Heb 5:7-9 Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs—Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword.
Jesus was net soos ons aan alle versoekinge en probleme onderworpe. Alhoewel Hy die Seun van God is, moes Hy tydens Sy aardse bestaan, net soos ons nou, “leer uit wat Hy gely het”. Hy is ons perfekte voorbeeld want ons moet deur dieselfde kruisigingsproses gaan:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Jesus het nie gekla nie, maar eerder deur “gebede en smekinge met sterk uitroepe en trane” Homself aan Sy Vader onderwerp. Want Jesus het geweet ALLES kom van die Vader – ook die pyn en lyding!
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
As ons ons pyn en lyding, en almal in hierdie wêreld se pyn en lyding, buite die ”ALLES” plaas, dan sê ons God is nie soewerein oor alles wat in hierdie skepping gebeur nie. God is inderdaad soewerein oor ALLE goed en ALLE kwaad – Hy het dit ALLES immers geskep om Sy doelwitte te dien:
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Ja, God het ook die bose en goddelose gemaak en Hy bewerkstellig alles wat hulle doen om Sy doel te dien!
Spr 16:1 Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE.
Job het sy vrou bestraf toe sy God se soewereinitieit oor alles in twyfel trek.
Job 2:10 Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.
Die goeie en die slegte dinge kom van God, en ons aardse mens kan dit nie regtig aanvaar nie. Dit kos Christus se geloof in ons om God as soewerein oor alles te kan sien:
Efes 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.
Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Die vervalste “welvaart-evangelie” verfoei die ware leer van Jesus wat duidelik sê dat ons net soos Jesus in die wêreld is, en dat ons onderworpe aan alles is wat die Vader aan ons doen, want slegs die Vader weet hoe om ons te vorm (en te hervorm) in Sy hand:
1Jo 4:17 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Niemand kan die tempel van God ingaan sonder dat AL DIE PLAE wat uit God se hande kom, voltooi is nie:
Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.
O ja, die plae wat in die boek van Openbaring genoem word, kom nadat die sewe basuine dit aangekondig het, soos die sewe engele geblaas het wat voor God moes staan – God bepaal dit alles van begin tot einde:
Open 8:2 En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee.
Die sewe plae, en die engele met die sewe basuine kan net as sulks ervaar word deur hulle wie se boeke geopen was omdat die sewe seëls verwyder was!
Open 5:1-10 En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. 2 En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? 3 En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. 4 En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. 5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. 6 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. 7 Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; 8 en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. 9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, 10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.
Net diegene wat deur die hele proses gaan en dit alles aan God toeskryf, kan die nuwe lied sing (die getal “sewe” is ‘n geestelike verwysing na die volledigheid/voltooiing). Hierdie mense is opgeneem in die simboliese “vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge” – hulle alleen ken die geestelike lied wat aan God AL die eer en verheerliking bring. Hulle kom “uit elke stam en taal en volk en nasie” en hulle “sal as konings op die aarde heers” in die simboliese duisend jaar ryk van God. Net hulle kan hierdie unieke lied sing!
Open 5:9-10 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, 10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.
Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
Die simboliese “vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge” het deur pyn en baie verdrukkinge gekom, en hulle het die geloof van Christus se soewereine werk in alles in hulle lewe behou:
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
1Ti 6:12 Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.
Diegene wat tot die einde volhard in die geloof van Christus se soewereiniteit oor alles, hulle sal regeer en die boodskap en werk van verlossing aan alle nasies bring!
Mat 28:18-20 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. 20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.
Die kroon van die lewe is gereserveer vir hulle wie in hierdie teenswoordige tyd deur hierdie volledige lydingsproses geneem word, vir Christus se onthalwe! So het Paulus vir Timotheus aangemoedig, en hierdie woorde is tot vandag relevant vir hulle wie deel vorm van die simboliese “vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge”!
2Ti 4:5-8 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening. 6 Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. 7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. 8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.