Die huidige skepping, soos alles binne hierdie bestaande kosmos, is aan tydelikheid onderworpe, vanaf die begin daarvan:
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Alle wette wat ook tot hierdie skepping behoort, is tydelik van aard en onvoldoende om in die mens se geestelike of ewige behoeftes te vervul. Kyk hoe word die Wet van Moses beskryf…
Heb 10:1 Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.
Die Wet van Moses word beskryf as ‘n skaduwee van iets beter wat sou kom, en dat daardie wet van Moses nie geestelike volmaaktheid vir enigeen kon bewerkstellig nie. Dit was ‘n wet wat gefokus het op “vleeslike verordeninge” wat ‘n tydelike doel gedien het, en geen mens se gewete was ooit volkome gereinig en heilig gemaak deur daardie wet nie:
Heb 9:9-10 Dit [die ou tabernakel] was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie, 10 omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling.
Die woorde, “die tyd van herstelling” verwys na die “toekomstige weldade” wat in Hebreërs 10 vers 1 voorkom. Daar was ‘n ander wet op pad wat alles sou herstel wat die ou wet van Moses nie kon vermag nie. Die wet van Moses was dus duidelik tydelik van aard en dit het ‘n ander doel gedien as om mense geestelik volmaak te maak. Die tyd van herstelling is ‘n tyd van REGSTELLING. Daar is inderdaad ‘n “tyd van herstelling” wanneer alles reggestel word deur God, en daardie regstelling kom slegs deur “die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus”:
Rom 8:1-4 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Die Wet van Moses was gegee vir die fisiese Jode, en dit is dan ook eerstens op daardie volk van toepassing – so word daardie wet “wettiglik gebruik” omdat die Jode deeglik daaroor ingelig was deur Moses, en so was almal in Israel bewus gemaak ook deur die ander profete.
1Ti 1:8 Maar ons weet dat die wet [van Moses en ook alle wette van aan “vleeslike verordeninge” verbonde is] goed is as iemand dit wettiglik gebruik.
Jesus was ook gebore “onder die wet [van Moses]” wat op die Jode betrekking gehad het (Gal 4:4), en Hy het eerstens tot die Jode gepreek deur dit ook duidelik aan hulle te stel dat niemand enigiets van die hele wet van Moses kan verander vir die ou volk van Israel nie.
Mat 5:17-20 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. 18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. 19 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. 20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.
God het aan Abraham belowe dat Hy Abraham se afstammeling sou seën, hulle wie deur die “Saad” (die Afstammeling) sou kom (let op na die enkelvoudsvorm). Abraham se “Saad” wat God na verwys, was egter nie Isak nie, en nog minder Ismael. Deur Isak het Jakob gekom en die 12 seuns van Jakob het toe die stamme van Israel geword. Ismael het ook twaalf erfgename gehad, en so is daar tot vandag groot vyandskap tussen mense oor hierdie twee seuns van Abraham. Maar elkeen wat op hierdie twee seuns fokus is verblind deur God om nie die ware erfgenaam van Abraham te sien nie. Die ware erfgenaam deur wie ALMAL God se beloftes vervul word, is Christus Jesus!
Gal 3:26-29 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; 27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. 28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. 29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.
Baie min mense het die geloof ontvang om die wet van Christus te herken as die enigste wet tot die gees en lewe van God. Daarom is daar groot verwarring oor die plek en rol van die wet wat deur Moses wat vier honderd en dertig jaar later gekom het nadat God aan Abraham die belofte van God se seën gemaak het. Die belofte van God se seën kom deur God se Saad, Jesus Christus. Paulus maak dit ook duidelik in verses soos die volgende…
Gal 3:16-19 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. 17 Maar ek sê dít: die wet wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie. 18 Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ‘n belofte genadiglik geskenk. 19 Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ‘n middelaar.
Die wet van Moses was dus nie die wet wat geestelike lewe en volmaaktheid sou bring nie. Die ware wet wat geestelike lewe sou bring, kom slegs deur die een Saad van God, Jesus Christus. Alle ander wette is slegs tydelik van aard en vir ander doeleindes gegee. Selfs in die dae van Abraham het hy reeds onder gebooie, insettinge en wette van God geleef, lank voor die wet van Moses aan die Israeliete gegee was in die woestyn…
Gen 26:5 omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.
Daar was selfs reeds ‘n wet wat God gegee het in die tuin van Eden…
Gen 2:15-17 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. 16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Maar selfs daardie wet in Eden kon nie Adam en Eva keer om te oortree nie. Dit wys weereens dat sonde net geken kan word as daar ‘n wet is, en dit is dan ook die doel van alle wette wat fokus op “vleeslike verordeninge”:
1Jn 3:4 Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.
Rom 3:20 … deur die wet is die kennis van sonde.
Adam en Eva kon net sonde leer ken deur die gebod wat God aan hulle gegee het, en selfs daardie een wet was te veel vir die wettelose vlees om te hou. Vlees is sondig en verganklik vanaf sy skepping en dit is wat God aan ons wil wys!
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
God neem ons deur ‘n proses wat begin by vlees en eindig in gees (Joh 3), om ons in Sy GEESTELIKE ewebeeld te maak! Vlees IS NIE God se ewebeeld nie, daarom is die Hebreeuse werkwoorde in Genesis 1 vers 27 in die onvoltooide vorm!!!
Gen 1:27 En God het die mens geskape [Hebreeus “bârâ” in die “Qal imperfect” vorm] na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
God wys net daardeur dat geen wet wat slegs op vleeslike verordeninge fokus die vlees regverdig en volmaak kan maak nie. Daarom was Jesus voor die skepping van hierdie kosmos eksklusief geoormerk deur die Vader om die wet van die gees van lewe te bring.
1Pe 1:20 [Christus] wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
Dit is net daardie wet van die gees van lewe in Christus wat ‘n mens kan heilig maak en heilig hou! Alle wette wat op vleeslike verordeninge fokus, insluitend die wet van Moses, is onvoldoende. Vleesgebonde wette staan teenoor die wet van die gees van lewe in Christus Jesus. In Mattheüs 5 stel Jesus die dinge wat “die mense van die ou tyd” geleer was, teenoor dinge wat Hy leer. Hier is die verse met daardie ses belangrike verwysings…
Mat 5:21-22 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. 22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.
Mat 5:27-28 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. 28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
Mat 5:31-32 Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ‘n skeibrief gee. 32 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.
Mat 5:33-34 Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou. 34 Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie—nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is;
Mat 5:38-39 Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. 39 Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.
Mat 5:43-44 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. 44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.
Die leer van “die mense van die ou tyd” verwys na die wet van Moses wat die ou volk van Israel moes gehoorsaam want Jesus het direk uit daardie wet kwoteer:
Mattheüs 5 vers 21 kom uit Eksodus 20 vers 13;
Mattheüs 5 vers 27 kom uit Eksodus 20 vers 14;
Mattheüs 5 vers 31 kom uit Deuteronomie 24 vers 1;
Mattheüs 5 vers 33 kom uit Levitikus 19 vers 12;
Mattheüs 5 vers 38 kom uit Eksodus 21 vers 24;
Mattheüs 5 vers 43 kom uit Levitikus 19 vers 18 (sien ook na Ps 139:21-22).
Die Hebreeuse woord “ôlâm” (en sy Griekse eweknie “aion”) wat in baie vertalings as “vir ewig” of “ewig” vertaal is, verwar mense in terme van tydelike dinge en ewige dinge. As daar van “die wet” gepraat word in die Skrifte, moet ons duidelik onderskei na watter wet verwys word – die tydelike wette met vleeslike verordening, of die wet van die gees van lewe in Christus. Soos reeds gemeld, was alles van die wet van Moses tydelik van aard (die tabernakel/tempel, priesters, verordeninge, ensovoorts) en het slegs as skadubeelde gedien van God se “toekomstige weldade” wat deur die wet van die gees van Christus totstand kom:
Heb 10:1-2 Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. 2 Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie.
Die wet van Moses, soos alle wette wat op vleeslike dinge fokus, het ‘n plek en rol om te speel, maar ons moet weet dat die ware vervulling kom slegs in die wet van die lewe van die gees in Christus!
Heb 9:8-10 waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie. 9 Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie, 10 omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling.
Heb 8:5-7 hulle wat ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien, soos Moses ‘n goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat jou op die berg getoon is. 6 Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is. 7 Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie.
Heb 7:11-12 As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was—want met die oog daarop het die volk die wet ontvang—waarom was dit nog nodig dat ‘n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? 12 Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet.
Heb 8:13 As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.
Alle vleeslik-gebonde wette het dus ‘n tydelike funksie om ons te lei tot die geloof en die gees van lewe van Christus, wie alleenlik ons ware erfgename maak in gees:
Gal 3:22-25 Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word. 23 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. 24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
Die “belofte” van geestelike saligheid is slegs deur die geloof van Christus, en niemand kom tot die Vader (se geestelike volmaaktheid) behalwe deur Jesus en Sy weg van liefde nie:
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Selfs die ou volk van Israel sal deur Jesus moet kom, en Hy gaan hulle inderdaad red!
Jer 31:31 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit.
O ja, God gaan die hele Israel red, en ook die “volheid van die heidinne”!
Rom 11:25-29 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; 26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; 27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem. 28 Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. 29 Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.
Maar al hierdie dinge is egter nie geskryf om ons net van Israel en die heidinne te vertel nie. Nee, dit is baie meer persoonlik! Dit is alles geskryf om ons van onsself te vertel, en die proses wat ons elkeen sal deurgaan om in God se geestelike ewebeeld gevorm te word!
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Ons almal leef eers onder die wette wat op ons vlees van toepassing is. Almal lewe eers onder hierdie tipe wet – elkeen uit elke stam, taal, en nasie onder die son. Die Wet van Moses kom dus in verskillende vorme op aarde voor, dwarsdeur die geskiedenis van die mensdom:
Rom 2:14-16 Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; 15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig, 16 in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.
Alle aardse wette opereer ook onder die Vader se beheer, en dien vir Sy doeleindes:
Jak 4:12 Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat ‘n ander oordeel?
Ons moet egter onthou dat die aardse wette net ‘n tydelike doel dien, om as tugmeester met ons te werk tot op die tyd waar ons opgeneem word tot hoër denke (‘n hoër hemel) in die gees van Christus:
Gal 4:1-3 Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; 2 maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal. 3 So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld.
Gal 3:24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
Gal 3:25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.