Jesus verskyn OP en IN en MET “die wolk van getuies”!

Die Here werk in ‘n “klein klompie” mense aan wie Hy ‘n baie spesiale geloof skenk om Sy dieper geestelike werkinge te verstaan. Noag en sy familie was ‘n tipe van die uitverkore gelowiges in Christus wat aan God se Woord gehoorsaam is ten spyte van die verval oral rondom hulle:

1Pet 3:20 Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered.

Hierdie “klein klompie” gelowiges in Christus is inderdaad baie min in getal, en sal soos Noag se familie hierdie vervalle wêreld tot God se Wet en Orde roep. Hulle sal binnekort aan die hele wêreld geopenbaar word omdat hulle God se koninkryk (Sy reg en geregtigheid) hier op aarde bring.

Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Rom 8:19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.

Nog ‘n voorbeeld in die Skrifte van hierdie “klein klompie” in Christus kom voor in die tipe wat deur Aaron en sy seuns uitgewys word. Net Aaron en sy seuns kon in die priesteramp dien en binne die tabernakel ingaan terwyl die res van die Leviete slegs buite die tabernakel kon dien. Net so word baie wel geroep tot Jesus deur die Vader, maar min is uitverkies om in Sy geestelike tempel te gaan (dit is om God se geestelike dinge te kan sien en hoor):

Eks 28:1-3  Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron.  2  En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad.  3  Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.

Num 3:2-3  En dit is die name van die seuns van Aäron: die eersgeborene Nadab, daarna Abíhu, Eleásar en Itamar.  3  Dit is die name van die seuns van Aäron, die gesalfde priesters, wat hy aangestel het om die priesteramp te bedien.

Lev 8:30  Moses het ook van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron, op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns gesprinkel. So het hy dan Aäron, sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns geheilig.

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

God sal wel alle mense red, maar hierdie reddingsproses word op ‘n baie spesiale manier gedoen, volgens die Skrifte. Daar is ‘n orde en hierdie orde gee aan baie mense groot aanstoot.

1Ti 4:9-10  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word;  10  want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.

1Ti 4:9-10 (KJV) This is a faithful saying and worthy of all acceptation.  10  For therefore we both labour and suffer reproach, because we trust in the living God, who is the Saviour of all men, specially of those that believe.

Die woord “behouder” beteken “redder”, soos die King James vertaling ook aandui. God is die Redder van alle mense, maar dit alles begin by die “klein klompie” wat as “die gelowiges” in Christus bekend staan. Die woord “insonderheid” in die vers in 1Timotheus 4 vers 10 beteken nie “uitsluitlik” nie. God gaan nie net hierdie groepie mense uitsluitlik red nie – Hy gaan almal red. Maar Hy begin Sy reddingswerk by hierdie klein groep mense. Dit is hierdie groep gelowiges in Christus aan wie die Vader die noodsaaklike geloof gee om Jesus as Redder van alle mense te kan erken. Baie glo in Jesus as redder en saligmaker, maar hulle glo nie dat Jesus alle mense gaan red nie. Verse soos die volgende in die Woord van God is vir hierdie mense baie moeilik om te verstaan – hulle kan nie die woord “almal” in die verse as verwysend na alle mense (“almal in Adam”) sien nie of erken nie:

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  27  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Die gelowiges in Christus wie “aan Christus behoort by Sy koms” is die eerste groep gelowiges wat die eerste opstanding uit die dode sal ervaar en op die aarde sal regeer vir die duisend jaar periode.

Open 20:4-6  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  5  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.  6  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Dit is waarnatoe die hele wêreld op die oomblik afstuur. God bring paniek op die aarde en almal soek na ‘n oplossing. Alles gaan net vererger. Alle aardse oplossings wat mense hul hoop op sit, sal teleurstel en verkrummel voor hulle oë. Alle fondasies word op die oomblik behoorlik geskud en mense is in vrees en onsekerheid. Maar vir hulle wie weet dat God in totale beheer van alles is, omdat hulle reeds innerlik hierdie skuddings persoonlik ervaar het, is daar ‘n kalmte en vrede. Alles wat op die oomblik gebeur in die wêreld is die voorspel tot hierdie groot gebeurtenis – die openbaarmaking van die kinders van God wat gaan oorneem en die aarde regeer! Almal wag op hierdie gebeurtenis sonder dat hulle eens besef – almal soek ‘n werkbare oplossing. Net God sal dit bring!

Rom 8:18-19  Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.  19  Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.

Hierdie gelowiges se oë is gefokus op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof!

Heb 12:1-3  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,  2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.  3  Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.

Hierdie gelowiges word hier beskryf as ‘n “groot wolk van getuies” omdat hulle opgehef is deur God tydens hul aardse lewe om God se hemelse denke te kan ervaar. God se insigte word aan hulle geskenk in ooreenkoms met God se ryke barmhartigheid wat Hy deur Sy geloof en genade skenk:

Efes 2:4-10  Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,  5  ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—  6  en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,  7  sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.  8  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;  9  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.  10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Die gelowiges in Christus is hierdie “wolk van getuies…in die hemele” omdat hulle die denke (“die sin”) van Christus ontvang het:

1Kor 2:15-16  Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.  16  Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Hierdie “vernuwing” of “gesigte en openbaringe” in denke word ook die “derde hemel” genoem in die Skrifte – die paradys van God is reeds vir hulle geopenbaar. Dit is Christus in gees en waarheid!

2Kor 12:1-5  Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here.  2  Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.  3  En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit—  4  dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.  5  Oor so ‘n man sal ek roem, maar oor myself sal ek nie roem nie, behalwe in my swakhede.

Soos Paulus hier ook noem, weet hierdie groepie gelowiges dat hulle die dinge van God ONTVANG het – in hulself is daar absoluut NIKS om op te roem nie, behalwe in hul eie swakhede!

1Kor 4:7  Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?

Daarom is hierdie gelowiges die swakkes wat God uitverkies om die wêreld te beskaam…

1Kor 1:26-29  Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;  27  maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;  28  en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,  29  sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

God gebruik hierdie onedeles en swakkes om die wêreld te verstom deur selfs IN hulle te woon en aan die wêreld te verskyn. Ja, Christus vertoon Homself DEUR hierdie eenvoudiges. Hulle wie IN hierdie wolk is, hoor die stem van die Vader deur Sy Seun…

Mat 17:5  Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!

Mar 9:7  En daar kom ‘n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom ‘n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!


Luk 9:34  Maar toe hy dit sê, kom daar ‘n wolk en oordek hulle, en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingaan.
Luk 9:35  En daar kom ‘n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!

Luk 21:27  En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid.


Open 11:12  En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou.

Open 14:14  En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit wolk en een soos ‘n Menseseun wat op die wolk sit, met ‘n goue kroon op sy hoof en in sy hand ‘n skerp sekel.

Open 14:15-16 En ‘n ander engel het uit die tempel gekom en met ‘n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het. En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai.

Jesus verskyn “OP” en “IN” en “MET” hierdie wolk…hulle is Sy ware getuies!

Mat 24:30  En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.

Mat 26:64  Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.

Mar 13:26  En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid.

Mar 14:62  En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.

1Th 4:17  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

Open 1:7  Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!

God se stem word gehoor deur hulle wie deel is van hierdie “wolk van getuies” vir wie God spesiaal voorberei vir hul dienswerk hier op aarde tydens die duisend jaar periode en hul werk daarna in die poel van vuur. Daar is baie min wie die volgende woorde as deel van die grootste reddingsplan van God kan sien…

Open 20:11-15  En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.  12  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.  13  En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.  14  En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.  15  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

OPSOMMING:

Ons kies dus nie op ons eie wil om Jesus en Sy verborgenhede te kan sien en hoor nie, nee, dit is die Vader wat die keuse maak en ons volg in daardie keuse.

Rom 9:16  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.

Alles begin inderdaad by die Vader. Om Jesus te volg in gees en waarheid is maar baie raar…

Joh 6:44  Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Hulle wat wel God in gees en waarheid ken en dien, weet dat “die stem van die aartsengel” binnekort oor die hele aarde sal weergalm…

1Kor 15:52  in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.

1Th 4:16  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

Open 4:1  Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.

Open 8:13  En ek het gesien en gehoor ‘n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ‘n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!

Open 10:7  maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.