Op ses plekke in Mattheüs 5 praat Jesus van dinge wat “die mense van die ou tyd” geleer was, teenoor dinge wat Hy leer. Hier is daardie ses verwysings…
Mat 5:21-22 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. 22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.
Mat 5:27-28 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. 28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
Mat 5:31-32 Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ‘n skeibrief gee. 32 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.
Mat 5:33-34 Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou. 34 Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie—nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is;
Mat 5:38-39 Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. 39 Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.
Mat 5:43-44 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. 44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.
In Afrikaans word die voegwoord “maar” gebruik om ‘n teenstelling in te lei, en dit is dan presies die funksie hier waar Jesus se leer teenoor die leer van die “mense van die ou tyd” geplaas word. Jesus maak ‘n baie duidelike onderskeid tussen die leer wat die “mense van die ou tyd” gehoor het, en Sy leer. Jesus se spesifieke verwysings na die leer wat die “mense van die ou tyd” gehoor het kom uit die wet wat Moses aan die volk van Israel voorgehou het…
Mattheüs 5 vers 21 kom uit Eksodus 20 vers 13;
Mattheüs 5 vers 27 kom uit Eksodus 20 vers 14;
Mattheüs 5 vers 31 kom uit Deuteronomie 24 vers 1;
Mattheüs 5 vers 33 kom uit Levitikus 19 vers 12;
Mattheüs 5 vers 38 kom uit Eksodus 21 vers 24;
Mattheüs 5 vers 43 kom uit Levitikus 19 vers 18 (sien ook na Ps 139:21-22).
In hierdie woorde van Jesus het die “mense van die ou tyd” direk betrekking op die vleeslike volk van Israel aan wie die wet van Moses spesifiek gegee was. Jesus se leer wat Hy bring val dus onder ‘n ander wet, wat ook in die Skrifte as “die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” bekendstaan:
Rom 8:1-4 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Kyk weer na die volgende woorde in Romeine 8 want daaruit is dit duidelik dat die wet wat deur Moses gekom het, nie God se geestelike standaard in enige mens kon bewerkstellig nie! Net die wet van die gees van die lewe in Christus kan enige mens tot geestelike volmaaktheid bring! (Die woorde “van Moses” word vir doeleindes van duidelikheid in die volgende verse ingepas omdat dit die spesifieke wet is wat Paulus hier na verwys):
Rom 8: 3-4 Want God het wat vir die wet [van Moses] onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet [van Moses] vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Maar ons weet ook uit die Skrifte dat die wet van Moses wel ‘n belangrike doel gedien het:
Rom 3:19-20 Nou weet ons dat alles wat die wet [van Moses] sê, hy dit sê vir die wat onder die wet [van Moses] is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet [van Moses] geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Alle wette wat op die vlees fokus het ten doel om aan ons te wys dat die vlees nie regverdig of perfek is nie (die vlees is sondig en was nooit volmaak nie, en dit sal ook nooit volmaak wees nie – vergelyk 1Kor 15:50; Ps 51:7; Rom 6:6; Rom 8:8; Rom 8:20; 1Kor 1:29). Daar is dus twee tipe wette wat in die Skrifte voorkom – die een is die wet wat op vlees fokus en die ander wet fokus op die geestelike lewe in Christus. Die twee wette moet duidelik onderskei word en ook “wettiglik gebruik” word:
1Ti 1:8-10 Maar ons weet dat die wet [van Moses] goed is as iemand dit wettiglik gebruik 9 en as hy weet dat die wet [van Moses] nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, 10 hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is.
Hierdie woorde van Paulus is so duidelik soos daglig. Die wet van Moses was nooit gegee om enigeen regverdig voor God te maak nie. Net Christus se leer (Sy geestelike wet van lewe) bring God se ware geregtigheid! Alle wette wat op aardse lewe fokus het betrekking op die wettelose en sondige vlees in al sy fassette in ons eie lewe. Maar dit is wanneer God ons fokus weggeneem vanaf die aardse dinge, dat ons toegang kry tot die dieptes van God se geestelike dinge. Daardie geestelike dinge bring die ware karakter van die Vader in ons totstand, en daardie karakter kom slegs deur Jesus:
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Joh 14:1-7 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. 5 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
Ons vlees speel ‘n tydelike rol om ons deur ‘n doodsproses te neem om ons voor te berei vir die nuwe lewe in gees. As ons hierdie waarheid kan ontvang, word alle vleesgebonde vrese uit die weg geneem:
Psa 23:4-6 Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. 5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. 6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Dit is ook dieselfde pad wat Jesus moes loop om ons die Weg te wys tot die ware geestelike lewe. Jesus het in vlees gekom om aan ons die weg te wys. Ons vlees, en die vlees van Jesus, is die “voorhangsel” waardeur ons toegang kry tot die lewe van die Vader.
Heb 10:19-21 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het,
Die dood van die vleeslike dinge in ons bring geestelike lewe voort:
Joh 12:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.
Die “mense van die ou tyd” is dus ‘n verwysing na ons eie vleesmens, ook genoem die “oue mens“, wat geskep was om as “voorhangsel” te dien. Die vlees is nie God se finale produk vir ons nie – dit is net die begin van ‘n proses wat sal eindig in geestelike volmaaktheid. Vlees was nooit geestelik volmaak nie, en die vlees sal ook nooit in God se geestelike koninkryk toegang het nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Ons “oue mens” is die begin van die proses en deur die doodsproses van die ou mens kom die nuwe mens na vore. Maar dit is nie ‘n maklike proses nie. Ons ou mens is ons eersgeborene, en ons is van nature baie lief vir die vlees. In die volgende verse sien ons hoe Abraham ook aan sy eersgeborene (Ismael) gekleef het toe God aan Hom sê dat nie Ismael nie sy erfgenaam sal wees nie…
Gen 17:15-18 Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees. 16 En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ‘n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom. 17 Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en sê in sy hart: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ‘n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar? 18 En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!
Abraham se woorde, “ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!” is ook ons eie uitroep na God om ons eie vleesmens te seën en te spaar. Ismael word as een van die tipes in die Skrifte gebruik om ons ou vleesmens uit te beeld wat onder die wet van vlees leef. Isak was die tipe van die nuwe mens in gees wat onder die ander wet van gees leef. Die ou mens is nie God se geestelike erfgenaam nie. As die ou mens dit uitvind, dan word die grootste stryd in one lewe geopenbaar. Die vlees haat die geestelike dinge van God. Hierdie haat word reeds vroeg in Genesis vir ons uitgebeeld toe God die offer van Adam se eersgeborene, Kain, verwerp het.
Gen 4:1-8 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. 2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. 3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. 4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. 6 En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? 7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. 8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.
Hierdie is alles vir ons neergeskryf om ons te leer dat ons ou mens altyd God se nuwe geestelike skepping haat omdat die vlees geen deel daarin sal hê nie. Ons vleeslike ou mens het nie toegang tot die geestelike dimensies van God nie. Die vlees word nie deur God aangeneem nie:
Rom 8:8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Ons word opdrag gegee om die “oue mens” te kruisig sodat ons nie meer die vlees (dit is die sonde) sal dien nie.
Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
Ons wandel eers volgens vleeslike standarde, en ons vlees en sy begeertes beheer ons aanvanklik. Maar deur God se reddende genade word ons fokus geskuif na die nuwe mens wie kom deur Christus:
Tit 2:11-14 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, 14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.
Ons begin in die vlees. maar ons sal almal eindig in die gees, soos God wil:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Ons moet die lewenswandel van die “mense van die ou tyd” in onsself kan sien, en dit afsweer:
Efes 4:22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan.
Ons moet die werke van die “oue mens” aflê:
Kol 3:9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het.
Dit is inderdaad die “nuwe mens” in gees, naamlik Jesus Christus, wat elkeen sal lei tot die lewe in gees, en op die regte tyd sal ons geestelike volmaaktheid bereik, soos deur die Vader bepaal (1Kor 15:22-28):
Efes 2:15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep.
Efes 4:24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
Kol 3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.