God se waarhede is verborgenhede vir hulle wie deur die “wysheid van die wêreld” gelei word.
Kor 2:6-9 Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. 7 Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, 8 wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie— 9 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.
Tog openbaar God hierdie verborgenhede aan Sy volwassenes in geestelike dinge in hierdie eeu, hulle wie die gees van God deur Jesus Christus ontvang wat hulle instaat stel om tot die “dieptes van God” toegelaat te word:
1Kor 2:10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.
Jesus het hierdie twee groepe se insigte in die verborgenhede van God as volg gestel aan Sy eerste dissiples:
Mat 13:10-13 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.
Een van die groot verborgenhede in die Skrifte is die eienaardige vier wesens wat aan die profeet Esegiël gewys was in ‘n gesig (‘n visioen), toe Esegiël in ballingskap as gevange van koning Nebukadnesar in Babilon was:
Eseg 1:1-3 In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek [Esegiël] onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien. 2 Op die vyfde van die maand—dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin— 3 het die woord van die HERE uitdruklik gekom tot Eségiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die HERE was daar op hom Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter. 5 En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dit was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ‘n mens gehad; 6 en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke; 7 en hulle bene was reguit bene en hulle voetsole soos die sole van ‘n kalfspoot; en hulle het geglinster soos blink geskuurde koper; 8 en mensehande was onder hulle vlerke aan hulle vier kante.
Die mens in sy eiewysheid (die wyses van die wêreld) is met geestelike blindheid geslaan deur God. Dit met groot nederigheid dat mens God dank as Hy Sy dieper geestelike insigte bekendmaak aan diegene wat as onedel en dwaas deur die wêreld se wyse mense gesien word…
1Kor 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
In die visioene wat God aan Esegiël gegee het by die Kebarrivier in Babilon, was daar hierdie vier wesens wie elkeen vier aangesigte gehad het. Dit is oor hierdie vier aangesigte wat ons in hierdie deel van ons studie reeks gaan gesels en kyk wat ons geestelik uit dit kan leer, sos God wil:
Eseg 1:9-10 Maar aangaande die aangesigte en die vlerke van al vier, 9 hulle vlerke was aanmekaar verbind. Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan. 10 En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van ‘n mens; en al vier het die gesig van ‘n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van ‘n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van ‘n arend gehad. gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.
In die inleiding tot hierdie studiereeks getitled “Die ‘vier lewende wesens’ – die ‘gérubs’ van God” het ons reeds gemeld oor die simboliese taal van die Skrifte. Ook met betrekking tot hierdie wesens se afsonderlike vier gesigte, naamlik die aangesig van ‘n mens, die aangesig van ‘n leeu, die aangesig van ‘n bees, en die aangesig van ‘n arend, is daar baie dieper geestelike betekenisse in hierdie simboliese taal weggesteek. Die betekenis van hierdie aangesigte, soos met al die simboliese taal van die Skrifte, is daar nie plek vir spekulasies nie, want ons word gemaan om nie buite die veilige raamwerk van die Skrifte te soek vir alle uitlegte van die Skrifte. Enigeen wat buite hierdie raamwerk gaan, is “opgeblase” – dit is om opgemaak te wees oor persoonlike eie-insigte en oortuigings en dit dan te verkondig as waarheid!
1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
Nee, die waarheid kom nie voor in menslike redenasies nie. Waarheid is die eksklusiewe terrein van die Skrifte en ons moet binne hierdie raamwerk bly as ons veilig wil wees en beskerming wil hê teen misleiding!
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Psa 119:11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
Psa 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.
Psa 119:114 U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.
Psa 119:130 Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.
Ons tweede getuienis binne die raamwerk van die Skrifte wat ons kan help met die visioen van Esegiël kry ons deur die apostel Johannes. Johannes het ook ‘n soortgelyke visioen as die van Esegiël gesien, soos Johannes dit beskryf in die boek van Openbaring – hier kom die vier wesens weer voor en hul vier aangesigte stem ook ooreen met die van Esegiël:
Open 4:1-11 Ná hierdie dinge het ek [Johannes] gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. 2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. 3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. 4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. 5 En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; 6 en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. 7 En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg.
Albei Esegiël en Johannes beskryf die vier aangesigte van elkeen van die vier wesens en ons herhaal dit…
- ‘n leeu
- ‘n bees / kalf
- ‘n mens / mense hande / voete
- ‘n arend
Wat kan ons uitvind van hierdie spesifieke aangesigte, en wat vertel dit ons van Christus en Sy volgelinge? Om al die simbole in Openbaring beter te verstaan, moet ons Johannes se woorde in die eerste drie verse van hierdie boek baie noukeurig lees…
Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel [Grieks: “aggelos”] aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Die hele boek van Openbaring, en so ook die hele Skrifte, openbaar Jesus Christus soos deur die Vader bekendgemaak! Ons leer dus deur die boek van Openbaring (met al die simboliek daarin) oor wie Jesus Christus is en wat Hy in ons lewens doen. Die openbaring is ‘n ontbloting van Jesus en onsself. Hierdie openbaring kom alleenlik deur die Skrifte na ons, en die Woord van God open die hemele (die denke / die begrip) om die dieper geestelike denke van God te kan ken!!! Daarom is die volgende woorde so belangrik om te verstaan:
“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar [Grieks: “tēreō” = ‘n persoonlik toepassing] daarin geskrywe is, want die tyd is naby”
Die woorde is vir hulle wie dit kan aanneen en persoonlik op hulself toepas. Mattheus sê ook duidelik dat ons leef van elke woord uit God se mond, want dit is toepaslik op ons eie lewe as ons die woorde deur die gees van Christus ontvang (Jesus se woorde is gees en lewe – Joh 6:63):
Mat 4:4 Maar Hy [Jesus] antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Almal kan egter nie die geestelike diepte van hierdie woorde van Jesus aanvaar nie, en daarom kan hulle ook nie sien dat God se Woord van Genesis tot Openbaring van hul eie lewe praat nie, en hoe God in hul lewe werk nie. As ons die dinge van God kan lees, hoor en bewaar (toepas op onsself), dan val ons voor God in aanbidding en ons word dood vir ons eie opinies en oortuigings!
Eseg 1:28 Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.
Open 1:17 En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste.
Ons weet dat uit twee of drie getuies staan elke woord van God vas:
2Kor 13:1 …. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.
Ons sal aan die hand van verskeie getuies uit die hele Skrifte (uit die Ou Testament en Nuwe Testament) die simbole van die leeu, die bees (of kalf / bul), die mens (mens se hande / mens se voete), en die arend se dieper geestelike betekenis te belig, soos God wil.
Mat 13:51-52 Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here! 52 Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.
Die simbool van ‘n leeu:
Kom ons leer uit die Skrifte wat dit simbool van ‘n leeu aan ons wil oordra oor hierdie vier wesens…
Gen 49:9-10 Juda is ‘n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag? 10 Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.
Num 23:24 Kyk, ‘n volk wat opstaan soos ‘n leeuin, en soos ‘n leeu verhef hy hom. Hy gaan nie lê voordat hy roof eet en die bloed van die wat verslaan is, drink nie.
Num 23:24 Kyk, ‘n volk wat opstaan soos ‘n leeuin, en soos ‘n leeu verhef hy hom. Hy gaan nie lê voordat hy roof eet en die bloed van die wat verslaan is, drink nie.
Open 5:5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.
Uit die getuies van die Skrifte kom ‘n paar geestelike begrippe na ons deur die simboliese leeu:
- Leierskap (Hierdie vier wesens het leierskap ontvang van God om te regeer en te oordeel);
- Oorwinning (Hierdie wesens is oorwinnaars en magtig in wese);
- Onverskrokkenheid (Hierdie wesens is vreesloos en seëvier oor hul vyande);
- Insigte (Hierdie wesens het insigte in dinge van God, om dit oop te maaak sodat ander dit ook kan verstaan).
Hier is ‘n paar verse as geestelike toepassings van die genoemde eienskappe in die Skrifte, vir ons lering en persoonlike toepassing (Onthou God se gees leer ons om geestelike dinge met geestelike dinge te vergelyk en saam te voeg – ons vergelyk Skrif met Skrif – 1Kor 2:13; Joh 6:63):
Rom 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
Open 2:26-27 En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.
Open 20:6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
Die bees (kalf / bul / os):
Die Skrifte help ons om die simbool van die bees (bul / os) as een van die vier aangesigte van die vier wesens te verstaan…
Gen 26:12-14 Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën. 13 En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was: 14 hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.
Lev 1:3 As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind.
Job 1:14 kom ‘n boodskapper na Job en sê: Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle.
Spr 14:4 Waar geen beeste is nie, is die krip leeg, maar deur die krag van die os is die inkomste baie.
Uit die getuies van die Skrifte kom ‘n paar geestelike eienskappe van die bees (bul / os) na vore:
- Harde werker (Die vier wesens is magtig en beweeg reguit vorentoe. Hulle is getroue diensknegte en bring groot geestelike winste na vore);
- Hoogste offer (Die wesens bring hul hele lewe as ‘n hoogste heilige offer aan God);
- Voorspoed (Hierdie wesens bring die seën en voorspoed van God in werking).
Hier is ‘n paar gedeeltes uit die Skrifte om ons te help om die geestelike vergelykings en toepassings te maak vir ons lering en vir ons persoonlike toepassing (Onthou God se gees leer ons om geestelike dinge met geestelike dinge te vergelyk en saam te voeg – ons vergelyk Skrif met Skrif – 1Kor 2:13; Joh 6:63):
Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Mat 20:27-28 En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; 28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.
Mat 25:20-21 En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. 21 En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
Die mens (mense hande / voete):
Kom ons leer uit die Skrifte wat dit simbool van ‘n mens aan ons wil oordra oor hierdie vier wesens…
Gen 1:27-28 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Luk 19:10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.
Heb 2:14-18 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. 16 Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. 17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. 18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
Open 21:17 En hy het sy muur gemeet op honderd vier en veertig el, volgens ‘n mens se maat, wat die maat van ‘n engel is.
Hier is ‘n paar geestelike eienskappe wat ons uit die simbool van die mens kan leer:
- God assosieer totaal met die mens (Die wesens leer ons dat God nie die mens gesekp het om vir ewig verlore te wees nie, maar om gered te word in Christus);
- Die mens is deel van God se plan (Hierdie wesens wys ons dat die mens (die eerste Adam) inderdaad deel is van God se plan om ‘n nuwe skepping in gees na vore te bring);
- Heerskappy (Die wesens gee aan ons die boodskap dat die mens heerskappy oor God se skepping sal hê in geestelike volmaaktheid);
- Engele (Die wesens wys aan ons dat die mens as God se boodskappers gebruik word om Sy Woord aan almal te bring en sodoende aan God die hoogste eer te bring).
Hier is ‘n paar Skrifte om as geestelike toepassings te dien van die genoemde eienskappe, vir ons lering, en ons persoonlike toepassing (Onthou God se gees leer ons om geestelike dinge met geestelike dinge te vergelyk en saam te voeg – ons vergelyk Skrif met Skrif – 1Kor 2:13; Joh 6:63):
1Kor 15:22-26 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
Open 1:12-13 Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, 13 en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel.
Heb 2:5-8 Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie; 6 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie.
Die arend:
Kom ons leer uit die Skrifte wat dit simbool van die arend aan ons wil oordra oor hierdie vier wesens…
Deu 32:11 Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels—
Job 9:26 Hulle het verbygegly soos skepe van biesies, soos ‘n arend wat neerskiet op sy prooi.
Psa 103:5 wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend.
Psa 103:5 wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend.
Oba 1:4 Al woon jy so hoog soos die arend…
Open 12:14 maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd.
Uit die getuies van die Skrifte kom ‘n paar geestelike begrippe na ons deur die simboliese arend:
- Versorging (Hierdie wesens gee ons die beeld van versorging en toesig oor ander wie nog onervare in die geestelike Woorde van God is);
- Groot visie (Hierdie wesens kan dinge van ver af sien aankom en voorberei vir toepaslike aksie – hulle visie is baie diep);
- Nuwe lewe (Hierdie wesens getuig van nuwe lewe in gees);
- Opheffing (Hierdie wesens weet van God se geestelike opheffingswerk vir almal wat swak is in vlees).
Hier is ‘n paar tekste uit die Skrifte wat ons help om die geestelike implikasies van die genoemde eienskappe te verstaan, vir ons lering, en persoonlike toepassing (Onthou God se gees leer ons om geestelike dinge met geestelike dinge te vergelyk en saam te voeg – ons vergelyk Skrif met Skrif – 1Kor 2:13; Joh 6:63):
Mar 9:41 Want elkeen wat vir julle in my Naam ‘n beker water gee om te drink, omdat julle aan Christus behoort, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.
Rom 12:1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.
Rom 12:10-13 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; 11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; 12 verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. 13 Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid.
Heb 10:24-25 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
Opsomming:
Die vier evangelies in die Nuwe Testament openbaar dieselfde eienskappe in Jesus Christus wat ons leer uit die vier wesens en hul aangesigte van ‘n leeu, die bees, die mens, en die arend.
- Jesus verskyn eerste in die Evangelie van Matthéüs as die koning uit die stam van Juda – die Bewerker van wonders en tekens voor die oë van mense, soos deur die Vader bepaal. In die Afrikaanse vertaling van die Bybel, kom die woord “koning” 21 keer voor in die boek van Mattheus – die meeste van enige boek van die Nuwe Testament.
Mat 2:1-6 En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom 2 en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. 3 En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; 4 en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. 5 En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: 6 En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.
Mat 21:5 Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ‘n esel, ja, ‘n jong esel, die vul van ‘n pakdier.
Mat 27:11 En Jesus het voor die goewerneur gestaan, en die goewerneur het Hom die vraag gestel en gesê: Is U die Koning van die Jode? En Jesus antwoord hom: U sê dit.
Mat 27:29 en hulle vleg ‘n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en ‘n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode!
Mat 27:37 En bokant sy hoof het hulle sy beskuldiging in skrif opgestel: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE.
Mat 27:42 Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo.
Mat 28:18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
- Jesus verskyn in die Evangelie van Markus as die gefokusde en hardwerkende dienskneg van God, wat deur die simboliek van die bul/os verteenwoordig word.
Mar 1:14-15 En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig 15 en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.
In die Ou Afrikaanse Vertaling kom die woord “dadelik” 42 keer voor in die boek van Markus, teenoor 18 keer in Mattheus, 8 keer in Lukas, en 7 keer in Johannes. Hier is ‘n paar verse in Markus waar “dadelik” aan Jesus gekoppel word om te wys hoe besig Hy was en geen tyd verspeel het nie.
Mar 1:21 En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer.
Mar 2:8 En Jesus het dadelik in sy gees geweet dat hulle by hulleself so redeneer, en Hy sê vir hulle: Wat redeneer julle oor hierdie dinge in jul harte?
Mar 5:36 Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.
Mar 6:45-46 En dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur. 46 En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid.
- In die Lukas-evangelie word Jesus as die Seun van die mens uitgewys, byvoorbeeld deur die breedvoerige lys van Sy natuurlike afstammelinge in Lukas 3. Jesus het Homself totaal geassosieer met menswees, deur self in vlees soos ons s’n te kom en deur alle versoekings wat ons ervaar te gaan, staande te bly en te oorwin!
2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Heb 4:14-15 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. 15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
Luk 9:58 Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.
Luk 9:22 En Hy sê: Die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan.
Luk 6:22 Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens.
- En in die Evangelie van Johannes is Jesus die arend. Johannes begin nie sy boek met Jesus se geboorte op aarde nie (soos by die ander evangelies nie), maar Johannes begin direk by Jesus se hemelse aanstelling en visie. Johannes stel Jesus as die geestelike Woord van God bekend aan sy lesers. Jesus word ook as die God van hierdie skepping voorgestel deur Johannes – Hy is die “EK IS”. Jesus heers oor alles en sal almal in Adam red en verlos uit hierdie tydelike lewe. Alles is uit Hom, en deur Hom en tot Hom, soos deur die Vader bepaal.
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Joh 8:58 Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.
Joh 10:11 Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
Joh 11:25-27 Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; 26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? 27 Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.
Hierdie wesens wie Esegiël en Johannes gesien het, is ‘n geestelike afbeelding van Jesus Christus en ook van elkeen wie Hom volg, soos ons in ons volgende studies sal sien, soos God wil.
1Jn 3:1-3 Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. 2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. 3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.