Die geestelike dinge van God is primêr in alles, en uit die geestelike dimensie (die “onsienlike dinge”) het God hierdie huidige tydelike skepping (die “sienlike dinge”) na vore gebring deur Sy Woord, Jesus Christus.
Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.
Die geestelike is eerste en dit is die dimensie vanwaar God regeer, en ons moet daardie dimensie as sulks erken. Hierdie sigbare skepping waarbinne die mens geplaas is om in te leef, het ‘n tydelike bestaan en funksie wat vervul sal word – dit het ‘n begin en ‘n einde. Ons as mens is dus nie geestelike wesens nie, en ons was ook nooit geestelike wesens nie. Ons ervaar hierdie tydelike fisiese dimensie eerste, en word dan deur ‘n proses geneem waar ons uiteindelik die geestelike dimensie in sy volheid sal ervaar. Dit is wat die Skrifte leer, vir hulle wie hierdie waarheid kan ontvang…
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Die mens ken dus aanvanklik niks van die dieper geestelike dinge van God nie, en leer Hom ken vanuit ons aardse perspektiewe.
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Dit is hoe ons die eerste Adam moet sien. Hierdie eerste menslike skepsel het wel kontak met God gehad, maar die kontak was volgens sy beperkte aardse kennis en begrip. God moes vir Adam ‘n menslike maat maak “wat by hom pas”.
Gen 2:18 Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.
Adam en Eva was albei onkundig oor hul fisiese beperkinge en kondisie, net soos ons is as ons in vlees wandel en op vlees fokus en dink dat dit lewe is. Selfs al behoort ons aan ‘n kerkgemeenkap wat Christus bely, en ons ken nie ons eie geestelike kondisie nie, dan is ons deel van die kerk in Laodicense. Kyk net hoe geestelik blind was die mense terwyl hulle gelo het hulle Christus volg, en dat Hy hulle alles gee en hulle seën…
Open 3:14-17 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: 15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
Vlees is bedrieglik en vol sonde en dood. Vlees is nie geestelike lewe nie en dit sal ook nooit naby God se geestelike lewe kom nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Daar is ‘n groot verskil tussen die vlees en die gees van God! Kyk hoe groot is die verskil, volgens die Skrifte…
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.
Vlees is gelyk aan DOOD – geestelike dood. God is GEES en God is LEWE. Dit is hoe groot die verskil tussen VLEES en GEES is, soos die DOOD teenoor die LEWE. Adam en Eva was geestelik DOOD en BLIND – hulle kon nie eens hul eie naaktheid sien nie. Vlees verwys na geestelike naaktheid! Geestelike onkunde! Adam en Eva het eers later uitgevind dat naaktheid nie goed is nie toe hulle oë geopen was. Met die opening van hul oë, kon hulle ook dieper dinge in hul eie harte sien. Kyk wat was alles in hul harte toe hulle geskep was, wat hulle aanvanklik nie kon sien nie:
Gen 2:21-25 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. 22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. 23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. 25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.
Gen 3:6-7 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. 7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.
Adam was by Eva toe die slang haar verlei. Adam het saam geluister na die slang, en saam geëet van die verbode boom se vrug. Hulle het toe ook saam ontdek dat hulle naak was toe God hulle oë open vir hierdie waarheid. Die eenheid tussen Adam en Eva word hier beklemtoon.
“…hulle sal een vlees wees. En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.”
Albei was vlees en albei het “ontbreek aan die heerlikheid van God”, dit is Sy geestelike perfektheid!
Rom 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
Vlees “ontbreek aan die heerlikheid van God”. Adam en Eva se eenheid in vlees en sondige (naakte) kondisie beeld ons almal se eenheid as mens uit. Die vleeslike mens het verskil van die heilige geestelike God. tog was die mens ‘n gelykenis van die Godheid. Hoe is dit moontlik? Die ooreenkoms was dus nie in die wese van die twee nie, maar in die eenheid. Die gelykenis van die Godheid was weerspieël in die eenheid. Adam en Eva was saam in Hebreeus as die “âdâm” genoem (hierdie Hebreeuse woord is in die meervoud gebruik). Hulle saam was die “âdâm” wat na die gelykenis van die Godheid (die “ĕlôhı̂ym”) gemaak is! Kyk hoe mooi beeld die verse hierdie gelykenis tussen die “ĕlôhı̂ym” (meervoud = TWEE) en die “âdâm”(meervoud = TWEE) uit…
Gen 5:1-2 Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God [Hebreeus: “ĕlôhı̂ym” = meervoud = TWEE]. 2 Man en vrou [TWEE] het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens [Hebreeus: “âdâm” = meervoud = TWEE], die dag toe hulle geskape is.
Dit is waar die mense mislei word om te glo dat die woord “gelykenis” beteken dat Adam en Eva soos God in wese gelyk het. Nee, dit is tog ooglopend dat hulle NIE soos God gelyk het nie, en ook nie soos Hy opgetree het nie. Perfekte mense is tog immers perfek! Adam en Eva was nie! Om soos God te word is ‘n proses, dit is waarom die Hebreeuse werkwoord “âśâh” wat as “maak” vertaal is in die volgende vers, in die onvoltooide “Qal”-vorm is volgens die oorspronklike teks:
Gen 1:26-27 En God het gesê: Laat Ons mense maak [Hebreeus: “âśâh” in the Qal imperfect tense] ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God [Hebreeus: “ĕlôhı̂ym” = meervoud = TWEE] het Hy hom geskape; man en vrou [TWEE] het Hy hulle geskape.
Die “gelykenis” wat hier van gepraat word het betrekking tot hul TWEE se eenheid. Die eenheid in VLEES tussen Adam en Eva word as gelykenis gebruik om die eenheid in GEES tussen die “ĕlôhı̂ym” (Vader en Seun) uit te beeld. Die “âdâm” is ‘n gelykenis van die “ĕlôhı̂ym”. Soos reeds genoem, was die sienlike dinge geskep om as skadubeelde te dien van die hemelse dinge, sodat ons as vleesmense kan begin leer van die geestelike dinge van God:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Daar is ‘n groot dwaalleer wat preek dat die mens ook eerste in gees was, en ook dan perfek was, en toe in sonde geval het volgens sy eie “vrye” wil. Dit is alles VALS. Ons moet weet dat God alleen perfek is en in gees is. Die “âdâm” was doelbewus deur God “in sonde”, dit is in vlees, geskep. Die vlees is sonde en dood, en kan nie anders as om te sondig nie. Dit is die “âdâm” se natuur. VLEES IS SONDE vanaf sy skepping en dit kan niks anders doen as om God se heilige gebod te oortree nie. God weet dit en het alles so bestem vir ‘n groot en heilige doel. God sondig nie as Hy sonde en dood skep nie, want Hy het ‘n doel wat in heiligheid gevorm was en bereik sal word. Sonde is om jou doel te mis. Dit is wat die oorsprong van die konsep beteken. Die eerste keer waar die Hebreeuse woord “chattâ’âh” voorkom (vertaal as “sonde” in die Afrikaanse Bybel), is in Genesis 4 vers 7. In Rigters 20 vers 16 word die woord “chattâ’âh” goed verduidelik – om ‘n teiken te mis:
Gen 4:7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde (Hebreeus: “chattâ’âh”) lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.
Rig 20:16 Uit al hierdie manskappe was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat links was; hulle almal het met ‘n klip op ‘n haar geslinger sonder om te mis (Hebreeus: “chattâ’âh”).
(Lees gerus die studie by die volgende skakel: https://4windkoinonia.wordpress.com/2013/01/31/god-mis-nooit-die-teiken-nie-wat-hy-beplan-werk-100-en-hy-bereik-altyd-sy-doel/)
God het doelbewus die mens in sondige vlees geskep. God se plan met die mens en hierdie skepping is 100% opdreef vanaf die begin van die skepping. Hier is getuies in die Skrifte wat hierdie waarhede uitstraal en baie min mense kan hulle met hierdie waarheid vereenselwig:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
God het aan Jeremia gewys dat Hy ‘n plan het met die eerste pot, en dat Hy UIT die eerste pot ‘n tweede “pot” voortbring waarmee Hy alles gaan ‘reg maak’ – “maar hy het daaruit [uit die eerste pot] weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak. Ons moet dus die orde van God se plan sien en dit respekteer. Die vlees het ‘n plek, alhoewel dit net tydelik is, moet ons dit respekteer. Ja selfs die bose, die duisternis en dit wat onheilig is, is deel van God se plan. ALLES het sy plek en tyd, en alles is gemaak vir GOD se doel!
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Vlees is SONDE, en selfs Jesus was met Sy vleeswording in dieselfde SONDIGE VLEES ontvang in Maria se moederskoot. Maria se vlees en DNA was net soos ons s’n, sonde, en Jesus het dieselfde sondige vlees en DNA van Maria ontvang. Die sogenaamde “immaculate conception” is ‘n valse leerstelling wat mense mislei. Jesus was inderdaad eers in gees in perfeksie saam met die Vader. Hy het doelbewus in VLEES gekom en IN SONDIGE VLEES was Hy gebore en het groot geword sonder om te sondig!
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Luk 2:51-52 En Hy [Jesus] het saam met hulle [Sy ouers] gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. 52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.
Hy het geen sonde gedoen toe Hy in sondige vlees was nie. Hy het geen oortreding gepleeg nie. Dit is wat die volgende vers duidelik sê:
2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Dit is hoe die krag van die gees van die Vader werk, en dit is dieselfde krag wat ons nou help om NIE te oortree nie:
Heb 2:14-18 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. 16 Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. 17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. 18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
Jesus was eers by die Vader en soos die Vader in gees. Hulle was EEN IN GEES – die perfekte “ĕlôhı̂ym”. Die Vader en die Seun is gees en hulle is albei heilig. Dit is die orde van die Godheid (die “ĕlôhı̂ym”) – eerste is die Vader as GOD oor alles, en dan die Seun as die HERE GOD van hierdie skepping…
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Gen 2:4 Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God [Jesus Christus] die aarde en die hemel gemaak het.
Joh 14:28 Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.
Kol 2:9-10 Want in Hom [Jesus] woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; 10 en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Joh 17:10-11 En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne; en Ek is in hulle verheerlik. 11 En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.
Jesus was eers deel van die perfekte “ĕlôhı̂ym”, en het toe in sondige vlees kom woon. Met Sy dood IN VLEES en opstanding IN GEES, het Hy teruggekeer na perfeksie in GEES.
Joh 17:1-7 Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik— 2 soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. 3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. 4 Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. 5 En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. 6 Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. 7 Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom.
Die “adam” (Adam en Eva) was nie in GEES nie, maar in onperfekte VLEES geskep. Ons is dus nie eers gees nie, maar vlees en sal eindig in gees, perfek in Christus in die gees van die Vader.
1Kor 15:22-29 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. 29 Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop?
Daar moet altyd onthou word waaroor die hele proses gaan – dit gaan oor die Vader, om Hom te ken en te aanbid in gees en waarheid. Alles begin en eindig by die Vader!
Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Ons gaan in hierdie kort studiereeks kyk na hierdie heilige orde van God en Sy plan, soos God wil.