Die profeet Esegiël het gesigte (visioene) gesien (wat God hom gegee het) tydens die ballingskap van die volk van Israel in Babilon. Die visioene is gevul met ryk beeldspraak wat dieper geestelike waarhede bevat:
Eseg 1:1-10 In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien. 2 Op die vyfde van die maand—dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin— 3 het die woord van die HERE uitdruklik gekom tot Eségiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die HERE was daar op hom. 4 Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter. 5 En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dit was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ‘n mens gehad; 6 en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke; 7 en hulle bene was reguit bene en hulle voetsole soos die sole van ‘n kalfspoot; en hulle het geglinster soos blink geskuurde koper; 8 en mensehande was onder hulle vlerke aan hulle vier kante. Maar aangaande die aangesigte en die vlerke van al vier, 9 hulle vlerke was aanmekaar verbind. Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan. 10 En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van ‘n mens; en al vier het die gesig van ‘n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van ‘n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van ‘n arend gehad.
Eseg 10:1-7 Daarna het ek gekyk—en daar was op die uitspansel, oor die hoof van die gérubs, iets soos ‘n saffiersteen; iets wat soos die gestalte van ‘n troon gelyk het, het oor hulle sigbaar geword. 2 En Hy het die man aangespreek wat met linne bekleed was, en gesê: Gaan in tussen die ratwerk onder die gérub in, en vul jou twee hande met gloeiende kole tussen die gérubs vandaan, en strooi dit oor die stad. Toe gaan hy voor my oë daar in. 3 En die gérubs het aan die regterkant van die huis gestaan toe die man daar ingaan, en die wolk het die binneste voorhof gevul. 4 Toe het die heerlikheid van die HERE van die gérub af opgestyg oor die drumpel van die huis; en die huis is gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die glans van die HERE se heerlikheid. 5 En die geruis van die gérubs se vlerke is gehoor tot in die buitenste voorhof, soos die stem van die almagtige God as Hy spreek. 6 En toe Hy aan die man wat met linne bekleed was, bevel gegee het deur te sê: Neem vuur tussen die ratwerk, tussen die gérubs uit, het hy ingegaan en langs die wiel gaan staan. 7 Toe steek die gérub sy hand uit, tussen die gérubs uit, na die vuur wat tussen die gérubs was; en hy neem daarvan en gee dit in die twee hande van hom wat met linne bekleed was; dié het dit geneem en uitgegaan.
In ons studiereeks oor hierdie wesens wat die profeet Esegiël gesien het, het ons reeds ‘n paar belangrike geestelike insigte bespreek wat ons help om te sien wie hierdie wesens is (lees gerus die artikels by die volgende skakels: Inleiding, Deel 1, Deel 2, Deel 3, Deel 4, Deel 5, Deel 6, Deel 7). Hierdie geestelike insigte word egter in pragtige beeldspraak verberg wat God gebruik om aan sommige die betekenis van die visioene duidelik te maak, en vir ander word die betekenis verberg. Jesus verduidelik die gebruik van beeldspraak in die Skrifte deur God as volg:
Mat 13:1-3 En op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit. 2 En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ‘n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan. 3 En Hy het baie dinge deur gelykenisse [beeldspraak] tot hulle gespreek…
Mat 13:10-13 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle [die menigtes] deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.
Die “skare” (die “groot menigtes” wie Jesus volg) was soms deur Jesus bestraf omdat hulle net tydelike dinge by Hom gesoek het. Daar is soveel meer as net fisiese dinge in God se doel en plan met mense, en Hy het juis vir daardie rede gekom om mense vry te maak van aardse dinge:
Joh 6:24-27 Toe die skare dan sien dat Jesus nie daar was nie en sy dissipels ook nie, het hulle self ook in die skuite geklim en na Kapérnaüm gegaan om Jesus te soek. 25 En toe hulle Hom oorkant die see gevind het, sê hulle vir Hom: Rabbi, wanneer het U hier gekom? 26 Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. 27 Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.
Jesus het geweet dat baie Hom volg uitsluitlik vir die fisiese tekens en wonderwerke in die vlees, soos die Vader ook dan bepaal, “sodat” hulle nie die dieper geestelike betekenisse van God se Woord kan hoor nie. Derhalwe kan hul harte nie verander nie – “daarom” kan die natuurgebonde mens nie God se geestelike werke verstaan nie, al staan dit reg voor hulle. Hierdie waarheid is tot vandag van krag!
Joh 12:36-40 So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word. Dit het Jesus gespreek, en Hy het weggegaan en Hom vir hulle verberg. 37 En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; 38 sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? 39 Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: 40 Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
Baie mense word dus doelbewus geroep om na Jesus te kom en na Hom te luister, en dan net letterlike betekenisse uit Sy woorde te kry. Soos Jesus ook self verduidelik laat God hierdie mense fokus op die natuurlike dinge en hul vleeslike vervulling, en die geestelike boodskap (“die verborgenhede van die koninkryk”) word nie verstaan nie. Paulus verduidelik dit as volg:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Daar is egter ‘n ander groep mense aan wie God wel die geestelike inhoud van Sy woorde openbaar:
1Kor 2:15-16 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
Jesus druk hierdie twee groepe mense as volg uit:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Ons fokus is dus ook op diegene wat God se geestelike woorde kan hoor, ook ten opsigte van die wesens wat Esegiël gesien het. Hier groep mense is die uitverkorenes wat deur God geleer word hoe om Sy geestelike woorde te kan aanvaar. Hier is ‘n paar riglyne wat die Skrifte aan ons gee hoe ons God se geestelike woorde kan verstaan, vir hulle wie dit kan ontvang:
1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
2Kor 13:1 …. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Ons roep dus ‘n hele paar getuies en raadgewers in, wie die Skrifte aan ons gee, en met ‘n “veelheid van raadgewers” staan die waarheid baie sterker in ons harte:
Spr 15:22 Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand.
Spr 11:14 As daar nie goeie oorleg is nie, val ‘n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding.
Die tweede getuie (raadgewer) wat die Skrifte aan ons gee en wat ons meer oor hierdie wesens kan sê, is die apostel Johannes wie ook ‘n soortgelyke visioen gesien het van die wesens. Die ooreenkomste in simboliek en beeldspraak is duidelik, alhoewel daar ook ander bykomende simboliek gebruik word:
Open 4:1-8 Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. 2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. 3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. 4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. 5 En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; 6 en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. 7 En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg. 8 En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!
Ons sien nie die bykomende gegewens as teenstrydig nie, maar as aanvullend tot ons insigte. God leer Sy uitverkorenes Sy kennis en Sy insigte deur Sy Woord te gebruik op ‘n baie unieke wyse – “dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie”:
Jes 28:9-10 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? 10 Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.
Kom ons noem van die ooreenkomste tussen die visioene wat Esegiël en Johannes (en ons noem die geestelike insigte wat die simbole aan ons oopmaak). In die visioene sien ons dat…
- …hierdie wesens is bekend met die hemelse dinge (dit verwys na hul denke wat verlig is om God se Woord en Sy werke te kan ken – Eseg 1:22; Eseg 10:1; Heb 9:24; Joh 14:18-25);
- …hierdie wesens is verbonde aan God se troon (dit verwys na die inwonende teenwoordigheid van God in hul lewens – Eseg 1:26; 10:1; Open 4:1-11; Joh 14:18-25);
- …hierdie wesens het toegang tot die binnekant van die tabernakel / tempel van God (hulle ken God op ‘n baie intieme wyse – Heb 10:19-25);
- …hierdie wesens het vlerke en beweeg deur vlieënde bewegings (dit verwys na die God se geestelike beskerming oor hul lewens en hoe Hy alles bewerkstellig in hul lewens sodat hulle Sy Woord kan gehoorsaam wees, en God behaag – Fil 2:12-13);
- …hierdie wesens is verbind met vuur / kole / vuurfakkels (hulle kan God se Woord hanteer en reg gebruik omdat hulle deur die vurige oordeel van God kom – Jer 5:14; 2Ti 2:15; 1Pet 4:17);
- …hierdie wesens is intiem verbind met God se kosbare geestelike dinge – Sy goud, silwer, kosbare stene (hulle is goed bekend met Sy Woord – Joh 6:63; 1Kor 3:13-15);
- …hierdie wesens is bekend met die weerligte en donderslae in God se teenwoordigheid (hulle is bekend met die oordeel van God wat aan hulle die geregtigheid van God bekendmaak en hulle deel word – Jes 26:9; 1Pet 4:17);
- …hierdie wesens is gekleed in wit klere (hulle ontvang God se geregtigheid – Open 19:14);
- …hierdie wesens dra goue krone (hulle is oorwinnaars oor vlees en sonde – Open 3:12; Open 21:7);
- …hierdie wesens is vol oë (dit wys ons dat God aan hulle geestelike insigte gee – Efes 1:15-23; 1Kor 2:15-16);
- …hierdie wesens sing en bring aan God al die glorie (hulle weet niks hang van hulle af nie want God doen alles – Efes 2:8-10);
- …hierdie wesens kom uit “elke stam en taal en volk en nasie” – hulle kom uit die vier windstreke (Vader trek hulle na Christus – Open 5:9; Joh 6:44; Matt 24);
- …hierdie wesens het elkeen die gesig van ‘n mens (hulle kom uit die mensdom en is bekend met swakheid en sonde – 1Kor ;
- …hierdie wesens het elkeen die gesig van ‘n leeu (hulle het heerskappy ontvang van God om te regeer oor vlees en gees – Gen 49:9; Open 5:5);
- …hierdie wesens het elkeen ‘n gesig van ‘n bul / kalf / koei (hulle weet om hul eie saligheid UIT te werk soos God IN hulle werk om dit te doen – Fil 2:12-13);
- …hierdie wesens het elkeen ‘n gesig van ‘n arend (hulle het toegang tot die hoogste hemelse geestelike insigte / die derde hemel om daar deel te hê aan die denke en insigte van Christus en Sy Vader – Spr 30:19; Spr 23:5);
- …hierdie wesens is ook genoem gérubs (God gebruik verskillende simbole om dieselfde waarheid van verskillende hoeke te belig – Eseg 10:1-14).
Om ons insigte oor die wesens verder te bevestig, sien ons nog ander figure in die Skrifte wat ook van hierdie ooreenkomste deel. Die profeet Jesaja het byvoorbeeld ook wesens gesien wat hy as “serafs” beskryf, en hulle toon ook baie ooreenkomste met die visioene wat Esegiël en Johannes gesien het.
Jes 6:1-7 In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. 2 Serafs [Hebreeus: śârâph] het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. 3 En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! 4 En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword. 5 Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! 6 Maar een van die serafs [Hebreeus: śârâph] het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, 7 en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.
Ons sien hier weer dieselfde simboliek by die serafs [Hebreeus: śârâph] wat ooreenstem met die gérubs en die vier wesens van Esegiel en Johannes. Hier is ‘n paar ooreenkomste:
- Hierdie serafs is in die teenwoordigheid van die troon van God;
- Hulle is gekoppel aan die tempel van God;
- Hulle het vlerke wat gebruik word as bedekking en om mee te beweeg;
- Hulle sing ook ‘n loflied aan God;
- Hulle hanteer ook die vuur / vuurkole van God se altaar.
Jesaja gebruik die Hebreeuse woord “śârâph” ook op ander maniere in sy geskrifte om ons te help om die serafs te verstaan:
Jes 14:28-29 In die sterfjaar van koning Agas het hierdie Godspraak uitgegaan. 29 Wees nie bly, o ganse land van die Filistyne, dat die roede verbreek is wat jou geslaan het nie; want uit die wortel van die slang sal ‘n basilisk voortkom, en sy vrug sal ‘n vlieënde draak [Hebreeus: śârâph] wees.
Jes 30:6 Godspraak oor die diere van die Suidland. In ‘n land van benoudheid en angs, waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak [Hebreeus: śârâph], vervoer hulle op die rugge van esels hul rykdomme en op die bulte van kamele hul skatte, na ‘n volk wat geen voordeel bring nie.
Die idee van die vlieënde bewegings is weer hier te sprake by die serafs soos by die gérubs. Wat egter dieper tot ons spreek is die konsep van ‘n draak of slang wat ook aan ‘n seraf gekoppel word deur die Woord van God. Ons sien ook hoe Moses die serafs met slange koppel in die boek van Numeri. Die volk van Israel was besig om te trek deur die wildernis op pad na die beloofde land toe hulle weereens teen Moses (eintlik teen God) gemurmureer het (as ons teen omstandighede murmureer, murmureer ons teen God wat alles bewerkstellig volgens die raad van Sy wil – Efes 1:11; Rom 11:33-36).
Num 21:4-9 Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword. 5 En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. 6 Toe stuur die HERE giftige [Die Hebreeuse woord hier is “śârâph” – die woord word ook vertaal as vurige] slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. 7 En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid. 8 Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. 9 Toe het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
Hier is die seraf gekoppel aan giftige slange – sommige vertalings gebruik “vurige slange” wat weer insiggewend is ten opsigte van die Hebreeuse woord “śârâph”. Moses maak toe ‘n slang van koper! Koper is ‘n metaal wat ‘n baie mooi glans afgee, maar dit is egter nie ‘n kosbare metaal soos goud of silwer nie. In die Skrifte sien ons ook dat koper se glans met vuur geassosieer word (Eseg 24:11). Jesus verskyn aan Johannes in ‘n visioen op die eiland Patmos, maar kyk na watteer deel van Sy liggaam word met gloeiende koper voorgetsel:
Open 1:13-15 en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel. 14 Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, 15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.
‘n Mens se voete is wat ons met die aarde verbind. Jesus se voete is hier van koper, en dit help ons om te sien dat God regdeur die Skrifte hierdie spesifieke metaal gebruik om ons aardsheid voor te stel. Die rede dat Jesus se voete in die visioen aan Johannes van koper is help ons om te besef dat Hy net soos ons in vlees gekom het. Maar hier is Sy voete van gloeiende koper wat in ‘n vuuroond is. Jesus moes self deur God se vurige oordeel gaan deur die pynlike dood aan die kruis. Die vurige oordeel van God (Sy “oond”) verlos ons van aardshede:
1Kor 3:11-15 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Ons moet deur God se vuur gaan om ons geloof te versterk:
1Pe 1:6-9 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
Vuur louter ons. Ons moet DEUR baie verdrukkinge gaan om in God se koninkryk te gaan:
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Paulus was teengestaan deur ‘n kopersmit, genaamd Alexander. Die gebruik van die woord “kopersmit” is doelbewus in die verband omdat koper verwys na ons aardsheid wat deur die vuur van God uitgewys word, en ook deur die geestelike vuur van God vernietig word:
2Ti 4:14-18 Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld na sy werke! 15 Jy moet ook vir hom oppas, want hy het ons woorde sterk teëgestaan. 16 In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! 17 Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos. 18 En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
In sy negatiewe toepassing is koper dus verteenwoordigend van onrein vlees en sonde in ons lewe, wat tydens God se oordeel deur die vuur van God vernietig word:
Eseg 22:20 Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt.
Die koperslang (die afbeelding van ‘n seraf) wat genesing moes bring was aangebring op ‘n paal deur Moses.
Num 21:8 Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. 9 Toe het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
Jesus maak dit nog duideliker na wie hierdie koperslang (die afbeelding van ‘n seraf) verwys as Hy vir Nikodémus, ‘n owerste van die Jode, herinner van die slang wat Moses gemaak het in die woestyn. Jesus koppel die opheffing van die koperslang aan die proses van wedergeboorte!
Joh 3:1-3 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
Joh 3:11-17 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. 12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? 13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. 14 En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
Jesus gebruik hierdie koperslang op die paal en pas dit op Homself toe in Sy verduideliking van wedergeboorte aan Nikodémus!!! Opheffing op ‘n paal (‘n kruis) beteken dat daar dood intree! Die ou vlees moet sterf en plek maak vir die nuwe geestelike lewe! Soos Moses die koperslang verhoog het, so was Jesus verhoog op ‘n paal en het gesterf vir sonde.
1Kor 15:1-3 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
Hy het tog duidelik gesê dat deur Sy dood gaan Hy ALMAL na Hom trek, soos die Vader die werk in en deur Hom doen!
Joh 12:32-33 En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. 33 En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.
Jesus se dood was vir die vlees wat Hy ontvang het. Hy het ons die weg gewys om ontslae te word van ons sondige vleestoestand:
Joh 12:24-26 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. 25 Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. 26 As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.
Hy het voor ons uitgegaan om ons die weg te wys – om te sterf vir sonde is om ons aardse lewe op te gee. Maar ons kan dit net doen as Hy IN ons woon. Dit is Sy taak IN ons om ons te red en Hy gaan 100% suksevol wees IN almal! Dit is egter nou nie vir almal beskore om deur hierdie proses te gaan nie. Daarom is dit die grootste eer om nou saam met Jesus te sterf!!!
1Pe 2:21-24 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; 22 Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; 23 wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; 24 wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.
Fil 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.
Hulle wie die waarheid kan ontvang van Jesus se dood en Sy lewe in ons, word die krag gegee om hul eie kruis op te neem en die valse leer van die plaasvervangende dood van Jesus te verwerp. Jesus se ware volgelinge sterf saam met Jesus!
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Ons eie vlees is die geestelike slang wat ons almal vergiftig en die geestelike dood in ons bring. Ons is van nature kinders van die geestelike slang, die duiwel, en ons luister na sy woorde en volg sy listighede in ons tyd van duisternis en onkunde:
Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Ons is eers die gérubs / serafs van die bose. Ons leef in die “see” van vlees en ons luister na die draak (die listige slang) se woorde. Volgens die Skrifte is ons natuurlike harte (denke) die troon van hierdie bose draak (slang), soos Adam en Eva reg aan die begin vir ons wys. Hulle harte was baie meer geneig om na die woorde van die slang te luister as na die woord van God – dit is hoe God die mens gemaak het!
Gen 3:1-6 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Is Satan se woorde dan meer kragtiger as die woorde van God? Nee, God se woorde het geen gelyke nie!
Heb 4:12-13 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. 13 En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.
Geen skepsel kan enigiets van God wegsteek nie, want God bepaal en beheer alles, ook die woorde en dade van Satan. Satan kan niks doen as God hom nie opdrag gee nie (lees gerus Job 1 en 2). Adam en Eva het geluister na die slang omdat die mens gemaak is in swak vlees wat baie maklik swig voor die bose, net soos die klei (stof) misluk “in die hand van die Pottebakker…”:
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker...
Die vlees is die stof wat die slang moet van leef:
Gen 3:14 Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.
Gen 3:17-19 En aan die mens het Hy gesê...stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
Die draak is simboliek wat die Skrifte gebruik om die ou slang, die duiwel, Satan, ook mee uit te druk:
Open 12:9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei.….
Open 20:2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,
Die draak verlei die hele wêreld, soos God dit bepaal! Let op dat die verwysing na ‘n draak in die Skrifte ons ook help om te sien dat dit ‘n vlieënde wese is wat met vuur assosieer:
Open 12:3 En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone.
Open 13:1-2 En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. 2 En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.
Hierdie draak en sy volgelinge is die negatiewe toepassing van wat ‘n seraf en gérub voorstel. Ons eie aardse dier, die vleesmens, is onder die beheer van hierdie draak (die slang / satan / duiwel) soos deur God bepaal:
Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.
Jesus het in dieselfde vlees as ons s’n gekom en in hierdie wêreld kom leef om ons te genees van die gif van hierdie listige slang (ons natuurlike slawerny aan die leerstellings en filosofieë van die wêreld in ons). Jesus doen dit deur Sy Woord (Sy leer en denke).
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Gal 4:4-7 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, 5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. 6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! 7 Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
Heb 2:14-15 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.
Jesus het gesterf vir die vlees en daardeur ons gewys hoe ons genees word van ons dodelike siekte! So ontvang ons God se geregtigheid deur ons geloof in Jesus se werke NOU in ons eie lewe!!!
2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.