Die gee van ‘n ‘tiende’ (Deel 2)

Inleiding:

Die eerste vers in die Skrifte (soos die res van die Skrifte) is baie insiggewend as ons die gees agter die letters kan sien en hoor, soos God ons help (Joh 6:63; 2Kor 3:5-8):

Gen 1:1  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Die hemel is verwysend na die onsigbare dinge van God, die geestelike dinge, terwyl die aarde die sigbare dinge van God uitwys. Ons almal begin eers by die sigbare dinge van God, voordat ons in die onsigbare dinge van Hom ingelei word:

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

Dit is dan ook binne hierdie twee domeine dat mens ook sy bestaan kan plaas – ‘n aardse deel (ons liggaam) en ‘n geestelike deel (die denke). Soos ons liggaam van die stof van die aarde is, so is ons aanvanklike denke ook aardsgebonde. Hierdie aardse denke is aanvanklik gevul met donkerte (onkunde oor geestelike dinge), soos Genesis ook in ‘n gelykenis aan ons uitbeeld:

Gen 1:2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

Die “aarde” en die “waters” is albei simbole vir die vlees en sy denke – alles onder God se totale beheer (Joh 3:5-6; Jer 22:29; Open 17:1, 15). God se gees is inderdaad in beheer van hierdie aarde en sy hemel (“die Gees van God het gesweef op die waters”) omdat die Woord van God alles in hierdie skepping voortgebring het, en 100% onder beheer het:

Joh 1:1-3  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.  2  Hy was in die begin by God.  3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Ons begin eers om ons aarde te verstaan. Ons lewe dus eers in duisternis voordat God Sy lig, Sy Woord in gees aan ons openbaar.

Gen 1:3-4  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.  4  Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis.

Jesus is daardie Lig van God en Hy sal elke mens verhelder op die tyd deur die Vader bepaal:

Joh 1:4-5  In Hom [die Woord, Jesus Christus] was lewe, en die lewe was die lig van die mense.  5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Die vleeslike dinge het dus wel ‘n plek en funksie in God se werk, maar dit is net tydelike van aard. In die tyd waar ons op vleeslike dinge fokus (volgens die gees van die wêreld) is die onsigbare skepping van God (Sy geestelike dinge) dwaasheid vir die natuurlike denke.

1Kor 2:14-15 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

Die persoon wat egter op die Skrifte se geestelike boodskap fokus, sien dinge heeltemal anders:

1Kor 2:12-13  Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.  13  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

1Kor 2:15-16  Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.  16  Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Die Woord van God het dus twee uiteenlopende insigte – een vir hulle wie dit lees met ‘n natuurlike insig, en ‘n ander vir hulle wat dit lees met ‘n geestelike insig. Die wolkkolom in die wildernis (tydens Israel se uittog uit Egipte), het die Egiptenare in duisternis gehul, terwyl dieselfde wolkkolom lig verskaf het aan die Israeliete – dit is hoe God Sy Woord (die Engel van God) gebruik om skeiding te bring:

Eks 14:19-20  En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;  20  so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.

Net God kan Sy Woord vir sommige “toemaak” (die dieper geestelike betekenis verberg), en aan ander “oopmaak”. Dit is Sy keuse. Niemand kan dus iemand anders oortuig om of die een kant of die ander kant te sien nie. Almal is waar God hulle wil hê. Ons almal begin in die donkerte, en dan bring God Sy lig op die tyd soos Hy bepaal in elkeen se lewe:

Gen 1:1-4  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.  2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.  3  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.  4  Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis.

Met die koms van God se Lig, kom daar ‘n verandering van gemoed/ denke / gees:

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Om God se geestelike denke te betree, moet ons ons aardse manier van dink prysgee. God se gedagtes en Sy denke is iets heel anders as ons natuurlike manier van dink:

Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

1Kor 2:9-13 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. 11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. 12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

In hierdie studiereeks kyk ons na beide die letterlike en geestelike begrip van tiendes onder die volgende hoofde:

Die geestelike toepassing van die tiende:

Ons het gesien in Deel 1 van hierdie studiereeks dat die Skrifte die konsep van die gee van tiendes stelselmatig uitbrei – vanaf Abraham tot by die Wet van Moses, tot by die boek van Maleági. Hier is ‘n paar Skrifverwysings:

Gen 14:17-20 Ná sy [Abraham] terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte. 18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring 19 en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. 20 En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy [Abraham] hom [Melgisédek] die tiende van alles.

Lev 27:30 Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE.

Lev 27:32 Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee alles wat onder die herderstaf deurgaan die tiende moet aan die HERE heilig wees.

Deu 14:22-27  Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die land uitspruit—vertien.  23  En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees.  24  En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as die HERE jou God jou sal seën,  25  dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die HERE jou God sal uitkies.  26  Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis.  27  Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.

Num 18:25-32  En die HERE het met Moses gespreek en gesê:  26  Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan ‘n offergawe aan die HERE afgee, ‘n tiende van die tiende.  27  En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip.  28  Só moet julle ook ‘n offergawe aan die HERE afgee van al julle tiendes wat julle van die kinders van Israel neem, en julle moet daarvan die offergawe aan die HERE aan die priester Aäron gee.  29  Van al jul gawes moet julle die hele offergawe aan die HERE afgee, van al die beste daarvan, as die heilige gawe wat daarvan moet afgaan.  30  Jy moet dan vir hulle sê: As julle die beste daarvan afgee, sal dit vir die Leviete gereken word as opbrings van die dorsvloer en as opbrings van die parskuip.  31  En julle mag dit op enige plek eet, julle en jul huisgesin; want dit is vir julle ‘n loon vir jul dienswerk by die tent van samekoms.  32  En julle sal daarby geen sonde op julle laai as julle die beste deel daarvan afgee nie; en julle mag die heilige gawes van die kinders van Israel nie ontheilig nie, sodat julle nie sterwe nie.

Deu 26:12-13 As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word. 13 En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God sê: Ek het die heilige goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek het geeneen van u gebooie oortree of vergeet nie.

Mal 3:10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.

Hierdie tekste help ons ook om die geestelike betekenis van die tiende vir ons verstaanbaar te maak. Aan die einde van die dag (wanneer ons die aardse insigte opgee), breek die geestelike waarheid deur in al sy glorie – soos God wil. Dan sien ons dat die tiende niks te doen het met geld, plante of diere nie. Dit het niks te doen met ‘n aardse tempel of aardse priesters en aardse stamme nie. Dit het alles te doen met Jesus en Sy uitverkorenes en hoe ons groei in ons aller heilige offer aan God!!!

Rom 12:1-2  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.  2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Al die dinge wat in fisiese Israel se geskiedenis opgeteken was in die Skrifte, praat van ons – as ons dit kan sien en hoor:

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

1Co 10:11 (Darby)  Now all these things happened to them as types, and have been written for our admonition, upon whom the ends of the ages are come.

1Co 10:11 (YLT)  And all these things as types did happen to those persons, and they were written for our admonition, to whom the end of the ages did come.

1Co 10:11 (Weymouth)  All this kept happening to them with a figurative meaning; but it was put on record by way of admonition to us upon whom the ends of the Ages have come.

Al hierdie dinge van die Wet van Moses is skaduwees van ons eie lewe, en ons eie geestelike ontwikkeling. Om dus te fokus op die aardse skaduwees, lei ons nie na geestelike volmaaktheid nie. As enigeen die geestelike dinge kan sien, dan het die skaduwee sy mag en tyd van heerskappy oor ons denke verloor. As die werklike LIG gekom het in ons harte, dan gaan ons nie weer terug na die skaduwee toe nie. Dit is dieselfde waarskuwing wat Paulus ook aan die gelowiges in Galasië gegee het:

Gal 3:1-3  o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?  2  Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?  3  Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?

Ons moet die skaduwees van die ou verbond en sy wette skei van die geestelike werklikheid in Christus!

Heb 10:1 Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.

Die geestelike betekenis van die tiende beeld dus uit hoe ons in Christus se geestelike verbond gevestig word en daarin groei, soos God wil. Ons almal begin as onvolwassenes in Christus (die een tiende) wanneer God aan ons die eerste keer die geloof in Christus skenk, en soos Abraham die simbool is vir geloof, gee ons van die oorlogsbuit aan ons Hoë Priester, Jesus Christus:

Efes 2:8  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.

Ons dink selfs op daardie stadium dat ons geld moet gee aan ‘n organisasie in die vorm van 10% van ons inkomste. As ‘n mens dus glo hy of sy moet tiendes gee aan ‘n kerkorganisasie, is dit waar God daardie persoon wil hou. Soos ons later sal sien het die ware tiende niks te doen met die uitbuiting en afpersing deur populêre leiers van kerkorganisasies nie, soos dit vandag plaasvind in die groot byeenkomste van die baie afvalliges nie.

2Kor 2:17 Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.

Hierdie tipe tiendes word gegee in die gees waarmee Jakob met God wou onderhandel. Ons plaas God voor ‘n keuse – as Hy dit of dat vir ons doen, dan sal ons Hom beter kan dien en meer dinge aan Hom kan gee! Belaglik, maar kom ons lees weer Jakob se woorde om die gees daarin te verstaan:

Gen 28:20-22  En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek,  21  en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.  22  En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.

Ons drink almal eers die melk van Christus se leer…

Heb 6:1-3  Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God,  2  van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.  3  En dit sal ons doen as God dit toelaat.

Baie keer is hierdie melk ook nog vervals – ons moet God vra vir die onvervalste melk waardeur ons kan groei:

1Pe 2:1-3  Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;  2  en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,  3  as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.

Die getal tien is geestelik verbind aan alles wat “vlees” (ons aardsheid) behels (lees gerus ons studie oor die geestelike betekenis van die getal tien by hierdie skakel). Soos reeds hierbo genoem is die Skrifte duidelik dat God in totale beheer van alles is, en alles in hierdie tydelike skepping is ook syne.

Psa 50:10-12 want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. 11 Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. 12 As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.

As ons dit kan sien, dan weet ons ook hoe ons “die hele tiende”, dit wil sê, alles in ons aardse lewe, aan God te danke het. Die “hele tiende” is God s’n:

Mal 3:10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.

Die eerste Adam (ons vlees) is God s’n, en dit is net ‘n tydelike skepping. God het ons almal eers in tydelike vlees geskep en hierdie pot misluk “in die hand van die Pottebakker”:

Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

As ons hierdie woorde eerstens op onsself kan toepas (en tweedens ook op alle ander mense, en derdens op alles in hierdie skepping) dan sien hoekom ons so ‘n mislukking is. Vanaf die skepping van die eerste “pot”, Adam, was die mens ‘n mislukking “in die hand van die Pottebakker”. Kyk mooi….die pot misluk in die hand van God! Voordat God hierdie eerste “pot” geskep het, het Hy reeds die tweede “pot” as die perfekte een gesien. God het dus ‘n plan om ons almal eers deur die eerste stadium te neem, en dan dit alles oor te maak soos dit “reg” is (volmaak is) in Christus, die laaste Adam!

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Dit is wat Jesus ook aan Nikodémus wou duidelik maak, vir ons lering!

Joh 3:1-17  En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode.  2  Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.  3  Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  4  Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?  5  Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.  6  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.  7  Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.  8  Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.  9  Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur?  10  Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?  11  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie.  12  As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?  13  En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.  14  En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word,  15  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Adam en al sy afstammelinge (en alle diere) voor die vloed het eers net plante geëet – ons ken God aanvanklik net volgens aardse kennis:

Gen 1:29-30  Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.  30  Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.

Na die vloed was die mens en die diere vir die eerste keer toegelaat om vleis te eet:

Gen 9:3  Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.

Die vloed is die simbool van God se oordeel wat nou God se huis inlei om die volwasse geestelike dinge van God te kan ervaar:

1Pe 4:17  Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Ons begin dus by een tiende (melk / groente / plante) wat ons aan God gee (‘n deel van ons lewe), totdat ons groei in kennis, volgens God se Woord, om te sien dat alles eintlik God s’n is – dan gee ons “die hele tiende” (vleis). Dan sien ons die dieper geestelike dinge van God (“die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie”).

Mal 3:10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.

In Deel 3 van hierdie studiereeks oor die ‘tiende’ kyk ons kortliks na die doel en toepassing van die gebruik van breuke in die Skrifte, soos God wil.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.