerig op wêreldse opinies en gissinge – die Woord word gelees en bestudeer maar het geen persoonlike toepassing vir die dwase maagde nie. Die Woord (die olie) is die gees en waarheid wat die wyses in Christus laat fokus op dinge wat belangrik is. Ons sien veral in hierdie tyd hierdie duidelike onderskeid in hoe mense omgaan met informasie wat rondgeslinger word – of dit afkomstig is uit amptelike “nuus”-bronne of deur sosiale media versprei word:

Mat 25:3-5 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. 4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. 5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

Daar is ‘n spesiale groep wat die Vader die geestelike insigte gee om wel Sy geestelike dinge te kan sien, en daarop te fokus. God gee hierdie verstandige maagde ook die krag om nou tydens hul geestelike barensnood vas te byt vir die voltooiing van die proses van wedergeboorte wat eers voltooi sal wees by die eerste opstanding waartydens hulle aan die wêreld vertoon sal word as konings en priesters (Open 20:4-6)!

Rom 8:22-30 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. 24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? 25 Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. 26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. 27 En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. 28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. 29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.

Die valse bruid berei haar ook voor vir die koms van Jesus, maar Sy koms vind plaas op ‘n heel ander tyd en manier as wat die ware bruid dit ervaar. Die valse bruid stel haar dus ook voor as ‘n maagd en mislei baie om haar te glo dat sy die ware bruid is. Baie sluit hulle by haar aan, en hulle gaan selfs deur ‘n skyn geestelike swangerskap! Baie hou hulle op met “onheilige, onsinnige praatjies” en maak selfs aanspraak daarop dat die geestelike geboorte alreeds voltooi is in hulle, en dat hulle alreeds opgewek is, net soos Himenéüs en Filétus gedoen het in die dae van die apostel Paulus…

2Ti 2:16-18 Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, 17 en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is, 18 wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.

Hierdie valse maagde is ook baie prominent in ons dae, en hulle keer die geloof van baie om. Hierdie afvalliges glo dat hulle die bruid van Christus is, maar hulle is geestelike egbrekers want hulle is betrokke in buite-huwelikse intimiteit met valse leerstellings en die leuens van die bose. Hierdie groep word as een groot hoer beskryf in die Skrifte – “groot Babilon”. Omdat die ware bruid van Christus haar as ‘n geestelike hoer herken deur al haar valse leerstellings uit te wys, gaan die uitverkorenes van Christus “uit haar uit” – dit is hoe sy “val” in die lewe van die ware bruid van Christus:

Open 18:1-4  En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.  2 En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,  3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. 4 En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.

Hierdie valse hoer en al haar biljoene volgelinge word deur die vyf dwase maagde verteenwoordig in die gelykenis in Mattheus 25. Hulle het dus ook geloof, maar hulle geloof is gebaseer op valshede. Die onverstandige maagde het hul geloof en hoop gebou op ‘n valse fondasie:

Mat 7:21-27  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! 24 Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.  25 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. 26 En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.  27 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.

Geloof sonder die geestelike goeie werke van Christus IN ons is dooie geloof! ‘n Valse swangerskap einding in groot teleurstelling.

Jak 2:17-20 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. 18 Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. 19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. 20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?

Terwyl diegene met die valse geloof vas glo dat hulle net “Here, Here!” hoef te bely en niks hoef doen om hul lampe vol te maak nie (hulle verwerp die waarheid in God se Woord), kan die dwase maagde ook nie sien dat hul eggenoot eintlik die “ander Jesus” is nie. Hierdie “ander Jesus” is baie subtiel en die dwase maagde kan nie sy valse evangelie en sy valse gees onderskei nie. Hierdie “ander Jesus” is die valse bruidegom wat sy bruid oproep om soos die wêreld in weelde te leef en te hoereer met hul filosofieë en oortuigings:

1Kor 6:15-18  Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ‘n hoer maak? Nee, stellig nie!  16 Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees. 17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.  18 Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam.

Geestelike hoerery verwys na ons omgang met die leuens van die wêreld, in watter vorm dit ookal mag versteek wees. Die valse bruid woon in ‘n geestelike woestyn, maar verlei mense met haar aardse weelde, en haar gewaad van godsdienstigheid:

Open 17:3-6 En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. 4 En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; 5 en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. 6 En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.

Ons almal word vir ‘n tyd “uitermate verwonder” as ons saamgesleep word om die moeder van die hoere en haar dogters te volg. Ons vorm dus ook aanvanklik deel van die groep dwase maagde. Ons was ook egbrekers / egbreeksters teen God toe ons onsself aan hierdie hoer gekoppel het:

Jak 4:4  Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.

Die onverstandiges / dwase maagde stel nie belang in die waarheid nie, en word onkant betrap deur die koms van die bruidegom:

Mat 25:5-6 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.  6 En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! 

Die verstandiges / wyse maagde word egter nou uit die valse hoer getrek en word geleer om God se waarhede soos ‘n groot pêrel op te pas:

Mat 13:44-46 Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. 45 Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; 46 en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.

Die wyse maagde gee nie hul pêrels aan sweine nie:

Mat 7:6  Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.

Daarom gee die wyse maagde ook nie hul kosbare olie, die waarheid van God se Woord, weg nie – hulle bewaaar die Woord van God meer as enigiets wat bewaar moet word!

Mat 25:7-10  Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.  8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.  9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.  10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. 

Daar is dus ‘n eerste opstanding waar net die wat gereed was, opgeneem word om te heers in Sy koninkryk hier op die aarde. Hulle wie se lampe dood was (die “res van die dode”), moet wag vir die latere opstanding:

Open 20:4-6  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Die dwase maagde sal wel later tot besinning kom wanneer hulle oordeel sal plaasvind in die poel van vuur. Deur hierdie latere oordeel van God, soos die wyses ook vroeër (NOU in hierdie leeftyd) moes deurgaan in hul tyd van vurige oordeel (1Pet 4:12-17), leer die dwase maagde dan ook God se geregtigheid ken, en so sal hulle ook gered word “soos deur vuur heen”…

Mat 25:11-13  Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!  12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. 13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.

Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Jes 26:9 …want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.