Die ‘vier lewende wesens’ – die ‘gérubs’ van God (Deel 2)

In die Inleiding tot hierdie studiereeks was die doel vir die gebruik van beeldspraak in die Skrifte beklemtoon. Kyk wat sê Jesus waarom Hy gelykenisse gebruik:

Mat 13:10-14  En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle [die menigtes wat Jesus volg] deur gelykenisse?  11  Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.  12  Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.  13  Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.  14  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Volgens Jesus word gelykenisse (beeldspraak) gebruik om twee groepe te skei van mekaar. Jesus sê dat albei groepe gebruik Sy woorde en noem hulle volgens Sy Naam (Christus – Christen), maar daar is ‘n groot verskil tussen die twee groepe. Jesus gebruik die voornaamwoord “hulle” as Hy verwys na die een groep wat nie die geestelike verborgenhede van God kan sien of hoor nie. Dan noem Hy die ander groep “julle” wat wel God se geestelike dinge kan sien en hoor. Die Skrifte sê ook dat God geestelike blindheid bring oor mense wie Hy nie in hierdie lewe uitverkies het om Sy waarhede te aanvaar nie:

Joh 12:36-40  So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word. Dit het Jesus gespreek, en Hy het weggegaan en Hom vir hulle verberg.  37  En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie;  38  sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar?  39  Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het:  40  Hy [God] het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Daar staan dit oop en bloot, en tog wil mense nie eens die moeite doen om die woorde noukeurig te lees nie. Kom ons herhaal die woorde, en let op die woorde “DAAROM” en “SODAT” om te bewys dat God hierdie geestelike blindheid by mense bring vir ‘n doel…

Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het:  Hy [God] het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

God verblind die “menigtes” (die “hulle” / die “baie”) wat Hom volg vir aardse dinge. Dit is dan juis daardie fokus op die tydelike aardse dinge wat Hy gebruik om hulle van Sy dieper geestelike waarhede weg te hou. Hulle sal wel later die waarhede van God kan aanvaar, maar God is nou eers besig om ‘n klein groepie (die “julle” / die “min”) voor te bring vir baie belangrike take wat nog voorlê. Hierdie groepie mense wie God se waarhede deur Christus kan ontvang, is inderdaad baie MIN in getal teenoor die “baie” wat hulself ook as Christen klassifiseer en “baie” mense lok na hul byeenkomste en sodoende “baie” mense mislei. Oral waar mens die “baie” sien moet jy mooi luister na wat gesê word onder Jesus se Naam!

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Mat 24:5  Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.

As ons kan hoor wat God aan ons sê deur Sy gees, dan sal Sy Woord vir ons oopgaan en ons is deel van Sy gemeente (kerk) hier op aarde in hierdie eeu. Die volgende sin kom sewe keer voor in die boek van Openbaring vir hulle wie deel is van die “min”…

Open 2:7  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê…

Open 2:11  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Open 2:17  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Open 2:29  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Open 3:6  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Open 3:13  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Open 3:22  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Daar is dus ‘n “ons” waarmee God se kinders kan assosieer – dit is die klein groepie mense wat uitgekies is deur die Vader en wie nie skaam is om, soos Paulus, hulself as deel van die “ons” te sien nie:

1Kor 2:11-13  Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.  12  Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.  13  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Dieselfde Woord van God bring inderdaad ‘n skeiding, net soos die Wolkkolom (die Engel van God = Jesus Christus) skeiding gebring het tussen die Egiptenare (verteenwoordigend van die menigtes in die wêreldstelsel en sy valse kerke) en die Israeliete (verteenwoordigend van die kinders van God in Christus).

Eks 14:19-20  En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;  20  so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.

Die kinders van God in Jesus Christus het Hy uitgebring uit die slawerny van vlees en die sondige wêreld – hulle is inderdaad die ware Israel van God (Gal 6:16):

Efes 1:3-9  Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,  4  soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,  5  deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,  6  tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.  7  In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,  8  wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand,  9  deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het,

Ons beleef dus albei groepe – ons is eers deel van die “baie” voor ons uitkom uit die “baie” om deel te word van die “min”. Ons is eers in die duisternis voordat God Sy Lig na ons bring! Ons kan nie die lig verstaan en waardeer as ons nie eers die duisternis beleef nie! Dit is wat die volgende woorde ook aan ons wil sê…

Gen 1:1-5  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.  2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.  3  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.  4  Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;  5  en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Ons moet hierdie skeiding in ons eie lewe sien omdat ons beleef elke woord uit God se mond op ‘n baie persoonlike en intieme manier. 

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Ons ervaar dus die Woord van God op hierdie twee vlakke (eers die duisternis en daarna die lig).

Mat 4:16  die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan.

2Kor 4:6  Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.

Efes 5:8  Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig.

Die twee toepassings staan teenoor mekaar, soos die vleeslike dinge (die duisternis) teenoor die geestelike dinge van God (Die Lig) staan:

Gal 5:17  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Uit die Goddelike oogpunt is die vleeslike interpretasie van die Skrifte die negatiewe toepassing van God se Woord. Daarteenoor staan die waarheid as die positiewe toepassing van die Woord. Ons het albei die negatiewe en die positiewe toepassings nodig om die “vloei” van God se gebruik van beeldspraak in die Skrifte te begryp. God gebruik albei om Sy doel met elkeen van ons te bereik!

Psa 139:12  dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.

Dan 2:22  Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.

As ons dus kyk na die uitleg van die simboliek van die vier aangesigte van die vier wesens wat die profeet Esegiël en die apostel Johannes vir ons neergestip het, dan is hierdie twee toepassings ook ter sprake. In Deel 1 van hierdie studiereeks was die fokus op die positiewe toepassing van die aangesigte wat deur die vier wesens vertoon was, naamlik die aangesig van ‘n mens, die aangesig van ‘n leeu, die aangesig van ‘n bees (kalf/bul/os), en die aangesig van ‘n arend. Ons twee hoofgetuies wat ons gebruik in ons studie oor hierdie vier wesens en hul aangesigte, is die profeet Esegiël en die apostel Johannes.

Eerstens Esegiël:

Eseg 1:1-6  In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien.  2  Op die vyfde van die maand—dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin—  3  het die woord van die HERE uitdruklik gekom tot Esegiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die HERE was daar op hom.  4  Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter.  5  En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dit was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ‘n mens gehad;  6  en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke.

Eseg 1:10  En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van ‘n mens; en al vier het die gesig van ‘n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van ‘n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van ‘n arend gehad.

Tweedens Johannes:

Open 1:9  Ek, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus.

Open 4:1  Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.

Open 4:6-7  en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter.  7  En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg.

Ons sal net kortliks kyk na die negatiewe toepassing wat in die Skrifte aan ons voorgehou word oor hierdie vier aangesigte, naamlik

  • die negatiewe toepassing van die aangesig van die leeu;
  • die negatiewe toepassing van die aangesig van die bees (kalf/bul/os);
  • die negatiewe toepassing van die aangesig van die mens; en
  • die negatiewe toepassing van die aangesig van die arend.

Die negatiewe toepassing van die simboliek van die leeu, volgens die Skrifte

Hier is hoe die Skrifte die leeu-simboliek hanteer om die negatiewe toepassing uit te wys:

1Pe 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Spr 28:15  ‘n Leeu wat brom, en ‘n beer wat hongerig is, so is ‘n goddelose wat oor ‘n arm volk heers.

Spr 19:12  Die grimmigheid van ‘n koning is soos die gebrom van ‘n jong leeu, maar sy welgevalle is soos dou op die plante.

Spr 20:2  Die dreiging van die koning is soos die gebrom van ‘n jong leeu; wie hom vertoorn, verbeur sy lewe.

Uit die Skrifte leer ons hoe ons die negatiewe simboliek van die leeu moet hanteer, en die volgende eienskappe word hier uitgewys:

  • Die brul van die leeu verlam sy prooi tot ‘n mate. Die wêreld volg die duiwel wat hulle verlei met allerhande lokmiddels en begeerlikhede, wat uiteindelik lei tot verwoesting en dood. Hierdie slang, naamlik Satan, eet stof (Gen 3:14) en hierdie stof wat hy eet is die mens en sy onuitputlike aardse drange en begeertes;
  • Ons vlees word maklik beinvloed deur boosheid;
  • Mense word maklik beïndruk deur mag en weelde;
  • Ons vlees is vol haat en in sy onvolwassenheid wil ons alle teenstanders uitwis en mense te na kom om onsself tevrede te stel.

Hier is die Skrifte wat hierdie negatiewe eienskappe aan ons bekragtig, en wat ons op ons persoonlik moet toepas oor hierdie negatiewe simboliek van die leeu:

Gen 3:14  Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.

Gen 3:19  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Joh 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Jak 1:14-15  Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.  15  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Gal 5:14-15  Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  15  Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.

Mat 5:38  Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand.

Die negatiewe toepassing van die simboliek van die bees (kalf/bul/os), volgens die Skrifte

Hier is hoe die Skrifte die bees-simboliek hanteer om die negatiewe toepassing uit te wys:

Job 40:10  Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos ‘n bees.

Psa 106:19-21  Hulle het by Horeb ‘n kalf gemaak en gebuig voor ‘n gegote beeld.  20  En hulle het hul Heerlikheid verruil vir die afbeelding van ‘n bees wat gras eet.  21  Hulle het God vergeet, hulle Verlosser, wat groot dinge gedoen het in Egipte.

Spr 7:21-23  Sy [die ontugtige vreemde vrou / valse kerke], het hom verlei deur haar baie mooipraatjies, deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok.  22  Hy loop skielik agter haar aan soos ‘n bees wat na die slagpaal gaan, en soos voetboeie wat dien tot tugtiging van die sot,  23  totdat die pyl sy lewer splits; soos ‘n voël haastig na die vangnet vlieg—sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is.

Uit die getuies van die Skrifte leer ons hoe ons die negatiewe simboliek van die bees (kalf/bul/os) in ons eie lewe:

  • Ons vlees is tydelik en sal nie vir ewig met ons wees nie – dit is onmoontlik vir die vlees om te aanvaar;
  • Die beste dinge en prestasies wat die vlees mee spog, is alles nietig;
  • Die vlees sal altyd onvervuld wees en sal ook so vernietig word in sy onvolmaaktheid;
  • Die valse leerstellings wat die vlees van hou, trek ons na die valse leiers. So word ons in geestelike gevangenisse gehou in geestelike blindheid totdat God aan ons Sy waarhede openbaar!
  • Die vlees is ongeduldig en geestelik onvolwasse – die vlees aanbid graag sy eie handewerk.

Hier is die Skrifte wat hierdie negatiewe eienskappe van die bees (kalf/bul/os) op ons persoonlik toepas:

1Pe 1:24  Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af.

Pred 3:18-19  Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee [Hebreeus: “behêmâh” = bees / dier] is. 19  Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ‘n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.

Jes 4:1  En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg.

2Th 2:1-4  Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom,  2  om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is.  3  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf  4  die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Die negatiewe toepassing van die simboliek van die mens, volgens die Skrifte

Hier is hoe die Skrifte die mens-simboliek hanteer om die negatiewe toepassing uit te wys:

Rom 8:20  Want die skepping [die mens ingesluit] is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

2Th 2:3  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.

Gen 6:5  Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Open 13:18  Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

Uit die getuies van die Skrifte leer ons hoe ons die negatiewe simboliek van die mens:

  • Die mens is geskep in sonde en is aan nietigheid onderworpe gemaak deur God;
  • Die mens se denke (sy versinsels van sy hart) is van begin tot einde boos en verdorwe;
  • Die mens se hart is bedrieglik bo alles;
  • Die mens is die teenstander van God wat op God se troon sit en homself as god sien;
  • Mense is verlief op hulself en hul eie oortuigings, en dan wil ons ook relevant klink en ons gee persoonlike opinies groot waarde, veral oor dinge soos die politiek, die ekonomie, en gesondheid en die algemene gang van die wêreld se weë;
  • Die slang eet stof (Gen 3:14) en daardie stof is die mens en die mens se onuitputlike aardse drange en begeertes (Gen 2:7; Gen 3:19);
  • Mense smag na erkenning.

Hier is die Skrifte wat hierdie eienskappe van die mens op ons persoonlik toepas:

Psa 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

1Kor 6:15-20  Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ‘n hoer maak? Nee, stellig nie!  16  Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees.  17  Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.  18  Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam.  19  Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?  20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

1Ti 1:15  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.

Die negatiewe toepassing van die simboliek van die arend, volgens die Skrifte

Hier is hoe die Skrifte die arend-simboliek hanteer om die negatiewe toepassing uit te wys:

Jer 49:16  Jou vreeslikheid het jou bedrieg, die vermetelheid van jou hart, o jy wat woon in die rotsklowe, jy wat die top van die heuwel in besit hou! Al maak jy jou nes so hoog soos die arend [Hebreeus: “nesher”]—daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE.

Lev 11:13  En die volgende moet julle van die voëls vir ‘n gruwel hou hulle mag nie geëet word nie, ‘n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël [Hebreeus: “nesher” = arend].

Mat 24:28  Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls [Grieks: “aetos” = arend] saamkom.

Luk 17:37  En hulle antwoord en sê vir Hom: Waar, Here? En Hy sê vir hulle: Waar die liggaam lê, daar sal die aasvoëls [Grieks: “aetos” = arend] saamkom.

Uit hierdie getuies van die Skrifte leer ons hoe ons die negatiewe toeassing van die simboliek van die arend moet hanteer:

  • Ons trots en selfopheffing verblind ons om selfs teen God te rebelleer, tot ons eie nadeel;
  • Ons natuurlike harte (denke) is gevul met valshede en ons teer op diegene wat nog swak is in die geloof;
  • Ons hou mense in onkunde en ons hou daarvan as hulle ons ophef;
  • Ons vleeslike dieet van aardshede (ons trots en welluste) vergiftig ons geestelik en lei tot ons eie ondergang.

Hier is ‘n paar tekste wat ons help om ons negatiewe arend in ons eie lewe uit te wys, soos God wil:

Jes 30:9-13  Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie;  10  wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry;  11  wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!  12  Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun,  13  daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ‘n los stuk wat wil val, wat oorhang in ‘n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom.

2Th 2:3-4  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf  4  die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

2Kor 1:24  nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas.

Opsomming:

Ons leef van elke woord uit God se mond, en ook alle toepassings van daardie woord – die negatiewe en die positiewe toepassings:

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Dit gaan egter nie oor die semantiek van die woorde nie, maar oor die geestelike inhoud en betekenis in daardie woorde:

2Kor 3:5-6  Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God,  6  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Vir diegene wat dit kan ontvang, is die gees van God in Sy Woord (Joh 6:63), en daardie gees maak ons bekwaam om geestelike dinge met geestelike te vergelyk (Skrif met Skrif). Daardeur kan ons die dieper geestelike waardes en betekenisse van elke woord van God ken, omdat ons dit beleef:

Jes 28:9-10  Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?  10  Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.

1Kor 2:13  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

2Kor 13:1  Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.

Psa 119:160  (AOV) Die hele inhoud van u woord is waarheid…[Psa 119:160 (ASV) The sum of thy word is truth…]

Ons word ernstig gemaan om nie buite die veilige raamwerk van die Skrifte te soek vir die uitleg van die Skrifte nie. Enigeen wat buite hierdie raamwerk gaan, is “opgeblase” – dit is om vol van jou eie insigte te wees. Ons moet nie ons eie denke en oortuigings oor die Skrifte volg nie, maar ons in nederigheid tot God se Woord wend om ons te leer. 

1Kor 4:6  Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

As ons weet dat die stryd binne-in ons plaasvind op ‘n geestelike vlak (24 uur ‘n dag), dan het ons nie tyd en krag om ons te “wikkel… in die werksaamhede van die lewensonderhoud” van die wêreld en sy magsvertoon en politiek nie…

Efes 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

2Ti 2:4  Niemand wat ‘n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.

In Deel 3 kyk ons na meer detail van hierdie vier lewende wesens vir ons eie lering oor hoe dit op ons persoonlik van toepassing is, soos God wil.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.