Die tye waarin ons leef is uitdagend en mens moet mooi loop en sorgvuldig luister om die strikke wat orals is te sien, en te vermy. Die Skrifte sê nie verniet dat diegene wat godvrugtig wil leef in Christus sal vervolg word nie, omdat die mens in sy bose wese net van kwaad tot erger gaan, hulle wat verlei en verlei word:
2Ti 3:12-14 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het.
Die Here beskerm diegene wie Sy Woord gehoorsaam, selfs om die magte te gehoorsaam wat HY oor ons aangstel het – daar is ‘n baie goeie rede…
Rom 13:1-5 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, 2 sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. 3 Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; 4 want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. 5 Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.
God stel mense aan om dinge op hierdie aarde te reël, vir goed en vir kwaad. God bly in beheer, en niemand kan iets doen as God dit nie so bepaal het nie – ook die leiers van elke nasie en volk op aarde:
Spr 21:1 Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.
Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?
Ons moet altyd bewus wees daarvan om reg te leef, voor God in gehoorsaamheid aan Sy Woord. Dit geld vir elke faset van ons lewe, ook vir dinge wat ons eet en in ons liggaam opneem. Maar as ons onbewustelik iets sleg of selfs iets dodelik inneem, glo ons dat God ons sal help.
Mar 16:17-18 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: … en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie…
Alles wat ons doen, moet volgens geloof gedoen word, anders sondig ons.
Rom 14:22-23 Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie. 23 Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.
“Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie”. Ons leef voor God wat ons persoonlik ken en Homself aan ons elkeen openbaar. Niemand kan ‘n ander se geloofsvlak kritiseer of daaroor heers nie, soos Paulus dan ook tereg waarsku:
2Kor 1:24 nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas.
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Die “maat van geloof” is aan elkeen toebedeel, soos God dit hê. Ons ken nie alles nie, en ons weet dat ons lewe is hoofsaaklik ‘n geloofsaak. Ons gesondheid en dit wat ons eet om gesond te bly, is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie. Baie van die kosse wat ons vandag eet is egter op ‘n chemiese vlak gemanipuleer en gemodifiseer. Ons bid dus voor elke ete want ons weet nie wat alles in die kosse is nie – God weet en ons vertrou op Hom!
Mar 16:17-18 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: … en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie…
Met die huidige virus-krisis en die vaksines wat beskikbaar is , is daar ook baie stories in omloop. Almal wil jou help om of die vaksien te neem of te verwerp. Mense gaan so ver om dit selfs te koppel aan die “merk van die dier” wat in die Skrifte genoem word. Elkeen wat God se Woord misbruik vir persoonlike agendas om ander mense se geloof te beheer, sal ook dit self aan God moet verduidelik op hul tyd van oordeel. Die merk van die “dier” wat in Openbaring genoem word, is iets heel anders as sigbare / tasbare dinge, of drinkmiddels, of liggaamlike merke, of “chips” wat in ons geplaas word. Die natuurlike denke in mens hanteer die Skrfte op ‘n aardse manier en kan nie God se geestelike woorde verstaan nie:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Jesus het dit baie duidelik gestel dat Sy woorde ‘n primêre geestelike funksie verrig – die aardse manier om God se Woord te lees, is van geen nut nie!
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Die “merk van die dier” het net soos alle woorde en simbole in die Skrifte ‘n dieper geestelike betekenis, en dit is op daardie geestelike betekenis dat die geestelike mens fokus. Die geestelike mens fokus nie op wat menslike wysheid leer nie…
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
1Kor 2:15 …die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.
Ons almal het reeds die “merk van die dier” as ons in die vlees is, die eerste Adam, (die geestelike betekenis van die nommer “ses”, want die mens was op dag ses van die skepping na vore gebring saam met die diere):
Gen 1:24-31 En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. 25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. 26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. 29 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. 30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so. 31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
Open 13:14-18 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. 15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. 16 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; 17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. 18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.
Ons is almal reeds “ge-chip”, in ‘n geestelike sin! Die nommer “ses” word drie keer herhaal in daardie vers in Openbaring 13 (vers 18) omdat dit die geestelike proses aandui hoe ons uitvind dat ons aards is, en nie gees nie. Ons is niks anders as die “dier” nie!!! Kyk wat sê die wyse Salomo oor ons mens se stand…
Ecc 3:18 (KJV) I said in mine heart concerning the estate of the sons of men, that God might manifest them, and that they might see that they themselves are beasts.
In Openbaring 13 lees ons ook van die drie fases in die ontwikkeling van hierdie “beast” (“die dier” wat in ons vlees opereer):
- vers 1 dui aan hoe die dier eers in die “see” is (fase 1). Die “see” in sy negatiewe geestelike toepassing is ons eerste fase in vlees – die “waters” wat eers in duisternis gehul is (Gen 1:1-2; Joh 3:1-8; Open 17:1);
- Ons kom dan uit die “see” en kom op die droë aarde waar ons dink ons het die vlees oorwin en word nou ‘n godsdienstige dier. Ons lyk soos die Lam, maar praat die leuens van die draak (Open 13:11; Mat 8:44). Hierdie dier is eintlik meer subtiel en verleidelik soos sy vader, die draak (dit is in verse 1 tot 10 – fase 2);
- Dan word hierdie dier ‘n volwasse dier wat ander mense oproep om die dier te aanbid deur sy leuens te versprei (dit is in verse 11 tot 18- fase 3).
Dit is hoe ons “koop” (ons glo eers al die leuens en stories van die draak), en dan “verkoop” ons self die leuens en stories!
Open 13:16-17 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; 17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.
Ons almal het reeds die merk van die dier en ons almal sal verlossing van die merk kry op die tyd soos God bepaal. Daar is twee groepe mense wat op twee afsonderlike tye van die merk verlos word. Die eerste groep mense (die simboliese 144 000) sal eerste van die merk verlos word, en die tweede groep mense (‘n groot menigte uit alle nasies en stamme en volke en tale – Open 7:9) sal later ook van die merk verlos word. Hoe word ons verlos van hierdie “merk van die dier”? Ons word verlos van die “merk van die dier” deur die dood van ons vlees en sy denke. Ons vleeslikheid moet vernietig word en dit is hoe ons almal ontslae word van hierdie merk van die eerste Adam (ons manier van dink en leef).
Rom 12:1-2 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Die geestelik mens in Christus (hulle wat in die “huis van God” is) begin nou reeds met die aftakelingsproses en daarom is die oordeel van God nou reeds op hierdie eerste groep:
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Hierdie oordeel van God kom deur Sy vuur…
1Pe 4:12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Die merk van Christus is Sy denke en leefwyse – Sy geregtigheid. Die nuwe denke en leefwyse van Christus kom in ons deur Sy vurige oordeel, en hierdie oordeel stel ons instaat om God te ken in gees en waarheid:
Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.
Om God te ken en te dien in gees en waarheid is om ons te vereenslewig met die nuwe mens in gees, die hemelse Adam (die geestelike betekenis van die nommer 8):
1Kor 15:46-49 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Die eerste groep mense wat verlos word van die merk en denke van die dier is die uitverkorenes (die gemeente) in Christus, ook genoem “die huis van God”. Hulle denke is vernuwe en hulle aanvaar nie sommer alle stories en gerugte wat in omloop is in die wêreld nie, maar bedink dit en meet dit op teen die Woord van God. Die gerugte in omloop in die wêreld is meestal uit die oord van die geestelike blinde leiers wat dan hul blinde volgelinge op loop neem om vrees en angstigheid in mense te ontketen. Die vrees en angstigheid bring mense se immuniteit af en stel hulle bloot aan verskeie siektes. Mense sterf nie direk aan Covid-19 nie, maar aan ander siektes en ook stresverwante siektes. Hartaanvalle en beroertes is aan die orde van die dag. Mense spandeer enorme ure aan informasie wat gedeel word op sosiale media, en studeer baie hard om alles te onthou, om ander te beindruk, tot groot vermoeiing van hul eie vlees.
Pred 12:12-14 En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees. 13 Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. 14 Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.
Dit is ons studie van die Skrifte en bepeinsing in die Woord wat ons geloof sal opbou en ons ‘n diepe versekering gee dat God in totale beheer is van alles. Dan onderskei ons makliker tussen wat reg en verkeerd is – dit wat sin het, en dit wat onsin is. Hulle wat deel is van die “huis van God” in Jesus Christus, bewaar hulle “pand” en bly getrou aan Christus en Sy Woord:
1Ti 6:20-21 o Timótheüs, bewaar jou pand en vermy die onheilige, onsinnige praatjies en teëwerpinge van die valslik sogenaamde kennis, 21 waarvan sommige belydenis gedoen het en, wat die geloof betref, op ‘n dwaalweg geraak het. Mag die genade met jou wees! Amen.
Die huisgenote van God word nie ingetrek in sake wat hulle nie in diepte van kennis dra nie, al word hulle ook verkleineer omdat hulle afsydig staan in die maalgat van opinies wat oral rondgeslinger word…
2Ti 2:3-4 Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus. 4 Niemand wat ‘n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.
2Ti 2:3-4 (KJV) Thou therefore endure hardness, as a good soldier of Jesus Christ. 4 No man that warreth entangleth himself with the affairs of this life; that he may please him who hath chosen him to be a soldier.
Baie min mense aanvaar dat God 100% in beheer is van alles wat aangaan, en Hy self die Groot Samesweerder is. Niemand maak en breek soos hulle wil nie, en niemand kan regeer as God hom of haar nie aanstel nie. Nebukadnésar, een van die grootste konings op hierdie aarde, was God se aanstelling en kyk wat sê Daniël vir hom…
Dan 4:25 Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.
Nebukadnésar is ons, as ons dink God is nie in beheer nie. Nebukadnésar moes op ‘n harde manier uitvind dat hy ‘n dier is. Ons sal op ‘n harde manier leer dat God in beheer is en dat ons “die merk van die dier” dra. Dan eers sal ons vrygestel word van daardie ou merk en God se nuwe merk ontvang – Sy denke en gees…
Open 21:5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.
Daar kom ‘n nuwe wêreldregering, maar dit is nie wat die wêreld se samesweringsteoritici wil hê nie. Hulle wil mense teen mekaar opsweep en in kampe verdeel om sielkundige oorloê teen mekaar te voer om haat en vrees te versprei. Die mens is inderdaad verdeel en het groot mure opgebou om hulself te beskerm teen hul vyande. Daar is mense wat dink dat hulle in beheer is van ander mense en hul rykdomme rondgooi om mense om te koop om hulle agendas uit te voer. Maar dit is alles onder God se beheer! God stel hulle almal op om te doen wat Hy wil hê hulle moet doen. Eintlik is alle mense in een kamp (almal het een en dieselfde merk), en hierdie kamp is opgestel teen God en Sy Gesalfde:
Psa 2:1-5 Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: 3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! 4 Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. 5 Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik:
Maar God lag vir hierdie nietige dinge wat mense saam laat werk en laat dink hulle kan Sy plan omverwerp. Hulle dink regtig God staan eenkant en kyk net alles deur. Nee, God is die Argitek van alles, en Hy dirigeer die hele mensdrama!
God se ware regering is op pad, Sy koninkryk op aarde – die ware NUWE WêRELD-ORDE!!!
God plant Sy “chip” in sommiges se denke om Sy Woord te glo en dit as gees en waarheid te ken. Hulle is deel van daardie nuwe regering – hierdie regeerders is op Sy Woord gefokus! Hulle het nie ‘n gees van vrees vir mens ontvang nie, maar hulle het die gees van God ontvang om God bo alles te vrees:
2Ti 1:7 Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.
Pred 12:13-14 Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. 14 Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.
Efes 5:19-21 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, 20 terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, 21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.
Hierdie gelowiges in Christus het God se denke (die “sin van Christus”), en hul fokus is op die hemelse:
1Kor 2:15-16 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
Hulle sal regeer op aarde, soos die Skrifte ook belowe!
Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
Hierdie regeerders bedink die dinge wat vrede gee in Christus – hulle het die ware vaksien wat baie mense verwerp – die leer van Christus deur die geestelike woorde van God!
Fil 4:4-9 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! 5 Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. 8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. 9 En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.
Kol 3:1-4 As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.
Die wêreld en hul leiers wat God se vaksien verwerp, sal dit uiteindelik ontvang!!! Die einde van die aardmens en sy denke (die uitwissing van die merk van die dier in ons persoonlik) is iets groot en bevrydend!
Open 20:7-10 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. 10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.
Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
God se geestelike vuur, Sy Woord, deur die leer van Christus is die vaksien wat ons red van alle aardsheid!
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.
Almal in Adam sal Jesus Christus as Heer belei en voor die Vader kniel, soos die gees van die Vader IN hulle sal lei!!!
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Fil 2:9-11 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, 11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
1Kor 12:3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.