In hierdie studiereeks is die fokus op die vier wesens wat onder meer aan die profeet Esegiël en die apostel Johannes gewys was in ‘n gesig (‘n visioen) van God:
Eseg 1:1-6 In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien. 2 Op die vyfde van die maand—dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin— 3 het die woord van die HERE uitdruklik gekom tot Esegiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die HERE was daar op hom. 4 Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter. 5 En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dit was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ‘n mens gehad; 6 en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke.
Eseg 1:10 En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van ‘n mens; en al vier het die gesig van ‘n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van ‘n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van ‘n arend gehad.
Open 4:6-7 en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. 7 En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg.
In die Inleiding van hierdie studiereeks oor hierdie vier wesens was die gebruik van beeldspraak in die Skrifte aangeraak omdat die visioene wat Esegiël en Johannes gekry het, gevul is met ryk beeldspraak. Ons kry die uitleg van die beeldspraak net in die “hele inhoud” van die Skrifte, “gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie”. God gebruik die Skrifte om Sy geestelike dinge aan ons uit te klaar, en word vermaan deur die Skrifte self om ver weg te bly van “menslike wysheid” (Jes 28:9-13; Spr 1:5-7; Psa 25:12-14; 1Kor 2:9-10).
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid…
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
In Deel 1 van hierdie studiereeks was die positiewe toepassings ten opsigte van die geestelike betekenis van die beeldspraak wat gebruik word om hierdie vier aangesigte van die vier wesens te beskryf, van nader beskou. Die vier aangesigte was die van…
- ‘n leeu,
- ‘n bees /kalf/bul/os,
- ‘n mens, en
- ‘n arend).
In Deel 2 was die negatiewe geestelike aspekte met betrekking tot die beeldspraak wat gebruik is om die vier aangesigte te beskryf, ook kortliks aangeraak. Ons beleef nie net die postiewe dinge van die Skrifte nie, maar ons beleef ook inderdaad die negatiewe aspekte van die Woord van God. God se Woord het die goed en die kwaad geskep, en albei is onder Sy totale beheer om Sy doeleindes te bereik:
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
In Deel 3 was die konsep van ‘n gérub van nader beskou, soos Esegiël die simboliek van die vier wesens met die simboliek van die gérub saambring:
Eseg 10:14-15 En elkeen het vier aangesigte gehad: die eerste aangesig was die aangesig van ‘n gérub en die tweede aangesig die aangesig van ‘n mens en die derde die aangesig van ‘n leeu en die vierde die aangesig van ‘n arend. 15 En die gérubs het opgestyg. Dit was die wese wat ek by die Kebarrivier gesien het.
In Deel 4 het ons die simboliek van die gérub verder ondersoek deur te kyk na hoe die konsep van gérubs gebruik was die eerste keer in die Skrfte, en wel in Genesis 3:
Gen 3:22-24 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! 23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. 24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.
Uit hierdie beskrywing van die gérubs in Genesis 3 is dit ook duidelik hoe God baie intiem met hierdie gérubs werksaam is deur Sy Woord, die swaard wat vlam en flikker. Hierdie gerubs “bewaak” die toegang tot die boom van lewe. Wat dit vir ons uitwys is dat hierdie gérubs ‘n geestelike verwysing is na hulle wie die Woord van God (Jesus Christus) as die Boom van die Lewe ervaar, en hulle weet dat vlees en bloed (die eerste Adam van vlees) nooit ‘n ewige plek in God se geestelike koninkryk kan hê nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Hierdie geestelike intimiteit tussen die gérub en God en Sy Woord, word as “wiele” gesimboliseer in die beskrywing van die vier wesens wat Esegiël gesien het. Hoe verduidelik mens die volgende in enige menslike taal?
Eseg 10:10-15 En aangaande hulle voorkoms, al vier het dieselfde voorkoms gehad, asof daar ‘n wiel binne-in ‘n wiel was: 11 as hulle gaan, het hulle na al vier kante gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie; maar daar waar die voorste heen draai, het hulle agter hom aan gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie. 12 En hulle hele liggaam en hulle rugge en hulle hande en hulle vlerke en die wiele was vol oë rondom, aan al die vier wiele van hulle. 13 Aangaande die wiele, hulle is voor my ore die ratwerk genoem. 14 En elkeen het vier aangesigte gehad: die eerste aangesig was die aangesig van ‘n gérub en die tweede aangesig die aangesig van ‘n mens en die derde die aangesig van ‘n leeu en die vierde die aangesig van ‘n arend. 15 En die gérubs het opgestyg. Dit was die wese wat ek by die Kebarrivier gesien het.
God se gees is IN die gérub en die gérub kan net doen soos die gees van God bepaal.
Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
Dit is wat hierdie gerubs (die vier wesens) kan sien in hul eie lewe, en in die hele skepping van God! Die simboliek van die “oë” wys uit dat hierdie gérubs insigte het in God se Woord en Sy handswyse in hierdie skepping. Die handelswyse van God is onbegryplik vir die gewone mens se beperkte insigte en intelligensie.
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Die gérubs op die versoendeksel van die ou verbondsark
In hierdie deel van ons studiereeks gaan ons kyk na die gérubs wat op die versoendeksel van die ou verbondsark aangebring was, en wat dit vir ons geestelik beteken, soos God wil. Ons kry hierdie uitbeelding van die gérubs in die boek van Eksodus. In Eksodus 25 kry ons pragtige detail oor die afbeeldings van twee gérubs wat op die versoendeksel van die verbondsark aangebring was:
Eks 25:18-22 Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk [met hammer oordek met goud] moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel. 19 En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente. 20 En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees. 22 En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel.
Num 7:89 En as Moses in die tent van samekoms gegaan het om met Hom [God] te spreek, het hy die stem met hom hoor spreek van die versoendeksel af wat op die ark van die Getuienis is, tussen die twee gérubs uit. So het Hy dan met hom gespreek.
Hier kom belangrike dinge voor wat ons meer van die rol en funksie van gérubs vertel, soos God wil. Kom ons lys dit kortliks:
- Ons moet eerstens onthou dat die verbondsark geplaas was in die allerheilige deel van die tabernakel/tempel. Hierdie afbeelding van die gérubs was dus te vind in die allerheiligste deel van die tempel van God;
- Die afbeeldings was een stuk met die versoendeksel van die verbondsark en hulle moes afkyk na die versoendeksel;
- Daar moes twee afbeeldings van gérubs op die versoendeksel wees;
- Die afbeelding was met goud oorgetrek wat oor dit gehammer was;
- Die twee afbeeldings van die gérubs moes met hul gesigte na mekaar gedraai wees.
Die allerheiligste deel van die tempel van God:
Nie enigeen kon in hierdie allerheilige deel van die tabernakel of tempel gaan nie. Soos ons sien was Moses toegelaat in die allerheilige deel in die tent-tabernakel in die woestyn, en ook was die hoëpriester een keer ‘n jaar op die Dag van Versoening toegelaat om daarin te gaan (Aaron in die woestyn-tabernakel en daarna die hoëpriesters wat hom opgevolg het, ook in die tempel in Jerusalem):
Heb 9:6-7 En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die eerste tabernakel [die heilige deel van die tabernakel of tempel] ingegaan om die dienste te vervul, 7 maar in die tweede [die allerheilige deel] die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan—
Ons weet dat Moses ‘n geestelike tipe van Jesus was, en Moses se toegang tot die allerheilige deel was om ons te wys dat net Jesus geestelike toegang het tot die Vader. God is gees en net Jesus het tans die reg om in geestelike volmaaktheid met die Vader te verkeer en te kommunikeer:
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
1Ti 6:15-16 [Jesus] wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, 16 wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.
Niemand kan ook tot die Vader kom sonder Jesus se bemiddeling:
Joh 14:1-14 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. 5 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. 8 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. 9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. 11 Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. 12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. 13 En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. 14 As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
Jesus is dan ook die geestelike vervulling van die werk wat die tydelike aardse hoëpriesters in die aardse tabernakel / tempel moes doen.
Heb 4:14-15 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. 15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
Jesus se dood het die opening gemaak dat Sy kinders nou met vrymoedigheid in hierdie hemelse heiligheid kan inbeweeg om die Vader in gees te leer ken, maar net deur Jesus:
Mat 27:50-51 Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee. 51 En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;
Heb 4:16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Heb 10:19-22 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, 22 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.
Hierdie gérubs is dus simbole van God se uitverkorenes wat nou toegang geniet om deur Jesus met die Vader in gees te kommunikeer!
Joh 14:15-23 As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 22 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Hierdie kommunikasie is tans nie in geestelike volmaaktheid nie, maar ons groei in gees want ons weet dat hierdie proses gaan voltooi word wanneer ons finaal totale verlossing van alle aardsgebondenhede sal geniet:
Efes 1:11-14 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, 12 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, 13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.
Die gérubs van God is hulle wat weet dat hulle die tempel van God is, en dat Hy in hulle woon deur Sy Woord (Sy Woord is gees en lewe – Joh 6:63):
1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
Hierdie uitverkorenes van God word toegang gegee deur Jesus om God se geestelike verborgenhede te ken:
1Kor 2:9-13 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. 11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. 12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Die gérubs was een met die versoendeksel van die verbondsark:
Die afbeeldings van die gérubs van God wat in die tabernakel / tempel op die verdoendeksel van die verbondsark was, was uit een stuk hout gemaak met die van die versoendeksel. Die gérubs is dus intiem verbind tot versoening. Die kinders van God is geroep om God se versoeningswerk in Christus voort te sit.
2Kor 5:16-20 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 18 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, 19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. 20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
Weereens sien ons hoe die gérubs (die vier lewende wesens) ‘n uitbeelding was van die gesante van Christus, wat in Christus hulself geestelik versoen met die Vader. Die aangesigte van die gérubs moes altyd gerig wees op die versoendeksel van die verbondsark en dit is hoe die kinders van God altyd bewus bly van hul heilige roeping:
2Ti 1:8-10 Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God 9 wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is, 10 maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie.
God se gérubs oordink die Woord dag en nag:
Psa 1:1-3 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 3 En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.
Daar moes twee afbeeldings van gérubs op die versoendeksel wees:
Dat daar twee gérubs op die versoendeksel aangebring was, is ook insiggewend. Ons weet dat die getal “twee” die geestelike konsep van getuienis uitdruk. God se werke is duidelik vir hulle wie daardie getuienis ontvang het, en hulle weet dat God alles bewerkstellig volgens die raad van Sy wil (Efes 1:11), ook in elke skepsel se lewe. Hierdie getuienis is nou openbaar aan hulle wat as God se diensknegte bekendstaan. God se kinders is getuies van Sy werke in hul eie lewe, soos die Vader dit ook dan aan hulle openbaar:
Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Die getuies van Christus (gérubs) is inderdaad ‘n geestelike wolk in wie God kragtig woon en werk. Dit is ook deur hierdie “wolk” wat God Homself aan die wêreld sal vertoon:
Heb 12:1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.
Open 10:1 En ek het ‘n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met ‘n wolk, en ‘n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur;
Open 14:14 En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit wolk en een soos ‘n Menseseun wat op die wolk sit, met ‘n goue kroon op sy hoof en in sy hand ‘n skerp sekel.
Mat 24:30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.
Open 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
God verskyn inderdaad in die wolk op die versoendeksel – waar die gérubs is:
Lev 16:1-2 En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het [net TWEE seuns het oorgebly]; 2 en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel.
Die afbeeldings van die gérubs was met goud oortrek wat met “dryfwerk” daaroor aangebring was:
Die afbeeldings van die gérubs was oortrek met goud omdat goud die kosbaarste metaal is. God se geestelike goud is Sy Woord – die hoogste en waardevolste besitting wat God aan ons skenk. Hulle wat God ken, ken Sy Woord. Alles word deur die Woord bepaal en beheer:
Psa 139:17 Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!
Psa 19:8-11 Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. 9 Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. 10 Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig. 11 Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop.
Die goud was met “dryfwerk” oor die afbeeldings van die gerubs aangebring. “Dryfwerk” is nie ‘n maklike proses nie. God se Woord en Sy waarhede (goud, silwer en kosbare stene) word met groot pyn in ons lewe gevestig want die valshede (hout, hooi en stoppels) moet uitgebrand word. So stel Paulus hierdie “dryfwerk” van God:
1Kor 3:10-16 Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. 16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
God se vurige oordeel red ons en bring ons tot Sy geestelike gestalte:
Heb 12:5-7 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Die kinders van God, Sy getuies in Jesus Christus, is inderdaad deel van God se tempel. Hulle word nou gemeet (geoordeel) om in te pas in die tempel van God, sodat elkeen sal weet watter werk hy of sy moet doen tot God se eer en vir Sy doeleindes:
Open 11:1-12 En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. 2 Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap. 3 En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer. 4 Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan. 5 En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. 6 Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil. 7 En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; 8 en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is. 9 En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en ‘n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie. 10 Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het. 11 En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het. 12 En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou.
Die oordeel van God berei ons voor vir dienswerk, om as regters oor die wêreld en die engele op te tree:
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
Die twee afbeeldings van die gérubs moes met hul aangesigte na mekaar gedraai wees:
Die afbeeldings van die twee gérubs op die versoendeksel van die verbondsark moes na mekaar gedraai wees. Dit wil vir ons uitbeeld hoe die werkers van God mekaar ondersteun. Deur die werking van God se gees in hulle, rus die kinders van God mekaar toe vir hul dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus. Elkeen se bydra tot die liggaam van Christus is van onskatbare waarde.
Rom 12:1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.
Ons aanbid en dien God deur ons diens aan Sy liggaam:
Mat 25:31-40 En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; 32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; 33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. 34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. 35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; 36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. 37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? 38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? 39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? 40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.
God het van Hom laat hoor alleenlik van tussen hierdie twee gerubs toe Hy met Moses wou praat! Ons kan God hoor praat deur Sy Woord deur die geestelike bedieninge en toerusting van Sy gérubs, en dit is wat Paulus ook hier vir ons wil sê:
Efes 4:11-16 En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, 12 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, 13 totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; 15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, 16 uit wie die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.
Ons moet “op mekaar ag gee” deur mekaar “tot liefde en goeie werke aan te spoor”:
Heb 10:24-25 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
In deel 6 kyk ons verder na die simboliek van die vier lewende wesens, die gérubs van God, soos God wil.