God gee Sy waarhede aan Sy EEN ware kerk sodat hulle DIESELFDE denke (“die sin van Christus”) kan deel:
1Kor 2:14-16 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
Die gees van die Vader beklemtoon die woord “EENGESIND” in die Nuwe Testament vir ons lering!
Rom 12:16 wees EENSGESIND onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;
Rom 15:5 En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om EENSGESIND onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus,
2Kor 13:11 Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees EENSGESIND; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.
Fil 2:2 maak dan my blydskap volkome deur EENSGESIND te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.
Fil 3:16 Maar wat ons reeds bereik het—laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons EENSGESIND wees.
Fil 4:2 Ek vermaan Euódia en ek vermaan Síntiché om EENSGESIND te wees in die Here.
1Pe 3:8 En eindelik, wees almal EENSGESIND, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.
Net soos ons aardse liggaam as ‘n eenheid saamwerk onder die een brein, so is dit met die EEN liggaam van Jesus wie Sy EEN gesindheid deel.
Rom 12:4-5 Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, 5 so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.
Jesus en Sy liggaam ly nie aan geestelike skisofrenie nie. Daarom word elke deel van Sy liggaam met dieselfde denke toegerus en hulle werk as ‘n eenheid. Ware leraars van die Skrifte sal nooit mense aanmoedig om hul eie groepies met hul eie name bo Christus se eensgesindheid (een denke) te stel nie. Hoor net hoe bestraf Paulus die verdeeldhede in die gemeente in Korinthe…
1Kor 1:11-13 Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is. 12 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus. 13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?
1Kor 3:1-4 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie? 4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie?
Hulle wie Christus in gees dien, is nie opgemaak oor hul eie opinies en groepies nie. Die eensgesindheid wat die Skrifte van praat gaan dus ook nie oor taalkonsepte of semantiese begrippe nie. Dit gaan oor geestelike insigte wat in elkeen (vir wie God Sy waarhede oopmaak) dieselfde betekenis het, al praat jy ook watter aardse taal. Hierdie waarhede is wat die ware kerk van Christus aan mekaar bind ten spyte van taalverskille, geografiese skeiding, kultuurverskille, en tydverskille. God se kerk in Christus oor die afgelope 2000 jaar sing voorwaar dieselfde lied uit dieselfde geestelike “gesangboek”:
Hand 10:34-35 En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, 35 maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.
Open 5:9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,
Wat die eerste groepe Christene geglo het daar in Jerusalem en Antiochië soos in die boek van Handelinge voorkom, is tot vandag onbeweegbaar vas:
Mat 24:35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
Dat miljoene mense nie die Skrifte glo nie, en buite die een kerk opereer is baie duidelik. Dat baie ook nie saamstem met die ware kennis oor God of oor Sy karaktertrekke, (byvoorbeeld Sy alwetenheid), is ook waar. Die kerk van Christus word nie op sleeptou geneem om deel te neem aan oneindige godsdienstige debatte oor wat waarheid is nie. Jesus is ons voorbeeld oor hoe ons standvastig moet wees t.o.v. die waarheid deur kort en duidelik te antwoord, al kom die druk van die hoogste aardse gesag:
Joh 18:37-38 Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ‘n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem. 38 Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.
Hulle wie kan hoor wat die gees van die Vader sê, luister na Jesus.
Open 2:7 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.
Open 2:11 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.
Open 2:17 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.
Open 2:29 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
Geen mens kan ‘n ander persoon oortuig van die waarheid nie. Geloof in die waarheid is ‘n gawe wat God alleen skenk aan hulle wie Hy wil:
Efes 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.
As ons die Woord van God met respek hanteer, dan is dit sigbaar in ons lewe, ons woorde en ons dade. As die Skrif aan ons voorhou hoe om op te tree as iemand met ons verskil in aardse woorde en konsepte, dan is dit tot ons beswil om op te tree soos die Skrifte voorskryf. Christus se leer is een leer, en ons laat ons dus nie in op debatte oor menslike opinies en twisvrae nie, soos die Skrifte eensgesind is daaroor:
1Ti 6:3-5 As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 4 dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5 nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.
Jesus het ons ook duidelik gewaarsku in die Skrifte dat baie sal kom onder Sy naam en baie mense mislei:
Mat 24:5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Dit is nie almal wat “Here, Here” skree wat deel is van die EEN liggaam van Christus nie en ons moet dit persoonlik kan onderskei:
Mat 7:21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
Ons moet maar leer op die harde manier hoe om die wolwe in skaapsklere uit te ken…
Mat 7:15-20 Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. 16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! 17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. 18 ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
As iemand sê dat die Bybel nie moeilik is om te verstaan nie, dan is Jesus baie duidelik hoekom Hy in gelykenisse praat:
Mat 13:10-17 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. 15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. 16 Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. 17 Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.
Klink dit of almal die Skrifte se geestelike boodskap kan hoor en sien? Jesus sê dat Hy doelbewus nie Sy waarhede aan almal bekendmaak nie. Jesus sê dat baie profete en regverdiges begeer het om die dieper waarhede van die Woord van God te verstaan, maar hulle het nie. God het dit van hulle weggehou! Kyk wat sê Petrus oor dieselfde onderwerp as Hy aansluit by Jesus of almal die dieper geestelike betekenisse van die woorde van God kan verstaan…
1Pe 1:10-12 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, 11 en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. 12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.
Weereens noem Petrus dat die profete van ouds ondersoek en nagevors het, maar gevind het dat “die dinge” van die gees nie vir hulle was nie! Petrus sê dat selfs die engele “begerig is om [die waarheid van die evangelie van Christus] te sien”!!!
“…Aan hulle [die profete] is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.”
Ons moet dus die plek van tydelike aardse dinge skei van die plek en vervulling waar die geestelike dinge van God inkom. Vlees kan nie God se geestelike dinge verstaan nie. Vlees kan nie die waarheid van God hanteer nie. Die wysheid van die wêreld (vlees) is nie opgewasse om God se geestelike waarhede te hanteer nie!
1Kor 1:21-29 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; 22 want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; 24 maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. 25 Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense. 26 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
As God dus vleeslike dinge uitroei om plek te maak vir geestelike dinge, dan neem baie mense eksepsie. Dit is ‘n groot aanstoot vir ons vlees om te hoor dat ‘n liefdevolle God opdrag gee dat vrouens, kinders en suigelinge met die swaard gedood moet word:
1Sa 15:1-3 Toe sê Samuel vir Saul: Die HERE het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE. 2 So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte. 3 Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.
As ons oog gevestig is om fout te vind in die Skrifte, sal tekste soos die volgende groot aanhang geniet:
Psa 137:9 Gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots!
Jes 13:13-16 Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die HERE van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed. 14 En soos ‘n gemsbok wat gejaag word, en soos kleinvee wat niemand bymekaar maak nie, sal hulle elkeen draai na sy volk toe en elkeen vlug na sy land toe. 15 Elkeen wat gevind word, word deurboor; en elkeen wat gegryp word, val deur die swaard. 16 En hulle kinders word voor hul oë verpletter, hul huise geplunder en hul vroue onteer.
Die wreedste dood wat ooit op aarde plaasgevind het, was deur God beplan! God het selfs die mense wat dit vir Hom moes uitvoer presies uitgekies vir die taak. Hier word dit beskryf in Handelinge:
Hand 4:26-29 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. 27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. 29 En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,
Hierdie verse word nooit genoem nie.
“…om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.”
God is die Een wat alles in hierdie skepping na vore bring en sorg dat alles haarfyn gebeur volgens Sy raad en plan – dit wat goed is en dit wat boos (onheil) is!
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [Hebreeus: “ra” = boosheid / die kwaad] skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Jesus was onskuldig aan alle kwaad, en tog het God Hom op die wreedste manier laat sterf op ‘n kruis.
Mat 27:45-46 En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; 46 en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Alle aardse vlees wat deur die eerste Adam gekom het, is tydelik en vir God se doelwitte gemaak.
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Dit alles gaan vernietig word soos ons ook elke dag sien hoe mense sterf. Mense sterf somtyds wreed, maar dat iemand soos Jesus (wie God in vlees was) dit nie vrygespring het nie, is juis tot ons hoop en redding gedoen.
1Kor 15:1-4 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
Dat God alle vlees sal vernietig wanneer die tyd voltooi is, is omdat God alles NUUT gaan maak in gees. Die groot troos is dat almal (alle mense) wat vernietig is (selfs hulle wat op ‘n baie wrede manier gesterf het) weer lewe gegee sal word – en daardie nuwe lewe sal in oorvloed wees en staan bekend as “geestelike lewe”. Hier beskryf Paulus die proses van die redding van almal pragtig, vir hulle wie dit kan ontvang:
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Waarheid is ‘n absolute geestelike begrip en ononderhandelbaar. As mens sê dat niemand kan die waarheid ken nie, weerspreek hulle Jesus. Hier is Sy eie woorde aan Sy ware volgelinge…
Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Baie min mense kan sien dat die waarheid ‘n Persoon is, en nie ‘n kognitiewe begrip wat deur ‘n mens se brein gevorm word nie. Waarheid is dus nie ‘n subjektiewe entiteit nie – elkeen kan nie sy eie waarheid het nie. Hier is woorde wat die natuurlike mens haat (hulle wie op hul individuele denk- en redenasievermoëns staatmaak)….Jesus sê…HY IS DIE WAARHEID!
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Dat geen mens alles van die Waarheid ken nie, is omdat ons almal in vlees tans onvolmaak en onvolledig is. Ons ken inderdaad ten dele…
1Kor 13:9 Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.
Maar dit wil nie sê dat die Waarheid (Jesus) nie geken kan word nie. Ons groei in kennis van God, ook in terme van die waarheid, soos God wil:
Kol 1:9-10 Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, 10 sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,
As ons weet dat ons die waarheid ken, dan argumenteer ons nie met mense vir wie God nie die waarheid openbaar het nie – God alleen bepaal wie die waarheid kan ontvang en wie nie:
Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Tit 3:9-10 Maar vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos. Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning…
2Jn 1:9-11 Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. 10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. 11 Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.