Inleiding:
Ons as mens ervaar die vleeslike Christus eerste in ons lewe (ons ken Hom “na die vlees”) voordat die Vader Christus aan ons openbaar in Sy geestelike vorm. As Paulus die volgende woorde skryf, praat hy met ‘n ekslusiewe groep (wat hy “ons” noem), en hierdie groep kan hierdie onderskeid tref tussen die Christus “na die vlees” en Christus in geestelike vorm…
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Tydens Jesus se eerste koms na ons ervaar ons Hom in vleeslike terme (op die fisiese vlak), en selfs op daardie vlak is die Christus “na die vlees” baie indrukwekkend en ons is verwonder oor dit wat Hy aan ons skenk in vleeslike terme.
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Vader het Jesus in ‘n vleeslike vorm in ‘n krip in Bethlehem aan die wêreld voorgestel.
Gal 4:4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet.
Jesus kon grootword as ‘n onderdanige seun in Sy ouerhuis in Sy tuisdorp, Násaret.
Mat 2:23 En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.
Luk 2:51-52 En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. 52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.
Maar toe Hy omtrent 30 jaar oud was, het Jesus se lewe op aarde ‘n ander draai geneem…
Luk 3:23 En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli…
Dit is veral in Sy laaste drie en ‘n half jaar op die aarde dat Jesus groot wonders en tekens voor mense gedoen en hul probleme opgelos het, maar Hy was net beperk tot ‘n sekere geografiese gebied:
Mat 4:23-25 En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. 24 En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak. 25 En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa en Dekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af.
In die stadium van Sy vleeslike bediening op aarde het “groot menigtes” Jesus gevolg. Hy het duidelik Sy intieme bewustheid van die mens en sy probleme op ‘n daadwerklike wyse uitgeleef. Jesus het dus in Sy 33 jaar tydperk op aarde alles persoonlik ervaar wat ons almal aan blootgestel word op ‘n daaglikse manier ons hele lewe lank:
Heb 2:14-18 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. 16 Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. 17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. 18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
Jesus se tyd op die aarde bewys dat Hy inderdaad kwalifiseer as ons intieme persoonlike Hoëpriester voor die Vader. As Skepper het Hy intensiewe kennis oor ons, maar Hy het self op ons aardse vlak kom leef in vlees:
Heb 4:14-16 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. 15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Jesus (in vlees) het toe gesterf aan ‘n kruis, Hy was begrawe, maar was op die derde dag uit die dood opgewek deur die Vader, volgens die Skrifte:
1Kor 15:3-4 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
Na Sy opstanding uit die dood was Jesus weereens verenig met die Vader en in gees “opgeneem”. Daar was ‘n spesiale geleentheid gereël waar Jesus “weggeneem” was deur ‘n wolk om vir ‘n tyd nie deur die fisiese oë van mense gesien te kan word nie:
Hand 1:6-9 Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? 7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; 8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. 9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
Daar is egter ‘n belofte opgeteken in die Skrifte dat Jesus weer sal kom en Homself aan mense sal vertoon:
Hand 1:10-11 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, 11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.
Jesus sal Homself dus weer aan mense vertoon voor die oë van mense, en dit sal weer gebeur deur ‘n wolk. Hier is die wolk waardeur Jesus Homself weer voor mense se oë sal verskyn:
Heb 12:1-2 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies [Grieks: “martus” = martelare] rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Dit is hierdie “wolk van getuies” waarin Jesus nou reeds kom, en hulle sal later aan die hele wêreld vertoon word. Hierdie “getuies” is inderdaad martelare vir die geloof wat hulle het, maar hulle weet dat die teenswoordige lyding nie opweeg teen die heerlikheid wat aan hulle openbaar word nie.
Rom 8:18-22 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. 19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. 20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.
Net aan die “kinders van God”, die getuies van Christus, word die waarheid nou openbaar. Die waarheid is dus nie nou aan almal openbaar nie, derhalwe verwys die skrywers van die Nuwe Testaent-geskrifte baie keer na die “ons” in hulle skrywes, wat dan na die min uitverkorenes verwys wat wel die “wolk van getuies” is. Die waarheid word nou eerste gegee aan hierdie ekslusiewe groep wie die Vader uitverkies het om nou in Christus “opgeneem” te word. Dit is ook hierdie groep wie Christus dan ook op ‘n latere stadium sal bystaan in die voltooiing van die saligheidsplan:
Joh 6:44-47 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. 45 Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe. 46 Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien. 47 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.
Jesus (“Hy [wie] opgevaar het in die hoogte”) gee aan mense gawes en talente wat hulle dan op verskillende maniere gebruik, soos Hy bepaal en bewerkstellig volgens die raad van Sy wil (“Hy [het’] die gevangenes gevange geneem”):
Efes 4:8 Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee.
Die gewone mens gebruik die gawes en talente sonder die kennis van waar die gawes en talent vandaan kom, en hulle word in hul vlees opgepof. Dit is dan ook hier waar God ‘n groot onderskeid tref tussen hulle wie die vlees dien en hulle wie Jesus “in gees en waarheid” dien (Joh 4:24; 2Kor 5:16; 2Kor 11:3).
Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Hulle wie Jesus nou in gees leer ken en dien, sien Sy woorde en opdragte op ‘n heel ander vlak as hulle wie die vlees dien. Hierdie skeiding in begrip tussen diegene wat vleeslik is en diegene wat die dinge van die gees kan sien, geld ook vir die wederkoms van Jesus:
Joh 14:15-18 As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
In hierdie studie-reeks kyk ons na hierdie tweede koms van Jesus soos dit beskryf word in Mattheus 24-25, en ook in Lukas 17 en 21. Tien belangrike aspekte word uit hierdie hoofstukke gehaal wat ons help om die wederkoms van Jesus aan ons verstaanbaar te maak, soos God wil:
Deel 1: Die tempel
Deel 2: Die einde van die wêreld-eon (die aardse tydperk)
Deel 3: Die gruwel van die verwoesting
Deel 4: Die groot verdrukking
Deel 5: Die gelykenis van die vyeboom
Deel 6: Die onvoorspelbare dinge van God
Deel 7: Die twee tipe dienskegte van God
Deel 8: Die tien maagde
Deel 9: Die talente
Deel 10: Die skape en die bokke
DIE TALENTE
Die teks:
Mat 25:14-30 Want dit is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. 15 En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan. 16 En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin. 17 Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien. 18 Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek. 19 En ná ‘n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken. 20 En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. 21 En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. 22 En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien. 23 Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. 24 En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; 25 omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort. 26 Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie. 27 Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het. 28 Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; 29 want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 30 En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.
Vers 14 van Mattheus 25 lees…
Mat 25:13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.
Die tweede koms van Jesus word ook genoem “die dag van die Here” in die Skrifte en dit is inderdaad die dag van afrekening (waartydens elkeen persoonlik “rekenskap gee”) soos die drie diensknegte in die gelykenis in Mattheus 25 dan ook uitbeeld in hul tyd van rekenskap gee. Dit is baie duidelik in die Skrifte dat “elkeen van ons [sal] dan vir homself [of haarself] aan God rekenskap gee”…
Rom 14:11-12 Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. 12 So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
In hierdie spesifieke gelykenis in Mattheus 25 neem ons kennis van drie tipe diensknegte om aan ons belangrike geestelike lesse te leer oor onsself. Ons leef van elke woord uit God se mond (Matt 4:4), en daarom is die drie persone ook verteenwoordigend van ons geestelike groeiproses. Die getalle 1, 2 en 5 en hul onderskeie geestelike betekenisse, word spesifiek gebruik in die gelykenis van die talente om ons ook meer te leer oor ons eie proses van rekenskap gee aan ons eie Heer, Jesus Christus.
Mat 25:14-15 Want dit [die koms van die Here / die dag van die Here] is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. 15 En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.
Kom ons begin by die getal 1 wat in vers 15 van Mattheus 25 voorkom. Die getal 1 word hier in sy negatiewe toepassing gebruik. Die positiewe geestelike toepassing van die getal een verwys na die Een “UIT wie alles is”, naamlik die Vader:
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom…
In sy negatiewe toepassing, het die geestelike toepassing van die getal een betrekking op self (ons eie mens van sonde). Die mens is van nature gefokus op self en sy eie bestaan en oorlewing. In die tyd waar vlees en sonde oor ons heers, beheer ons eie denke en oortuigings ons. Die een talent ontbloot die slegte en luie dienskneg en sy valse denkwyses in ons. Luister na die verkeerde denkwyses en patetiese verweer toe hierdie dienskneg uiteindelik moes rekenskap gee aan sy heer…
Mat 25:24-25 En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; 25 omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.
Hierdie heer het duidelik geweet waarom hy net een talent aan hierdie dienskneg gegee het. God ken ons harte en dit is dus geen verrassing vir God as ons dink en doen wat Hy in ons harte geplaas het nie. Dit word duidelik gesê dat aan elkeen van die drie diensknegte gegee was “na sy vermoë”.
Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
God ontbloot egter ons eie harte aan ons op die regte tyd.
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Die slegte en luie dienskneg het ook dan presies gedoen volgens wat in sy hart was – hy het sy talent gaan begrawe want hy was bang. Hierdie aksie van hierdie dienskneg verwys na hoe die self in ons van nature optree – ons is op self gefokus:
Mat 25:18 Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek.
Die vleesmens is net oor homself, en wat hy uit iets kan kry (sy eie voortbestaan, sy eer, sy geluk, sy voorspoed, ens). Daarom het die slegte en luie dienskneg sy talent gaan begrawe. Kyk net hoe hy geredeneer het en ons leer baie daaruit:
Mat 25:24-25 En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; 25 omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.
Hy het nie sy heer geken nie! Die heer het aan hom dinge gegee en hom voorsien van die een talent – hy kon dit nie eens sien nie. Die heer het inderdaad gesaai en geplant in hierdie man se lewe. Maar hierdie dienskneg was bang want hy was gefokus op selfoorlewing! Vrees laat mens baie dinge glo wat glad nie so is nie. Vrees skilder donker prentjies en dit hou ons in ‘n gevangenis:
Spr 29:25 Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.
As hierdie man eerder sy heer gevrees het en hom met eerbied hanteer het, sou hy nie in hierdie strik van vrees getrap het nie. Deur te werk met sy talent sou hy ontsnap het uit sy vrees.
Mat 25:27 Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het.
Die heer het egter hom geantwoord volgens die persoon se eie wanopvattings:
Mat 25:26 Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie.
God hanteer ons volgens ons eie hart se oortuigings, soos God dit bepaal! God antwoord ons ook op die wyse waarop ons Hom sien:
Psa 18:26-27 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg, 27 by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
Vir hulle wat glo dat God ‘n liefdelose monster is, wat nie almal Sy menslike skepsels kan red nie, sal volgens hul eie woorde geoordeel word. Die slegte en luie dienskneg se straf was groot – volgens die oortuigings en vrese van sy eie hart!
Mat 25:30 En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.
Alle slegte diensknegte weet nie dat die Here inderdaad alles “saai” en plant in ons lewe (die goed en die kwaad) – Hy is die enigste Skepper van alles:
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
God skep nie net alles nie, Hy beheer ook alles van begin tot einde. Sy raad bestaan en Sy wil heers oor alles.
Jes 46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.
God alleen is soewerein oor alles en Hy doen en kry alles reg soos Hy dit wil hê!
Job 23:13-14 Maar Hy bly onveranderlik Een—wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy. 14 Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom.
God saai dus alles en Hy besluit ook wat moet groei of doodgaan. Elke ‘saadkorrel’ wat God ookal saai val op die plek soos Hy dit bepaal:
Mat 13:3-9 En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: ‘n Saaier het uitgegaan om te saai; 4 en terwyl hy saai, val ‘n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet. 5 En ‘n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; 6 maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. 7 En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. 8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd—, die ander sestig—, die ander dertigvoudig. 9 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!
“Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” dat God alles beheer. Die hele oes is inderdaad op die einde van die dag God s’n.
1Ti 4:9-10 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; 10 want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
Ons almal werk soos God dit bepaal. Ook dit het die slegte en luie dienskneg niks van geweet nie:
1Kor 3:7-9 So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. 8 Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. 9 Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.
Die eerste ding wat ons doen as ons hierdie waarheid begin sien, is om die volgende vraag te vra in ons tyd van ongeloof:
Rom 9:19 Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?
Niemand kan inderdaad God se wil weerstaan nie, en Hy neem ons deur ‘n proses om dit uit te vind. In die hele proses leer ons egter soveel belangrike dinge van God en van ons eie plek in Sy skepping.
Rom 9:20-21 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? 21 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?
Die ander twee dienskengte was egter meer volwasse, en hulle word dus gebruik om ‘n latere stadium in ons geestelike ontwikkeling uit te beeld. Die getalle 2 en 5 word veral gebruik in hul positiewe toepassing in die tyd wanneer ons gehoorsaam is aan God se Woord en gevul is met God se vrees en verlos word van die vrees van mens. Die vrees van mens besoedel ons gees:
2Kor 7:1 Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.
Die een dienskneg het twee talente ontvang. Die getal 2 word in sy positiewe toepassing gebruik as die geestelike simbool vir God se uitverkorenes (die “wolk van getuies” – Heb 12:1).
Open 11:3-4 En Ek sal aan my twee getuies [Grieks: “martus” = martelare] gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer. 4 Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.
Heb 12:1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies [Grieks: “martus” = martelare] ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
Die (“twee”) getuies van Jesus is inderdaad al die martelare wat nou hul aardse lewe verloor en saam met Christus sterf. Deur Christus is hulle die lig en sout van die aarde:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Hy skenk aan elkeen van Sy getuies nou in hierdie lewe ‘n mate van geloof om te profeteer en God se werke in hulle en in hierdie skepping te verkondig:
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Hulle wat woeker met dit wat hulle ontvang het weet dat geloof produseer werke, die goeie werke van Christus in hulle, en hulle is altyd bewus van hierdie gawe van God wat hulle uitleef – dit is nie hul eie werke nie:
Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
As ons woeker simboliseer dit dat ons groei. Groei kom deur ‘n skoonmaakproses – ‘n vurige oordeel. Ons geloof moet groei en sterk word en daar is net een manier wat God dit doen:
1Pe 4:12-13 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.
1Pe 1:6-9 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
Die getal 2 sluit aan by die getal 5 in die geestelike toepassing op God se getroue diensknegte (“die huis van God”) wat nou getugtig word deur die oordeel van God.
Heb 12:6-8 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Deur God se oordeel volbring die getuies die vrugte en werke van die geregtigheid van Christus in hulle, “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe”(Jes 26:9-10; Tit 2:11).
Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Dit is hoe die ware getuies van Jesus dan ook as die verstandige maagde uitgewys word want hulle lampe is vol – hulle weet dit is Christus alleen wie IN hulle werk. Hulle neem die Olie (Christus se Woorde van gees) saam met hulle oral waar hulle gaan:
Mat 25:4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
Die diensknegte met die twee en die vyf talente het hul talente verdubbel, net soos Job ook dubbel ontvang het nadat Hy besef het dat dit God was wat alles in Sy lewe gegee en weggeneem het, en ook verstaan het waarom ander mense doen wat hulle doen. Selfs ons vyande is gegee vir ons geestelike ontwikkeling. Alles is van God en ons moet daarin berus:
Job 42:10 En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.
Die getroue dienskengte wie hul heer gevrees het deur te woeker met hul onderskeie talente, het groot winste gemaak:
Mat 25:16-17 En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin. 17 Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien.
Die arbeider in Christus is sy loon werd en sal nie beskaamd staan voor God nie:
Mat 25:28-29 Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; 29 want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.