Rom 2:28-29 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; 29 maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
Die Skrifte leer ons dat daar tydelike dinge is, en dat daar ewige dinge is – alles deur God geskep om Sy doel te dien. Hierdie huidige skepping het God onderwerp aan tydelikheid…
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
God skep en gebruik dus dinge wat of ‘n tydelike doel dien, of ‘n ewige doel:
Mat 24:35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
Vir baie mense is dit moeilik om te aanvaar dat hierdie skepping tydelik is, en dan hoor hulle nog verder dat die hemel ook sal verbygaan. Baie redeneer dat hierdie hemel wat verbygaan verwys na die ruimte rondom die aarde en die gedeelte waarin al die planete en sterre voorkom. Ja, dit sal vernietig word, maar daar is baie meer wat God bedoel as Hy sê dat die hemel en die aarde sal verbygaan.
Heb 12:26-28 Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. 27 En hierdie woord: nog. een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. 28 Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.
Alle dinge wat ons glo en aan vasklou in hierdie lewe sal van ons weggeneem word! God het bepaal dat die mens net op die harde manier sal leer dat net Hy en Sy Woord onveranderlik is en ons enigste ewige basis is. Vader en Sy Woord heers oor alles, en is inderdaad gister, en vandag en tot in ewigheid dieselfde:
Heb 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
Almal God se werke in hierdie skepping word deur Sy Woord, Jesus Christus, verrig om die Vader se uiteindelike geestelike of ewige doelwitte te bereik:
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
God werk dus in hierdie skepping met tydelike dinge wat Sy ewige doelwitte dien. Hy werk volgens ‘n vooropgestelde plan en hierdie plan word ook aan sommige gegee:
Amo 3:7 Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.
Hierdie teks in Amos sê nie dat God moet eers toestemming kry by Sy menslike knegte nie, maar dat God Sy plan verduidelik aan sekere mense wie Hy uitverkies. Dit is oor hierdie spesiale groep mense wat daar so baie gegis word, en oor wie daar ook groot onkunde heers. Die Skrifte is egter baie duidelik wie hierdie knegte is. Hulle word in die Skrifte voorgestel onder die naam “Israel”, wat weereens tot groot misverstande lei. God se raadsbesluite oor hierdie skepping en Sy doel met dit word gedeel met Sy “eerstelinge” in gees, wie ook deur ‘n pynlike vleeslike ervaring geneem, en hulle sal eerste wees om die nuwe skepping van hemel en aarde te ervaar. Hulle sal dan gebruik word wanneer die res van hierdie skepping vrygemaak sal word van hul tydelike aardse slawerny:
Rom 8:20-23 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.
Hierdie groep “eerstelinge van die gees” is deel van die normale mensdom en kom deur God se Eersteling, Jesus Christus, om die raadsplan van God te verstaan. Christus is die Eerste in alles, soos deur die Vader aangestel:
Heb 1:5-6 Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees? 6 En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid.
Kol 1:15-19 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; 16 want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. 18 En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. 19 Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon
Christus is aangestel om die hele plan van die Vader uit te voer, en Christus werk doelgerig om Sy eerstelinge in gees voor te berei vir hul dienswerk deur hierdie tydelike eerste hemel en aarde. Die wet van antropie leer ons dat alles wat aan tyd onderworpe is ‘vloei’ in een rigting. Byvoorbeeld, in die vlees groei ons vanaf ‘n kinderstadium tot ‘n volwasse stadium, nie andersom nie. Net so is ons eers in vlees en dan word ons wedergebore in gees om soos God in gees te wees. Ons was nooit in gees nie, maar ons sal almal in gees eindig. Ons almal moet begin in die vorm en gestalte van die vleeslike Adam (met vleeslike denke en oortuigings) en daarna sal ons (op die tyd bepaal deur die Vader) in die geestelike Christus opgeneem word, wie ons dan verder sal neem om geestelik volmaak te word (1Kor 15:22-28):
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Dit is die proses wat die aardse Israel en hul leiers moes van weet, maar hulle weet nie. God se raadsbelsuite oor hierdi skepping is nie gegee aan die vleeslike Israel nie. Jesus se gesprek met Nikodemus, ‘n owerste van die Jode van sy tyd, bevestig ook hierdie onkunde.
Joh 3:1-12 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7 Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. 8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. 9 Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? 10 Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? 11 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. 12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?
Tot vandag sien ons hoe min mense insigte gegee word in God se raadsbesuite oor hierdie skepping en die proses hoe Vader deur Christus die mens in Sy geestelike ewebeeld sal maak. God se plan met die hierdie skepping is iets wat nie algemeen geken word nie, selfs nie by hulle wat as “owerstes” in godsdienskringe bekendstaan nie. God steek die dieper dinge van Sy planne weg vir die wyses van hierdie wêreld, maar openbaar dit aan mense wat geen eer by mense sal kry nie!
1Kor 1:19-29 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. 20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? 21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; 22 want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; 24 maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. 25 Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense. 26 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
Hulle wie die waarheid van God se plan kan sien, weet dat die vlees en alles in hierdie skepping tydelik is, soos God bepaal het voor die skepping. Alles se “dae” is getel en bepaal voor die skepping!
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Pred 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.
Ons begin in die vlees (tydelik), maar eindig in die gees (ewig), nie andersom nie.
1Kor 15:46-49 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Paulus se brief aan die gemeente in Galasië is juis as voorbeeld in die Skrifte opgeneem om aan ons te wys hoe dwaas so ‘n leer is wat tydelike dinge verhef bo God se geestelike dinge:
Gal 3:1-9 o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? 2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? 4 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! 5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 6 Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. 7 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. 8 En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. 9 Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.
Ons begin onder vleeslike wette, maar eindig onder die wet van die gees van lewe in Christus Jesus:
Rom 8:1-8 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.
Die volgorde is onveranderlik en onomkeerbaar. Ons lewe onder albei die wette – eers vlees en dan gees. Die twee het heel aparte doelwitte en uitkomstes. Ons moet nie verwag dat ons geestelike volmaaktheid sal bereik deur die wette van vleeslike verordeninge te hou nie. Geestelike volmaaktheid kom slegs deur die wet van die gees van Christus.
Joh 14:1-7 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. 5 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
Ons begin in die vlees, maar eindig in die gees. Albei wette het hul tyd en plek. Solank ons in die vlees is moet ons vleeslike wette gehoorsaam. Maar ons moet nooit hierdie tydelike vleesgebonde wette gebruik om onsself voor God geestelik te regverdig nie. Die regverdige in Chrustus weet dat niemand deur vleesgebonde wette voor God regverdig sal wees nie. Geestelike regverdiging kom deur Christus se wet van gees. Die twee wette moet dus duidelik geskei word en op die manier word dit “wettiglik” gebruik:
1Ti 1:8-11 Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik 9 en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, 10 hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is, 11 volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.
Die vleeslike Israel het ‘n wet gekry waaronder hulle moes leef as die vleeslike uitverkorenes van God. Daardie wet staan bekend as die “wet van Moses” wat neergeskryf is om as voorbeeld te dien van alle tipe wette wat op vleeslike verordeninge berus. Maar vir die geestelike uitverkorenes in Christus is daar ‘n nuwe wet, die wet van die gees van lewe in Christus. Dit is waarin God se ware uitverkorenes hul verlustig!
Rom 7:22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens;
Die geestelike Israel van God fokus op daardie nuwe wet van gees, en verlustig hulle daarin. Hulle skei hulself van diegene wat nog fokus op die wet van vleeslike verordeninge. Paulus beklemtoon hierdie skeiding van die ware “Israel van God” en die vleeslike Israel deur ook woorde van sterk bestrawwing te skryf aan die gemeente in Galasië:
Gal 6:11-16 Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe. 12 Almal wat ‘n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie. 13 Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem. 14 Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld. 15 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. 16 En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!
Die ware Israel van God is hulle wie God in gees en waarheid dien:
Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Daar is dus ‘n groot verskil tussen ‘n “Jood wat dit in die openbaar is” en ‘n “Jood wat dit in die verborgene is”. Die verskil moet openlik gesien kan word in ons leefwyses en uitlatings:
Rom 2:28-29 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; 29 maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
Die eersgenoemde (vleeslike) Jood het nie die geloof van Jesus ontvang om Sy geregtigheid te aanvaar as die enigste maatstaf wat die Vader erken. Die geloof van Christus is dus ‘n groot faktor waarvolgens die ware “Israel van God” gekwalifiseer word vir God se regering op aarde en regters van God se geregtigheid in die poel van vuur (lees Openbaring 20):
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
Die evangelie volgens Mattheüs gee vir ons ook ses teenstellings tussen die wet van Moses en die nuwe wet van Christus in hoofstuk 5. Jesus praat baie duidelik van dinge wat “die mense van die ou tyd” geleer was, teenoor dinge wat Hy leer. Dit is die geestelike toepassing dat Jesus die hele wet van God vervul. Ons begin met die ou mens in vlees (“die mens van die ou tyd”), en ons eindig in die gees van Christus. Hier is daardie ses verwysings…
Mat 5:21-22 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. 22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.
Mat 5:27-28 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. 28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
Mat 5:31-32 Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ‘n skeibrief gee. 32 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.
Mat 5:33-34 Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou. 34 Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie—nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is;
Mat 5:38-39 Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. 39 Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.
Mat 5:43-44 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. 44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.
Die leer van “die mense van die ou tyd” verwys na gedeeltes wat Jesus kwoteer uit die wet van Moses wat die ou volk van Israel moes gehoorsaam:
Mattheüs 5 vers 21 kom uit Eksodus 20 vers 13;
Mattheüs 5 vers 27 kom uit Eksodus 20 vers 14;
Mattheüs 5 vers 31 kom uit Deuteronomie 24 vers 1;
Mattheüs 5 vers 33 kom uit Levitikus 19 vers 12;
Mattheüs 5 vers 38 kom uit Eksodus 21 vers 24;
Mattheüs 5 vers 43 kom uit Levitikus 19 vers 18 (sien ook na Ps 139:21-22).
Die dinge wat “die mense van die ou tyd” geleer was staan inderdaad teenoor die dinge wat Jesus leer, vir hulle wie dit kan ontvang. Die Israel “in die vlees” staan inderdaad teenoor die Israel “in die gees” van God.