Die ‘vier lewende wesens’ – die ‘gérubs’ van God (Deel 6)

Die profeet Esegiël het ‘n gesig (‘n visioen) van God gekry van vier wesens wat groot geestelike betekenis het vir elkeen wat God se Woord persoonlik en intiem ervaar:

Eseg 1:1-6  In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien.  2  Op die vyfde van die maand—dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin—  3  het die woord van die HERE uitdruklik gekom tot Eségiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die HERE was daar op hom.  4  Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter.  5  En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dit was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ‘n mens gehad;  6  en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke…

Die apostel Johannes het ‘n soortgelyke visioen ontvang, met ‘n paar bykomende besonderhede…

Open 4:1-8  Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.  2  En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon.  3  En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag.  4  En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.  5  En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand;  6  en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter.  7  En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg.  8  En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!

In die Inleiding van hierdie studiereeks oor hierdie vier wesens en hul geestelike betekenis, was die gebruik van beeldspraak in die Skrifte kortliks bespreek omdat hierdie visioene (wat Esegiël en Johannes gekry het) gevul is met ryk beeldspraak wat net deur die Skrifte self aan ons uitgeklaar word. Ons word gemaan om nie buite die veilige raamwerk van die Skrifte te dink of te soek vir geestelike betekenis nie:

1Kor 4:6  Hierdie dinge, broeders, het ek [Paulus] op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

In Deel 1 van hierdie studiereeks was die positiewe toepassings van die beeldspraak wat gebruik word om hierdie vier aangesigte van die vier wesens te beskryf, van nader beskou, naamlik die aangesigte van…

  • die leeu,
  • die bees /kalf/bul/os,
  • die mens, en
  • die arend).

In Deel 2 was die negatiewe geestelike aspekte van hierdie vier aangesigte aangeraak. Die positiewe en negatiewe aspekte wat in die Woord voorkom, is alles deel van ons totale belewenis hier op aarde – ons lewe inderdaad van elke woord uit God se mond:

Mat 4:4  Maar Hy [Jesus] antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Ons almal word individueel deur ‘n innerlike proses geneem om die donker en lig te ervaar en so word ons geleer om dit van mekaar te skei, net soos die skepping deur hierdie proses geneem word:

Gen 1:2-4  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.  3  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.  4  Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis.

Ons beleef die duisternis (negatiewe aspekte van die Woord) en die lig (positiewe aspekte van die Woord) en sodoende beweeg ons na geestelike volwassenheid:

Heb 5:14  Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

In Deel 3 van hierdie studiereeks was die konsep van ‘n gérub van nader beskou, soos Esegiël die simboliek van die vier wesens met die simboliek van die gérub saambring. Die vier wesens is gérubs!

Eseg 10:14-15  En elkeen het vier aangesigte gehad: die eerste aangesig was die aangesig van ‘n gérub en die tweede aangesig die aangesig van ‘n mens en die derde die aangesig van ‘n leeu en die vierde die aangesig van ‘n arend.  15  En die gérubs het opgestyg. Dit was die wese wat ek by die Kebarrivier gesien het.

Hierdie intieme geestelike verbintenis tussen die vier wesens en die gérubs van God was verder versterk met die geestelike betekenis van die simboliek van die “wiele” en die “oe” (in die “wiele”), wat in Deel 4 bespreek was:

Eseg 1:15-21  Ek het toe die wesens nader bekyk: daar was een wiel op die grond langs die wesens aan elkeen van die vier voorkante.  16  Die voorkoms van die wiele en hulle maaksel was soos dié van ‘n chrisoliet; en al vier het dieselfde vorm gehad; daarby was hulle voorkoms en hulle maaksel asof daar ‘n wiel binne-in ‘n wiel was.  17  Na al vier kante het hulle gegaan as hulle gaan: hulle het nie gedraai as hulle gaan nie.  18  En hulle vellings—dié was hoog en dié was wonderbaar; en hulle vellings was by al vier rondom vol oë.  19  En as die wesens gaan, gaan die wiele naasaan hulle; en as die wesens hulle van die grond af ophef, word die wiele opgehef.  20  Waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan in die rigting wat die gees wou gaan; en die wiele is gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wese was in die wiele.  21  As dié gaan, gaan hulle; en as dié bly staan, staan hulle; en as dié hulle van die grond af ophef, word die wiele gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wesens was in die wiele.

Eseg 10:10-15  En aangaande hulle voorkoms, al vier het dieselfde voorkoms gehad, asof daar ‘n wiel binne-in ‘n wiel was:  11  as hulle gaan, het hulle na al vier kante gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie; maar daar waar die voorste heen draai, het hulle agter hom aan gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie.  12  En hulle hele liggaam en hulle rugge en hulle hande en hulle vlerke en die wiele was vol oë rondom, aan al die vier wiele van hulle.  13  Aangaande die wiele, hulle is voor my ore die ratwerk genoem.  14  En elkeen het vier aangesigte gehad: die eerste aangesig was die aangesig van ‘n gérub en die tweede aangesig die aangesig van ‘n mens en die derde die aangesig van ‘n leeu en die vierde die aangesig van ‘n arend.  15  En die gérubs het opgestyg. Dit was die wese wat ek by die Kebarrivier gesien het.

In Deel 5 van ons studiereeks was die gérubs wat op die versoendeksel van die verbondsark aangebring was, van nader beskou en ons het kortliks gekyk wat dit vir ons geestelik en persoonlik beteken. 

Eks 25:18-22  Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel. 19  En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente. 20  En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees. 22  En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel.

Num 7:89  En as Moses in die tent van samekoms gegaan het om met Hom te spreek, het hy die stem met hom hoor spreek van die versoendeksel af wat op die ark van die Getuienis is, tussen die twee gérubs uit. So het Hy dan met hom gespreek.

In hierdie spesifieke deel (Deel 6) van hierdie studiereeks kyk ons kortliks na die afbeeldings van die gérubs in die borduurwerk van die tentdoeke van die tabernakel en sy ingange, soos beskryf in die boek van Eksodus. So verstaan ons ook die vier wesens wat Esegiël en Johannes gesien het, beter, soos God wil:

Eks 26:1 Jy moet ‘n tabernakel maak. Gebruik daarvoor tien stukke materiaal: goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof. Jy moet gérubs daarop laat uitborduur.

Eks 36:8  Die begaafde vakmanne het met die werk aan die tabernakel begin. Hulle het tien stukke materiaal van goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof gebruik en gérubs daarop uitgeborduur.

Eks 36:35-37  Hulle het ‘n voorhangsel gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Gérubs is daarop uitgeborduur. Hulle het toe, om die voorhangsel op te hang, vier doringhoutstyle gemaak en dit met goud oorgetrek. Daar was goue kramme aan die style, en hulle het ook vier silwervoetstukke daarvoor gegiet. Hulle het ‘n afskorting vir die deur van die tent gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was borduurwerk…

Eks 26:33  En jy moet die voorhangsel onder die hakies ophang; en bring die ark van die Getuienis daar, binnekant die voorhangsel. En die voorhangsel moet vir julle ‘n skeiding maak tussen die Heilige en die Allerheiligste.

Kom ons lys die aspekte wat ons uit die verse kry sodat ons hulle apart kan bespreek om ons geestelike insigte uit te brei, soos God wil:

  • Die tabernakel het bestaan uit tien tentdoeke waarop die gerubs gegraveer was (die getal “tien” is hier belangrik om van kennis te neem);
  • Fyn geweefde linnedraad moes gebruik word om die tien doeke van te maak;
  • Die tabernakel was in twee gedeel (die heilige deel en die allerheilige deel) en die twee dele was deur ‘n voorhangsel van mekaar geskei. Op hierdie voorhangel was die afbeeldings van gerubs aangebring;
  • Blou wolstof was gebruik in die weefproses;
  • Pers wolstof was gebruik in die weefproses;
  • Bloedrooi wolstof was gebruik in die weefproses.

Die tabernakel het bestaan uit tien tentdoeke waarop die gérubs gegraveer was (die getal “tien” is hier belangrik om van kennis te neem):

Eks 26:1 Jy moet ‘n tabernakel maak. Gebruik daarvoor tien stukke materiaal: goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur.

In ons studie oor die geestelike betekenis van getalle, het ons gesien hoe die getal “tien” die vlees voorstel. Behalwe Moses (wie Christus tipeer) kon net Aäron en sy seuns in die tabernakel ingaan. Aäron en sy seuns was uit die stam van Levi, soos Moses, maar hulle was alleen as priesters afgesonder deur God vir spesiale dienswerk. Die algemene Leviete se toegang en beweging was beperk tot die voorhof van die tabernakel en die werk wat daar gedoen moet word. Net die priesters (Aäron en sy seuns) kon die binnekant van die tabernakel daagliks betree en alles daarbinne sien en daar diens doen. Die tabernakel en sy tien tenkdoeke met die afbeedings van die gérubs is dus ‘n geestelike verwysing na Christus en Sy spesiale uitgesoekte groep mense wat die Vader in hierdie lewe aan Hom gee:

Joh 6:44  Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Hierdie groep mense word deur die Vader tydens hierdie aardse lewe in vlees uitgewys as Sy koninklike priesterdom in Christus.

1Pe 2:9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Hierdie groep mense is net so vleeslik soos ander mense, maar God het hulle uitgeroep volgens Sy meriete en hulle in hierdie lewe uitgewys as Sy spesiale eiendom vir wie Hy nou reeds toerus met Sy geestelike insigte wat hulle benodig vir hul dienswerk nou, maar veral in die komende geestelike eon.

1Kor 1:26-29  Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;  27  maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;  28  en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,  29  sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Hulle het ‘n spesiale taak wat God vir hulle voorberei het.

1Kor 6:2-3  Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?  3  Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?

Dit is hulle wie in hierdie lewe hul eie vleeslikheid afsterf en hul eie lewe aflê:

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Hierdie groep kan insien waarom ons vleeslike bestaan eerste is en net tydelik is, en dat die aflegging van die vlees en sy begeertes die toegang tot God se geestelike koninkryk oopmaak. Dit is wat Jesus aan Nikodémus oorgedra het:

Joh 3:1-6  En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode.  2  Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.  3  Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  4  Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?  5  Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.  6  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Ons word eers in water “gedoop”, dit wil sê ons moet eers in vlees kom en al die dinge van die vlees ervaar (goed en sleg), voordat ons deur die geestelike doop tot ‘n totale nuwe lewe geneem word deur Jesus. Die tweede doop is die geestelike doop wat kom deur die spesiale oordeelsproses van God. Johannes (die Doper) het ook die proses as volg uitgedruk:

Mat 3:11-12  Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.  12  Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.

Jesus het self in vlees gekom om aan ons hierdie pynlike proses te verduidelik deur self te sterf vir die vlees. Jesus se vlees was net soos ons s’n, en moes afgelê word deur die vurige oordeel van die Vader. Dit is ‘n baie pynlike proses en ons almal wat in hierdie lewe deur God se oordeel gaan, roep ook soos Jesus:

Mat 27:45-46  En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe;  46  en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Ons moet hierdie oordeel persoonlik ervaar, soos Jesus nou in ons woon om ons deur die proses te te help saam met hulle wie Hy aan ons gee om ons te ondersteun (die “onderlinge byeenkoms” is van groot waarde!!!):

Joh 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Heb 10:19-25  Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus  20  op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,  21  en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het,  22  laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.  23  Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;  24  en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;  25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Efes 4:16  uit wie die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

Efes 2:19-22  So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,  20  gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,  21  in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,  22  in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.

Vader werk in die gérubs met Sy vuur deur Jesus Christus – dit is deur die Woord wat in ons woon (Joh 14:20-23). Esegiël beskryf hierdie werking van Jesus as “die man wat met linne bekleed was” wat aktief betrokke is by die gérubs met Sy vuur (Sy Woord):

Eseg 10:6-7  En toe Hy aan die man wat met linne bekleed was, bevel gegee het deur te sê: Neem vuur tussen die ratwerk, tussen die gérubs uit, het hy ingegaan en langs die wiel gaan staan.  7  Toe steek die gérub sy hand uit, tussen die gérubs uit, na die vuur wat tussen die gérubs was; en hy neem daarvan en gee dit in die twee hande van hom wat met linne bekleed was; dié het dit geneem en uitgegaan.

God vestig Sy uitgesoekte volk met vuur. God bemagtig Sy volk met Sy Woord vir hul dienswerk, om ook later die res van die wêreld in te bring!

Jes 54:1-3  Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.  2  Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in.  3  Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk.

Fyn geweefde linnedraad moes gebruik word om die tien doeke van te maak:

Fyn linnedraad beeld uit ‘n baie intensiewe weefproses, soos kenners sal uitwys. Spesiale linne word geweef vir spesiale mense en spesiale tye:

1Kron 15:27  En Dawid het ‘n mantel van fyn linne aangehad, ook al die Leviete wat die ark gedra het, en die sangers en Kenánja, die owerste oor die voordrag van die sangers; en Dawid het ‘n linneskouerkleed aangehad.

Open 19:6-9  En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.  7  Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  8  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.  9  Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.

Hierdie gérubs van God word in hierdie lewe “gemeet” en gaan inderdaad deur God se vurige oordeel nou:

1Pe 4:12  Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;

1Pe 4:17  Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

2Ti 3:12-17 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Die tabernakel was in twee gedeel (die heilige deel en die allerheilige deel) deur ‘n voorhangsel waarop die gerubs ook gegraveer was:

Eks 36:35-37  Hulle het ‘n voorhangsel gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Gérubs is daarop uitgeborduur. Hulle het toe, om die voorhangsel op te hang, vier doringhoutstyle gemaak en dit met goud oorgetrek. Daar was goue kramme aan die style, en hulle het ook vier silwervoetstukke daarvoor gegiet. Hulle het ‘n afskorting vir die deur van die tent gemaak van goed geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was borduurwerk…

Eks 26:33  En jy moet die voorhangsel onder die hakies ophang; en bring die ark van die Getuienis daar, binnekant die voorhangsel. En die voorhangsel moet vir julle ‘n skeiding maak tussen die Heilige en die Allerheiligste.

Voorhangsels simboliseer toegang. Daar was drie plekke waar voorhangsels in die tabernakel gebruik was (Eks 40:3; Eks 40:5; Eks 40:8):

  • Die eerste voorhangsel was by die ingang met die vier pilare wat toegang gee tot die voorhof (bied toegang tot die algemene Leviete wat diens doen in die voorhof);
  • Die tweede voorhangsel was by die ingang met die vyf pilare wat toegang bied tot die tabernakel (toeganklik vir die priesters, Aäron en sy seuns);
  • Die derde voorhangsel was by die ingang met die vier pilare wat lei tot die allerheilige deel van die tabernakel (die hoëpriester kon hier ingaan een keer ‘n jaar tydens die dag van versoening).

Die ingange stel dus beperkings in plek wat die toegang beheer. Daar is ‘n heilige orde in God se werkswyse. Niemand kan hierdie ordes verander nie. Jesus was deur die Vader aangestel om in hierdie skepping op te tree as God, en deur Hom leef alle skepsels, en deur Hom alleen kom lewe:

Joh 1:1-4  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.  2  Hy was in die begin by God.  3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.  4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

Joh 14:1-7  Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.  2  In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.  3  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.  4  En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.  5  Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?  6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.  7  As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.

Jesus is die toegang tot die geestelike lewe van die Vader. Die voorhangsel is geskeur en toegang is nou daar vir hulle wat hul eie lewe verloor vir Christus:

Mat 27:50-53  Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee.  51  En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;  52  en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.  53  En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.

Heb 10:19-21  Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus  20  op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,  21  en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het,

Net hulle wie Sy stem kan hoor is in hierdie lewe deel van Sy kudde, maar die res kom later op die tyd soos die Vader alleen bepaal het:

Joh 10:1-16  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower.  2  Maar hy wat by die deur ingaan, is ‘n herder van die skape.  3  Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit.  4  En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.  5  Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.  6  Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie.  7  Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.  8  Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie.  9  Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.  10  Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.  11  Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.  12  Maar die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar.  13  En die huurling vlug, omdat hy ‘n huurling is en niks vir die skape omgee nie.  14  Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.  15  Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.  16  Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

Blou wolstof was gebruik in die weefproses – die kleur blou is belangrik:

Hier is die vers wat die gérubs met die kleur blou verbind:

Eks 26:1 Jy moet ‘n tabernakel maak. Gebruik daarvoor tien stukke materiaal: goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur.

In sy positiewe toepassing is die kleur blou ‘n geestelike verwysing na dit wat hemels is – die dinge wat die geestelike insigte van God uitwys. Die blou is nie maklik te kry in aardse natuurlike dinge nie – blou is definitief dinge wat verwyderd is van die aarde en vleeslikheid. 

Eks 24:10 Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was ‘n plaveisel soos saffiersteen [‘n tipe blou], so blou soos die hemel self.

Blou wys uit na God se almag en Sy heerskappy oor alles:

Eseg 10:1  Daarna het ek gekyk—en daar was op die uitspansel, oor die hoof van die gérubs, iets soos ‘n saffiersteen; iets wat soos die gestalte van ‘n troon gelyk het, het oor hulle sigbaar geword.

Die kleur blou is baie prominent in die koninklike kleding:

Est 8:15 Mordegai het van die koning af weggegaan in ‘n koninklike kleed van blou en wit linne, met ‘n groot goue kroon op, en ‘n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig.

Blou verbind dus baie goed met die gérubs, as ons kan sien dat hulle die “min” in getal uitwys wat God uitverkies het om as koninklike priesterdom op te tree:

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

1Pe 2:9-10  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,  10  julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.

Pers wolstof was gebruik in die weefproses – die kleur pers is ook belangrik:

Hier is die vers weereens wat die gérubs met die kleur pers verbind:

Eks 26:1 Jy moet ‘n tabernakel maak. Gebruik daarvoor tien stukke materiaal: goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur.

Net soos blou, is pers (purper) ook baie skaars in die natuur, en daarom beeld dit iets uit wat baie kosbaar is in geestelike terme. Baie min mense kan God se purper hanteer, soos dit die kosbare insigte in God se woorde aan ons openbaar:

Hand 16:11-15  Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis,  12  en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, ‘n kolonie. En ons het in hierdie stad ‘n paar dae deurgebring.  13  En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ‘n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het.  14  En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.  15  En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.

Die Skrifte verbind ook die kleur pers aan koningsklere:

Rigters 8:26  En die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was sewentien honderd sikkels goud, behalwe die maantjies en die oorversiersels en purper klere wat die konings van Mídian gedra het, en behalwe die kettings wat aan die nekke van hulle kamele was.

Die gérubs, die vier lewende wesens, pas mooi in by die kleur pers deur sy geestelike betekenis en toepassings.

Bloedrooi wolstof was gebruik in die weefproses – die kleur bloedrooi spel ook ‘n groot rol in die lewe van die gerubs:

Hier is die vers weereens wat die gérubs met die bloedrooi verbind:

Eks 26:1 Jy moet ‘n tabernakel maak. Gebruik daarvoor tien stukke materiaal: goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof. Jy moet gerubs daarop laat uitborduur.

In sy positiewe toepassing is die kleur rooi verbind aan dit wat voorkeur by God geniet. Dit is wat ons sien in die rooi draad wat aan Peres, die seun van Juda by Tamar, se hand gebind was. Peres word in die geslagslyn van Christus in Lukas 3 (vers 33) genoem – die geslagslyn wat die koninklike stam van Juda uitbeeld:

Gen 38:27-30  En toe sy [Tamar] sou baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot.  28  En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit gegryp en ‘n rooi draad om sy hand gebind en gesê: Hierdie een is eerste gebore.  29  Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore! En sy sê: Hoe kragtig het jy deurgebreek! En hulle het hom Peres genoem.  30  En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was. En hulle het hom Serag genoem.

Peres was eintlik die eersgeborene, maar moes eers later verskyn, net soos Christus wie eers later op die fisiese aarde verskyn het as die “laaste Adam”. Alhoewel Jesus die Skepper-God is van hierdie skepping (by die Vader is Jesus eerste in alles), ervaar ons eers die lewe van die aardse Adam (die natuurlike is eerste vir ons) voordat ons die geestelike Adam, Jesus Christus self, leer ken en Sy lewe in gees ervaar. Christus is die Vader se Voorkeur, soos dit tipeer was deur Peres (Serag verteenwoordig die eerste Adam):

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Die eerste (Adam) sal inderdaad laaste wees, en die laaste (Adam = Jesus) is eerste!

Mat 19:30  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

Die gérubs van God, Sy uitverkorenes in Christus, het voorkeur by die Vader, en dit is waarom die rooi wolstof in die afbeeldings van die gerubs gebruik was. 

Opsomming:

Christus se uitverkorene priestervolk is Sy tempel waar Hy en Sy Vader nou woning maak en hulle voorberei vir hul dienswerk:

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

1Pe 2:9-10  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,  10  julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.

1Kor 3:16  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

Hierdie priestervolk is die deugsame vrou, die bruid van Christus, wat ‘n tabberd dra wat gemaak is van fyn linne en purper (pers) want hierdie bruid van Christus is kosbaar in God se oë:

Spr 31:22  Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper.

Die koninklike kleed het spesiale kleure:

Est 8:15  En Mórdegai het van die koning weggegaan in ‘n koninklike kleed van pers en wit, met ‘n groot goue kroon op en ‘n mantel van fyn linne en purperrooi stof, terwyl die stad Susan jubel en vrolik was.

Dit is die ware kinders van God wat toegelaat word in God se ware tempel, en op sy heilige berg:

Psa 15:1-5  ‘n Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?  2  Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek;  3  wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie;  4  in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie;  5  wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.

Die uitverkorenes van God sal op die aarde heers vir die simboliese duisend jaar, en ook optree as regters in die poel van vuur om die res van die mensdom tot saligheid te bring, soos God wil:

Open 19:11-16  Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.  12  En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.  13  En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.  14  En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.  15  En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.  16  En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.

Die negatiewe toepassing van die veelkleurige gewaad van fyn linne is hoe die wêreld nou reeds hul goud en silwer wil geniet ten koste van ander wie hulle op teer. Dit is hierdie valse herders in die valse kerkstelsel, die groot hoer Babilon, wat hul volgelinge mislei en van hulle leef. Ons is almal op ons tyd deel van hierdie hoer en ons is die ryk man wat geklee is in purper en fyn linne en daagliks vrolik en weelderig wil leef. Dit is hoe ons God se “seën” verstaan en ervaar in ons tyd van geestelike onkunde:

Luk 16:19  En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.

Open 18:11-13  En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie,  12  koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer  13  en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele.

Open 18:16  Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!

Luk 16:23-26  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.  24  En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.  25  Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.  26  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.

Ons dank God vir Sy lig wat ons harte aan ons openbaar, en ons uit die donkerte red en bring om ‘n Lasarus te wees in Sy koninkryk (die boesem van Abraham):

Luk 16:20-22  En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.  21  En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.  22  En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.

Soos God wil, sal ons verder gaan in Deel 7 met hierdie vier wesens van God wat so baie geestelike dinge uitwys oor hulle wie God in Christus uitverkies het.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.