Die gee van ‘tiendes’ (Deel 1)

Inleiding:

Die primêre doel van die Skrifte is om die geestelike dinge van God vir ons te openbaar, vir hulle wie die geloof gegee word om dit te kan ontvang.

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Die vleeslike dinge het wel ook ‘n plek in God se werk, maar dit is net ‘n tydelike en beperkte funksie. Byvoorbeeld, God gebruik die natuurlike en sigbare dinge in hierdie skepping om te bewys dat daar wel ‘n onsigbare skepping is:

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

Die onsigbare skepping van God en Sy geestelike dinge word egter nie deur die natuurlike denke in die mens so verstaan nie. Daarom is geestelike dinge dwaasheid vir die natuurlike denke.

1Kor 2:14-15 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

As die natuurlike mens dus die woorde van God lees in die Skrifte, dan is die natuurlike denke se begrippe vooropgestel. Hierdie natuurlike denke beperk dus die mens se insigte in God se Woord. Dieselfde woorde in die Skrifte word egter heel anders verstaan vir hulle aan wie God Sy geestelike insigte skenk. Die wolkkolom in die wildernis (tydens Israel se uittog uit Egipte), het die Egiptenare in duisternis gehul, terwyl dieselfde wolkkolom lig verskaf het aan die Israeliete. Dit is een voorbeeld wat in die Skrifte neergeskryf was om ons te help om te verstaan hoe God Sy Woord (die Engel van God) gebruik om die skeiding tussen die vleeslike (letterlike) en die geestelike te verseker:

Eks 14:19-20  En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;  20  so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.

Net God kan Sy Woord se dieper geestelike betekenis vir sommige “toemaak” (die dieper geestelike betekenis verberg), en vir ander “oopmaak”. Dit is Sy keuse. Daarom blameer ons nie die persoon wat in geestelike blindheid dinge op sy / haar vlak sien nie. Ons almal is tog immers eers in geestelike blindheid voordat God Sy wonderbaarlike lig aan ons openbaar:

Mat 4:16-17  die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan.  17  Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

Ons kom te bekering as God ons insigte begin verander – dit is ‘n proses. Ons almal fokus eers op die letterlike dinge in die Woord, en later verskuif ons fokus na die geestelike dinge, soos God self ons lei. Niemand kan dus iemand anders oortuig om of die een kant of die ander kant te sien nie. Almal is waar God hulle wil hê. Ons almal begin in die donkerte, en dan bring God Sy lig op die tyd soos Hy bepaal in elkeen se lewe:

Gen 1:1-4  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.  2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.  3  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.  4  Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis.

Met die koms van God se Lig, kom daar ‘n verandering van gemoed/ denke / gees:

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Om God se geestelike denke te betree, moet ons ons aardse manier van dink prysgee. God se gedagtes en Sy denke is iets heel anders as ons natuurlike manier van dink:

Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

1Kor 2:9-13 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. 11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. 12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

God se Woord het dus ‘n letterlike betekenis wat eerste na ons gebring word, maar God se Woord het ook ‘n geestelike betekenis, wat uit hierdie letterlike begrip groei. So stel Paulus dit:

2Kor 3:6-7  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.  7  En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan.

In hierdie studiereeks kyk ons na beide die letterlike en geestelike begrip van tiendes onder die volgende hoofde:

Deel 1: Inleiding – die tiende se vleeslike (letterlike) toepassing

Deel 2: Die geestelike toepassing van die tiende

Deel 3: Die doel en toepassing van breuke in die Skrifte

Deel 4 – Opsomming.

Tiendes se vleeslike (letterlike) toepassing:

As dit kom by die gee van tiendes in die Skrifte, dan is die beginsel van letterlik (vleeslik) en geestelik ook van krag. Tiendes is ‘n konsep wat eerste onder die aardse / vleeslike verordeninge van God gegee was. Die gee van ‘n tiende kom vir die eerste keer in die Skrifte voor m.b.t. Abraham – lank voor die wet van Moses gekom het:

Gen 14:17-20 Ná sy [Abraham] terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte. 18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring 19 en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. 20 En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy [Abraham] hom [Melgisédek] die tiende van alles.

Abraham het aan hierdie Melgisédek ‘n tiende gegee van die oorlogsbuit – dit is die eerste belangrike beginsel wat oor tiendes gesê moet word. Hier kom die tiende uit ‘n spesifieke opbrengs, vir ‘n spesifieke doel, en vir ‘n spesifieke persoon. Deur God se krag en wysheid het Abraham oorwinning behaal oor Kedor-Laómer (die koning van Elam), en Tídeal (die koning van die nasies) en Amrafel (die koning van Sínear), en Aríog (die koning van Ellásar):

Gen 14:12-16  Hulle [Kedor-Laómer (die koning van Elam), en Tídeal (die koning van die nasies) en Amrafel (die koning van Sínear), en Aríog (die koning van Ellásar)] het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek—want hy was in Sodom woonagtig.  13  Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram.  14  Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, drie honderd en agtien, en hulle tot by Dan agtervolg—  15  hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê.  16  En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.

Jakob het ook ‘n tiende aan God beloof, en selfs hier in die woorde van Jakob (sy naam beteken “bedrieër”) is dit ook duidelik dat ons as aardse stofmens geestelik blind en selfvoldaan is. Ons wil aan God iets gee asof God dit nodig het:

Gen 28:20-22  En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek,  21  en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.  22  En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.

Tiendes was ook onder die wet van Moses van krag, en hier is ‘n hele paar belangrike dinge wat God aan ons wil deurgee. Die tiende was ‘n deel van die opbrengste van die land (gewasse) en die eerstelinge van die diere. Dit was weereens gekoppel aan spesifieke oestye, spesifieke doeleindes en spesiale persone. Daar was ook ‘n spesifieke plek bepaal deur God, waar die tiende gebring moes word (dit kon egter op ander plekke geëet word – Num 18:31):

Lev 27:30 Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE.

Lev 27:32 Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee alles wat onder die herderstaf deurgaan die tiende moet aan die HERE heilig wees.

Deu 14:22-27  Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die land uitspruit—vertien.  23  En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees.  24  En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as die HERE jou God jou sal seën,  25  dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die HERE jou God sal uitkies.  26  Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis.  27  Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.

Num 18:25-32  En die HERE het met Moses gespreek en gesê:  26  Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan ‘n offergawe aan die HERE afgee, ‘n tiende van die tiende.  27  En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip.  28  Só moet julle ook ‘n offergawe aan die HERE afgee van al julle tiendes wat julle van die kinders van Israel neem, en julle moet daarvan die offergawe aan die HERE aan die priester Aäron gee.  29  Van al jul gawes moet julle die hele offergawe aan die HERE afgee, van al die beste daarvan, as die heilige gawe wat daarvan moet afgaan.  30  Jy moet dan vir hulle sê: As julle die beste daarvan afgee, sal dit vir die Leviete gereken word as opbrings van die dorsvloer en as opbrings van die parskuip.  31  En julle mag dit op enige plek eet, julle en jul huisgesin; want dit is vir julle ‘n loon vir jul dienswerk by die tent van samekoms.  32  En julle sal daarby geen sonde op julle laai as julle die beste deel daarvan afgee nie; en julle mag die heilige gawes van die kinders van Israel nie ontheilig nie, sodat julle nie sterwe nie.

Sommige sien drie verskillende tiendes in die verbond wat deur Moses gekom het:

  • aan die Leviete vir hul onderhoud (Lev 27: 30-33; Num 18:21-32);
  • vir die feeste van die Here;
  • daar moes ook elke derde jaar ‘n tiende vir die armes wees om in hul eie wonings geëet te word (Deu 14:28-29).

Ander beweer weer dat die drie hooffeeste onder die ou verbond die drie tiendes bevestig:

Eks 23:14-17  Drie maal in die jaar moet jy vir My ‘n fees hou.  15  Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek—maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie;  16  verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel.  17  Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here HERE verskyn.

Die stam van die Leviete was afgesonder aan God, en hulle moes geen land besit nie omdat hulle in die tempel moes werk. Hulle kon dus nie opbrengste van die land en diere self bewerkstellig nie. Daarom moes die ander stamme aan hulle hul tiendes “van die land” en van die “beeste en kleinvee” bring.

Deu 14:27  Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.

Heb 7:5 Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ‘n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het.

Op die “derde jaar” moes die tiende nie net met jou gesin en die Leviete gedeel word nie, maar moes ook gedeel word met die vreemdeling, die wees en die weduwee “dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word”.

Deu 26:12-13 As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word. 13 En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God sê: Ek het die heilige goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek het geeneen van u gebooie oortree of vergeet nie.

Geld was net ter sprake as mense ver van die tempel in Jerusalem gewoon het (Jerusalem se tempel was die plek wat die HERE uitkies het “om sy Naam daar te vestig” tydens die tyd van die ou verbond). Mense kon die tiendes (landbouprodukte en vee) tydelik omskep in geld (vir praktiese redes van vervoer). Die geld moes egter weer gebruik word in Jerusalem om landprodukte en/of vee te koop wat dan as die tiende gebruik kon word (m.a.w. geld was nie as tiende gebruik by die tempel nie!):

Deu 14:22-26 Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die land uitspruit—vertien. 23 En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees. 24 En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as die HERE jou God jou sal seën, 25 dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die HERE jou God sal uitkies. 26 Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis.

Hier is nog ‘n teks wat hierdie konteks van “al jou inkomste” van die land bevestig:

Spr 3:9-10  Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste;  10  dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.

Die sogenaamde tempel-belasting (wat betaal was onder die ou verbond) was ‘n spesifieke bedrag van belasting (‘n halfsikkel) wat alle Israeliete moes betaal wie twintig jaar en ouer was – hierdie belasting was nie ‘n tiende nie:

Eks 30:13-16  Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ‘n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom—die sikkel is twintig gera—’n halfsikkel as offergawe aan die HERE.  14  Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee.  15  Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ‘n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen.  16  Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen.

Die Skrifte meld ook dat daar verskeie ander gawes gegee was in die vorm van geld (weereens is dit nie tiendes nie). Tydens een so ‘n geleentheid het Jesus die belangrikheid van ons hartsoortuiging beklemtoon meer as die hoeveelheid geld wat gegee word:

Luk 20:45-47  En terwyl die hele volk luister, sê Hy vir sy dissipels:  46  Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye.  47  Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang. Luk 21:1-4  En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.  2  En Hy het ook ‘n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.  3  En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.  4  Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.

God is die Een wat ons harte beoordeel (die innerlike / die gees) en Hy het nie baie respek vir die vertonings van vlees nie:

1Sa 2:3  Spreek nie voortdurend alte hoog nie, laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie; want die HERE is ‘n God van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef.

1Sa 16:6-7  Toe hulle [die seuns van Isai] inkom en hy [Samuel] Elíab [Dawid se ouer broer] sien, dink hy: Gewis, hier staan voor die HERE sy gesalfde! Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

Ons gesels in Deel 2 verder oor die geestelike toepassing van die tiende, soos God wil.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.